Redakteursbrief: Wyshede (en snaakshede) uit die mond van die suigeling

Isabel en Josua

Isabel en Josua

Ons is geseënd met twee besonder bekkige kleingoed.

Josua, vyf jaar oud en in graad R, is nog in die stadium waar hy byna daagliks laat reg geskied aan Salomo se mening oor die waarheid wat uit die mond van die suigeling kom. En sy menings is meestal bitterlik baie eerliker as die gewone “Mamma se magie is so lekker sag en warm” waarmee die meeste kleuters hul ma’s se voete op die grond hou.

Só sê hy een aand, so twee jaar gelede, hy wil bid vir Dawid, die maatjie wat hom dié dag van die klimraam by die kleuterskool afgestamp het. Ek is heel trots. En toe bid hy: “Jesus, gee asseblief vir Dawid weg.”

Verlede jaar ry ons een aand iewers heen, en hy lê op die agtersitplek van die motor en kyk na die sterre. “Mamma,” vra hy, “hoekom lyk dit of die sterre stilstaan, al beweeg ons?” Ek gee my heel beste verduideliking op vyfjaarvlak oor die sterre wat eintlik ver is; en ons wat eintlik min beweeg in verhouding tot die grootte van die sterre; relatiwiteit en ʼn paar ander dinge. Toe ek klaar is, is daar ʼn paar oomblikke ʼn skeptiese, doodse stilte in die kar. Toe sug hy en sê: “Toemaar wat. Ek sal maar liewer vir Pappa vra.”

As ek die kinders in die oggend by die skool aflaai, vertel ek hulle van die beskermengel wat saam met hulle gaan om hulle op te pas. Een aand, toe ek die kinders in die bed sit, vertel Josua fluisterend in die donker (want Sussa slaap al) vir my van sy maatjie Tristan wat hom by die kleuterskool met sy fietshandvatsel gestamp het. “Lyk my ek sal met jou beskermengel ʼn ‘talk’ moet hê,” fluister ek. “Nee, Mamma!” fuister hy verontwaardig terug. “My engel het ook seergekry. Tristan het die handvatsel dwarsdeur sy vlerk gestamp.”

Ons meisiekind, Isabel, is weer die wyse enetjie; veral hier rondom agt jaar (waar sy soms meer wysneus as wys is). By haar het ek geleer wat geloof soos ʼn kind regtig beteken. Kyk, dié meisiekind hou nie op bid vir ʼn ding tot dit gebeur nie. Ons het nog net een keer nodig gehad om ʼn streep te trek met dié deursettingsvermoë van haar: Dis toe sy, ʼn maand ná ons geliefde Lola-hond dood is, nog steeds bid dat Lola weer moet lewend word.

So ʼn week gelede los Josua die deurtjie van sy hamster se hok oop, en die hamster is skoonveld. Vir ʼn week kry ons dit reg om Josua te flous dat sy hamster eintlik baie moeg is en heeltyd slaap. Terwyl ek en my man die huis fynkam vir tekens van ʼn ontsnapte hamster, voer Isabel die stryd geestelik aan en bid elke aand vir “die bal wat weggeraak het” (haar kodeterm vir die vermiste hamster, sodat Josua nie onraad vermoed nie – sy het selfs een aand in ʼn gebed in Josua se afwesigheid seker gemaak God weet “die bal wat weggeraak het” en Josua se hamster is een en dieselfde ding). Ná ʼn week se soek en bid besluit ons Sondagaand dat ons Maandagoggend vir Josua die nuus sal moet breek. Steeds bid Bella onverpoos. En raai: Sondagaand laat, toe ek gereed is om my bedlampie af te sit, hier kom die hamster ewe doodluiters oor ons kamervloer aangedraf en kom sit op die mat langs die bed. Spekvet gevreet aan die drukker se kabel (vind ons toe later uit), en springlewendig.

Isabel het in haar slaap breed geglimlag toe ons vir haar die goeie nuus gaan vertel.

Vroeër vandeesweek ry ek en sy een laatmiddag huis toe. Uit die bloute deel sy haar nuutste lewensfilosofie met my: “Mamma, elke dag, so halfpad deur die dag, dink ek by myself: ‘Wat was die lekkerste ding wat nou nog vandag met my gebeur het?’ En as ek aan niks kan dink nie, dan dink ek: ‘Toemaar wat. Die lekkerste ding in my dag kom dan seker nog.’”

Ek hoop dat jy dié week tyd maak om na jou kinders te luister, en veral om te dink oor die lekkerste ding wat elke dag met jou gebeur.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

RK ·

Dankie vir die deel van die skrywe oor jou persoonlike lewe. Dit is te kosbaar vir woorde. Ons “grootmense” kan gerus leer by Isabel. Haar geloof is heelwat nader aan ‘n mosterdsaaitjie grote as meeste geestelike intellektuele volwassenes van vandag sin.

Jan ·

Pragtig. My jongste speel rugby in gr2 . Sy ouma kom kyk toe die een Saterdag en hy wil by haar weet of ouma sy voete ken. Ouma wil toe weet hoekom. Hy antwoord ” want as ek in die skrum is hoe gaan ouma weet wie is ek?”

Jan Greyling ·

Baie dankie vir die weergee van die kosbaar van julle en eintlik maar elkeen van ons geseendes, se Kleingoed se Praatgoed, Susaan. In wese is hulle Godgegewe stempeltjies, wat ons voorbeeld deur woordjies en goedjies, met sagte drukkies op pappas en mammas se harte, terugskryf. Sal nooooit vergeet hoe ons jongste kleinman, Eugene, op ‘n dag in stadsverkeer langs ‘n afslaankap-motor gevra het: “Is die oom in die kar arm, Pappa? “Want”, meen hy toe “kyk, sy kar het nie eers ‘n dak op nie…’ Geniet jul kleingoed se praatgoed.

Francis Linstrom ·

My 2 jarige kleindogter wil altyd dans of in die rondte draai. Ouma het egter
Osteo-artritis en my hande en voete Pyn konstant. As ek se my hande of voete is seer, neem sy dit tussen haar 2 handjies en soen dit
en Dan moet dit onmiddelik beter wees. Dan gaan ouma maar aan ongeag die Pyn.

Gerhard ·

Isabel se positiewe siening van die lewe laat my skaam kry vir my eie houding wat soms nogal geneig is om eerder die donker wolk as die silwer rand raak te sien. Ek het my reeds voorgeneem om haar goeie voorbeeld te volg.

Jan ·

Pragtige artikel Susan, maar waarom lê jou kleuter op die agtersitplek van die motor en is nie in sy veilgheids stoeljie vas gemaak nie?

Leon ·

Dis kostelik ‘ My klein dogter, 5 vra dat ek en Ouma haar moet “hande en voete ” swaai. Na 20 swaaie se ek my rug pla. Sit haar handjie dadelik op my rug en bid, ” Jesus ons benodig n wonderwerk
…Nou!” Toe gaan ek aan met die swaaiery

Kinder geloof is groot geloof. Leer hulle en leer dan by hulle.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.