Regstelaksie moet reggestel word

Flip-Buys-2015-September

Flip Buys die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

Solidariteit se internasionalisering van “regstellende aksie” deur ʼn klagte by die VN te lê, het die vraagstuk van regstellende aksie weer op die spits gedryf. Die klagte volg op die nakoming van die vereiste dat alle interne kanale in die land eers uitgeput moes word, wat Solidariteit wel met ʼn hofsaak in die konstitusionele hof gedoen het. Dis nie die eerste keer dat Solidariteit die vraagstuk in die buiteland opper nie. ʼn Paar jaar gelede het ʼn afvaardiging van Solidariteit Amerika besoek en meningsvormers oor die stand van sake in Suid-Afrika ingelig. Regstellende aksie is ʼn omstrede saak in Amerika en in talle state is pogings aangewend om dit af te water, uit te faseer of om die maatstaf vanaf ras na sosiaal-ekonomiese status te verander.

Ons was destyds verras oor die positiewe ontvangs wat Solidariteit se balansbenadering gekry het. Volgens hierdie benadering steun ons die opheffing en ontwikkeling van mense van alle rasse, sonder om ras as die bepalende maatstaf vir aanstellings en bevordering soos ʼn kwotastelsel te gebruik. Ons het ook daarop klem gelê dat ons ʼn insetbenadering steun, omdat die uitsetbenadering bloot op ʼn kwotastelsel neerkom. Met ʼn insetbenadering sal klem gelê word op die opleiding en ontwikkeling van swartmense, maar sonder om rasseteikens vir aanstellings op elke posvlak na te jaag. Volgens die Suid-Afrikaanse uitsetbenadering word rasseteikens vir elke posvlak gestel met die doel om die nasionale demografie te weerspieël. Dit word “verteenwoordiging” genoem, ʼn stelsel waar die bereiking van teikens ʼn doel op sigself word, sonder voldoende oorweging van opleiding, ervaring of bekwaamheid. Dit lei tot onregverdige diskriminasie, omdat die kwotas wat gestel word nie verband hou met die beskikbare aantal swartmense nie. Daarom sê Dirk Hermann dat dit “rastellende aksie” is en nie regstellende aksie nie.

Amerika

Daar is natuurlik ʼn groot verskil tussen Amerika en Suid-Afrika. In Amerika is regstellende aksie ʼn meganisme vir die beskerming van minderhede en sowat 15% van die bevolking word vir bevoordeling geteiken. In Suid-Afrika word dit gebruik om die meerderheid op te hef. Dit beteken dat net sowat 10% wit werkende mense die bevoordeling van 90% van die bevolking moet absorbeer.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet waarborg gelykheid, maar maak voorsiening vir regstellende aksie. Hierdie botsende bepalings het miskien baie redelik gelyk tydens die aanvaarding van die Grondwet, maar die definisie van gelykheid het dramaties verander saam met die grondverskuiwing in die politieke magsbalans ná die 1994-verkiesing.

Verteenwoordiging

Om gestalte te gee aan die gelykheidsbepaling in die Grondwet, is gelykheid in die Wet op Gelyke Indiensneming omskryf as verteenwoordiging, gemeet aan gelyke uitkomste in die vorm van rasseverteenwoordiging. Daar is ʼn groot verskil tussen die gelykheid in die Grondwet en gelykheid in die Wet op Gelyke Indiensneming. Gelykheid in die Grondwet beteken gelyke geleenthede met ruimte vir geleenthede vir swartmense, gelykheid in die regstellende aksie wetgewing beteken gelyke rasse-uitkomste. Hierdie verskil tussen ʼn gelyke wegspring en gelyk by die wenpaal het alles verander.

Die groot beswaar teen die Suid-Afrikaanse model van regstellende aksie gaan juis oor die kwessie van verteenwoordiging. As die personeelsamestelling van alle instellings die bevolkingsverhouding moet weerspieël om gelykheid te bereik, is die noodwendige gevolg dat alle instellings onder swart en waarskynlik ANC-beheer sal moet wees, met Engels as voertaal. Dít het meer met magspolitiek te doen as met regstelling.

Dit is taamlik maklik om regstellende aksie tot voordeel van ʼn minderheid toe te pas in ʼn groeiende ekonomie waar meer geleenthede vir almal geskep word. Dit is heeltemal ʼn ander saak om regstellende aksie toe te pas in ʼn trae arbeidsmark tot voordeel van die groot meerderheid van die bevolking. Daarom is die groot risiko dat regstellende aksie daartoe kan lei dat 80% wit mense daardeur benadeel kan word, terwyl hoogstens 10% van swart mense daardeur bevoordeel sal word en die res met onvervulde verwagtinge gaan bly sit.

Propaganda-woord

Dis te verstane dat die regering ná 1994 regstellende aksie wou gebruik om ongelykhede reg te stel. Die probleem is dat daar onder die vaandel van regstelling ʼn hele arsenaal praktyke ingespan word wat wissel vanaf opheffing tot blatante onbillike diskriminasie wat die werking van die staatsdiens ondermyn. Daar is begrip vir die verbetering van onderwys en opleiding en dat bykomende geleenthede aan jong swartmense gegee moet word. Maar die probleem is dat die term “regstellende aksie” homself regverdig en so inderwaarheid ʼn propaganda-woord is wat nou totaal misbruik word en in rastelling ontaard het.

Regstelling hoef mos nie ʼn zero som te wees, waar bevoordeling van een groep net kan geskied deur ʼn ander groep terselfdertyd te benadeel nie. Waarom moet die Suid-Afrikaanse model van regstellende aksie die enigste metode wees om die geldige doelwitte van swart opheffing te bereik? Waarom moet jong wit mense wat nooit deur apartheid bevoordeel is nie, nou benadeel word? Waarom moet ʼn nuwe geslag swart mense wat nooit benadeel is nie, nou bevoordeel word? Hoe kan gevalle van ooglopend onbillike diskriminasie geregverdig word deur dit net regstelling te noem? Waarom is daar in die buiteland selfs onder linkses begrip vir Solidariteit se balansbenadering, terwyl die Black Management Forum dit as bewys van rassisme sien?

Politieke mag

ʼn Deel van die antwoord is dat regstellende aksie ʼn gewilde politieke slagkreet is om mense polities te mobiliseer. Al weet hulle dat die massa nie deur regstel-aksie bevoordeel word nie, dien die armoede van die massas as regverdiging vir die voortsetting van die rasgegronde bevoordeling van die elite.

Dis juis in Amerika ook ʼn kenmerk van regstellende aksie: dit bevoordeel gewoonlik diegene wat reeds beter daaraan toe is. Dit is waarom na ander oplossings gekyk moet word soos vinniger ekonomiese groei, grootskaalse opleiding en nuwe ekonomiese modelle.

Die Suid-Afrikaanse wetgewing en die toepassing van hoogs omstrede sake, soos raswette, moet voldoen aan die internasionale reg om te verhoed dat dit ontaard in rastelling en permanente rassediskriminasie. In die praktyk is ons land egter lankal verby die punt van grondwetlike regstelling en ons is nou besig met ʼn polities gedrewe rassetelling of omgekeerde Apartheid. Dis waaroor Solidariteit se klag by die VN gaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.