Redakteursbrief: Waar is goeie Afrikaanse advertensies heen?

'n Skermskoot uit die advertensie “The Reader” wat die Umpetha-toekenning ontvang het tydens die 2014 Pendoring-toekenningsgeleentheid

‘n Skermskoot uit die advertensie “The Reader” wat die Umpetha-toekenning ontvang het tydens die 2014 Pendoring-toekenningsgeleentheid

Ek het ʼn vriendin wat altyd sê as jy huil oor twee handpoppe wat mekaar op TV soen, dan wéét jy jy is swanger.

Mens hoef egter nie swanger te wees om te huil as jy die Bell’s Whisky-advertensie “The Reader” sien nie. Ek het dit seker al ʼn dosyn keer gekyk en elke keer spat die trane, tot my groot verleentheid. As jy dit nog nie gesien het nie, is jy ʼn bietjie armer. Dat ʼn whisky-advertensie mens nou so kan laat huil.

Dié advertensie (van die agentskap King James Kaapstad) het met reg vanjaar die Umpetha-toekenning by die jaarlikse Pendoring-reklametoekennings ontvang. Dit het ook in subkategorie van die eg Suid-Afrikaanse afdeling ʼn goue Pendoring ontvang en ‘n silwer Pendoring in die Vernuf-kategorie vir kinematografie.

Dis juis die eg Suid-Afrikaansheid van die advertensie wat jou hart so diep raak. Min ander nasies sal waarskynlik die storie agter die storie snap. Daar lê ʼn hele geskiedenis daarin opgesluit. Die advertensie “Giving” van First for Women is nog só een, en is ook met ʼn goue Pendoring bekroon.

Die jammerte is dat die groot toekenning van die aand, die prestigeprys van R50 000, nie vanjaar toegeken is nie. Volgens die beoordelaars het geen van die inskrywings aan die hoë standaarde vir dié toekenning voldoen nie. In ʼn poging om meer inskrywings vir volgende jaar se Pendorings aan te moedig, is vanjaar se R50 000 prysgeld by volgende jaar s’n gevoeg, om die totale prysgeld op R100 000 te staan te bring.

As die Pendoring-toekenningsgeleentheid ʼn week of wat agter jou lê en die euforie van ʼn aand vol kreatiwiteit het ʼn bietjie afgeneem, begin jy dink oor wat jy gesien het. En jy wonder: Waar is die Afrikaanse advertensies heen?

Hoewel drie goue en vier silwer Pendorings vanjaar vir Afrikaanse inskrywings toegeken is, was nie een daarvan só dat ek nou eers een van die boodskappe óf die produkte kan onthou nie.

ʼn Paar jaar terug het ons Afrikaanse tone omgekrul van lekkerkry oor Afrikaanse reklame soos RSG, Sasol, Marie-koekies en Polka s’n. Ons het bly sit in programme se advertensiebreuke, want die advertensies was dikwels beter as die program self. Nou gebruik ons dié drie minute om die ketel te gaan aansit.

Wat het van goeie Afrikaanse reklame geword?

Aan ons Pendoring-tafel het ek my ore gespits om ons Engelse tafelgenote van verskeie reklame-agentskappe se gesprekke af te luister. Dit was grootliks ʼn ligte spottery oor Afrikaans; oor hul gebrekkige woordeskat en nog meer gebrekkige begrip van die taal.

Kan ʼn mens van ʼn grootliks Engelse reklamebedryf (so wil dit voorkom) verwag om spitsvondige, oorspronklike Afrikaanse reklame die lig te laat sien? Of is die skuld dalk te lê voor die deur van die adverteerders, wat nie geld daaraan wil bestee om Afrikaanse advertensiemateriaal te skep nie? Is dit tekenend van hoe min respek hulle vir hul Afrikaanse teikenmark het?

Of is ons, die Afrikaanssprekendes, te blameer? Aanvaar ons maar gelate wanneer ons  gebombardeer word met Engelse advertensies (en, indien dit Afrikaans is, hoogstens swak vertaalde Engelse advertensies) op TV, op radio, in tydskrifte en koerante?

Dis waarskynlik ʼn mengsel van al dié faktore, en seker nog ʼn hele klompie ander ook. En dis hartseer. Want dit wil amper lyk of die Afrikaanse reklamebedryf op ʼn afdraande-paadjie is wat nie maklik gestuit sal kan word nie.

Maar as ons wil baklei vir Afrikaans, is hierdie ʼn goeie plek om te begin. Ons moenie net diensverskaffers wat in Afrikaans bemark, ondersteun nie – ons moet hulle ook laat weet dat ons hulle respek vir ons mooie moedertaal raaksien en waardeer.

Laat weet ons gerus as jy iewers ʼn uitmuntende Afrikaanse advertensie op die internet, radio, TV of gedrukte media raakloop, raaksien of raakhoor – ons onderneem om namens ons Afrikaanse lesers vir die adverteerder ʼn groot Afrikaanse dankie te stuur, so hartlik soos net ons Afrikaanssprekendes dit kan doen.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik ·

‘n Baie goeie artikel waarmee ek heelhartig saamstem. Ons taal word deesdae op elke moontlike platvorm verkrag deur anglisismes, direkte vertalings en platvloerse Afrikaans. Selfs ons woordeskat verskraal, omdat dit vir so min mense belangrik is om ons taal suiwer te praat.

Ek dink dis hoogtyd dat ons ook die kweperlat begin inspan vir die adverteerders wat nie ons taal behoorlik gebruik nie. Ek stel voor ons benoem weekliks vyf advertensies wat kwalifiseer vir die “Sponsdoring” toekenning. Vir die van julle wat nie weet wat ‘n “sponsdoring” is nie, dis daardie doring wat jou honde op jou grasperk los en jou neus tref as jy per ongeluk daarin trap.

Advertensies in Afrikaans, maar met ‘n Engelse slagspreuk, soos byvoorbeeld die een van die Nissan “pickup” behoort kandidate vir die Sponsdoring toekenning te wees. Maar ook die waarvan die taalgebruik swak is – die meeste van hulle is bloot ‘n Engelse advertensie wat deur ‘n juniorklerk in Afrikaans vertaal is.

Ek is geen taal puris nie, maar ek is lief vir my taal en die manier waarop mense wat my geld deur advertensies wil verdien, my taal met ‘n gebrek aan respek behandel, grief my. Ek sal nie hulle produkte aanskaf nie. Hulle advertensie bereik dus in der waarheid die teenoorgestelde effek van waarvoor dit bedoel is. Hulle betaal my dus om na hulle mededingers toe te gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.