Regeringsbeleid misluk steeds

Argieffoto

Statistieke Suid-Afrika het verlede Dinsdag sy verslag, “Armoedetendense in Suid-Afrika” bekendgestel. Hierdie verslag laat val die kollig op die steeds skokkende grootskaalse armoede in die land. Die verslag behoort, na regte, beleidmakers en regeringsamptenare se oë oop te maak vir die werklikheid van mislukte ekonomiese beleidstellings van die afgelope dekade.

Meer as 30 miljoen uit die beraamde 55 miljoen Suid-Afrikaners lewe onder die boonste armoededrempel van ʼn inkomste van R992 per persoon per maand. Dit is 55% van die land se bevolking – en ʼn toename sedert 2011 met 3,1 miljoen meer burgers wat in hierdie soort armoede lewe.

Interessante feit wat uit die studie blyk, is dat die nasionale statistiekediens die gini-koëffisiënt per rassegroep bepaal het. Die gini-koëffisiënt meet ongelykheid en gelykheid, met die getal 0 wat beskou word as perfekte gelykheid en 1 as perfekte ongelykheid. Hoewel sommige ekonome nie die gini-koëffisiënt as ʼn belangrike ekonomiese aanduider ag nie omdat ongelykheid nie noodwendig armoede beteken nie, is dit steeds interessant om na die statistieke te kyk.

Die inkomste-ongelykheid van die wit en bruin Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe het verlaag en die Indiese/Asiatiese bevolkingsgroep is onveranderd. Die inkomste-ongelykheid van die swart Suid-Afrikaanse bevolkingsgroep het egter tussen 2011 en 2015 vergroot. Dis die enigste bevolkingsgroep wat ʼn toename in ongelykheid gesien het.

Hierdie toename in ongelykheid onder swart Suid-Afrikaners is ʼn sprekende voorbeeld van die mislukking van huidige regstellende aksie en swart bemagtigingsplanne. Hoewel daar groot en goeie groei van die swart middelklas is, bly die meerderheid Suid-Afrikaners steeds ekonomies agter.

Die 200%-verhoging in inkomste-ongelykheid vanaf 1994 beklemtoon egter die mislukte sosialistiese en ingrypende staatsbeleidstellings in die land. Dit dien egter as verdere bewys: Deur te poog om gelykheid na te streef, word daar nie rykdom geskep nie, en word ongelykheid selfs nog minder aangespreek.

Solank die ANC nie bereid is om foute te erken nie, lyk die ekonomiese toekoms maar donker. Met die regering se onvermoë om van koers te verander en juis eerder ander vae eksterne redes die skuld te gee, blyk dit dat geen ekonomiese ommekeer binnekort gaan plaasvind nie. Die ANC is steeds ʼn revolusionêre party wat streef na ʼn oneindige revolusie. Sodra hierdie ideologiese blindheid oorkom kan word, sal ons dalk die menswaardigheid van die land kan begin herstel.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Daniël Eloff

Daniël Eloff werk by Hurter Spies Ing., ʼn regsfirma wat spesialiseer in openbare belang-litigasie en is tans besig met sy meestersgraad in publiekreg. Hy is ook ʼn direkteur van AGENDA, ʼn nie-winsgewende organisasie wat hulself beywer vir die ontwikkeling van debat in Afrikaans in Suid-Afrikaanse skole en op ons land se tersiêre kampusse.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Knyp toe ·

Ongebreidelde bevolkingsaanwas is ook ‘n faktor.

Kry minder kinders vir wie jy ‘n kwaliteit lewe kan gee.

Eish ·

Mens kan in totaliteit geensinds daarop reken nie, maar dit sou wonderlik wees indien die armes hul stem kon onttrek van die wortel van alle kwaad.

Fanie ·

Uitstekende artikel! Seldsaam dat ‘n student met meer diepte as die meeste ekonomie professors kan skryf! Min ekonome begryp dat armoedeverligting deur ekonomiese groei, veel belangriker is as om ongelykheid te verlaag deur herverdeling. Weereens puik gedoen!

Johanna Botha ·

Ag alles misluk …noem net een ding wat goed werk ?

Chris Ws ·

Dis hartverskeurend om te sien dat die armstes op stemdag steeds hul kruisie gaan trek by die anc terwyl hul armoede direk deur die anc se beleidsrigting veroorsaak word.Dit lyk asof die’ mense daarvan hou om hulself aanhoudend in die voet te skiet.Dis verstommend!

Theresa ·

Die oplossing (slegs my opinie) bly steeds om hande te vat met bewysde, werkbare goed. Dis absurd om ‘n ding wat puik werk te vat en te verander net omdat daar ‘n gevoel van nyd, onnodige voortslepende onmin, ‘n soort jaloesie en wat ookal emosies nog, gevoel word. Der duisende mense het ongelooflike kennis wat benut kan word (in vreedsame samesprekings en kontrakbetekening). Die regeerders moet billike, regverdige, anti-korrupte met insig wees. Sulke mense sal die kennis en bereidwilligheid van ander (bv. ook minderhede) met waardering aanmoedig en nie sulke mense eenkant toe gooi vir verwaardelosing nie. Munisipaliteite mag moontlik dan weer uit die as en gemors opstaan. Daar kan wesenlik aan oplossing vir behuising gewerk word (sonder om ander uit hul betaalde wonings/grond te wil haal – op elke moontlike manier – sonder gewete!). Landbou sal floreer as almal in landbou NOU en nie eers later nie – beskerming kan geniet en kriminele met alle erns forseer word op op te hou met jagtogte. Die land bied vir elkeen uitkoms en vordering. Die regeerders se denke moet vernuwe.

Boerseun ·

En wat van die laaste 300 jaar laat jou dink so iets sal ooit gebeur

Boerseun ·

In wie se oe het hulle misluk? Ek sien nie julle mighty DA naby n meerderheid nie.

Eish ·

600 000 verarmde blankes, groeikoers 7500 nuwe armblankes elke jaar.

John ·

Die tweede laaste sin gee die antwoord. Wanneer Christelike waardes nie aan die orde van die dag is nie, kan ons maar huil en skree en preek en geld na die probleem gooi, sake sal net meer versleg. Die onderhandelaars het hulle nie vergewis met wie hulle eintlik onderhandel nie. Nou word mense wat vreemde gode aanbid het of steeds dien, opgehemel as sou hulle die land eer aandoen en onkreukelbaar wees of was. As mens nie die Hemelvader se opdragte navolg nie, volg jy jou eie impulse en begeertes en jy word jou eie godjie. Dis die probleem waarmee ons nou sit. Quo jure?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.