Redakteursbrief: Wat word van Lina?

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Ek sit onlangs by my kind se perdryles. Ek bring haar nie gewoonlik self nie, so ek sit ʼn bietjie eenkant en luister na die ander ma’s wat dik stukke gesels. Vrydagmiddag-vriende.

“Wynand het ʼn werksaanbod in Australië gekry,” sê die een ma.

“Ag fantasties,” sê ʼn ander een. “Wanneer trek julle?”

“As alles goed gaan, oor twee maande,” sê die eerste ma. Haar jongste is besig om af te dwaal, doer na die perdestalle se kant toe.

“Ag, Lina, gaan haal net vir Charl voor hy daar iewers inkruip,” beduie sy vir die huishulp met die blou oorjas wat eenkant onder die boom sit.

Die gesprek vlot weer. Lina gaan haal vir Charl en begin saam met hom balskop. Na ʼn rukkie se speel kom klouter hy op sy ma se skoot.

“Ag Lina,” haal vir Charl sy botteltjie koeldrank daar uit sy rugsak uit,” vra sy. “Het jy vir hom ʼn swietie ingepak?”

Die gesprek dwaal weer Australië toe. Nog ʼn ma vertel hulle is ook op pad. Om die waarheid te sê, hulle vlieg oor ʼn maand. Die twee gesels lekker vrolik oor die klimaat van hul nuwe tuisland en oor watter skole hulle oorweeg.

Charl het intussen weer van sy ma se skoot afgeklim en met ʼn paar dennebolle op die grasperk begin speel. Een steek hom, en hy begin hartstogtelik huil terwyl hy sy vinger suig. Sy ma raap hom op en troos met soentjies in sy nek.

“Lina, kry gou vir my ʼn pleister daar in my handsak,” roep sy. “En bring sommer sy dummy ook.”

Die les staan einde se kant toe. Die ma roep haar oudste, maar hy hoor nie; sy aandag is by sy perd.

“Lina, gaan haal gou vir JP daar anderkant, asseblief,” vra sy. Sy begin met Charl op haar heup motor se kant toe stap. Hy kerm verby sy fopspeen en beduie met ʼn vet vingertjie in die rigting van die dennebolle op die gras.

“As jy hulle wil saamvat, dra jy hulle self,” sê sy ferm. Charl kerm harder en verskuif sy wysvinger van die dennebolle na Lina, wat doer oorkant vir JP van sy perd af probeer kry. Die opdrag is duidelik. Sy ma lag.

“Lina, as julle hierdie kant toe kom, bring net die dennebolle saam, hoor,” roep sy arena se kant toe. “En onthou die rugsak en JP se waterbottel!”

Ek hoop maar Lina trek saam.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

56 Kommentare

Anné ·

Perfekte sosiale kommentaar. Ons moet ons koppe maar daagliks in skaamte laat sak.

Rasper ·

Ek het begin “smile” toe ek hierdie lees. Terwyl ek tik wil my “smile” nie weg nie. Ken dit baie goed. Ek kan nie onthou wie nie, maar een of ander politieke leier het gesê, as jy Orania wil laat groei, bou net ‘n Woolworths en Mug & Bean daar.

humor ·

As jy hierdie vertelling sosiologies gaan ontleed vind jy baie gou dat dit ons land, ons sg. Boervolk se grootste probleem is. Voeg daarby as sy met Lina en al by die huis aankom verloor sy haarself in ure se Sepies.

charmaine ·

Baie goeie berig en ja ek het nog nooit n Lina gehad nie en het nog steeds nie, maar my kinders is darem al in hulle 20’s maar as dit kom by “Lina se werk” dan doen ek dit maar self. Ja so baie van die mamma’s is bederf met Lina’s maar hulle is gou om te vlug. So het ons almal mekaar nodig.

dries ·

nie so lank gelede nie kamp ons by een of ander oord aan die Noordkus.
bure langsaan met hulle grênd karavaan en ‘n klein tentjie so entjie weg….. ‘Lina’ se tent. Hoe kan enige ordentlike kamper ontspan as jy self moet skottelgoed was en kosmaak?

MTSteyn ·

Goeie kommentaar op die Afrikaner se grootste sonde: sy absolute gemaksugtigheid. Swak Piketberg, swak!

Flip Buys ·

Treffend en beskrywend! Ons is uit Apartheid, maar Apartheid is nog nie uit party van ons nie. Geen probleem om werkers te hê, maar hierdie raakvat beskrywing sou Marx se vriend Friedrich Engels ‘huisslawe’ genoem het. Dis hoogs vernederend vir swartmense om wittes ‘van wieg tot graf’ te bedien. Hierdie ‘cuppucino’- arbeidsbedeling van wit bo en swart onder se politieke gevolge het ons gebring waar ons is: ‘n polities omgekeerde cuppucino. Ons weet nou wat Marx bedoel het dat werkers moet veg vir demokrasie, omdat dit weens die piramidale struktuur van die werksmag, sal lei dat die ‘werkersklas’ die land regeer, en dan hul politieke mag gebruik om die ekonomiese mag dmv Sosialisme te verkry. ‘Goedkoop arbeid’ het inderdaad baie duur geword.

Yankee ·

Uitstekend gestel!! Wag maar, die skok ‘sonder’ n Lina word gou-gou in die buiteland ervaar, en net daarom word die verlange ewe skielik ervaar!!

Bernard Hellberg ·

Soos die Aussies dit so raak saamvat: “South Africans would rather die in their beds than make them.”

Snowball ·

Gelukkig nooit so sleg gewees dat dié vingerwysing na gemaksugtigheid my sal pla nie. Het net gewonder of iemand vra watter voordele in Lina se lewe is danksy die luigat madam? Een hand was die ander. Daar is gesinne wat hulle Linas se kinders by verskillende afwesige onbekende pa’s deur die skool help kry, vir Lina 3 maaltye per dag verskaf, ‘n dak oor haar kop gee en ‘n salaris betaal wat sy na die familie toe aangegee wat ook van haar afhanklik is. Niemand het die reg om ‘n ander soos ‘n slaaf of onderdaan te laat voel nie, maar daar is gewoonlik twee kante van ‘n saak.

Gerhard ·

Dit het absoluut niks met hoe Lina behandel word te doen nie. Dit gaan oor wat dit aan die mens wat afhanklik raak van Lina doen.

Gerhard ·

Die keuse is tussen vryheid en gemak. Sommige kies vryheid en ander kies gemak.

marco polo ·

Fyn spog. Perdrylesse, Lina wat voltyds na die kind omsien. Solank dit so goed met die Afrikaner gaan, kan ons maar vergeet van saamstaan en veg vir selfbeskikking, want dan is al daai grend goed in sy glorie en ons moet dan tussen die armes bly. Dis die probleem, dit gaan nog te lekker, en ons sal eerder onsself verloon vir die lekker groot huis en die twee karre en al die spoggerige goed. Die Afrikaner sal eers alles moet verloor.

MTSteyn ·

Korrek!! Dit gaan nog te goed met die Afrikaner as hy sy kindertjies na die ballet in die nuutste viertrek voertuig kan neem, terwyl hy land en sand op die nuutste foon kan “chat” oor die behoud van die Afrikaanse (sic) kultuur.
Ons verdien dubbel en dwars elke onreg wat ons tref. So ‘n armsalige volk…

Henry ·

M Polo en MSteyn
Waarom moet ons Afrikaners wat in hierdie Afrikastaat woon, eers alles verloor? Om te wat???
Armsalige volk???

Ronel Vorster ·

Die Goue Boeie. Ons was na 10 gelukkige jare in NZ terug SA toe, hoofsaaklik om weer bande te smee met familie en ouers. Dit was ons “5 jaar plan”. Met NZ én SA burgerskap was dit maklik. Ons was binne 14 maande terug in NZ. Die enigste vriendin wat ek in die hele tyd in SA gemaak het, was Mama Eunice. Die “yummy mummies” met hulle kleinbordjie-sonbrille en Fortuners wat hulle sommer so op sypaadjies parkeer, het my dwars in die krop gesteek. Nog erger was die manier waarop die Lina in elk van daai vrouens se lewens as vanselfsprekend aanvaar is. Natuurlik is daar uitsonderinge, ek veralgemeen, maar die stereotipe is daar, glo my.

Snowball ·

@MTSteyn, moet ons ossewa ry, kaalvoet loop en posduiwe stuur met boodskappe?

Gerhard ·

Die wit Afrikaner dink sy swart landgenote is afhanklik van hom, in werklikheid is die wit Afrikaner afhanklik van sy swart landgenote. Die swart bevolking voel vere vir dit wat blankes vir hulle bied, hulle sien geen verlies raak nie. Verder kan hulle maklik die blanke vervang met kundigheid van buite as dit moet. Terwyl Afrikaners op hulle botterpotjies spring as jy aan hulle die werklike omstandighede probeer verduidelik gaan die werklike boodskap tot niet. Die Afrikaner se swakheid is sy totale afhanklikheid van ander vir die lewering van arbeid. As jy oor jou selfbeeldprobleem kom as mense die saak aanspreek sal jy sien dit gaan nie oor die etiek van die saak nie, maar ‘n probleem wat ons voortbestaan in gevaar stel.

De Villiers Hauptfleisch ·

Ja, ek dink die meeste van ons witmense hier in Suid-Afrika is skuldig hieraan, behalwe miskien die wat in Orania woon. Dit maak `n mens skaam, maar dit skep ook darem werk aan die armes, nie dat dit `n verskoning kan wees nie. Dit is mos `n koloniale ding. Kom van ver af. Ekself is skuldig, was nie eers die skottelgoed nie. My vrou moet dit doen. Laat `n mens dink!

Rinkhals ·

Skuldig aan wat ? Ander mense werk en salaris gee omdat hulle dit kan bekostig. Praat snert op ‘n ander plek.

Gerhard ·

Skuldig wees aan die ding wat jou einde gaan veroorsaak, afhanklik wees van ander om alles vir jou te doen

Rinkhals ·

@MTSteyn: Die gemiddelde Afrikaner huishouding is meer welaf as wat dit ooit was. Hoekom, in ‘n omgewing van BBBEE en omgekeerde apartheid is dit so ? Werk dit vir jouself uit. Maar moet nie die hele Afrikaner volk slegse omdat jy agter gebly het nie.

MTSteyn ·

Dankie, jy maak ‘n geldige punt. Volgens die groepering op wie se webwerf jy hier skryf, is daar ongeveer 800,000 blankes vasgevang in haglike omstandighede in plakkerskampe. Ek dink dit is aansienlik meer, maar dit daar gelaat (gebaseer op my werk).

Dit uit so ‘n bevolking van 4 miljoen!

Wanneer jy oor die welvaart van Afrikaanses praat, het jy bloot jou broers en susters in die kampe vergeet

PJC ·

Hierdie is nou die mooiste beskrywing wat ek nog gehoor het van hoekom ons land is waar ons tans is. Hierdie dame verdien ń “Bells” vir hierdie oulike opsomming van ons grootste probleem.

Huisvrou ·

Ons bly die laaste amper 6 jaar in Kanada. Hier het my oe oopgegaan wat baie dinge betref. Arbeid is duur. Huishulp (skoonmaak) kos tot $25 n uur. Die minimum loon in ons provinsie vanaf Oktober is $15 n uur. Die Kanadese, vrouens ingesluit, sny gras, maak huis skoon, verf, bou, werk op die olievelde ens. Die vrouens hier is taai! Ek het het ook vriende gemaak hier met vrouens wat normaalweg op neergekyk sou word in Suid-Afrika. Ek is oorspronklik van Stellenbosch. 2 van my baie goeie vriendinne hier het net graad 10. My een vriendin verf huise vir n lewe en nog n ander een maak huise skoon. Sy maak selfs van haar eie vriende se huise skoon.
Die meeste mense wat skoonmakers kan bekostig huur hulle vir net n paar uur. Ek is een van die gelukkiges wat Maandae n ‘cleaning lady’ kry. Sy is van Mexico. Sy werk nou al 4 jaar vir ons en ons is al amper meer soos vriendinne. Ek is nog meer bevoorreg want sy gee nie om om my man se klere stryk vir sy werk nie. Dit gebeur nie gewoonlik nie. Die ‘cleaners’ maak net huis skoon (vloere, toilette, matte stofsuig ens). Die ander dag se sy vir my haar vriende wil nie vir Suid-Afrikaanse vrouens werk nie want ons is ’lazy’.

Jerry ·

Daar was 11 miljoen Lina’s sonder werk in SA. Nou is dit 11 miljoen plus nog een! Miskien moet n mens 7 Lina’s aanstel, een vir elke dag, dis nou te se as jy nie n pos in Australie kry nie, want wat word dan van 7 Lina’s!

Cornelia ·

Op Hoërskool in 1978 se jare vra ‘n spesiale inspirasie spreker vir ons matrikulante ‘n vraag. Hy hou ‘n sakdoek met ‘n gaatjie daarin op en vra wat ons sien. Die stoom verdik letterlik die skoolsaal soos ons dink. Stadig waag enkeles: ek sien ‘n gaatjie. Na nog so twee beamings seg die man. Julle het almal die gaatjie gesien, maar nie een het die sakdoek gesien nie? Daar is darem altyd ‘n groter deel (so hoop mens in jou eie hoekie) wat swoeg om by te dra tot ‘n gedeelde las?

Johan Oosthuizen ·

Ek hoor jou Susan. My liewe ma het vier kinders sonder Linas grootgemaak. My liewe vrou het vier kinders sonder Linas grootgemaak. Ons kinders maak dertien kniders sonder Linas groot. Nee, ek spog nie. Ek is net innig dankbaar vir ma’s wat hulleself opgeoffer het om MA te wees, al het die pa’s om verskeie redes nie altyd hulle kant kon bring nie. Maar ek onthou dat ek saans op my pa se skoot aan die slaap geraak het en hoe my kinders en kleinkinders op my skoot aan die slaap kon raak. Afwesige ma’s en pa’s is een van ‘n volk se grootste skandes. Lina mag slegs help ás ouers hulle plig erstens nakom.

Rinkhals ·

@Gerhard: my einde gaan beteken…..?? Wees eerder bekommerd oor jou eie einde nie een van ons weet hoe, waar en wanneer dit sal wees nie. Hoe jy die artikel en mense se einde bymekaar uitbring sal net jy weet. Sterkte in elk geval met jou denkprosesse…….

Rinkhals ·

@MTSteyn: 800 k Afrikaners in kampe van armoede. En ek neem aan dis omdat hulle te gemaksugtig is om hulle eie huiswerk te doen ?? Snert. Wat van die meer as 15 m Afrikane in SA wat in “squatter camps” bly……? Wat of wie blameer hulle ? Die 3 m Afrikaners wat meer as 30 % van die land se koopkrag opmaak omdat hulle besighede suksesvol bestuur, entrepreneurs is, boere, onderwysers wat kinders opvoed? En wanneer die mense vir Lina aanstel want hulle kan dit bekostig en hulle is besig se jy die Afrikaner is lui omdat hy die vrugte van sy arbeid pluk ? Gelukkig kan ons verskil. Klink na nonsens vir my.

Ronel ·

Sedert ons 9 maande terug verhuis het (nog in SA, want dis my land) kon my Lina wat nie kon saamkom nie, nog nie weer werk opspoor nie. Sy’t laat weet sy mis my. Waar ons nou woon en ek stukwerk aanbied, spaar my Lina haar middag ete om vir haar kinders huis toe te neem omdat sy net 2 dae per week werk en ook nie ander werk kan opspoor nie. Dis maar net die begin van die gevolge van die ganse wat die goue eiers gelê het en nou wegvlieg. Miskien sal hulle vir Ramaphosa se boere kan werk.

Rinkhals ·

@Gerhard: waarom moet mense fisiese arbeid verrig as hulle nie hoef nie en geld het om duur 4 trek voertuie en nuwe selfone te besit en nog steeds vir Lina te bekostig ? Jy het dit anders om, dalk moet jy na die arbeid mark kyk en sien die hoogs betaalde mense is die wat kan strategies dink oor ‘n wye hoeveelheid onderwerpe en ander mobiliseer tot aksie. Nie noodwendig Lina wat die dummie moet aangee nie. Min denkers, baie Lina’s in die mark. So dis vraag en aanbod. Maar as jy self als wil doen stop niemand jou nie jy het seker tyd om dit te doen . Maar omdat ander nie kies om dit te doen nie is dit nie noodwendig die einde van die Afrikaanse volk of “my einde” nie. Dis snert. Hang seker af van watter platform jy daarna kyk – Lina s’n of Lina se werkgewer s’n. Gelukkig is meeste mense wat Lina in diens neem van die wat betaal word om te dink. En daar is nog baie van hulle wat Afrikaners is……..So tel maar daai dummie op jou eie op ander dink jare vooruit.

Gerhard ·

Die rede waarom die Afrikaner vandag is waar hy is is omdat hy afhanklik is van ander vir sy arbeid. Dit het die gevolg dat hy ook n minderheid is in sy eie land. Dit GAAN sy einde beteken. Dit is jammer dat so baie so eenvoudige konsep nie kan verstaan nie.

Koffie ·

Hoe ironies “ek vat my kind vir perdlesse, ek doen dit gewoonlik nie self nie” het jy nie maar ook ‘n Lina waarvan jy afhanklik is nie?

Smirre ·

Gerhard, SA is lankal nie meer ‘n land waar die Afrikaner sy eie arbeid kan doen nie. Dis ‘n multi etniese land met ‘n oop ekonomie waar alle etniese groepe deelneem aan alle vlakke van die arbeidskaal. So as jy ‘n land wil he waar die Afrikaner alles doen asook sy eie arbeid gaan terug na SA tydens die groot depressie of stig jou eie volkstaat. Jy droom van kiewiet eiers.

Ans ·

Ons Lina maak een maal ‘n week ons huis skoon en stryk ook ons wasgoed. Sonder haar sou ek nie kon skoolhou nie. Sonder ons het sy nie daardie dag se salaris en byvoordele nie. En sonder haar het my meer as driekwart Sotho-leerlinge nie ‘n juffrou nie.

RN ·

Nie almal wat ‘n Lina het is ‘n snob wat gemaklik leef om o. a. ure sepies kyk en werk in Australië losslaan nie. Wat is fout daarmee om ook vir ‘n Lina ‘n werk te skep as jy voltyds moet werk om te help om die pot aan die kook te hou. Ek stem saam, hierdie saak het 2 kante.

Gerhard ·

Daar is ook ‘n kant wat niks met snobisme te doen het nie.

Koffie ·

Ek sien hierdie vrou as ‘n werkskepper en iemand wat die lewe vir haarself minder stresvol maak deur te delegeer.

Therese van Schalkwyk ·

Stem saam met Gerhard, MTSteyn en Ronel Vorster oor hierdie kwessie.
Is boonop oortuig dat selfs die mees “betroubare”, “liefdevolle” Lina wat “soos familie behandel word” ‘n inherente wrewel koester teen die blanke adelstand van Suid-Afrika. Die status quo moes, ter wille van SA se apartheidsverlede, op dag een van die nuwe SA verander het.

marco polo ·

Uit n selfbeskikkingsoogpunt,wat vir my al hoe meer na n hersenskim begin lyk, gaan niemand wat n Lina aanhou en spog oor sy leefstyl, dit opoffer en trek na n gebied waar daar swaarkry gaan wees en moue opgerol moet word om n nuwe land te bou nie. Dis wasrskynlik die rede hoekom niemand nog wou se waar die eie gebied gaan wees nie, want meeste is te gemaksugtig om te skuif en wil dit eerder he waar hy woon. Dit is hoekom ek se dat die Afrikaner eers alles moet verloor. Dit gaan nog te goed met baie van ons, al moet ons voor n swart baas kruip en op ander trap om ons werk en huis en Lina te behou. Eers wanneer ons dit nie meer het nie en op mekaar moet staatmaak vir oorlewing, sal daar eendrag wees en dalk n eie grondgebied. Ek is bevrees dit gaan dan te laat wees.

Snowball ·

Dis klaar te laat. Selfbeskikking vir Afrikaners het verdwyn in ’94. Ons IS NIE MEER DIE ENIGSTE EKONOMIES EN POLITIES DIKTERENDE ROLSPELERS IN SA NIE, NET ‘N KRIMPENDE MINDERHEID. Kan iemand sê hoe, waar en met watter bedingingsmiddele ons gaan onderhandel met die huidige vyandige regering vir ons eie land ? Of gaan ons oorlog maak daarvoor? Met watter weermag?

Gerhard ·

Ek het ook al die gevolgtrekking gemaak dat die mense eers alles moet verloor voor hulle sal verstaan wat die waarde is daarvan om nie van ander afhanklik te wees nie. Ek is ongelukkig ook van mening dat dit waarskynlikheid te laat sal wees en die einde van die volkie sal beteken.

Rinkhals ·

Gerhard en Marco Polo: Orania bestaan reeds. Afrikaner utopia met 900 mense wat die nuwe volk vorm – selfbeskikking, arbeid en al. Net jammer inwoners moet toestemming kry van die stadsraad voor hul besoekers mag ontvang…….. so daar is jul oplossing. As julle nie alreeds daar is nie.

Smirre ·

Selfbeskikking en Afrikaner tuisland aspirasies sal nooit werk nie. Hoekom moet die Afrikaner altyd op ‘n hoop loop trek waar hy geisoleerd van enige ander volk sy bootjie moet roei ? Het die verlede nie geleer dis werk nie ? Gaan daar ‘n nuwe ekonomie geskep word ? En gaan daar a la Trump ‘n muur om die gebied wees met streng beheer wie mag in en uit? Hoekom kan die Afrikaner nie Afrikaner wees waar hy hom bevind nie? Man staan in die see van etniese diversiteit wat SA nog altyd was maar deur apartheid onderdruk is ? Die Afrikaner het die reg om SA te regeer verloor in ‘n politieke proses. Hoe dit gedoen is laat my ook koud aangesien die uitkoms baie beter beding kon word. Maar nou is dit wat dit is. Die Afrikaner sal als verloor deur ‘n tuisland idiologie aan te hang.

Smirre ·

Gerhard: Afrikaners is lankal nie meer ‘n volk nie. Dis ‘n kultuur/taalgroep wat minder as 10 % van die getalle van die bevolking van SA uitmaak. Daar is nie ‘n geleentheid vir selfbeskikking nie die het ons gehad maar dit eers opgeneuk deur apartheidswette toe weggegee in ‘n swak onderhandelingsproses. Nou moet die Afrikaner Afrikaner wees waar hy is. Die doelwit van die Afrikaner moet verander. En deur terug te gaan en ons eie arbeid te verrig om ons weer selfbeskikking gaan gee in een of ander agteraf Afrikaner tuisland kan enige iemand met twee breinselle vir jou se dis ‘n “pipe dream”…..

Van Lina tot by Selfbeskikking ·

Gerhard, Orania bestaan reeds vir selfbeskikking, waar alle arbeid deur die wit Afrikaners gedoen word. Is jou tasse al gepak?

Cornelia ·

Dit is in perspektief en gebalanseerd toegelig Ans. Dankie.

Ronel ·

Daar is reeds heelwat produkte op die mark wat Linas se werk oorneem. Automatiese stofsuiers ens. ‘n Eenmalige uitgawe teenoor ‘n maandelike salaris en ek doen my eie huiswerk in ‘n japtrap. Ek verkies egter om aan een Lina werk te verskaf want sy is ‘n vrou soos ek met ‘n gesin om te onderhou. Opskud Ramaphosa, sodat Lina ook kan baat uit u werkskepping en nie meer huiswerk hoef te doen nie. Om terug te kom na die skrywer se eintlike punt, vir enige iemand wat emigreer sal haar woorde eers sin maak wanneer Lina nie meer daar is om na die kjenners om te sien nie. Hoop maar Lina trek saam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.