Refleksies oor die gebeure by die NWU

Annette-Combrink-02

Annette Combrink, voormalige burgemeester van Tlokwe-munisipaliteit. Sy was ook voorheen die rektor van die NWU se Potchefstroom-kampus. Foto: Cloveraardklop.co.za

Annette Combrink

Die gebeure by die Noordwes-Universiteit (NWU) het die afgelope maande en selfs nou byna ’n jaar en ’n half die denke van almal betrokke by die universiteit gevul, en in die meeste gevalle tot nadeel van die Universiteit – dit word reeds gereflekteer in verminderde eerstejaargetalle op kampus, wat tans bykans 400 onder die teiken is, en ’n gepaardgaande verlies aan inkomste. Dit is duidelik dat die huidige proses nie sekerheid skep in ‘n hoogs kompeterende mark nie.

Gesien vanuit die perspektief van ’n alumna (sedert 1963 betrokke by die universiteit), maar meer belangrik, ’n voormalige dekaan en voormalige kampusrektor, wil ek graag met die inligting tot my beskikking oor ’n paar sake reflekteer.

Dit is uitgemaakte saak dat die Departement van Hoër Onderwys van die universiteit verwag om teen Desember ’n hersiene strategiese plan ter tafel te lê. Dit is ’n omvangryke en ingrypende verwagting en duidelik heeltemal onrealisties, gegewe die instelling waarmee ons werk. Hierdie instelling het in die afgelope 11 jaar deur die ontwrigtende proses van samesmelting gegaan, en diegene wat die geskiedenis van die universiteit ken sal saamstem dat in die veelbewoë geskiedenis van die ou PU vir CHO daar nog nooit so iets aardskuddends gebeur het nie. Die uitkoms van die proses was die daarstelling van die NWU met drie kampusse wat om bepaalde praktiese en politieke redes as gelyke entiteite beskou is met die Institusionele Kantoor in Potchefstroom. Die onderhandelinge het bepaal dat die naam van die instelling die Noordwes-Universiteit sal wees en dat die setel in Potchefstroom, maar nie op die kampus nie, sal wees. Hierdie struktuur, uniek in die konstellasie van nuwe universiteite, het, met probleme en al, ontwikkel tot ’n universiteit wat beter gevaar het as die samestellende kampusse/universiteite, hoewel daar natuurlik strukturele en funksionele probleme was.  In hierdie proses, waarin ek baie betrokke was, onder meer in die onderhandelinge oor die senaat en die diensvoorwaardes, het ek van die pos van dekaan van die fakulteit Lettere en Wysbegeerte oorgeskuif na die pos van kampusrektor van die Potchefstroom-kampus. Ek het dus die woelinge en frustrasies en gevegte eerstehands beleef.

Die treffendste suksesse van die nuwe instelling, baie kortliks gestel, was die fenomenale groei in navorsingsuitsette, die baie goeie deursetsyfers (sowel as die gelyktrek van die toelatingsvereistes oor die kampusse heen) vergeleke met meeste ander universiteite, die ontwikkeling van ’n uitstekende afkampus-onderrigprogramme, die goeie uitsette in terme van die kommersialisering van kundigheid, goeie en effektiewe bestuur en die omvattende uitbreiding van fasiliteite op die Mafikeng- en die Vaaldriehoek-kampus (veral opvallend vergeleke met die uitbreidings op die Potchefstroom-kampus). Veral van belang is die opheffing van die Mafikeng-kampus na ’n kampus waarop studente trots kan wees en is, nadat dié ou Universiteit van Noord-Wes bekend was as die “university of last resort”.

Dwarsdeur hierdie proses het die “politiek” deurlopend ’n rol gespeel, veral in die sin dat enigiets wat van Potchefstroom af ingevoer is, al was dit so onskuldig soos rekenaarstelsels, as “potchification” afgemaak is en maklik aanleiding gegee het tot verwoede opstootjies in die raad en elders. Maar die NWU het vorentoe beweeg, weliswaar met heelwat tekortkominge, veral in die sin van die transformasieproses, wat in die eng sin van “affirmative action” gelees is. Daar was ook geregverdigde gemor oor die hoë koste verbonde aan die bedryf van die Institutionele Kantoor (IK) en die onvermydelike duplisering van dienste en die hoë koste daaraan verbonde om dié kantoor in sy huidige vorm te bedryf. Dit het veral die proses van programbelyning bemoeilik, maar programbelyning, veral in velde waar nie voorgeskrewe strukture bestaan nie (soos wel in GR en Ingenieurswese) is in elk geval ’n projek wat oor jare met groot wysheid bestuur moet word. Daarby kort dit bereidwilligheid tot samewerking en sterk kollegialiteit.

En nou word hierdie (sterk maar moeilike) baba met die badwater uitgegooi. Of nie?

Ek gaan my beperk tot bepaalde areas in hierdie proses. Daar is volgens alle aanduidings ’n horde dokumente met ’n meerdere of mindere mate van duidelikheid, helderheid, verdoeseling, ens. Ek gaan bepaalde voorbehoude uitspreek oor die voorgestelde struktuur, die proses, die rol van veral dekane en die voorgestelde maar hoogs misplaaste ideaal van finansiële besparings wat uit die nuwe struktuur sou kon voortvloei.

Uit wat algemene kennis is word daar tans oorgehel in die rigting van ’n model wat die Potchefstroom-kampus en die IK “saamsmelt” as die hoofkampus, met die ander twee kampusse as satelliete – iets wat met groot moeite, omhaal van woorde en inboet van effektiwiteit vermy is in die samesmeltingsproses. Vanuit die hoek wat ek daarna kyk, weliswaar sonder die voordeel van volledige insae in al die dokumente, is die gronddoelwit van hierdie skuif om mag te sentraliseer en ’n piramide te skep wat aan die visekanselier en die adjunk-visekanseliers volle beheer gee. Dit hoef nie noodwendig ’n probleem te wees nie (Shakespeare se ideale koning, soos vergestalt in King Henry V, het die ideaal voorgehou van die ideale koning as die “benevolent dictator”), maar die onvermydelike politieke kleurtjie wat hieraan kleef kan nie ontken word nie en lê waarskynlik hierdie oorhaastige proses ten basis. Die ander kampusse gaan noodwendig die beeld van buiteposte kry, al word hoeveel infrastruktuur en ander middele in hulle rigting gegooi.

Die konsultasieproses is volgens almal met wie ek al gesels het onvolledig en misleidend, met die sterk gevoel onder kollegas dat wat konsultasiegesprekke moet wees bloot neerkom op inligtingsessies met ’n duidelike voorafbepaalde uitkoms.  Dis nie onderhandeling nie – dis oëverblindery. Die intrek van deskundige advies is lofwaardig, maar die belangrikste deskundige advies wat bepalend moet wees is finansiële projeksies oor wat die proses en die uiteindelike struktuur gaan kos. Dis waar dat die koste verbonde aan die IK te hoog is, en dat dié koste gedra word deur die kontribusies van die kampusse – geld wat beter bestee kan word, veral in ’n konteks waar universiteite se befondsing onder groot druk is, veral omdat die twee nuwe universiteite heelwat finansiële steun kry (ek is op die raad van die Sol Plaatje-Universiteit, en die hoeveelheid infrastruktuur wat tans daar opgerig word is asemrowend). Van die aanvanklike ideaal van die IK as “lean and mean” het min oorgebly. Maar dis eerder ’n probleem wat op sy eie getakel moet word as een van die swakhede van die huidige stelsel. Enige besparing wat, op die keper beskou, sou kon realiseer is ’n besparing op personeel, en dit sou afleggings beteken, en die impak hiervan op die universiteitsgemeenskap, kan moeilik bereken word. In die destydse samesmeltingsorgie is finansiële besparing deur die minister as een van die ideale voorgehou – wat wel gebeur het is miljarde rande se gemorste geld en vyf (saamgesmelte) universiteite onder administrasie.

Vir my as voormalige dekaan, en deel van die eerste groep uitvoerende dekane van die ou PU vir CHO, is die implikasies van die voorgestelde struktuur van fundamentele belang. Net soos die senaat die hart van die universiteit as AKADEMIESE instelling is, is die dekaan die spilpunt van die AKADEMIESE personeelkorps. ’n Fakulteit wat geseën is met ’n goeie dekaan het al die middele om goed te doen. Die dekaan moet nie alleen die fakulteit soos ’n besigheid (’n AKADEMIESE besigheid!) bestuur in die sin van verantwoordelik omgaan met al die middele van die fakulteit nie, maar moet ook die loopbane van mense bestuur, moet toesien dat uitsette realiseer, moet aan die voorpunt stap, moet mense inspireer, MOET SY/HAAR MENSE KEN. Om ’n uitvoerende dekaan te wees is bo alles ’n “hands on”-werk en kan nie oor lang afstande gedoen word nie. Die argument kan gevoer word dat ’n fakulteit net ’n struktuur is om bestuur moontlik te maak, maar dit is die mees sentrale en rigtende struktuur aan die hele universiteit. In die ou dae het Vista-Universiteit sewe kampusse landwyd gehad, maar een dekaan per fakulteit en hierdie dekaan het in die hoofkantoor in Pretoria gesit, met geen werklike kontak met personeel nie – dit was nie ’n werkbare model nie.  Die voorgestelde struktuurverandering het al die potensiaal om die hele universiteit tot stilstand te ruk, en indien dit sou gebeur sal die beste personeel (en studente) noodwendig die hasepad kies.

Ja, ons is nou na tien jaar by ’n kruispad en moet aanpas, maar dit moet verkieslik gedoen word om die ideaal van die “nuwe universiteit” te realiseer. Om die huidige gebrekkige belyning reg te stel is daar nie ’n ontwrigtende bestuurstruktuurverandering nodig nie, maar huidige bestuurders moet hulle mandaat na behore uitvoer.

Die nuwe universiteitsorde word uitstekend uiteengesit in ’n studie deur Ernst & Young, getitel “University of the Future” met as sub-titel “A Thousand Year Old Industry on the Cusp of Profound Change”. Die hele dokument is verpligte leesstof vir universiteitsbestuurders. Die dokument beskryf “drivers of change” as “Democratization of knowledge and access; Contestability of markets and funding; Digital technologies; Global mobility; and Integration with Industry. Daar word gevoel dat daar drie soorte besigheidsmodelle sal wees: “Streamlined Status Quo; Niche Dominators; en Transformers.” Dalk is die Streamlined Status Quo vir die oomblik vir die NWU die realistiese, haalbare en verantwoordelike model, veral as ’n mens die meer onlangse prestasies wil volhou, nuwes wil ontwikkel, en aandag gee aan die swakhede van die huidige model.

“If it ain’t broke, don’t fix it.”

  • Annette Combrink is ‘n voormalige rektor van die NWU se Potchefstroom-kampus en het voorheen as burgemeester van Potchefstroom gedien.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Gwen ·

Nou wat gaan prof. Combrink doen om die Puk te red? Seker by die DA, waarvan sy ook ’n aktiewe lid is, aanklop. Die DA gee egter geen snars om vir die behoud van Afrikaans nie. Die enigste party in die parlement wat Afrikaans/Afrikanergesind is, is die VF+. Omdat mense onder die wanindruk is dat die DA die ANC kan klop kry die VF+ heelwat minder stemme as wat hulle verdien en word hulle daardeur in die parlement gekortwiek om die Afrikaner (en derhalwe ook die Puk) se saak te stel en te beveg.
Die volk, en spesifiek die Combrinks, Eloffs en talle ander, moet van die DA vergeet en die party steun wat werklik vir die saak omgee.

Gwen ·

Henry, lyk my die redaksie is bang vir die DA aangesien hulle my aanvanklike kommentaar sonder enige goeie rede verwyder het. Johannes het hulle seker met regstellende aksie gedreig. Hy is mos een van die molesmakers in die kommunikasiedepartement daar by die Puk.

Johannes Froneman ·

Nee, Gwen. Ek het nie gevra dat jou aanvanklike kommentaar verwyder word nie. En ek het sekerlik niemand gedreig nie. Ek sal ook nie vra dat jou lawwe bewering verwyder word dat ek ‘n “molesmaker” by die kommunikasiedepartement was nie. Waarop jy hierdie opmerking grond, weet nugter. Kom ons speel liewers die bal.

Dup du Plessis ·

Moet asb. nooit uit die oog verloor dat vir baie, en ek bedoel baie ouers en studente gaan dit oor die Afrikaanse kampus van NWU. Daar is ‘n premie vir Puk, hoekom? – omdat die vraag na ‘n Afrikaanse universiteit (en verkieslik in die platteland) die aanbod totaal oorskadu. Studente by Puk kom van oor die hele land, die redenasie dat Puk dus uitsluit is belaglik omdat feitlik al die ander universiteite in die land (insluitend die ander 2 kampusse van NWU) hoofsaaklik in Engels funksioneer. Die argument kan dan ook gebruik word dat Afrikaans sprekende studente by die ander instellings uitgesluit word of voel. Sou Puk ook die pad van die ander universiteite stap gaan daar sekerlik nie ‘n beter saketransaksie wees as die vestiging van ‘n volwaardige onafhanklike Afrikaanse universiteit nie ( weereens verkieslik in die platteland). As Steyn City deur een persoon se droom tot stand kon kom is daar sekerlik genoeg rede om te kan glo dat daar weer ‘n Puk vir Afrikaans sprekendes gebore kan word. Die afsterwe van Puk gaan egter maar baie hartseer wees. Kgwadi belowe dat Puk nog beter gaan word …..maar ons almal weet daar is sekere goed waarop daar nie verbeter kan word nie, vat nou maar die wiel en iets simpels soos toiletpapier…….onverbeterlik, en die Puk kampus val huidig as universiteit ook in hierdie klas. Potchefstroom se inwoners sal dalk ook meer betrokke moet raak want sou die universiteit ver-engels kan dit bepaalde gevolge he. (better the devil you know). Studente is nie geografies gebonde nie maar inwoners wel.

Johannes Froneman ·

Dit is belangrik dat ervare akademiese bestuurders soos prof. Annette Combrink saampraat oor die toekoms van die NWU. Maar dan liefs gegrond op werklike idees soos vervat in die strategiese plan wat Vrydag 21 Augustus voor die raad dien. Ek meen sy sal dan nie verwys na “afleggings” as ‘n wyse om die geld te bespaar nie. Dit is darem nie gepas om daardie woord in hierdie delikate konteks te gebruik nie en kan net bydra tot vrese wat reeds aangewakker is deur taamlik alarmistiese scenario’s.
Twee ander punte: die groeiende institusionele kantoor is juis een van die sake wat die vise-kanselier, prof. Dan Kgwadi, wil takel. Dit het onder sy voorganger se leiding so gegroei, waarskynlik met goeie redes in terme van die model wat vir die eerste dekade gegeld het.
Oor die sukses van die NWU in sy eerste tien jaar of wat behaal het, is prof. Kgwadi dit 100% eens met prof. Combrink. As haar kollega by die Mafekengkampus het hy juis ‘n belangrike rol bespeel om ook daardie kampus vorentoe te laat beweeg.
Dus: daar word volle erkenning gegee aan suksesse en daar bestaan geen planne om holderstebolder ‘n streep daardeur te trek nie. Dit sou gek wees. Maar prof. Combrink, wat altyd ‘n vernuwer was, sal beter as enigeen weet dat om stil te staan, is om agteruit te boer. Die leemtes, wat sy erken, moet nou aandag kry.
Haar voortgesette insette is baie belangrik – veral as al die feite op die tafel is.
Naskrif: Gwen se verwysing na prof. C as ‘n “poppie” is beledigend en belaglik. Dit kan jy wragties nie van hierdie vrou beweer nie!

Gwen ·

Vir diegene wat nie weet nie, Johannes is onlangs aangestel as Kgwadi se beeldpoetser, vandaar die standpunt wat hy hier inneem. Ek sou alles wat hy uit sy DA-mond kwytraak, ja, hy is ook ’n DA-raadslid, met minagting bejeen.
Kan die redaksie asb. My vorige kommentaar terugplaas. Daar was niks beledigends aan nie. Die DA is een van die grootste anti-Afrikaanse organisasies in die land.
Soos Johannes sy mening mag lug mag ek sekelik ook? Of is dit omdat hy ’n professor in kommunikasie is dat hy voorkeur kry oor my wat maar ’n gewone sterfling is?

Henry ·

Is tragies dat ‘n verskil van mening oor ‘n individu se waarde as politieke verteenwoordiger wat ‘n openbare politieke amp beklee, die redaksie kan motiveer om Gwen se opinie/kommentaar te verwyder.
Dan wonder mens waarom veel groter negatiewe en katterige insette oor die persoon van Zuma en die res van die ANC regime, op daaglikse wyse toegelaat word.
Die DA en hul verteenwoordigers is sekerlik nie bo kritiek verhewe nie. Of hoe?

Gwen ·

dankie Henry. Die ander alternatief is natuurlik dat my kommentaar verwyder is omdat ek ten gunste van die VF+ geskryf het. Dit is algemene kennis dat ’n aantal grootkoppe in die Solidariteitbeweging, waarvan Maroela deel vorm, hewig anti-VF+ is. Kyk gerus na Kallie Kriel, Willie Spies, Cornelius Janse van Rensburg om maar ’n paar te noem.

Susan Lombaard ·

Dagsê Gwen

Ons respekteer jou standpunt, maar ongelukkig bots die neerhalende aanspreekvorm wat jy in jou eerste sin gebruik het om na prof. Combrinck te verwys, met Maroela Media se kommentaarbeleid. Ons beleid bepaal verder dat ons nie kommentare wysig nie, maar slegs verwyder – dit sou oneties wees om ʼn leser se standpunt te wysig. Indien jy instem, kan ons die aanspreekvorm uit jou vorige kommentaar verwyder en dit weer terugplaas.

Groetnis,
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

Bruno Stef ·

” If it aint broken dont fix it”.Dit is waar woorde NWU het n reputasie dat dit onder die voorste Universiteite in die land tel waar n ouer met gemoedsrus sy kind kan laat studeer.Hou die politiek van watter kant ook al uit die bestuur van NWU maar dit is opmerklik dat die politieke wil van die Regering Alliansie duidelik sigbaar is. Die Afrikaner kind het die volste reg om in sy Moedertaal onderig te word so ASB die voorpraters wat die hele proses probeer afwater sodat dit in die toekoms irrelevant sal word julle insette speel in die hand van diegene wat n politieke agenda het.Kyk om julle rond en luister mooi na wat by ander instellings gebeur.

Bruno Stef ·

Froneman dit is juis Gwen wat die bal speel maar julle mense probeer julle uiterste om ander se sienswyse te regverdig.Hou op met jou politieke agenda die oorgrote meerderheid ouers en studente stel nie belang in julle opinies daar word groot somme geld deur die ouers betaal vir die kinders se opvoeding.Toets julle siening met n stemming onder die ouers en studente ek waarborg jou dat julle sleg tweede gaan kom so waarom AGV n groepie opgestookte politieke heethoofde wat tot oor klasgelde gereeld staak hulle sin gee. Bepaal jou aandag eerder by die veroordeling van die aanval op n student met n sker of is dit nie polities korrek nie.

Gwen ·

Suné, jy is welkom om my kommentaar te wysig. Ek is wel van mening dat julle veel te wense laat met die toepassing van die beleid. Veel krasser kommentaar word toegelaat wanneer berigte oor sekere politici geplaas word.

Johannes, die bal wat ek speel is dat jy alles in jou vermoë doen om Afrikaners by die Puk onwelkom te laat voel. Jy is Kgwadi se nuwe skoothond en werk daardeur aktief aan die vermindering van Afrikaans as voertaal in Potchefstroom. Waar moet ons mense ’n opvoeding in Afrikaans kry?

Gwen ·

Dankie Susan. Ek sien ek het jou vroeër Suné genoem. Jammer.

Carel ·

Al die argumente is goed en wel maar ‘n mens moet kyk na die werklikheid in skole , kolleges, universiteite, instansies en werksplekke waar dit nie gaan oor die vermoëens en of dit reg of goed is vir die wat in beheer is nie, maar oor beheer. Die werklike probleme in die land word nie opgelos nie en al die argumente wat rond gegooi word is ‘n ek of jy storie. Die werklike probleem in die geval is dat daar te min universiteite en opleidings instansies is. As ‘n hele bestaande universititeit verander(“transformeer” in die SA woordeskat) van een groep na ander, dan gaan die sentrale probleem van te min opleidings instansies nog steeds daar bly. Om van 1 van 10 weg te neem en ‘n ander 1 van die 10 te gee , bly die probleem nog steeds daar omdat daar nog steeds te min is vir almal. Die regering deur sy optrede blyk dat hy nie geintereseerd is in die oplossing van die probleme , maar probeer om te bewys hy kan baas speel. Dit is storie wat met tyd gaan terugkom en dit gaan hard byt nadat almal vergeet het hoe hierdie probleme onstaan. Die antwoord is dat die aantal universiteite moet vermeerder word. Huidige universiteite kan gebruik word om nuwes daar te stel.

Die Afrikaner moet besef dat om al jou tyd te spandeer om net te probeer om ander te oortuig van hoe hy/sy dink is eie aan homself is goed , maar daar sekere dinge wat in hom self so is dat hy/sy nie ander ten volle gaan oortuig nie. Baie baie kosbare tyd gaan verlore om ander te probeer oortuig van ‘n siening. Daar is sekere wyse, maniere gevoelens wat eie is aan ‘n volke. Daar is sekere gevoelens, dade , sienswyses en manier van dinge doen wat aangeleer is deur geslagte. In elke mense lewe wat hy/sy moet besluit wat aanvaar ek, waar pas ek in ? As jy nie seker is nie, gaan sit saam met van die vakkundiges en professionele mense in die klasse van die skole, kolleges en universiteite wat getransformeer het en sê vir my of jy dink jou kind kry waarde vir sy/haar geld ? Ek was daar en ek het dit al alles self nagevors. Kinders en jong mense wat nie kan leer, lees, redeneer , sommige onbeleefd en ander wat absoluut geen waarde vir hulle ouers en die staat se geld kry nie. Die antwoord vir my is dus om soveel eie privaat skole, kolleges, universiteite daar te stel buite die regering se invloeds sfeer so spoedig as moontlik. Om op te hou met lang debate en gespreke en verdeeld te wees, bevrees te wees vir wie en wat ookal, begin doen en kry die onderwysers, onderwyseresse en lektore wat dit werd is om klas te gee.

Jeanette ·

Prof. Combrink : “……….maar die onvermydelike politieke kleurtjie wat hieraan kleef kan nie ontken word nie en le waarskynlik hierdie haastige proses ten basis.”

Hierdie kleurtjie waarna u verwys kan net blou(DA) wees. Prof. Froneman (DA-raadslid) tree op as Prof. Kgwadi se regterhand. Prof. Kgwadi is weer aangestel deur raadslede wat waarskynlik dieselfde politieke sentimente deel as Prof. Froneman. Die enigste legkaartstuk wat nie inpas nie, is dat Prof. Combrink self ‘n DA-raadslid is.

Prof. Froneman verdien dan sommer ook onmiddellik sy geld as beeldpoetser met insette op hierdie skrywe van Prof. Combrink.

Prof. Combrink, u erkenning dat daar wel leemtes bestaan het dit darem net te maklik vir Prof. Froneman gemaak, want met vernuftige voetwerk wys hy u daarop dat hulle juis aan hierdie leemtes werk. U kan dus gerus wees dat die NWU in “goeie hande” is.

Ek wonder of hierdie nie ‘n DA-bemarkingsfoefie is, waar ‘n groot kanon(Prof. Combrink ‘n DA-raadslid) die bekommerde vraagsteller is en met ‘n goed vooraf-opgestelde teen-argumente besweer Prof. Froneman (DA-raadslid) haar bekommernis en sommer die van alle Afrikaanssprekendes.

Dit wil tog voorkom of die legstuk van Prof. Combrink presies in die legkaart inpas.

Dup du Plessis ·

Indien ‘n swemafrigter kinders leer swem, maar die afrigter self kan nie swem nie, maak dit hom bevoeg om af te rig? Sou die kinders dit saam met hom kon waag op die oop see? en sou die ouers dit toelaat? Nou vra ek ook: Indien iemand ‘n 90% Afrikaanse mark moet dien ( let wel ek gebruik die woord dien want hierdie mark betaal die betrokke persoon se vergoeding) maar hy/sy kan nie self met hulle kommunikeer nie a.g.v. kennis van die bepaalde mark, etniese verskille , misverstande, TAAL ens, en daar moet nog van ‘n eksterne persoon gebruik gemaak word (beeldpoetser) om hierdie mark te kan diens , is die aanvanklike persoon dan geskik vir hierdie BEPAALDE MARK. Hoekom by die Afrikaanse kampus? Gradeer PUK se status dan eerder af t.o.v. die ander 2 kampusse en maak een van die ander 2 die koning se nuwe paleis……al die nuwe planne kan dan hier uitgevoer word selfs sonder ‘n “briefdraer” of beeldpoetser. Gun die betalende Afrikaans sprekendes ook net iets. Stel ‘n datum in die toekoms vas en meet weer die kampusse teenoor mekaar…………ons weet tog wat die uitkoms gaan wees…….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.