Regering wil Afrikaans benadeel

Afrikaans as owerheidstaal (is) so dood soos ‘n mossie.”

Dit is wat dr. Leopold Scholtz, Media24 se korrespondent in Europa, skryf in sy rubriek in Beeld van 4 deser na aanleiding van die nuwe Taalwet wat onlangs in die Parlement voorgelê is vir bespreking en goedkeuring.

In dié wet word bepaal dat in minstens drie tale met die burgers van Suid-Afrika gekommunikeer word, maar dat minstens twee van die tale uit “voorheen benadeelde” Afrikatale móét wees.

Wat ‘n sotlikheid?

Dit is duidelik uit dié voorgestelde Taalwet dat die opstellers daarvan doelbewus Afrikaans as “amptelike” taal wil benadeel. Almal weet dat staatsdepartemente reeds só verengels is, dat hulle kwalik van Engels sal afsien as kommunikasietaal. Dat Afrikaans dus deur staatsdepartemente gebruik sal word, is uiters skraal.

Stelselmatig het die verengelsingsbeleid van die ANC uitgekristaliseer.

In 2007 byvoorbeeld het ongeveer 525 000 matrieks in Suid-Afrika uit 650 000 hulle matriek in Engels geskryf – dit wil sê ongeveer 81% van die matrikulante. Dit, terwyl slegs sowat 8% van die Suid-Afrikaanse bevolking Engels as huistaal het.

Alhoewel daar Afrikaanse ouers is soos Tim du Plessis (redakteur van die grootste Afrikaanse koerant in die wêreld) wat hulle kinders na Engelse skole stuur, was die matrikulante wat hulle onderrig in Afrikaans ontvang het 82 589. Slegs sowat 9 449 Xhosas en 7 087 Zoeloes het hulle onderrig in hulle moedertaal ontvang. Dit terwyl Zoeloe die grootste huistaal in Suid-Afrika is en Xhosa tweede en Afrikaans derde. Engels is slegs die 6de grootste taal in Suid-Afrika.

En van vanjaar het Angie Motshegka, minister van basiese onderrig, alle graad eentjies verplig om Engels as vak te neem. Vroeër was dit eers van graad 3…

Die houding teenoor Afrikaans en Afrikaanse skole word verder onderstreep deur ons vyande. Gaolatlhe Kgabo, sekretaris van die SAKP-jeugliga in Christiana, het tydens ‘n optog in 2010 na die Gekombineerde Skool Christiana gesê dat “Afrikaans ‘n bose gees is” en dat dit as onderrigtaal afgeskaf moet word.

In weerwil van Afrikaanse openbare skole wat verlede jaar baie hoë slaagsyfers gehandhaaf het en Afrikanermatrieks wat vele onderskeidings ingeryg het, het daar ‘n hernude aanslag op Afrikanerskole losgebars. Die Gautengse onderwysdepartement het drie Afrikaanse enkel-mediumskole in Fochville vroeër vanjaar gedwing om Engelse leerlinge in te neem.

Volgens AfriForum, wat ‘n veldtog genaamd Red Afrikaanse Skole begin het, is dít deel van hernude pogings deur die regering om Afrikaans as onderrigmedium uit skole te verdryf.

Me. Alana Bailey, uitvoerende adjunkhoof van AfriForum, het aan Beeld gesê dat leerlinge wat in Engels wil skoolgaan, word om politieke redes in ‘n Afrikaans-mediumskool ingedwing en die skool moet op eie koste ‘n parallelmediumskool word.

“Op die duur word sulke skole Engelsmediumskole. Daar is al hoe minder skole waar Afrikaanssprekende leerlinge op hul internasionaal erkende reg van moedertaalonderrig binne ‘n Afrikaanse kulturele omgewing kan aanspraak maak.”

Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) het reeds in 2010 ‘n boekie met die titel: AFRIKANER se eis vir ‘n onafhanklike ONDERWYS OWERHEID die lig laat sien waarin die gevaarlike verengelsingsbeleid en die volksmoord wat in die klaskamer van die ANC plaasvind, uitgespel word. In die boekie pleit skrywer dat die Afrikaner sy onderwys sal losmaak van die staat en ‘n eie onafhanklike onderwysowerheid daar sal stel.

Die GHA se standpunt is, dat die sogenaamde model C-skole of te wel die Afrikaanse openbare skole, (wat nog oor is) deel sal word van ‘n Afrikaneronderwysowerheid en dat so ‘n owerheid ook beskerming sal verleen aan privaatinstellings soos die BCVO en ouers wat hulle kinders tuis wil onderrig.

Die GHA ondersteun AfriForum in hulle stryd vir die behoud van Afrikaanse skole, maar sê daarby dat die stryd eintlik gaan oor die behoud van Afrikanerskole waar óns die onderrigmedium, standaard, onderrigmetode en leerinhoud sal bepaal asook die tradisie, godsdiens, kultuur, en hoër waardes soos werketiek, leierskap, deugsaamheid, kreatiwiteit en eerlikheid kan handhaaf en bevorder.

Verder wat die sogenaamde Taalwet aan betref: mnr. Cerneels Lourens dreig om ‘n saak van minagting van die hof teen die regering te bring en het alle Afrikaanse organisasies uitgenooi om hulle aan te sluit as vriende van die hof.

Mnr. Cerneels Lourens het die GHA se volle ondersteuning.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

André Alkema

Meer oor die skrywer: André Alkema

André Alkema is voorsitter van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Gemsbok ·

Die Census van 2001 dui aan dat Afrikaans die grootste of naasgrootste huistaal in 7 van Suid-Afrika se 9 provinsies is.

Indien twee inheemse tale saam met Engels gebruik word, sal Afrikaans in 7 van die 9 provinsies een van twee ander tale wees.

Indien daar dus op slegs provinsiale huistaalsprekers gewerk word, sal Afrikaans naas Engels die taal wees wat die wydste gebruik word deur die staatsdiens in Suid-Afrika.

Die vraag is of dit (Afrikaans as een van die twee ander tale in 7 van die 9 provinsies) regverdig is teenoor die ander amptelike tale van Suid-Afrika en die bevolking in die geheel? Veral indien in ag geneem word dat Ndebele en Venda geen verteenwoordiging in die staatsdiens sal hê nie.

Die probleem kan op een van twee wyses aangespreek word.

Eerstens kan die getal “ander tale” (benewens Engels) uitgebrei word na 3 toe in plaas van 2, dan sal alle amptelike tale verteenwoordiging in een of meer provinsies geniet.

Tweedens kan die Afrikaanse kampvegters daarop fokus om Afrikaans te behou vir die provinsies waar dit ‘n meerderheidstaal is, dit is die Wes- en Noord-Kaap.

Die eerste opsie hierbo is ‘n ideale opsie, maar baie duur en in stryd met die ANC se vyandigheid jeens Afrikaans. Die tweede opsie is myns insiens meer haalbaar.

Afrikaanse skole vir ‘n Afrikaneronderwysowerheid? Dit klink na die hemel, maar hoe gaan dit beding word? Dit sal eenvoudiger wees om Afrikaanse ouers aan te moedig om na onafhanklike skole oor te slaan as om die ANC te oorreed om van die beste publieke skole met die duurste fasiliteite afstand te doen.

Paul ·

Gemsbok, die probleem is dat Afrikaans nie deur die voorgestelde wetgewing as ‘n “inheemse” of “voorheen benadeelde” taal geag word nie. Daarom is die opsie dus twee “swart” tale en of Engels of Afrikaans.
In die praktyk weet ‘n mens mos dat hulle nie Engels sal uitlos in enige provinsie nie, so dit laat nie ruimte vir Afrikaans oor nie.

Tog moet mens sê dat die voorgestelde wet net spesifiseer dat “minstens drie tale” gebruik moet word. Dus kan Afrikaans as ‘n vierde taal bygevoeg word. Mens weet ook egter dat daar slegs (skaars) by die uiterste minimum gehou sal word in al die provinsies behalwe miskien die Wes-Kaap en dalk die Noord-Kaap.

Gemsbok ·

Dankie Paul, ek is bewus van die probleem met die voorgestelde wet; dit is egter die alternatiewe wat ek probeer bekyk het.

Om in die Wes- en Noord-Kaap nie Afrikaans in die staatsdiens beskikbaar te stel nie, is om jou as politieke party van die meeste kiesers in daardie provinsies te distansieer. Afrikaans het ‘n bepaalde streeksgebondenheid in daardie provinsies en dit verskaf aan hom ‘n hefboom wat hy nie in die ander provinsies geniet nie: ‘n meerderheid by die stembus.

Daar is ook baie minder druk op Afrikaanse skole in die Wes- en Noord-Kaap om te verengels (behalwe natuurlik by Stalinbosch Universiteit), wat beteken dat ons spoedig ons kinders Kaap toe sal moet stuur indien ons staatgesubsidieerde Afrikaanse skole soek.

Die toekoms van Afrikaans sal in sy geboortestreek bepaal word.

Paul ·

My reaksie het eintlik maar net betrekking op die tweede paragraaf in jou oorspronklike kommentaar.

Gemsbok ·

Die sensus van 2001 dui aan dat Afrikaans die grootste of naasgrootste huistaal in 7 van Suid-Afrika se 9 provinsies is.

Indien twee inheemse tale saam met Engels gebruik word, sal Afrikaans in 7 van die 9 provinsies een van twee ander tale wees.

Indien daar dus op slegs provinsiale huistaalsprekers gewerk word, sal Afrikaans naas Engels die taal wees wat die wydste gebruik word deur die staatsdiens in Suid-Afrika.

Die vraag is of dit (Afrikaans as een van die twee ander tale in 7 van die 9 provinsies) regverdig is teenoor die ander amptelike tale van Suid-Afrika en die bevolking in die geheel? Veral indien in ag geneem word dat Ndebele en Venda geen verteenwoordiging in die staatsdiens sal hê nie.

Die probleem kan op een van twee wyses aangespreek word.

Eerstens kan die getal “ander tale” (benewens Engels) uitgebrei word na 3 toe in plaas van 2, dan sal alle amptelike tale verteenwoordiging in een of meer provinsies geniet.

Tweedens kan die Afrikaanse kampvegters daarop fokus om Afrikaans te behou vir die provinsies waar dit ‘n meerderheidstaal is, dit is die Wes- en Noord-Kaap.

Die eerste opsie hierbo is ‘n ideale opsie, maar baie duur en in stryd met die ANC se vyandigheid jeens Afrikaans. Die tweede opsie is myns insiens meer haalbaar.

Afrikaanse skole vir ‘n Afrikaneronderwysowerheid? Dit klink na die hemel, maar hoe gaan dit beding word? Dit sal eenvoudiger wees om Afrikaanse ouers aan te moedig om na onafhanklike skole oor te slaan as om die ANC te oorreed om van die beste publieke skole met die duurste fasiliteite afstand te doen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.