Redakteursbrief: Wat ʼn mens met R90 kan koop

(Foto: Susan Lombaard/Maroela Media)

Dis ʼn lekker koue wintersoggend in Gauteng. Ek vlieg van Lanseria af Kaapstad toe vir ʼn vergadering – ʼn vinnige heen-en-weertjie, want môre is my dagboek weer volgepak met dinge wat hier in Gauteng moet gebeur. Wat beteken dis nog donker as ek vlieg, en lank al reeds donker as ek by ons huis se oprit inry.

Die Lanseria-pad is nie ʼn lekker een om te ry nie, veral in die donker – ons berig immers self gereeld oor gru-voorvalle waar motoriste oor klippe ry wat in die donker oor die N14 gepak is, of waar voorwerpe van die oorhoofse brûe af op motors gegooi word. Maar opgeweeg teen die lang pad OR Tambo toe en die chaos op dié lughawe vroegoggend is dit ʼn risiko wat ek bereid is om te neem.

Terwyl ek deur die lughawe stap, gaan ek in my kop deur my afmerklysie: Die kinders het hulle alarms gestel om betyds op te staan vir hulle saamrygeleentheid; ek het met my pa gereël om die foto’s te laat druk wat ons oudste nodig het vir ʼn skoolfunksie môre; daar is ʼn gevriesde ete in die yskas, besig om te ontdooi vir aandete; daar’s ʼn potjie koffie op die stoof, want dis beurtkrag wanneer almal wakker word. Die voëltjies se kosbakkies is gisteraand reeds volgemaak en die huishulp weet sy moet die honde kos gee.

My kaartjie is ʼn prioriteitsbespreking, want met dié R90 ekstra vermy ek die lang ry by sekuriteit en het ek so 15 minute of wat om gou e-pos te lees voor ons vertrek – of ten minste soveel as moontlik van die 126 waarmee ek verlede week agter geraak het. Die naweek was daar tyd vir niks. Ons jongste het twee kooroptredes en rugby gehad, en ons oudste ʼn perdryskou waar dinge klaaglik skeefgeloop het. In die sakkie van die sitplek voor my is ʼn boek wat ek gelees moet kry: daarvoor benut ek die halfuur of wat tydens opstyg en land wat my rekenaar nie mag aan wees nie. Ek bel gou huis toe en maak seker almal is wakker en op dreef voor ek my foon moet afsit.

Ek het pas my sit gekry toe ʼn jong dame in ʼn sweetpakbroek, tekkies en ʼn beanie in die ry afgedraf kom. Sy neurie sag en grawe in haar rugsak voor sy dit in die bagasieruimte bêre: haar Bybel, notaboek, potlood en pen kom te voorskyn. Terwyl mense in dasse en hofskoene met hul skootrekenaarsakke rondom haar skarrel, skuif sy gemaklik in haar sitplek teen die paadjie en slaan haar Bybel oop. Raak stil. Buig oor die Boek op haar skoot. Dis voos gelees en vol kleurvolle notas.

“Yes, Jesus,” hoor ek haar een of twee keer fluister.

Sy sit peinsend, potlood in die hand, lees ʼn ruk iewers uit die Ou Testament voor sy agtertoe begin blaai asof sy na ʼn spesifieke antwoord soek. Skribbel ʼn paar goed in haar notaboek neer.

Toe ons opstyg en die ligte uitdoof, sluit sy haar oë en leun terug met haar kop.

Vir haar het R90 ekstra vir ʼn prioriteitskaartjie ʼn ekstra halfuur saam met haar beste Vriend gekoop.

Ek voel skielik simpel met my skootrekenaar op my skoot en my doenlysie op my foon.

Daarom skryf ek nou liewer dié as om e-pos te antwoord. Oor die vrou met die beanie en die Bybel hier langs my, steeds verdiep in haar gehaltetyd met haar Skepper, wat verstaan waar haar hulp vandaan kom.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

OW ·

Baie mooi skrywe Susan.Ons moet net ons oë oop hou en wakker wees,want wonderwerke gebeur om ons,en engele is op strategies plekke geplaas vir ons om waar te neem.
Groetnis.

Johan ·

So gemaklik enige plek lees en praat sy met die Here, mooi vir haar, dankie dat jy jou waarneming deel!

MARELIZE ·

Dis die dinge wat werklik saak maak. Die belangrikste wat ons sommerso lukraak agterweë laat. Ons hardloop, stort neer, storm voort en val in donker slote. Soveel meer waarde in minder hooi op die vurk, meer tyd vir hurk. Minder ysters in die vuur, meer tyd vir ‘n stille uur.

En dit is my lewensmotto. Te lank ander probeer nadoen, te lank vir elke gunsvra ja gesê.

Nou is nee maklik, my tyd my eie, my kop oop, my beursie leeg en tog … my maag nooit.

Shoshan ·

Baie dankie vir jou brief. Dankie vir die pragtige vrou wat haar tyd so vrugbaar gebruik. Vir ons om te besef daar is altyd tyd!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.