Referendums: Hoekom wil party volke nie vry wees nie?

Foto: (AP Photo/Francisco Seco)

Elke keer wanneer daar ʼn referendum oor selfbeskikking of selfs onafhanklikheid is, soos tans met Koerdistan en Katalonië, is daar weer ʼn oplewing in belangstelling in die onderwerp wat ook in Suid-Afrika en spesifiek onder Afrikaners emosies wakker maak. Jaco Kleynhans het in sy goed beredeneerde onlangse artikel verduidelik hoekom sekere lande steun vir selfbeskikking kry (naamlik as dit in belang van magtige state is) en ander nie.

ʼn Ander interessante vraag is egter hoekom sekere volke, as hulle die kans kry, teen onafhanklikheid stem, terwyl ander dit met albei hande aangryp. Min volke kry die geleentheid om in ʼn referendum oor onafhanklikheid te stem. Laat ons dus eers kyk na ʼn paar voorbeelde, en dan die vraag probeer beantwoord hoekom daar sulke groot verskille tussen volke is wat die steun vir onafhanklikheid betref.

Katalonië is tans in die nuus met sy beoogde referendum. Dit is deur die Spaanse owerhede onwettig verklaar en die polisie het die stemproses grootskaals belemmer. Volgens die Katalaanse streeksregering het 90% in die referendum vir onafhanklikheid gestem, maar die deelname was net 42%, wat die referendum ongeloofwaardig maak. Omtrent almal wat teen onafhanklikheid is, het die stemmery geboikot. Selfs al sou die referendum amptelik en met groot deelname gewees het, is volgens alle peilings net minder as 50% van die Katalane vir onafhanklikheid van Spanje.

Foto: (AP Photo/Santi Palacios)

Brittanje het met ʼn klein meerderheid van 52% in Junie 2016 vir die uittrede uit die Europese Unie gestem, teen alle verwagting in. Brittanje was reeds lankal onafhanklik, maar die stem om die EU te verlaat kan wel gesien word as ʼn herbevestiging van Brittanje se soewereiniteit en ʼn stem teen die opgee van politieke mag aan ʼn superstaat.

Skotland het in September 2014 met ʼn meerderheid van 55% besluit om nie onafhanklik te wil word nie, maar om deel van Groot-Brittanje en die EU te bly. Dit was ʼn amptelike referendum en sou in die geval van ʼn Ja-meerderheid ʼn proses van onderhandeling tot onafhanklikheid ingelei het.

Suid-Soedan het in Januarie 2011 in ʼn amptelike, deur die Verenigde Nasies (VN) erkende, referendum met ʼn meerderheid van 99% gestem vir afskeiding van Soedan, met ʼn deelname van meer as 60%, wat dit legitiem maak. Die land het ʼn halwe jaar later onafhanklik geword en dit is ook internasionaal erken.

Oos-Timor het in 1999 ʼn referendum wat deur die VN georganiseer is, gehou. Altesaam 78% het gestem vir afskeiding van Indonesië. Die deelname was met 98% ook besonder hoog. Ná ʼn proses van twee jaar het die land internasionaal erkende onafhanklikheid gekry.

Foto: (AP Photo/Emilio Morenatti)

Quebec, ʼn outonome provinsie van Kanada, het in 1995 gestem oor onafhanklikheid van Kanada. ʼn Klein meerderheid van 50,5% het teen onafhanklikheid gestem en die deelname was met 93% ook besonder hoog.

Eritrea het in 1993 met feitlik 100%, ook met ʼn baie hoë deelname, gestem vir onafhanklikheid van Ethiopië ná ʼn lang burgeroorlog. Dit was ʼn amptelike referendum en die onafhanklikheid is deur die VN erken.

Kosovo het in 1991, ná die opheffing van sy outonomie deur Serwië, in reaksie daarop oor onafhanklikheid gestem. Altesaam 99% het vir onafhanklikheid gestem, en met ʼn deelname van 87% was dit ook geloofwaardig. Die referendum was nie-amptelik en het geen gevolge gehad nie, behalwe om te wys dat Kosovo se mense (behalwe die Serwiese minderheid) vry wil wees. In 2008 het Kosovo wel ná ʼn lang proses sy onafhanklikheid verklaar, wat deur die meeste state erken is.

As ons na die verskillende volke kyk wat vir of teen onafhanklikheid gestem het, val dit op dat sekere lande oorweldigend “Ja” gestem het (Koerdistan, Suid-Soedan, Oos-Timor, Eritrea, Kosovo), terwyl ander (Skotland, Brittanje, Quebec en waarskynlik ook Katalonië) ʼn baie naby uitslag vir of teen onafhanklikheid gehad het. Dit val op dat die eersgenoemde groep alles min ontwikkelde, nie-Westerse lande of volke is, en laasgenoemde groep ontwikkelde, Westerse lande of volke.

Foto: (AP Photo/Emilio Morenatti)

Eersgenoemde lande het almal van mislukte en onderdrukkende state afgeskei, maar self mislukte state geword. Party is arm maar vry, ander is boonop nog onderdrukkende regimes. Afskeiding het nie vrede of ontwikkeling gebring nie, en ook nie altyd demokrasie en stabiliteit nie. Die state wat suksesvol kon wees, soos Quebec of Skotland, het gekies vir die status quo.

Dit wil voorkom dat ʼn stem vir onafhanklikheid eerder ʼn harts- as ʼn kopbesluit is, en dat nie-Westerse volke eerder emosioneel stem en Westerse volke eerder rasioneel. Vir eersgenoemde groep speel egter ook ʼn lang geskiedenis van onderdrukking ʼn rol, en die feit dat hulle niks het om te verloor nie as hulle van ʼn mislukte en/of onderdrukkende staat afskei. Quebec, Skotland en Katalonië is nie onlangs wreed onderdruk nie, en kon hulle kultuur en taal ook binne die bestaande staat uitleef, sonder om die ekonomiese waagstuk van onafhanklikheid te moes aangaan.

As ons na Suid-Afrika en die Afrikaner kyk, dan was ook die referendum vir die republiek baie gelyk verdeel tussen Ja (51%) en Nee (49%), selfs al het dit plaasgevind op die hoogtepunt van Afrikaner-nasionalisme en in optimale omstandighede vir die Ja-stem. Die 1992-referendum het nie oor onafhanklikheid gegaan nie, maar oor onderhandeling in die rigting van swart magsoorname en gevolglike verlies van wit oftewel Afrikanerbeheer en dus indirek ook oor selfbeskikking.

ʼn Groot meerderheid van 61% het egter gestem (wetend of onwetend) vir die opgee van die mag en selfbeskikking. In 1994 was daar wel geen referendum nie, maar die eerste algemene verkiesing en ʼn stem vir die Vryheidsfront kon as stem vir selfbeskikking vertolk word. Afrikaners het in oorweldigende getalle vir die eenheidstaat Suid-Afrika gestem en nie vir die opsie van selfbeskikking nie. Hulle het tipies soos Westerlinge vir die bekende gestem en ekonomiese voordele en die status quo bo politieke vryheid met talle onsekerhede verkies.

Dit is duidelik dat die waagstuk van onafhanklikheid dan sterk steun kry wanneer ʼn volk aan sy eie lyf voel wat onvryheid beteken, naamlik onderdrukking van taal, kultuur en godsdiens, en selfs fisieke uitwissing, soos wat Suid-Soedannese, Koerde, Oos-Timorese, Eritreërs en Kosovare in verskillende grade ervaar het. ʼn Trots op jou eie volk en die begeerte om volle seggenskap te hê word te dikwels deur vrese van isolasie en ekonomiese nadele getroef.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

jaco ·

die amper 1 miljoen nee-stemme in Maart 1992 se referendum het in April 1994 verminder na skaars 425 000. Dis heeltemal onmoontlik dat amper 600 000 nee-stemmers na net 2 jaar almal dood is, of almal die land verlaat het of almal in 1994 vir die Nasionale Party gestem het. Ek het baie beweeg in regse “nee-stem” kringe in daardie tyd. Ek onthou nog wat vir my gesê is: alles het neergekom op “ons stel nie meer belang nie” en “ons tyd in SA wat ons iets kon beteken is uitgedien, so ons gaan lê nou maar”.

Wat bitter min mense onthou, of verkies om nie te onthou nie, is dat die tussentydse grondwet wat in 1994 in werking getree het, ‘n kabinetspos gewaarborg het vir ‘n party met so min as 5% steun. voeg die 600 000 vermiste nee stemmers by die Vryheidsfront se 425 000 en dan was daar 5% steun. Dit sou “ons saak” by die ANC regering baie versterk het.

Wat meeste Afrikaners wat vandag so droom van selfbeskikking en n volkstaat ook “vergeet”, is dat Mandela bereid sou wees om baie meer ondersoek te laat doen na die haalbaarheid van ‘n volkstaat, as die Vryheidsfront darem 5% van die stemme kon kry.

So kortom, ons EIE MENSE het al in 1994 begin om ons eie ondergang te bwwerkstelling en ons eie graf begin grawe.

Ampie ·

Jaco, ek nou nie heeltemal seker hoekom jy die 1994-verkiesing hierby bysleep nie. Ek is ook nie seker of ‘n kabinetspos enige iets sou verander het nie. Daar het dr Pieter Mulder dan wel in pres Zuma se kabinet gedien en nie veel uitgerig nie. Om te probeer suggereer nie-stemming beteken sulke mense aanvaar alles, is ook nie korrek nie. Dit beteken dalk eerder baie mense stel nie belang om deel aan hul rasse-sensus (kamstig demokrasie) te he nie. Dis seker jou reg om nie te stem nie en so te protesteer?

Pierre ·

Baie goed gestel Jaco. Die Afrikaner is maar sy eie grootste vyand. Ek dink selfs vandag sal dit weer gebeur met ‘n algemene verkiesing – Afrikaners sal DA stem met die doel op ‘n sterk oposisie, behalwe dat die DA nie veel omgee om die sake aan te spreek wat na aan die harte van Afrikaners en blankes is nie. Nog ‘n vermorsde geleentheid om aan ons toekoms te werk, deur nie vir ‘n party te stem wat werklik na ons belange omsien nie. En dan nou die wat steeds buite stemming bly, stem eintlik maar indirek vir die regerende meerderheid.

Kom Ons Boks ·

Die Afrikaner het Apartheid beeindig, niemand anders nie. Net die Afrikaner kan selfbeskikking eis, niemand anders nie. Ons was nog altyd ons eie grootste teenstanders.

Gemsbok ·

jaco, moenie dat gister se verspeelde kanse jou blind maak vir vandag en more se geleenthede nie. Daar is altyd weer ‘n nuwe kans.

Om ‘n yl bevolkte en onderontwikkelde gebied met onbenutte potensiaal ekonomies op te bou en onafhanklik te maak van arbeiders wat nie as Afrikaners identifiseer nie, is dalk so stadig soos ‘n gletser wat besig is om ‘n fjord uit te kerf, maar dit is eweneens onkeerbaar.

Piet Snot ·

Ons het nog sulke artikels nodig. Doe zo voort, Maroela!

Gerhard ·

Solank dit lekker gaan en ander die werk vir jou doen beteken nasionalisme niks. Sodra dinge sleg gaan en dit so te se te laat is dan word hulle nasionalisties.

rassie ·

Wat die Afrikaner betref, blyk dit dat die kop harder praat as die hart.

Wanneer mens kyk na die baanrekord van praktiese pogings wat tot nou toe aangewend is, lyk dit nie belowend nie.

Die Volkstaat Raad wat in 1994 tot stand gekom het, het geen praktiese vordering hoegenaamd gemaak, anders as om die verskille in opinies oor wat selfbeskikking beteken en indien geoegrafies, waar dit sou wees, te onderstreep nie. Dit is al reeds meer as ‘n dekade gelede ontbind.

Blykbaar bestaan daar ook ‘n Volksraad Verkiesings Kommissie wat jare gelede deur ongeveer 40 000 Afrikaners verkies is en wat nog geen hond haaraf gemaak het nie.

Prof Boshoff se goedbedoelde ideale en vooruitskattings het ongelukkig voor die realiteite van Afrikaner demografie en ekonomiese omstandighede te staan gekom.

Tans is daar ook geen persone wat hulself as Afrikaner leiers beskou, of is, wat werklik antwoorde het op vrae soos waar, wie, hoe en wanneer? nie.

Diegene met die belaglike idee om so iets op ‘n onwettige wyse te probeer bewerkstellig, gaan net ondergang vir hulself en andere meebring, niks verder nie.

Die Volkstaatgedagte ooreenkomstig die republikeinse ideaal gaan dus moontlik oor nog 25 jaar verder steeds bloot dit wees, ‘n gedagte.

Moontlik is dit beter vir daardie Afrikaners wat bekommerd is oor die behoud van taal en kultuur om maar eerder die aandag te vestig op iets wat prakties haalbaar is binne die huidige bedeling en om dit te ondersteun.

Gemsbok ·

rassie,

In die kommentare van ‘n vorige artikel het ek jou gevra of jou kritiek tenoor Orania (of dan die vordering met die republikeinse ideaal vir Afrikaners) regverdig is in die lig van die beperkte hulpbronne wat daarvoor beskikbaar gestel word en die feit dat sulke ideale dikwels eeue neem on te realiser. Jy het my nie geantwoord nie maar het ontken dat jy kritiek gelewer het. Ek vra om verskoning as ek jou skrywe misverstaan het. Ek is egter steeds nie oortuig dat ‘n onrealistiese tydsverwagting (25 of 50 jaar) as uitgangspunt die gevolgtrekking staaf dat die Afrikaner se republikeinse ideaal as sulks onrealisties is nie. Orania is immers met baie beperkte maar groeiende steun reeds veel meer as blote gedagte.

Dit daar gelaat, sal ek graag van jou wil verneem wat die “iets prakties haalbaars binne die huidige bedeling” is waarna jy verwys? Indien dit wel bestaan, wil ek ook weet hoe ver daarmee gevorder is gedurende die afgelope 25 jaar? Die mees algemene alternatief wat aangebied is, was die “strategie van onmisbaarheid”. Mens hoor nie meer veel van die strategie om Afrikaners onmisbaar te maak nie en dit het duidelik nie daarin geslaag het om Afrikaners se veiligheid, geleenthede en toegang tot moedertaaldienste (insluitend onderwys) te beskerm nie.

Arend ·

Rassie: waarom beskou jy die uitoefening van Art 235 van die grondwet as ‘n “belaglike” en “onwettige” idee? Selfbeskikkings-optrede in lyn met die Grondwet kan mos nie onwettig wees nie? Orania en Kleinfontein is geensins onwettig nie, of hoe? En nee, selfbeskikking vir diegene wat daarop sou aanbring en dit ten uitvoering sou bring, hoef nie 25 jaar te duur nie. Ons kort net ruggraat! ( en die besef dat die DA vir die toekoms van die Afrikaner van nul en gener waarde is nie…)

1992 referendum was oor sport ·

Ons het onsself weggegee in ruil vir sport in 1992.

Marius ·

1992 Referendum was oor mense wat wou aangaan met hul lewens. Die daaglikse opstande en geweld teen apartheid en ‘n ekonomie wat feitlik teen die planke was het gemaak dat mense net eenvoudig genoeg gehad het. ‘n Referendum op hierdie stadium sal nie veel ander uitslae oplewer nie. Die meeste mense weet dat politieke uitbuiting en opportunisme asook hopelose onbevoegdheid verantwoordelik is vir die probleme. Die meeste mense, wit en swart, leef elke dag in vrede saam. Kapitalisme is goed, maar in Suid Afrika het dit ongelukkig gelei daartoe dat dié wat meer kennis en vaardighede het baie meer kon baat vind by die geleenthede sedert 94. Ons onbevoegde regering het nie die morele kapasiteit om die mense in hierdie land te lei tot by ‘n plek waar hulle verantwoordelikheid vir hul eie lewens neem nie. Daarom vier populisme hoogty. Ek dink die meeste mense wil in harmonie saamwerk soos nog altyd en in die aand terugkeer huis toe en oor naweke saam met dié kuier met wie hul iets in gemeen het. Wit en swart het saam gebou aan dié land en elke plaas van die kaap tot hier ook. Dis net jammer dat onbevoegdheid die weg gebaan het vir ‘n valse ons en hulle beeld daarvan. Ek weet baie lesers op dié forum verfoei wat ek hier sê en ek gaan gelooi word daaroor. Ek weet dat die Here in elk van ons die vermoë geplaas het om in vrede tot Sy eer te leef.

rassie ·

Gemsbok,

Ek het nie in die vorige artikel se kommentaar of hierbo kritiek op Orania as sodanig uitgespreek nie. Lees dit asseblief weer.

Miskien moes ek dit so verwoord het:

Prof Boshoff het destyds, met die insig wat hy op daardie stadium gehad het en onder die heersende omstandighede van daardie tyd, ‘n goedbedoelde inisiatief geneem wat, na sy mening, ‘n oplossing gebied het en het op grond van destydse insigte ‘n projeksie gemaak van etlike duisende inwoners binne 10 jaar. Intussen, 25 jaar later, het die Afrikaner demografie (emigrasie, assimilasie en Afrikaner apatie) sowel as ekonomiese en politieke omstandighede daartoe gelei dat die Prof se vooruitskatting ongelukkig nie gerealiseer het nie.

Sal bly wees as jy vir my kan aandui waar ek, volgens jou, “kritiek” op Orania as sodanig uitgespreek het. Na my mening is dit bloot feite.

Voorts, teen die huidige afnametendens in Afrikaner getalle en die relatief klein steunbasis van minder as 200 000 bewese ondersteuners vir enige Afrikaner organisasie, saamgelees met die relatief stadige aanwaskoers van Orania, voorsien ek nie oor 25 jaar ‘n onafhanklike Orania Republiek nie.

Moontlik kan jy my ook help deur aan te dui wat jou persoonlike vooruitskating is van die moontlikheid van Orania se republikeinse onafhanklikheid binne die volgende 25 jaar.

Betreffende iets prakties. Afriforum se projekte is ‘n goeie voorbeeld. Reeds baie vermag en doen steeds baie.

Persoonlik is ek betrokke by plaaslike armsorg. Miskien te min, maar darem ietsie prakties.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.