Redakteursbrief: Wat is ‘n huis sonder ‘n moeder?

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Nog voor ek besef het dis Sondag Moedersdag, het ek besluit dis tyd om ʼn slag oor my ma te skryf. Sy sal waarskynlik die eerste een wees wat hierdie redakteursbrief lees.

Ek was een keer op laerskool op ʼn skooluitstappie. Dit was ʼn tyd toe ons gesin dit nie breed gehad het nie. Om my het my maats padkos-pakkies oopgemaak wat hulle ma’s vir hulle ingepak het: ham-en-kaastoebroodjies, pakkies aartappelskyfies, stafies sjokolade, boksies vrugtesappies. Ek het uitgestel om my kosblikkie uit te haal, want ek het geweet dis waarskynlik ʼn eenvoudige toebroodjie met appelkooskonfyt en ʼn botteltjie aanmaakkoeldrank. Toe ek dit uiteindelik oopmaak, was dit inderdaad dít, maar met ʼn teksvers-boekmerkie van my ma af bo-op die toebroodjie: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.”

Die toebroodjie was heerlik.

Ek kan baie sulke stories vertel. Ek onthou hoe my ma laataand tuisgemaakte malvalekkers met klapper gemaak het om geld te spaar vir my musiekeksamens en skoolklere. Hoe sy aan die einde van die maand by die kombuistafel gesit en die spyskaart vir die hele maand beplan het, sodat sy presies kon uitwerk hoeveel van wat om te koop sodat ons nie mors nie. Ek onthou hoe sy elke ete met liefde gekook het, en dat daar altyd genoeg was, maar nooit te veel nie. Ek weet waarskynlik nie eers van die kere wat sy vir haarself skraps ingeskep het sodat ons ʼn tweede skeppie kan kry nie.

Ek onthou haar deurgeloopte skoene en die rokkies wat sy oor en oor gedra het, want sy het altyd heel laaste vir haarself gesorg. Vandag nog doen sy dit, al hoef sy nie: Voor sy vir haarself iets koop, dink sy of daar iemand anders in haar lewe is wat iets nodig het. En daardie “iemand anders” sluit nie net haar gesin en familie in nie – dit sluit ook die buurvrou, die tannie met Alzheimersiekte in haar Bybelstudie-groepie, die dominee, die karoppasser by Spar wat altyd haar pakkies dra of die sendeling in Indië wat sy ondersteun in. Wanneer sy deur die lysie is, bly daar selde ʼn bederfie vir haarself oor.

Wanneer sy iets present kry, is die kans goed dat sy dit gaan weggee. As sy ʼn ekstra tydjie het, gaan sy dit waarskynlik gebruik om koekies te bak of ʼn nuwe speletjie te beplan vir wanneer die kleinkinders kom kuier.

Die afgelope paar jaar is ek bevoorreg om my pa en ma om die hoek van ons af te hê. Ons kinders sien hulle amper elke dag. Wanneer ek daar kom, vind ek haar dikwels op haar moeë knieë langs die koffietafeltjie in die sitkamer, besig om saam met die kleinkinders ʼn bordspeletjie te speel. As sy by ons kuier en die kinders raak skielik stil, is hulle waarskynlik knus saam met haar op die bank, besig om ʼn storie te lees. As ons verbeeldingryke jongste op ʼn fantasievlug gaan, vlieg ouma saam. As ons meisiekind wil koekies bak, haal ouma bestanddele uit en kyk anderpad as sy die kombuis op sy kop keer.

Maar as ek aan my ma dink en net een prentjie van haar in my kop moet oproep wat presies sê wie sy is, dink ek aan haar op haar knieë langs die bed, met haar Bybel oop voor haar en haar gebedslysie langsaan. Deesdae wil die ou knieë nie meer saamspeel nie, maar in haar hart kniel sy en bid met dieselfde ootmoed en toewyding. As ek bekommerd is oor iets, bid sy. As die kinders ʼn toets skryf, bid sy. As ons ver met vakansie ry, bid sy. As my man lang ure werk, bid sy. Haar gebedsboekie is voos geblaai. Ek vermoed ʼn legioen engele staan elke oggend gereed om uitgestuur te word wanneer my ma met haar Bybelstudie begin.
Die grootste kompliment vir my sal wees as my kinders my eendag onthou soos ek my ma sal onthou. Mag jy ook hierdie Moedersdag so geseënd wees om so ʼn ma te hê, of so ʼn ma te wees.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ina ·

Sjoe Susan, jy som ‘n moederhart in een gedeelte op. My ma al baie jare terug aan kanker verloor, maar ek onthou die “krimpelene” rokkie met die beldjie. Sykouse en skoene elke dag gedra. Baie dae wens ek, ek kon meer doen, maar dis verby. Daarom is ek die beste ma wat ek kan wees vir my kinders, want ek het by die beste geleer. Waardeer jou ma, troetel haar en wees lief vir haar. Ma Gwen ek brand ‘n kersie vir jou, nie net op Moedersdag nie, maar elke dag.

Natie Durand ·

Ek lees die storie en ek kry ñ knop in my keel, en besef ek het my moeder te vroeg in my lewe verloor. Maar ek kyk na my vrou en sien my moeder wat haar kinders en kleinkinders met soveel liefde beskerm, en ek kyk af na die eelte op haar kniee en besef geen wonder dat onse Here so lief kan wees vir ñ vrou nie.

Xa ·

Beslis n besonderse ma, maar so ook n besonderse dogter wat haar ma so wardeer.

christine ·

Ek het n na oorlogste ma gehad sy het geen nonsens gevat nie eks nou 66jr en elke jaar dink ek aan die merkwaardige vrou wat tot 2uur in die oggend gesit en naaldwerk doen om ons te klee ook onhou ek ons wou nuwe skoene gehad het syt haar busgeld daarvoor gebruik en werk toe gestap. Dankie mammatjie. Jy was tops

Piet Snot ·

Pragtig. Inspirerend.
Klink of jy my ma beskryf. En my skoonma.

Cobus Lombaard ·

Jy mag maar skryf my kind en jy is ook net so n goeie en dierbare ma

Susan ·

Susan, ek het eers bietjie gewag dat mense jou storie moet lees en kommentaar lewer voor ek hierdie opmerking aanstuur want ek wil jou nie aanval nie. Jou storie is baie goed en ek het dit vreeslik geniet om dit te lees. My kommentaar: wanneer mens ‘n geskenk kry is dit ‘n PRESENT, nie ‘n persent nie.
Ons as Afrikaners kies so maklik die gebruikstaal eerder as die regte woord en kort-voor-lank word dit in die woordeboeke opgeteken as ‘n “nuwe” woord terwyl ons net moet prober om die reeds bestaande mooi woorde te gebruik.
Gee jou ma sommer ‘n drukkie van my af; sy is ‘n voorbeeld vir ons.

Landi Slatter ·

Dagsê Susan,

Dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning vir die oorsig en wysig die berig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.