Regse blok en populiste wen Italiaanse parlementsverkiesing

italiaanse-vlag

Foto: Jéshoots/Pexels.com

Die pas afgelope Italiaanse parlementsverkiesing het twee groot oorwinnaars opgelewer, naamlik die sentrum-regse blok met sowat 37% en die populistiese Movimento 5 Stelle (Vyf Sterre Beweging) met 32% van die stemme wat uitgebring is. Die sentrum-linkse blok is die verloorder en het swak gevaar met slegs 23% van die stemme.

Die Vyf Sterre Beweging is die grootste enkele party en was nie deel van ʼn alliansie nie, omdat hulle nie duidelik links of regs is nie en elemente van beide kante het. Wat hulle kenmerk is dat hulle taamlik nuut en grootliks ongetoets is en die sterk sentiment vir verandering en ʼn afrekening met die gevestigde orde verteenwoordig. Hulle is ook krities teenoor die Europese Unie, maar ekonomies links, met ʼn voorliefde vir meer spandering en meer skuld, ten spyte van Italië se reeds hoë skuldvlakke. Hulle sterkste steun is in die arm suide, waar ook hulle jong leier Luigi di Maio vandaan kom. Daar gaan mense onder werkloosheid gebuk en soek verandering, maar ook die behoud of selfs uitbou van die welsynstaat.

Die sentrum-regse alliansie bestaan uit oud- eerste minister Silvio Berlusconi se konserwatiewe Forza Italia (Voorwaarts Italië), die regsgesinde en federalistiese Lega (voorheen Lega Nord) met sy leier Matteo Salvini, die verregse Fratelli d’Italia (Broeders van Italië) en die gematigd-regse Noi per Italia (Ons vir Italië). Alle partye is krities teenoor immigrasie en wil Italië eerste stel teenoor die Europese Unie. Binne die blok is Lega die grootste enkele party met 18%, gevolg deur Forza Italia met 14%, Fratelli d’Italia met 4% en Noi per Italia met 1%. Die sentrum-regse blok is veral sterk in die noorde en die sentrum van die land. Trouens, Lega is oorspronklik ʼn party vir die mense van die noorde, wat meer welvarend en produktief is, groter selfbeskikking soek en nie graag die suide wil onderhou nie.

Die sentrum-linkse blok bestaan veral uit die sosiaal-demokratiese Partito Democratico (Demokratiese Party, PD) met 19% van die stemme, Plus Europa met 2.5%, en drie kleiner partye wat saam nie eers 2% opmaak nie. Die leier is Matteo Renzi, eertydse eerste minister. Die sentrum-linkse blok se oorblywende vestings is in die noordelike sentrum (Toskane) en danksy ʼn alliansie met die Suid-Tiroolse Volksparty kon hulle ook in Suid-Tirool/Trentino in die verre noorde wen. Die PD het die laaste twee regerings gelei en word dus veral geblameer vir die huidige gemors waarin Italië is. Daar was nog ʼn aparte verlinkse blok, Liberi i Uguali (Vryheid en Gelykheid) wat 3% gekry het en geen setel sal wen nie.

Die parlement bestaan uit twee huise en die verkiesing was vir die algemene kamer wat die stemdistrikte verteenwoordig, en die senaat, wat die streke verteenwoordig. Die twee huise moet saamwerk oor wetgewing en kan mekaar blokkeer.

Die uitslag bevestig ʼn tendens wat al geruime tyd in die Weste te bespeur is, naamlik ʼn swaai na regs en ʼn moegheid vir die gevestigde links-liberale orde. Dit is ook ʼn terugslag vir die droom van ʼn Europese superstaat, wat leiers soos Angela Merkel, Emanuel Macron en Jean-Claude Juncker droom. Sowel die sentrum-regse blok asook die Vyf Sterre Beweging is krities teenoor inmenging deur die Europese Unie, maar Italië is ekonomies te kwesbaar om eers te dink aan ʼn “Ital-exit”.

Koalisievorming sal wel ʼn uitdaging wees. Dit is onwaarskynlik dat die sentrum-linkse en die sentrum-regse blok ʼn koalisie sal vorm. Na alle verwagting gaan die Vyf Sterre Beweging as die grootste party deel van die regering wees. Hulle het min ondervinding van regering (net op munisipale vlak regeer hulle tans) en was die hele tyd ingestel om totale opposisie te wees. Nou wil hulle egter regeer en wys dat hulle nie net kan eis en kritiseer nie, maar ook kan lewer. Italië se politiek is nog altyd ingewikkeld selfs vir kenners, maar des te meer vir politieke nuwelinge soos di Maio. Orals in die Weste soek mense egter nuwe gesigte en ʼn onkonvensionele politiek. Italië se ekonomie gaan al lankal mank en drastiese ekonomiese hervormings is met Vyf Sterre onwaarskynlik. Enige nuwe regering sal egter iets doen aan die instroming van immigrante en dit was ook die rede vir die sukses van die regse blok en veral die Lega. Ook “meer Europa” in ʼn tyd waar mense weer hulle eie belange en identiteit herontdek lyk onwaarskynlik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

LOVE IT ·

YES LOVE IT, hoekom is REGS verkeerd en LINKS altyd reg? Hoekom is liberale reg maar mense wat vir hulle eie regte veg verkeerd? Swartes mag vir swart veg maar wittes mag nie vir wit veg in SA nie, en ek sien dit is in ander lande ook. As jy nie van godsdiens of iemand se kultuur hou nie LOS HOM UIT< hoekom moet hy of sy verander? Ons AFrikaners sal niemand in SA pla nie, ons sal ons eie kultuurfeeste en kompetisies hou en skole en universiteite he wat NIEMAND pla nie hoekom moet ons altyd aangeval word? Die ANC en EFF wil nie Afrikaans meer erens he nie .. so hoekom mag ons nie maar privaat ons eie ding doen nie? O NEE< dan is die liberale ongelukkig, maar NIEMAND praat 'n woord as daar feeste in Engels of in etniese tale gehou word of skole in etniese moedertaal onderrig nie .. EK IS BLY die wereld word nou uiteindelik wakker . hierdie EVERYTHING GOES ding moet nou einde kry ..

Hulp aanbied ·

Die Europese lande en VSA se regse mense raak almeer en hulle sal ons bystaan met hofsake en publisiteitskoste, ons moet hulle nou net bewus maak van die regering en EFF se dreigemente teenoor ons, en hul hulp vra. Hulle is baie in getal en sal ons in massas kan help.

JC ·

Welgedaan Italie!
Die einde van die verstikkende individualis-gesentreerde (maar sonder gemeenskapsregte, en identiteit) “demokratiese” liberalisme; is UITEINDELIK in sig.
Hoera !!!
Konserwatisme is reg, en ek is SO bly dat Matteo Salvini reeds te kenne gegee het dat hy NIKS te doen wil he met die Vyf Sterre beweging nie.
Ek sal ook niks te doen wil he met ‘n beweging wat nie weet waar hulle op die spektrum sit nie.
Soos op gewys is, is hul ekonomies linkse voorkeure (o.a. die uitbou van die welsynstaat nogal) heeltemal ongewens vir die regse koalisie.
Forza Italia!
Juncker, Merkel en kie se dae is getel!

Patriot ·

Prediker 10 vers 2 : Die hart van die dwase is na links, maar die hart van die wyse is na regs.

lizl ·

Prediker 10 vers 2 : Die ahrt van die dwase is na links, maar die van die wyse is na regs.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.