Regstellende aksie maak mense dood

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema

Dr Frans Cronje van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge het onlangs ʼn herrie veroorsaak toe hy gesê het regstellende aksie maak babas dood, na aanleiding van babas wat dood is weens besmette water in Bloemhof. Hierdie argument kan nog verder uitgebou word.

Regstellende aksie sit die ligte af. Terwyl ons met beurtkrag spook, keur Eskom ʼn rasplan goed wat suiwer op ʼn rassekwota gebaseer is, nadat hy gedurende die laat 1990’s en vroeg in 2000 ʼn radikale rasprogram gevolg het waardeur hy van die helfte van sy wit werkmag ontslae geraak het.

Regstellende aksie moedig misdaad aan. Indien ʼn ster in die Polisie, soos Renate Barnard, die diens verlaat omdat sy weens velkleur nege jaar moes veg omdat sy nie bevordering kon kry nie en uiteindelik bedank het, klap net die misdadigers hande.

Indien die ras van die topbestuur die transformasiemaatstaf van ʼn staatshospitaal is en nie diens aan siek mense nie, maak regstellende aksie mense siek.

Indien die onderwysdepartement die sektor so aggressief transformeer dat vaardige onderwysers nie vinnig genoeg vervang kan word nie en die skoolstelsel disfunksioneel raak, maak regstellende aksie kinders dom.

Daar is egter ook ʼn internasionale konteks waar regstellende aksie mense doodgemaak het. Drie van die bekendste regstellende aksie-lande in die wêreld het ʼn beroerde regstellende aksie-rekord en mense is in die proses dood.

Die bekende swart Amerikaanse ekonoom, dr Thomas Sowell, skryf in sy boek Affirmative Action around the World dat regstellende aksie nêrens in die wêreld die sosiale ontwrigting van die samelewing wat die beleid veroorsaak, regverdig het nie.

Indië se regstellende aksie-program is sekerlik die grootste in omvang ter wêreld. Nadat dit verskerp is, het dit gelei tot groot ontwrigting deur studente, wat uitgesluit is. Van die studente het hulself selfs uit protes aan die brand gesteek.

In Sri Lanka was die Tamils minder as een-sesde van die bevolking, maar hulle was oorverteenwoordig in byna alle sektore. Met onafhanklikwording was die amptelike taal Engels. Die Sinhalese meerderheid het egter die taalbeleid verander na slegs Sinhalees en het met ʼn regstellende aksie-program begin wat die Sinhalese be­voor­deel het. Die Tamils het uitgesluit gevoel en ʼn bloedige burgeroorlog was die gevolg. 64 000 mense is dood en regstellende aksie was ʼn groot bydraer daartoe.

In die 1960’s het opstande in Maleisië uitgebreek omdat die regering nie aan mense se verwagtinge voldoen het nie. Honderde Chinese is in die opstande doodgemaak. ʼn Klimaat is geskep waar die Chinese geblameer is vir die feit dat die Bumipitra (die bevoordeeldes van regstellende aksie) steeds arm is en swaarkry. Dit het ook gelei tot grootskaalse vervreemding selfs van die Indiese minderheid, wat ook van regstellende aksie gesluit was.

ʼn Indiërwerker op ʼn plantasie het oor regstellende aksie gesê: “Net soos die bylmerke op die bome, het die Maleisiese regering ontelbare wonde op die Indiese minderheid gelaat deur hulle werk te ontsê, van onderwys te weerhou, hul vryheid van geloof weg te neem en die meeste deur hulle van hul waardigheid te stroop.”

Ten spyte van groot regstellende aksie-programme en die prys van sosiale ontwrigting, was regstellende aksie steeds nie ʼn sukses nie.

Dr Mahathir bin Mohamed, een van die argitekte van regstellende aksie in Maleisië, het ná sy ampstermyn teleurgesteld erken dat regstellende aksie misluk het en net ʼn klein groepie bevoordeel het. “These few Malays, for they are still only very few, became rich, not because of themselves but the policy of government supported by a huge majority of poor Malays,” het hy gesê.

Volgens Sowell is in Indië slegs 6% en in Maleisië slegs 5% van diegene wat deur regstellende aksie bevoordeel moes word, wel bevoordeel.

Die wêreld het ingegryp en die Internasionale Arbeidsorganisasie se definisie van regstellende aksie bepaal dat regstellende aksie tydelik moet wees en werklik moet regstel. Blote rassekwotas wat met ʼn sakrekenaar bepaal word, is nie internasionaal verdedigbaar nie.

Die Verenigde Nasies se Konvensie vir die Uitwissing van Alle Vorme van Rassediskriminasie bepaal ook dat regstellende aksie nie tot verskillende silo’s van mense mag lei nie en dat dit nie verder mag gaan as wat nodig is nie. Die Verenigde Nasies se menslike ontwikkelingsverslag beveel aan dat daar van ras na klas beweeg moet word. Die fokus het ook begin skuif na ekonomiese groei en opleiding.

Die ANC pas regstellende aksie egter nog toe asof die wêreld nie reeds lesse geleer het nie. Dit gaan lei tot sosiale ontwrigting, onvervulde verwagtinge, vervreemding, bevoordeling van net ʼn klein groepie elite en dit gaan mense doodmaak. Hierdie verliese gaan groter wees as die wins van regstellende aksie.

Regstellende aksie in Suid-Afrika het tot ʼn ideologie ontwikkel wat glo alles in Suid-Afrika, van werkplekke tot sport, kultuur, woongebiede en selfs die privaat wêreld, moet die land se rassedemografie weerspieël. ʼn Ideologie hou egter nie met die werklikheid rekening nie en dit is wat tot die ontwrigting lei.

Die prys van die ontwrigting is vir die ideoloë bloot opofferings vir die groot nasionale idee. Thomas Sowell is van mening dat rasseverteenwoordiging nog nêrens in die wêreld bereik is nie en indien iets nog nêrens in die wêreld bereik is nie, word dit bloot ʼn permanente strewe. Ideologie is wreed, want selfs jou eie mense word ‘tydelik’ geoffer om die groot ideaal (wat nooit bereik kan word nie) te bereik.

In Suid-Afrika moet ons stry teen ʼn ideologie wat mense ontwrig en doodmaak. Die res van die wêreld het met ander baie meer kreatiewe oplossings vorendag gekom om gevolge van diskriminasie te oorkom.

Ons moet die stryd voer deur middel van politieke debat, deur die openbare mening te mobiliseer, deur te litigeer en deur na internasionale platforms te gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
AH

En so praat ons voort terwyl niks gebeur nie omtrent soos gedurende die grens oorlog is daar net gepraat terwyl die jong seuns op die grens dood geskiet is soos daar net gepraat is toe de klerk en gesante S.A. uit verkoop het

Henry

Dankie tog dat daar Afrikaners soos Dirk Hermann is om die probleme wat ons in die gesig staar, aan te spreek. Om doelgerig op te tree teneinde die groterwordende onregte wat deur ‘n kwaadwillige regime teen ‘n skrale minderheid gepleeg word, te ontbloot en te bestry. Om nie met skeltaal en bittere verwyte teen jou eie mense vorendag te kom en alewig hul foute en gewaande foute veroordeel nie. Om al die stokou en bekende beskuldiginge tot vervelens uit die sloot wat propvol ou koeie is, op te grawe wat uiteindelik tot negatiwiteit en verlamming lei. Mens kan nog ‘n… Lees meer »

Gerhadrt

Ons blankes waarteen gediskrimineer word ogv VELKLEUR moet tog net asb ophou om stil te bly! By my werk word ons “genooi” na “Employemnt equity” werkswinkels, niemand staan op en praat die waarheid nie. Ek as jongeling spreek my uit want daar is geen manier dat diskriminasie “positief’ kan wees nie! Maas slae vat ek want dis nie lekker as ‘n jong witman hulle vertel dat hulle hulle eie gewete verkrag nie. Waarom nie sosio eknomiese omstandighede of huiduige hulpmiddele in ag neem ipv ras nie, dis nou as ons iemand moet “empower”. Die woord “trasnformation” kan mos nie “perpetual”… Lees meer »

Janie Nel

My man is dood a.g.v. Regstellende Aksie. In die proses om van hom ontslae te raak het hy ‘n stress-hartaanval gehad en natuurlik aan erge depressie gely. ‘n Paar maande later het die groot hartaanval gevolg. Ons is deur hel gedurende daardie tyd. Vandag nog worstel ek met bitterheid as ek soms aan alles dink.

Johannes

Henry, jammer ek het per abuis ‘n woord uitgelaat. Dit moet lees: Ek hoop AH lees ook jou kommentaar.