Redakteursbrief: Wanneer helde val/faal

Een van die grappige prente wat op sosiale media die rondte gedoen het ná Mugabe se val

Een van die grappige prente wat op sosiale media die rondte gedoen het ná Mugabe se val

Daar was waarskynlik lanklaas ʼn misstap – in die letterlike sin van die woord – wat soveel opspraak verwek het soos Robert Mugabe se val verlede week. Dalk juis omdat hy en sy volgelinge so hard probeer het om dit uit die media te hou, het foto’s daarvan (en verwerkings van die foto’s) soos ʼn veldbrand versprei.

Ironies genoeg was die vorige val wat plaaslik soveel mediadekking gekry het, waarskynlik dié van Eugene Terre’Blanche in 1992, toe hy tydens ʼn parade in Pretoria van sy perd afgeval het. ʼn Mens wonder nogal wat Photoshop en sosiale media met dié omstrede val sou gemaak het.

Dan moet ʼn mens natuurlik ook nie vergeet van die voorsitter van die finansiële portefeuljekomitee, Nhlanhla Nene, wat in 2008 tydens ʼn regstreekse televisie-onderhoud op SABC2 onseremonieel van sy stoel afgeval het nie. Dié val is op video vasgevang, wat dit (kom ons wees eerlik met mekaar) net soveel genotliker maak om daarna te kyk.

Ongelukkig is daar deesdae meer “helde” wat faal as dié wat val. Op eie bodem dink ʼn mens aan Steve Hofmeyr, Oscar Pistorius en Hansie Cronjé wat in die onlangse verlede sommige van hul aanhangers lelik in die steek gelaat het. Internasionaal is die tennislegende Bob Hewitt, die voormalige hoof van die Internasionale Monetêre Fonds, Dominique Strauss-Kahn, en die evangelis Jimmy Swaggart van die rolmodelle wat met ‘n val aarde toe gebring is.

Oor ons eie regering praat ons nie eers nie.

Een van die interessante verskynsels is hoe dié helde dikwels stewig op hul troontjie gehou word deur ʼn segment van hul ondersteuners. Kyk, daai held kan op die vloer lê met af ribbes, gebreekte bene en bloeiende knieë, maar hulle ondersteuners sal weier om dit te aanvaar. In sommige uiterste gevalle – soos dié van ons geliefde Zimbabwiese buurman – sal ons helde selfs ontken dat dié voorval ooit plaasgevind het, of ander vir die val blameer. In Terre’Blanche se geval het hy beweer die media het die voorval (of afval) slegs gedeeltelik gewys – wat hulle nié gewys het nie, is dat sy perd skeefgetrap het.

Mens kan ʼn paar clichés hier inryg: Mense is feilbaar. Die hoogste bome vang die meeste wind. Moet op prinse nie vertrou nie.

Dan kry mens die helde wat val en weer opstaan. Hulle is min, maar miskien is hulle die ware helde na wie ons moet begin opkyk. Dié wat man – of vrou – genoeg is om hul foute te erken, verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar en hul ervaring te gebruik om ʼn positiewe verskil te maak. Ongelukkig is hierdie selde die “groot bome” wat ʼn groot invloedsfeer het. Dis gewoonlik mense nader aan ons, of minder bekendes. Ek dink byvoorbeeld dadelik aan Jannie Putter, motiveringspreker en voormalige “mental coach” vir die Blou Bulle: ‘n man wat nie huiwer om te herken waar sy paadjie skeefgeloop het nie, maar in dieselfde asem vertel van sy pad na herstel, en wat sy ervaring nou aanwend om mense in soortgelyke situasies uit die gemors te help. Dieselfde met Francois en Gretha Widd wat met hul huweliks- en gesinsbedieningsgeleenthede afskop deur hul eie, minder heilsame storie met hul gehore te deel. Selfs Hettie Brittz – iemand wat allermins vir haar eie “val” verantwoordelik was – het haar ervaring as verkragtingslagoffer omgekeer in ʼn bediening van vergifnis en genade.

As mens dié klomp gevalle, opgestane helde se aanhangers bymekaar tel, maak jy waarskynlik ʼn paar rugbystadions vol.

Dis dalk tyd dat ons weer dink oor wie die helde is wat ons op troontjies sit.

Intussen lag ons lekker vir dié wat daar afval.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Henk ·

Mense is geneig om heeltemal te veel aannames te maak, en dit dan vir soetkoek te probeer verkwansel. Die feit dat mense ‘n persoon in ‘n bepaalde saak ondersteun, maak nie noodwendig van hom/haar ‘n held in ons oë nie. Ook beteken dit nie noodwendig dat ons hom/haar noodwendig op ‘n troontjie plaas nie. Toegegee, sommige (en dalk te veel) val wel in daardie strik nie. En dat alle mense feilbaar is, is ‘n feit, nie ‘n cliché nie. Al is jou enigste fout dan nou ook die oordeel wat jy uitspreek oor ander.

Susan Lombaard ·

Henk, ek stem volkome saam met jou. Terwyl ek hierdie geskryf het, het ek gewonder of ek moet byvoeg dat mens dikwels meer waarde vind daaruit om ‘n persoon se optrede/dit waarvoor hy staan as ‘n voorbeeld vir jouself voor te hou, en nie soseer deur die persoon self op ‘n troontjie te sit nie. (Maar dit klink toe ‘n bietjie prekerig.) My gevolgtrekking is juis dít: Wat is die kriteria wat ons gebruik wanneer ons “helde” kies? En ja, dis beslis nie almal wat mense op ‘n troontjie sit nie – maar ongelukkig is (sommige van) ons uit die aard van ons menslikheid te dikwels geneig om dit te doen.

Rex ·

U artikel bevat ‘n baie belangrike slotopmerking: “Dis dalk tyd dat ons weer dink oor wie die helde is wat ons op troontjies sit”.
Die vraag is dus wie word beskou as ‘n held? Vir my beteken dit bv iemand wat sy lewe vir iemand anders sou opoffer (soos JesusChristus – met sy kruisiging). In die werklike lewe iemand soos Racheltjie de Beer wat haar lewe opgeoffer het vir haar broer. Vir baie kinders hulle eie ouers. Helde het ook ‘n menslike sy en is, soos alle mense feilbaar. Selfs diè op die hoogste “ranglys” – presidente, sporthelde, kunstenaars ens kom tot ‘n val en dikwels is dit so dat hoe groter die held, hoe indrukwekkender is sy/haar val. Die een se held is baie kere die ander se vyand. Ek persoonlik sou iemand soos mnr Hofmeyr uit die gesprek van helde hou.

Bruno Stef ·

Susan met alle respek kan ek nie die kloutjie by die oor bring wat Steve se doodsonde is omdat hy die Stem gesing of sy twiet. Ek is bevrees as ons of n minderheid tussen ons so aanhoudend verskoning gaan aanbied is ons niks anders as Jannie Jammergatte en sal as sulks beoordeel word.Moet nie toelaat dat n etiket deur ander mense aan jou as AFRIKANER voorgehou word nie anders is ons op dieselfde pad as die verlede tot vandag om vir elke insident as APARTHEID te bestempel.

Henry ·

In aansluiting by Bruno.
Om iemand as ‘n sogenaamde held te beskryf, is dikwels soos ook in hierdie artikel se geval, ‘n baie subjektiewe oefening. Wat vir die skryfster ‘n held of heldin mag wees, gaan beslis nie die oortuiginge van derduisende ander siele verteenwoordig nie.
As voorbeeld: Vir my en die oorgrote meerderheid van ons kennisse sou die Wïdd egpaar nie eers amper aan ons vereistes vir ‘heldestatus’ voldoen nie. Om verskeie redes, wat nie ter sprake is nie.
Sover my beperkte kennis oor Steve Hofmeyer betref, dink ek nie dat hy homself as een of ander held beskou nie. Hy is gewoon en heel eenvoudig, ‘n suksesvolle kunstenaar wat die ondersteuning waardeer van die mense wat van sy tipe musiek en optredes hou, terwyl hy ook geldelike voordeel uit hierdie ondersteuning geniet. Afgesien van die akkolades, is enige voltydse kunstenaar natuurlik ook afhanklik van ‘n inkomste.
Ek het weinig twyfel dat hy die sogenaamde heldestatus wat van geen materiële nut is, enige dag van die week sal inboet vir ‘n klomp Sjekkils of Euro’s wat hy vir sy optredes mag ontvang.
Andersom gestel. Steve se aanhangers gaan vir seker nie die skryfster van hierdie skryfsel se oordeel oor hul ‘held’ se sogenaamde foute aanvaar nie. Inteendeel…
Vive la’ Difference!

Patrys ·

Ek stem saam met Henry en Bruno. Dit was onnodig om Steve by te sleep…..dit voel of die hele Mugabe storietjie gebruik is as n inleiding om n stekie na Steve te gee. Ek kan in elk geval nie verstaan wat sy aardssonde is nie. Hy het bloot gewaag om die waarheid te praat, maar dit mag ons wit mense mos nie doen nie. Politiek inkorrek is net op ons van toepassing, as ander (lees anderskleuriges) witmense uitkryt en name noem, word geen sprak gesprook nie. Ek is werklik teleurgestel in Maroela Media.

Rex ·

“Talent sal jou tot op die kruin bring, maar dit verg innerlike karakter om jou daar bo te hou!” – John Wooden.
U artikel bevat ‘n baie belangrike slotopmerking: “Dis dalk tyd dat ons weer dink oor wie die helde is wat ons op troontjies sit”.
Die vraag is dus wie word beskou as ‘n held? Vir my beteken dit bv iemand wat sy lewe vir iemand anders sou opoffer (soos JesusChristus – sy kruisiging). In die werklike lewe iemand soos Racheltjie de Beer wat haar lewe opgeoffer het vir haar broer. Vir baie kinders hulle eie ouers. Helde het ook ‘n menslike sy en is, soos alle mense feilbaar. Selfs diè op die hoogste “ranglys” – presidente, sporthelde, kunstenaars ens kom tot ‘n val en dikwels is dit so dat hoe groter die held, hoe indrukwekkender is sy/haar val. Die een se held is baie kere die ander groep se vyand. Ek persoonlik sou iemand soos mnr Hofmeyr uit die gesprek van helde hou.

Vic ·

As iemand soos Steve Hofmeyr n Afrikanerheld is, is ons volk in groter moeilikheid as ooit tevore. Is daar niemand anders in Afrikanergeledere na wie ons kan opsien nie? As mens dan nou na iemand moet opsien.
Bruno, dis nie n sonde om Die Stem te sing nie. Dis nie eens onwettig nie. Dis ook nie n sonde om n onlogieses stelling met n twiet die wereld in te stuur nie, net n teken van iemand wat nie verder dink as wat sy neus lank is nie. Die probleem wat ek met Mnr Hofmeyr het, is sy gebrek aan morele standaarde. Daarom kan hy nooit n ‘held’ van my volk wees nie.

Bruno Stef ·

Vic dit is so dat daar sovele opinies sal wees as wat daar mense is wat vir my net dwars in die krop steek is dat n kader in Gat sonder water verklaar dat die regering die fees in Nelspruit AGV STEVE se sogenaamde rassisme gaan boikot. Ek het toevallig gister op televisie gesien dat zuma met hand op die hart die volkslied in die parlament sing en dit per toeval dit ook die STEM gedeelte was. Dit is duidelik dubbel standaarde Steve met sy opmerkings roep net hulle bluf ons het meer sulke manne nodig anders verander ons dalk almal in die toekoms in HANSIE MY KNEG gedienstiges . Die AMERIKAANSE swart mense noem die gedienstiges UNCLE TOMS.

Vic ·

Bruno, ek stem heeltemal saam met jou. Ek kan geen rede sien hoekom Steve se Stem singery n rede is om die fees te boikot nie. Maar hoekom het ons die regering nodig om n fees te hou? Hoekom pla dit ons wat die ANC doen if nie? Het ons regtig verwag dat hulle van ons gaan hou of regverdig teenoor ons gaan optree? Hulle is n klomp kommunistiese, wreedaardige parasiete, wat besig is om die land blind te steel. Wat my pla, is hoekom ons soos kinders rondhang vir n vryfie op die kop, vir goedkeuring om iets te doen. Waar is ons deursettingsvermoe, onafhanklikheid en waagmoed heen? Het ek nog altyd n wanbegrip oor my volk en mense gehad? Ons sal geen hulp of ondersteuning van die ANC, die EFF, die buiteland, of enigiemand anders kry nie. Ons moet vir onsself sorg. Ons moet ons eie feeste reel en betaal. Ons moet ophou sanik en iets doen.

Henry ·

Vic, met alle respek!

Wat jy nou sê, klop mos nie met dit wat jy vroeër kwytgeraak het nie, Byvoorbeeld:

“…As iemand soos Steve Hofmeyr n Afrikanerheld is, is ons volk in groter moeilikheid as ooit tevore. Is daar niemand anders in Afrikanergeledere na wie ons kan opsien nie? As mens dan nou na iemand moet opsien…”

Steve Hofmeyer is die eerste en enigste ou waaarvan ek bewus is wat die moed van sy oortuiging gehad het, om Die Stem in die openbaar voor 40,000 mense te sing. Soos Hofmeyer, is meeste van ons ook deeglik bewus van die feit dat dit nie teen enige wet of regulasie is om Die Stem te sing nie, of dat hy wat Hofmeyer is, een of ander neergedaalde engel is nie.

Jy kan vir seker ook nie vir Hofmeyer by die volgende insluit nie!!:

“… Wat my pla, is hoekom ons soos kinders rondhang vir n vryfie op die kop, vir goedkeuring om iets te doen. Waar is ons deursettingsvermoe, onafhanklikheid en waagmoed heen?…”

Natuurlik beteken die ganse ge-doe nie dat hy as ‘n held beskou moet word nie. Ek glo ook dat hy dit nie verwag nie.

Hy is gewoon ‘n Afrikaner wat murg in sy pype het om dit te doen wat meeste piete soos ek en jy nie bereid is om te doen nie.
Maak gerus vrede daarmee.

Vic ·

Henry, met alle respek – dit verg nie heldemoed om die Stem te sing nie. Gewone mense soos ek en jy doen dit dikwels. Verg nie moed of murg in die pype nie. Het dit gedoen van kleinsaf. Doen dit nou nog. As ek kon sing, sou ek dit van n verhoog af doen. Die feit dat Steve dit van die verhoog af doen, maak hom nie n held nie. N heldedaad verg uitsonderlike gedrag. Maar ek moet toegee, dit verg moed, of onnoselheid, om teen die spoed te jaag wat hy teen ry. So miskien is hy n held. Of dalk gee hy netnie om of hy ander mense doodry nie.
Ek weet nie wat jy in jou beroep of daaglikse lewe doen nie, daarom kan ek nie kommentaar daaroor lewer nie, net soos wat jy nie kan kommentaar lewer oor wat ek doen if nie doen nie.

Heila Fourie ·

Eugene TerreBlanche is dood, vermoor laat hom asb met rus. Hy was ‘n beter mens as jul almal saam en het jou geen kwaad aangedoen.
Heila

Bruno Stef ·

Vic ons praat die selde taal maar bewoord dit miskien net anders.Ek het respek vir n man wat by sy beginsels staan sonder om die persoon op n troontjie te sit en ek stem saam daarmee kry ons mense bymekaar en reel jou eie fees. Heila ek het ook vir Eugene geken vanaf ons skooldae in Potchefstroom en is nog vriende met sy gesin,Eugene was n uitstekende Orator maar soos in die artikel na verwys word menslik en ook n hele paar foute in sy lewe gemaak. Dit is hoekom ek se vergewe mekaar se foute en span al ons kragte bymekaar gebruik Solidariteit as n voertuig tot eenheid.

Pieter Oosthuizen ·

Susan, jy neig vir my half na die populisme van ander joernaliste in ‘-24 groep, met jou verwysing na Steve Hofmeyr.
Duidelik wens jy om hom te ontmoet, want jou kommentaar dui daarop dat jy hom nie ken nie.
Ek ken hom persoonlik.

Moenie die pad van die populêre diskreditering van Afrikaners deur joernaliste loop nie. Ons gaan een van die dae weer n oordosis daarvan kry uit buur-mediagroepe se propagandiste, wat nou rondgeskuif, afgestof en nadergesleep word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.