Regerings skuldig aan roekelose nalatigheid oor korona

flip-buys-2017-11-01-featured

Flip Buys, voorsitter van die Solidartiteit Beweging. (Foto: René Roux.)

Die koronapandemie en die maatreëls wat getref moes word om dit te bestry, is sekerlik besig om die grootste menslike tragedie sedert die Tweede Wêreldoorlog te veroorsaak.

Die ongekende ekonomiese gevolge gaan na verwagting baie langer as die pandemie duur. Die noodsaaklike maatreëls om die verspreiding van die virus te strem, het die krisis verder verdiep en vererger. Die Internasionale Arbeidsorganisasie bereken dat globale werkloosheid gaan verdubbel, en dat bykans 200 miljoen mense hul werk kan verloor. Dit gaan die lewens en lewensmiddele van byna ’n miljard afhanklikes en ander mense op die een of ander wyse raak. Die krisis gaan egter nóg wyer uitkring as gevolg van die kettingreaksie wat die inperking van sowat 3 miljard mense wêreldwyd meebring. In Suid-Afrika word verwag dat meer as ’n miljoen poste in die slag kan bly, wat minstens 5 miljoen mense se lewens kan raak.

Miljoene besighede word wêreldwyd hard deur die krisis getref, met die gepaardgaande rimpeleffek op mense, belastinginkomste, en die vermoë van state om noodsaaklike dienste soos gesondheidsorg en onderwys te lewer. Daarby ly honderde miljoene jongmense se onderwys en opleiding onder die inperkings, en meer as ’n miljard mense kan in armoede en ellende gedompel word. Die gesaghebbende ekonomiese blad, Bloomberg, berig dat die meer as $8 triljoen wat regerings toegewys het om die krisis te beveg, steeds nie genoeg sal wees nie.

Die krisis is nog nie verby nie, maar dit word reeds aanvaar dat die Covid-19-pandemie die Tweede Wêreldoorlog as die belangrikste verwysingspunt in die moderne era gaan vervang.

Swart of wit swaan?

Die vraag is of hierdie ongekende menslike tragedie verhoed, of minstens drasties beperk, kon word? Regerings en die globale gesagsorde voer aan dat die pandemie totaal onvoorsiens is – die vergestalting van wat die statistikus Nassim Taleb as ’n “swart swaan” beskryf.

Hy het ’n swart swaan in sy opspraakwekkende boek van 2007, The Black Swan: The Impact of the Highly Improbable, beskryf as ’n rare, hoogs onwaarskynlike en onvoorspelbare “uitskieter” van ’n gebeurtenis wat skielik ’n geweldige impak het. Taleb het destyds al ernstig teen die gevaar van ’n globale pandemie gewaarsku: “Ek sien ’n risiko van ’n dodelike virus wat vinnig oor die hele planeet versprei namate mense meer oor die wêreld reis”.

Dit is tragies dat daar meer gepraat as gedoen is oor hierdie en talle ander waarskuwings. Taleb het onlangs ergerlik teruggekap teen die bestempeling van die pandemie as ’n swart swaan, en korona as ’n voorspelbare en voorkombare “wit swaan” beskryf. Hy sê dat geen regerings ’n verskoning het vir hul onvoorbereidheid op die virus en sy vinnige verspreiding nie. Regerings was, volgens Taleb, te suinig om voorkomend sente te spandeer, en daarom moet hulle nou triljoene uitgee.

Gevaarligte flikker

Die nuwe koronavirus Covid-19. (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

Dit is onverklaarbaar dat die wêreld so onvoorbereid betrap is. Die geskiedenis bewys immers dat aansteeklike siektes (naas armoede) meer mense as enige iets anders doodmaak. Professor Marc Lipsitch van Harvard T.H. Chan-skool vir openbare gesondheid, het lankal gesê dat pandemiese siektes rampspoedige globale risiko’s inhou. Hy het gewaarsku dat daar nou baie meer aansteeklike siektes as ooit tevore is, dat dit oor die afgelope eeu viervoudig vermeerder het, en dat jaarlikse uitbreek van siektes sedert 1980 meer as vertrippel het. Waar globale pandemies vroeër eeue uit mekaar uitgebreek het, het daar in die twintigste eeu net dekades tussen pandemies verloop. Sedert die eeuwending het daar bykans jaarliks een of ander pandemie uitgebreek.

Die belangrikste redes hiervoor is dat die aarde se bevolking sedert 1950 verdubbel het, en die wêreld toenemend globaliseer met sowat 1,4 miljard internasionale besoekers per jaar. Dis meer as ’n vyftigvoudige toename sedert 1950. Daarom het talle mediese kenners gewaarsku dat voorkomende maatreëls en behoorlike voorbereiding getref moes word vir gevaarlike pandemies. Net enkele lande in Asië, wat meer gereeld pandemies moes trotseer, of lande soos Taiwan wat nie Chinese gerusstellings vertrou het nie, was voorbereid.

Internasionaal

Foto: (Martial Trezzini/Keystone via AP)

Dit bly dus onverklaarbaar dat die wêreld so onverhoeds betrap is. Dit het meegebring dat daar Middeleeuse noodplanne soos die inperking van hele lande en stede gemaak moes word om die krisis te probeer afweer. Selfs die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) was onvoorbereid: hulle hoof het ’n week nadat China ’n noodtoestand verklaar het, steeds met die Chinese regering saamgestem dat die virus nie tussen mense oorgedra kan word nie, en dat dit nie ’n internasionale gesondheidskrisis was nie.

Die ergste is dat niksvermoedende bevolkings nou die spit moet afbyt vir die onbegryplike en selfs roekelose nalatigheid van hul owerhede, deur die verlies van baie se lewe en nog meer se lewensmiddele. Dit was regerings se taak om die waarskynlikheid van ’n dodelike globale pandemie te voorsien, waar moontlik te voorkom, en daarvoor te beplan om bevolkings te beskerm. Die ironie is dat die meeste staatsleiers boonop vir hul nalatigheid “beloon” word met groter steun van ’n dankbare bevolking – die helde in die krisis waarvoor hulle medeverantwoordelik is!

Die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) se peiling oor die top-tien risiko’s onder globale besluitnemers, wys ook hul blinde kol vir die gevare van internasionale pandemies. Hierdie groep magtiges het 6 uit die 10 wêreldrisiko’s as omgewingsverwant beskou, twee as kubermisdrywe, een as ekonomies, en een as polities.

’n Wêreldwye pandemie was nie eens op die WEF se radarskerms nie. Hulle was meer bekommerd oor die klimaat as oor die mensdom se lewe.

Suid-Afrika

(Foto: pixabay.com)

In Suid-Afrika is die regering ewe onverhoeds gevang. Hulle het boonop die openbare gesondheidsorgstelsel vir meer as ’n dekade so beroerd bestuur, dat dit nie ’n toename van siekes kan hanteer nie. Daarby is die land al net voor die krisis tot rommelstatus afgradeer as gevolg van die ANC-regering se swak landsbestuur. Die bevolking moet nou toekyk hoe meer as ’n miljoen landgenote hul werk verloor en talle meer hul lewensmiddele kwyt is.

Boonop blyk dit nou dat die regering se aanvanklike aannames oor die hoeveelheid mense wat deur die pandemie besmet kon word, verkeerd was. Dit word ook duidelik dat die verlenging van die strawwe inperkingsmaatreëls die krisis verder verleng en vererger en in ’n ekonomiese ramp omskep.

Die vorige hoof van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), prof. Shabir Madhi, bereken dat die virus omtrent 25 000 sterftes kan veroorsaak – omtrent dieselfde jaarlikse getal sterftes as TB, diabetes en griep.

Prof. Madhi meen dat die aanvanklike afsonderingsmaatreëls en inperking nodig was om hospitale voor te berei, toetse te verhoog en die verspreiding te beperk, maar hy is bekommerd dat die onbedoelde gevolge van die inperking en die voortspruitende ekonomiese krisis tot ander siektes en sterftes kan lei.

Hoewel paniekbesluite aan die begin van die krisis begryplik was, is genoeg data nou beskikbaar om met feite te werk en ’n deurdagte beleid te bepaal. Langer inperkings beteken ook ’n langer pandemie omdat mense dan meer geleidelik aansteek. Daarom is ’n skerp gefokusde langertermynstrategie nodig wat op die volgende pilare staan:

  • Streng beskerming van kwesbare groepe soos ongesonde bejaardes in tehuise;
  • Verpligte selfisolasie van mense met gesondheidsrisiko’s;
  • Grootskaalse toetsing en opsporing van mense met virusse;
  • Die opening van die ekonomie met bepalings vir gesonde werk;
  • ’n Verbod op byeenkomste van groot groepe mense; en
  • Die uitfasering van drakoniese inperkingsmaatreëls wat die krisis verder vererger.

Die Suid-Afrikaanse bevolking gaan nog lank ly onder die pandemie, die regering se onvoorbereidheid daarop, die owerhede se swak bestuur van die ekonomie, die treurige toestand van die openbare gesondheidsorg, en die ekonomiese krisis wat drasties vererger is deur die lang en onbepaalde inperking se drakoniese regulasies, en die onbekostigbare maatreëls van die regering om die gevolge van die krisis te verlig.

Die regering is nie in staat om die land alleen uit hierdie krisis te lei waarvoor hul deels verantwoordelik was nie. Die staatsbestande privaat sektor en die burgerlike gemeenskap sal moet inspring om die land uit hierdie krisis te help.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JJ ·

Hi Flip. Die alternatiewe en nuwe hoofstroom media is dit eens dat die ‘n plandemie is. Ek stel voor jy begin meer kritiek kyk na bronne van informasie. Beide Google en Facebook betaal miljoene dollars aan ‘n weermag skrywers om artikels oor corona te skryf en dit besmet die ganse internet met negatiwiteit. Die hoofdoel is om vrees aan te jaag. Vrees en nogmaals vrees. Hoekom dink jy is die model waarop die RSA inperkings gebaseer is, nie vir die publiek beslikbaar nie?

Pio ·

Uitstekend!! Stem 100% saam. Vertaal tog asb. in Engels sodat die regering tenminste ‘n gedeelte hiervan kan verstaan!

Therese ·

Dankie vir hierdie puik stuk wat ‘n sprankie hoop laat opvlam dat gesonde verstand wél nog bestaan.
Die Covid-19 krisis en kettingreaksie (selfveroorsaak) kan moontlik die swanesang wees van die mensdom soos ons dit ken.
Gedoem, nie deur Die Virus of “klimaatsverandering” nie, maar as gevolg van massale katastrofiese onnoselheid.

Ivor ·

Baie goed. Stem 100%. Wat ook baie belangrik is is die “Nuwe Wereld Orde” Emmanuel Macron is die persoon wat goed dop gehou moet word. Vir die Christen het ek net goeie nuus… Die Wegraaping kom. Christenkind, bid. Wees gereed. Hou jou lampie vol olie. Liefde groete Ivor.

Ivor ·

Die boek Openbaaring speel reg voor ons oe af…Wow! Maranata! Jesus kom gou!

Petrus Johannes ·

Amen die Here is met ons.DA moet ook nie te veel wil raas nie Hulle vergeet hul optrede teenoor wit mens vol vlekke is.

sydney ·

Covid-19 is ‘n misdryf teen die mensdom (‘n internasionale misdryf). Dalk die grootste ooit. Daar sal dringend begin moet word om die outeurs hiervan tot orde en verantwoording te roep want die skade is reeds katastrofaal en word elke dag groter. Daar behoort nou reeds begin te word om ‘n saak voor te berei ingevolge waarvan almal wat hieraan meegedoen het voor die Internasionale Strafhof te daag. Hierdie hele sage is beplan, niks in die internasionale politiek gebeur toevallig nie.
Bill Gates, die WHO, die WEF, China en ander rolspelers sal ondersoek moet word vir die paniek (deur propaganda) wat veroorsaak is gegrond op vals data en die verklaar van ‘n voortydige pandemie. Daarby ander rolspelers wat meegewerk het om mense se lewens te verwoes deur hulle die reg op werk te ontsê, een van die mees basiese regte wat mens het, en wat aan jou, jou gesin en jou kinders lewensmiddele daar moet stel. Om van ander regte nie eers te praat nie.
Res ipsa loquitur – die feite spreek vanself.

JJ ·

dankie. ek is verstom dat jou stellings nie beklemtoon word nie. Ons rubriekskrywers en opinievormers kry hulle nuus van die sogenaamde hoofstroommedia en ondersoekende joernalistiek is morsdood vrek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.