Rees-Mogg en erfenis

alana-bailey-afriforum-featured

Alana Bailey, AfriForum se adjunk-uitvoerende hoof van internasionale skakeling. Foto: Reint Dykema.

Dit was bemoedigend om te sien hoe vinnig en heftig mense gereageer het op die onsinnige kommentaar van die Britse politikus, Jacob Rees-Mogg, oor die Britse konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog, wat volgens hom kastig opgerig is om Boerevroue en -kinders te versorg, en waar die sterftesyfer kwansuis nie uitermate hoog was nie.

Skielik was elke tweede persoon met wie ek gesels het, ’n deskundige ten opsigte van dié oorlog. Die media en kultuurorganisasies het artikels geplaas en onderhoude uitgesaai, sommige het selfs uitgebreide planne voorgestel om hom vir ’n besoek na Suid-Afrika te nooi.

Soms is so ’n knuppel in die hoenderhok ’n goeie ding, want dit herinner ons weer dat kennis van die verlede nie ’n vanselfsprekendheid is nie en dat ons wakker moet slaap wat erfenis aanbetref, anders herskryf politici en ander opportuniste ons verlede vir ons.

Daar is verskeie maniere waarop ons ons verlede lewendig kan hou.

In die eerste plek is dit deur ons kennis daaroor deurentyd aan te vul en te deel. In 2019 is daar soveel mediums waardeur ons dit kan doen. Tydskrifte, koerante, sosiale media en internetplatforms is geskik vir die bekendmaak van bondige inligting, soos die vele artikels wat verskyn het om Rees-Mogg met feite reg te help.

Daar is natuurlik ook boeke (my persoonlike gunsteling).  By Kraal Uitgewers het ons juis op 13 Maart 2019 ’n baanbrekerswerk oor die Eerste Vryheidsoorlog van 1880-1881 deur dr. Jackie Grobler bekendgestel. Dit word gevolg deur die bekendstelling op 1 April 2019 van dr. Leopold Scholtz se boek, Bondgenote en dwarstrekkers: Die Transvaalse en Vrystaatse regerings in die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902, onder redaksie van prof. Fransjohan Pretorius.

Beide publikasies werp lig op aspekte van Afrikaners se geskiedenis waaroor minder bekend is. Moeite is ook deur die skrywers en uitgewer gedoen om die feite nie “droog” en akademies aan te bied nie, maar met lekkerleestaal en interessante foto’s en kaarte, sodat enigeen dit sal geniet. Boeke soos hierdie is ʼn belegging oor geslagte heen. Van die voordele wat hulle inhou is, onder meer, dat hulle nog werk, al stel Eskom beurtkrag in, asook dat hulle vier en twintig uur van die dag, sewe dae van die week beskikbaar is.

As ’n mens egter meer intensiewe tyd aan ’n historiese onderwerp wil spandeer, is daar biblioteke en argiewe vol skatte wat wag om ontdek te word. Mense wat ou dokumente of foto’s het waarvan hulle ontslae wil raak, of boeke met ’n geskiedenistema wat hulle nie meer wil hê nie, kan dit gerus na so ’n plek neem. Gewoonlik kan instellings dit gebruik deur dit in hul eie versameling op te neem, of dit uitruil met ander soortgelyke instellings, of dit selfs verkoop om broodnodige geld in te samel.

Dan is daar museums. Hulle is ’n bron van kitskennis vir die besoeker wat net deurstap, of van meer inligting, wanneer die besoeker ook die versameling gebruik om navorsing oor ’n tema te doen. In museums word dikwels moeite gedoen om die geskiedenis “lewendig te maak” deur byvoorbeeld ou vaardighede te demonstreer (soos hoe om vetkerse te maak of swepe te vleg). Soms word besoekers by sulke aksies betrek, tot groot vermaak van oud en jonk. Ons moet nooit die fout maak om te dink dat dit onbehoorlik is nie, want ons mag maar ons geskiedenis geniet ook – dit hoef nie altyd met erns en fronse hanteer te word nie en die verlede bestaan nie net uit sterftes en oorloë en ellende nie.

Historiese terreine bied ook eiesoortige inligting. Soms is dit ’n slagveld, soms ’n begraafplaas, soms ’n terrein waar een of ander historiese ontmoeting plaasgevind het. Die feit dat ’n mens op dieselfde plek staan as waar daar ’n gedenkwaardige gebeurtenis plaasgevind het, gee jou nuwe insig in die gebeurtenis, maar kan selfs ook ’n geestelike of emosionele ervaring wees. Een van die mees besondere ervarings van my lewe was om op presies dieselfde plek en tyd as wat die Slag van Bloedrivier 175 jaar tevore plaasgevind het, te staan. Geskiedenis het op daardie oomblik iets voelbaars geword – ’n totale ander ervaring as wanneer die feite gelees word en ook iets wat nooit weer op presies dieselfde manier in my lewe herhaal kan word nie.

Suid-Afrika het ’n ryk en uiteenlopende geskiedenis en met al hierdie bronne tot ons beskikking is ons bederf met keuses van maniere waarop ons ons kennis kan uitbrei.

Wat my terugbring na Jacob Rees-Mogg se opmerkings.

Mense was vinnig om te reageer op sy kommentaar maar, helaas, is dit dikwels so dat hulle veel stadiger optree wanneer erfenis bedreig word. Hulle kla oor toegangsgelde by museums, terreine en monumente, maar dink nie daaraan dat dié plekke, nes enige huishouding vandag, werknemers volgens minimum loonskale moet vergoed, krag en water gebruik en aaneen instandhouding benodig nie.

Hoeveel van die mense wat Rees-Mogg wou vasvat oor hy hul voorouers se lyding en sterfte in konsentrasiekampe as onbenullig afgemaak het, het onlangs ’n konsentrasiekampbegraafplaas besoek of skoongemaak? By Irene doen ’n span toegewyde vrywilligers dit, by Doornbult is dit Rina Wiid en in Heilbron Quarta Pretorius, Sagrys Ramage en andere. AfriForum Jeug onderneem ook al hoe meer skoonmaakaksies by dié begraafplase. Nog ander instellings en individue wat ek nie eens noem nie, maak ook só, maar op te veel plekke staan die bossies nóg hoër as die grafstene. Dit is die geval, terwyl die Britte deur hul British War Graves Commission steeds jaarliks ruim geld bewillig vir die onderhoud van die begraafplase van Britse soldate wat tydens die Anglo-Boereoorlog oorlede is.

Erfenis (en veral Afrikanererfenis) is geen prioriteit vir die Suid-Afrikaanse regering nie. Juis daarom moet ons self verantwoordelikheid aanvaar vir die bewaring en onderhoud daarvan. Ons moenie toelaat dat erfenishulpbronne soos standbeelde sommer lukraak verskuif word, of terreine aan die genade van onetiese ontwikkelaars oorgelaat word nie. Ons moet bereid wees om by te dra vir die beskerming daarvan – hetsy deur tyd af te staan vir ’n skoonmaakaksie, by ’n vriendevereniging van ’n museum of monument aan te sluit, of selfs net wanneer die kans hom voordoen, by sulke instellings besoek af te lê en die toegangsgeld sonder ’n gemor te betaal.

Al is nie een van die moontlikhede wat ek bo noem, vir jou ’n opsie nie, skryf jou eie geskiedenis neer. Elkeen van ons het unieke gebeure beleef – ek onthou insidente soos die eerste maanlanding, die koms van persoonlike rekenaars en selfone, politieke gebeure in Suid-Afrika en die wêreld …  Dit alles is gebeure wat weer die volgende geslagte gaan interesseer, maar waarvan hulle min gaan weet as ons dit nie opteken nie. Daarmee saam gaan ons unieke kulturele geskiedenis soos familiespreekwoorde en -resepte, Boererate en volksverhale.  ’n Pen, oefeningboek en bietjie tyd is al wat dit vra.

Erfenisbewaring is ’n verpligting teenoor die geslagte wat ná ons kom en ’n betuiging van respek teenoor diegene wat voor ons hier was – hulle wat ons gemaak het wie en wat ons vandag is. As ons ons voorgeslagte nie ken en verstaan nie, kan ons nageslag dit ook nie doen nie en is selfs die konteks van uitdagings wat ons tans in die gesig staar, skeefgetrek.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hans Richardt ·

Rees-Mogg het nooit “schorched earth” beleid in sy gewraakte opmerking genoem nie, wat “vlugtelinge” geskep het, wat onder gewapende wagte na kampe gedryf was, op oop en selfs in beestrokke. Daar aangehou agter doringdraad, met wagte wat geskiet het, soos “vrywillige vlugtelinge” die kamp verlaat.
Dan, ja, die Eerste Vryheidsoorlog het GEEN verband of betrekking op ABO nie! Ek weier om boek te koop.

Peet Schabort ·

Ek het die voorreg gehad om EERGISTER 30 Maart te luister wat dr. Jackie te sê het oor die eerste vryheidsoorlog. Dit was by Val met die ‘Boer en Brit’-dag wat jaarliks plaasvind. Dit is as’t ware ‘n pieniekdag om te geniet.
Die engelse kon nie die vernedering van Majuba aanvaar en dit het ook gedien as motivering om die nederlaag te wreek met die Tweede Vryheidsoorlog. Tot op daardie stadium was daardie nederlaag die ergste in Britse geskiedenis en dit teen ‘n niksseggende klompie boere!!
Om terug te kom na Alana se uiters sinvolle skrywe dink ek ons grootste probleem is dat dit lyk asof ons die hede wil dokumenteer wat skynbaar nie sinvol is. Dit het telkemale al met my gebeur dat 30-/40 jaar later daardie video of foto van groot belang is.
So mense, gee gehoor aan Alana se versoek om mense, plekke ens. te dokumenteer hetsy skryf, foto’s, videos. Dit is wanneer in die toekoms die verlede werklik sal sin maak. ‘n Nasie sonder ‘n verlede het nie ‘n toekoms.

Hans Richardt ·

Ek Kritiseer nie vir Alana en haar werk nie.
Wat sy op konsentreer en vergeet, is dat Boere tot met Eerste Vryheidsoorlog, erg verdeeld was en nie werklik staatkundig ontwikkeling gehad het nie met vele sg Boere Republieke.
Na die Eerste Vryheidsoorlog, het Transvaalse Republiek begin ontwikkel.
My 2 oumas was tieners tydens ABO en ek huldig die opinie dat die 2 Boere Republieke agterlik was tov mediese dienste en skole stelsels. Maatskaplike ontwikkeling was minimaal en gemeenskappe was op hulself aangewese.
Bronkhorstspruit was van groot belang in Eerste Vryheidsoorlog, wie sou dit dink?
Talana Bailey, my versoek is die dokumentêre geskiedenis van bv maatskaplike ontwikkeling rondom Eerste Vryheidsoorlog.

John ·

Ongelukkig is staatsbiblioteke nie meer die aangewese plekke vir die berg van Afrikaanse geskrifte nie wat nog historiese feite. AfriForum sal plekke vir bewaring moet identifiseer/skep.

Alana ·

Dankie Peet, ek waardeer die kommentaar. Ek is self skuldig – lank terug was ek ‘n ywerige briefskrywer en het al my briewe gehou. Nou gebruik ek net e-pos en al hierdie korrespondensie en ‘n stukkie geskiedenis daarin gaan oor ‘n paar dekades weg wees. Teenoor die briewe in ‘n boks wat waarskynlik iewers sal oorleef by belangstellende familielede. ‘n Mens dink ook jy sal gebeure onthou, maar 10 jaar later is die besonderhede dikwels wollerig. Dis ‘n groot taak vir ons almal want elke mens se perspektief op en belewenis van die verlede is belangrik, nie net die beroemdes en berugtes nie!

E.K. die eerste ·

Ek stem veral saam me tparagrawe 13 en 14. Hoekom moet “ander” die werk doen, asjy REGTIG omgee, besoek museums, gaan maak paar kerkhowe skoon ens. Kry ‘n groepie kinders bymekaar, maak ‘n lekker piekniekdag daarvan met bederfies vir hul omgee en vertel hul kortliks en op ‘n interessante manier wat gebeur het. Dis al hoe ons die erfenisse gaan behou. Moenie wag vir “iemand anders” om ons erfenis te bewaar, doen self bietjie iets!

Peet Schabort ·

Ek stem volkome saam met jou E.K. My kleinseun was op ‘n stadium besig om te leer van A.G. Visser se gedigte. Op daardie stadium ry ons op ‘n dag by Heidelberg en ek sê ‘Kom ek gaan wys jou die graf van Visser’. Hier het dinge sommer skielik ‘n betekenis gekry.

Jerry ·

Ten minste hou Alana haar besig met een van die 100 goeie dinge wat AfriForum doen.

Andreas ·

Reg so Jerry, en daar gee jy nou ‘n kompliment vir Afriforum, sien hoe maklik is dit, en jy tel nie net tot 99 nie, nee jy maak sommer die 100 vol.

Patriot ·

Alana, dankie vir jou bewusmaking en die goeie raad om meer tyd aan historiese onderwerpe te spandeer. Maar: spandeer? Het die ABO my n oorsensitiewe oor vir anglisismes gegee?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.