Refleksie op EFF se vyfde verjaardag

Foto: EFF/Twitter

Die EFF het hierdie naweek sy vyfde verjaardag gevier, wat ʼn gepaste geleentheid bied om bestek op te neem van die party se bydrae, toekomsmoontlikhede en of dié party ʼn positiewe of negatiewe invloed op die land het.

Die party se bydrae tot dusver was sowel positief as negatief. Aan die positiewe kant is hulle ʼn sterk opposisieparty wat die oordadige mag van die ANC in toom help hou en effektiewe kritiek op ANC-vergrype uitspreek. Hulle is trouens vreesloos in daardie verband, en sonder die EFF sou Suid-Afrika nie van oudpres. Jacob Zuma ontslae geraak het nie.

Die EFF is baie effektief om die fokus van politieke debatte dikwels te verplaas na die lot – die praktiese lewensomstandighede – van die armstes en kwesbaarstes in die land, spesifiek die werkloses. Van die drie groot partye doen hulle dit die effektiefste.

Foto: EFF/Twitter

Voorts skuld die land die EFF ʼn groot dankie daarvoor dat hulle die leidende rol gespeel het om die parlement te verskuif tot die middelpunt van die landspolitiek – waar dit hoort. Tot en met die EFF se koms was die parlement dit nie.

Die EFF het ook ʼn bepalende rol gespeel om met ander opposisiepartye saam te span en die ANC uit die kussings te lig in verskeie munisipaliteite, insluitend Johannesburg en Tshwane. Sonder die EFF sou dit nie gebeur het nie.

En laastens, wat die positiewe hoogtepunte betref, het die EFF ʼn klomp energieke, hoogs intelligente en uitstekend akademies gekwalifiseerde lede na die parlement ingebring. Of jy nou met hul oplossings en beleid saamstem of nie, hul bydraes is van ʼn beter intellektuele peil as die suwwe klomp suurstofdief-LP’s waarvan veral die ANC te veel het.

Die EFF het egter ook negatiewe impak gemaak. Hul ergste bydrae is hul afbrekende raspolitiek wat die land verdeel en nie verenig of versoen nie. Swart rassisme is ewe onaantreklik, dom en afbrekend as wit rassisme. Hierby kan hul stompsinnige oorlog teen Afrikaans gevoeg word.

Foto: EFF/Twitter

Voorts is daar vrae oor sommige figure van omstrede morele statuur met wie die EFF hulself assosieer. Hiervan is die sigaretsmokkelaar Adriano Mazzotti dalk die mees prominente voorbeeld. Hopelik is hul steun vir die geskorste hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens nie ook weens geldelike gunsies nie. Die hegte verhouding met figure soos Mazzotti laat van hul kritiek op staatskaping ietwat hol voorkom – ʼn geval van maak soos ek sê, maar moenie maak soos ek maak nie.

Derdens verbreek die EFF-LP’s te gereeld hul ampseed om die Grondwet te beskerm en te handhaaf. Hulle ondersteun respek vir die oppergesag van die wet – wanneer dit hulle pas. Hul oggend- en aandpraatjies hieroor verskil en ondermyn hul eerbaarheidsbeeld. ʼn Voorbeeld is hul steun vir onwettige grondbesettings.

Foto: EFF/Twitter

Dis ook ʼn goeie vraag of hul voorstelle om ekonomiese verandering werklik uitvoerbaar of positief is. Baie daarvan lyk na opgewarmde weergawes van sosialistiese mislukkings wat ander lande wêreldwyd geruïneer het. ʼn Mens sou trouens kon aanvoer die EFF vaar beter met die uitspreek van kritiek as met die aanbied van oplossings

So, wat is die EFF se toekomsmoontlikhede? Hul grootste uitdaging is dat hulle sukkel om te groei by die stembus – sekerlik tog weens hul politieke boodskap wat te dikwels verdelend, rassisties, aanstigtend en teen die openbare orde is. Die meeste Suid-Afrikaners wil eerder met mekaar oor die weg kom, vir mekaar ruimte skep en ʼn land hê wat werk omdat soveel moontlik van sy uiteenlopende mense se talente en vaardighede positief aangewend word.

Die EFF se toekomsmoontlikhede sal grootliks deur vier aspekte bepaal word: praktiese hulp met die oplos van kiesers se alledaagse probleme, opbouende beleid, ordentlikheid in hul gedrag en samewerking met die opposisie. As hulle hierdie vier aspekte goed doen, sal hulle floreer. Anders sal hulle kwyn.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

liz ·

Ek moet in alle eerlikheid erken ek het net 75% van hierdie artikel gelees, en die vraag by my bly – hoe vinnig kan ek uit hierdie land padgee.

Alida ·

Hartseer om te erken SA is my vaderland met sy pragtige natuurskoon en wonderlike weersomstandighede maar wie wil nog hier bly? CR het die hef in die hand hy KAN as hy WIL die geweld stopsit en die strawwe strenger maak. Ons weet almal dat die doodstraf onwaarskynlik is maar miskien sal dit ‘n afskrikmiddel wees vir al hierdie gruwelike moorde wat daagliks gepleeg word.

Paul ·

Ja, Julius en sy trawante het daardie tyd toe hulle nog in die ANCYL was, gesorg dat Zuma president raak, toe kry Julius wat intussen die EFF gestig het sy Damaskus oomblik en toe is hy voorbok om van Zuma ontslae te raak, maar intussen is hy ook die oorsaak dat ons met die nuwe OB opgeskeep sit.

Theo ·

Die “OB” waarna Paul verwys is, is seker nie die Ossewae Brandwag nie.

Leon ·

Jan-Jan, baie goeie artikel maar hopeloos naief.

Malema gebruik bloot die huidige bestel om mag te konsolideer. Sy populistiese en rassistiese uitsprake is bloot om die huidige bestel te ondergrawe. Hy is geen demokraat en voel vere vir die parlement, howe of ander instellings. Sy sug na mag, met of sonder geweld. My voorspelling 12% steun in 2019. Dit is die wat wel stem. Sy aanhang egter veel groter.

Welkom in demokrasie Afrika styl.

Casper Labuschagne ·

Malema se doelwit is revolusie en nie regeringsoorname deur ‘n demokratiese protes nie. Die EFF se deelname aan die demokratiese proses is net soveel daarop gerig om die effektiewe werking van die demokratiese instellings in die wiele te ry as wat dit gerig is op die propagandistiese waarde van hul ontwrigting. Maar demokrasie is geensins hul doelwit nie, dit is bloot ‘n werktuig en net vir solank as wat hulle dit effektief kan uitbuit.

Casper Labuschagne ·

Daar was ‘n onlangse TV onderhoud met Malema wat begin is deurdat die aanbieder vir Malema vra hoe dit met die EFF gaan, waarop Malema so antwoord, “Baie goed, elke dag is daar net meer opstande reg oor die land want die mense is ontevrede met die regerende ANC en wil ‘n nuwe bewind sien. Die revolusie is verseker besig om te groter te word en uit te brei en ons toename in ledetal toon dit duidelik. Onteiening sal kom en die mense kan sien dat dit die EFF is wat die revolusie ten gunste van die armes bedryf.”

Hoe gaan ons ‘n keerwal gooi wat hierdie revolusionêre golf sal stuit?

Afrikaanse Knaap ·

Hulle voel vere vir SA, maar weet hoe politiek werk.

John ·

Die EFF probeer die voorryer van die ANC wees, die agterryer vir die DA en die doring in die vlees van die Afrikaner om sodoende die lourierkrans te verower, maar in die proses verloor die rooibrigade die respek van landsbewoners en word uiteindelik presies dit, handlangers in skoonmakeruniforms: You get what you play for. Nie? Om geleerdheid te bekom sonder om die kennis te verwerk en ooreenkomstig te groei, is soos ‘n boer wat ‘n stuk vrugbare aarde omploeg maar geen nut daarin sien om saad daarin te saai en later die die oes te in nie; dooie verlies na doellose gesweet en geswot.

lewies ·

Goed gestel Johan. Ek het nog altyd die vrees gehad dat eerste wereldse kennis tot raserny lei in ‘n derde werelde omgewing

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.