Regstelling of teregstelling?

Pres. Cyril Ramaphosa. Argieffoto: Elmond Jiyane.

President Cyril Ramaphosa het hierdie week in ’n presidensiële gespreksessie met jongmense gesê dat rassewette sal voortduur tot gelykheid bewerkstellig is. Wit mense het heftig daarop gereageer, en talle van die probleme in die land aan hierdie rassebeleid toegeskryf. Dis veral Afrikaner jongmense wat gevra het hoekom hulle benadeel word terwyl hulle nie bevoordeel is nie, terwyl ander wat nie benadeel is nie nou bevoordeel word.

Hoekom bly rassewette so ‘n omstrede kwessie, selfs al word dit onder ’n selfregverdigende propagandaterm soos “regstelling” bedryf? Watter redelike mens kan dan nou teen die regstelling wees van dinge wat verkeerd was? Of wie kan teen pogings wees om gelykheid te bevorder?

Kan daar werklik nog mense wees wat teen die vordering van swart mense is, of wat gekant is teen die skepping van meer geleenthede vir swart mense waar hulle swak verteenwoordig is? Is daar nog mense wat nie besef swart ontwikkeling is noodsaaklik vir die land nie? Hierdie vrae kwel regeringsleiers wat meen wit mense kla onredelik en kyk net selfsugtig na hul eie klein probleempies en wil nie help om die werklike probleme van die land op te los nie.

Kyk byvoorbeeld na die werkloosheid en armoede in die land, wat – hoewel dit vinnig onder wit mense toeneem — steeds oorweldigend ‘n “swart” krisis is. Almal behoort ook teen hierdie tyd te weet dat jy nie veilig kan slaap as miljoene van jou bure honger is nie. Die vraag is dan hoekom dit nog lyk of baie wit mense, wat bloot selfsugtig oor hul voorregte waak, eintlik gekamoefleerde rassiste is, wat nie omgee vir die nood van hul landgenote nie, en hulle net probeer afsonder en hul welvaart agter hoë mure en veiligheidsheinings verskans.

Vier tipes “regstelling”

Maar kom ons gaan terug na die vraag aan die begin. Waarom is so baie wit mense negatief oor “regstellende” aksie? Om die vraag te beantwoord, kan rassewette in vier vlakke ingedeel word op grond van die uitwerking daarvan: regstelling, gelykheid, verteenwoordigendheid en magspolitiek.

Ek ken nie iemand wat nié wil hê dat dinge wat verkeerd is, reggestel word nie. Ek ken ook niemand wat teen gelykheid is, of teen billike maatreëls wat daarop gemik is om ware gelykheid te bewerkstellig nie.

Regstellende aksie is al baie in die wêreld gebruik om minderhede te beskerm en te help om hul regmatige deel van die ekonomiese koek te kry. Dis ‘n tydelike middel wat in ‘n liberale vryemarkekonomie gebruik word om ware gelykheid te verkry deur regstreekse én onregstreekse faktore wat gelykheid keer, uit die weg te ruim. Daarna kan die samelewing weer vry en gelyk sonder staatsinmenging voortbeweeg, gekenmerk deur ware diversiteit.

In die praktyk beteken dit dat daar in Suid-Afrika swart én wit regters, ingenieurs, miljoenêrs, arbeiders en topbestuurders sal wees. Daar sal byvoorbeeld sakeondernemings wees wat die publiek in die geheel wil teiken en wie se personeel en bestuur ‘n breë snit van die bevolking in al sy skakerings sal insluit.

Almal saam is verteenwoordigend

Maar, sê prof. Koos Malan, regskenner van Pretoria, daar sal weens die heterogene aard van die land en weens verskillende belange ook ‘n groot verskeidenheid belanghebbende organisasies, sakeondernemings, skole, kerke, vakbonde, kultuurverenigings en ander wees wat telkens uit ‘n besondere gemeenskap ontstaan. En as hulle personeel aanstel, sal dit kom uit die geledere van die gemeenskap waaruit hulle kom. Moslem-organisasies sal Moslems aanstel, tradisioneel swart organisasies sal tradisioneel swart mense aanstel, vroue-organisasies vroue, net so natuurlik ook Afrikaanse organisasies. Kortom, mense sal aangestel word uit die groepering waaruit die organisasie saamgestel is. Só weerspieël alle organisasies saam die verskeidenheid van die samelewing, soos in enige oop en normale demokratiese samelewing.

Maar hier begin dinge lol. Regstellende aksie gaan in Suid-Afrika nie bepaald om regstelling of gelykheid nie. Dit gaan om rasseverteenwoordigendheid, en nie net oor -verteenwoordiging nie. Suid-Afrika se regstellende aksie bevorder juis nie verskeidenheid nie, maar die teenoorgestelde, naamlik eenvormigheid.

Verteenwoordigendheid

Die oorsprong van hierdie probleem lê in die Suid-Afrikaanse model vir regstellende aksie se sentrale tema van “verteenwoordigendheid”. Dit beteken dat alle instellings, organisasies, ondernemings en klubs uiteindelik die rassesamestelling van die land op alle posvlakke moet weerspieël. Alle instellings, ongeag hul aard, moet dus dieselfde “verteenwoordigende” samestelling hê. Gegewe die land se bevolkingsamestelling, sal dit grootliks swart moet wees. En omdat die land se bevolkingsprofiel op alle posvlakke weerspieël moet word, sal hulle ook deur die bank uiteindelik onder swart beheer moet wees.

Om aan die voorskrifte van verteenwoordigendheid te voldoen, sal alle maatskappye in die land hul samestelling en karakter moet verander en sal hulle soos alle ander instellings swart beheerde Engelssprekende instellings moet word.

Die eis van bevolkingsverteenwoordiging is juis dan die juridiese werktuig waardeur nie-swart instellings en ondernemings tot swart ondernemings omvorm word, terwyl dieselfde werktuig swart instellings se karakter sal beskerm. Hiervolgens kry die hele georganiseerde lewe — staat, bedryf en burgerlike samelewing — ‘n eenvormgige karakter, wat eienaardig genoeg in Suid-Afrika deurgaan as die bereiking van verskeidenheid!

Die impak van ’n radikale rassebeleid wat met kwotateikens ’n vraag na swartmense skep wat veel hoër is as die beskikbare aanbod met die nodig ervaring en kwalifikasies, het reeds tot groot probleme in die land gelei. Die eenvoudige oplossing vir staatsverswakking is om mense op meriete aan te stel, wat vanweë die bevolkingsamestelling steeds meestal swart sal wees.

Oorheersing of regstelling

Die vraag is of dit ‘n onbeplande proses met onbedoelde gevolge is, en of dit ‘n magspolitieke element bevat. Was swart oorheersing van die land en sy instellings die hoofdoelwit met Engels as die noodwendige gevolg, of het beleidvormers hierdie gevolge per ongeluk oor die hoof gesien?

Swart nasionaliste het volgens Malan ‘n aantreklike liberale en menseregtelike idioom gebruik om ’n totalitêre linkse standaardisering van die land en sy instellings te regverdig. Hulle het klaarblyklik daarin geslaag om niksvermoedende sakeleiers tot dié nasionalistiese projek te koöpteer.

Niemand het iets teen regstelling of gelykheid nie. Maar in Suid-Afrika gaan die uitwerking veel verder. Regstellende aksie is immers bedoel as ‘n skild om mense te help, en nie as ‘n swaard om ander te benadeel of om Afrikaan-oorheersing met wetgewing af te dwing nie. Die ironie is dat die ANC se rassewette ekonomiese groei en swart werkskepping strem, en daartoe lei dat jong wit gekwalifiseerdes ondernemers word wat leer om selfs in moeilike omstandighede uit te styg en ’n sukses te maak.

Politiek i.p.v. ekonomie

President Ramaphosa sê dat regstellende rassewette kan ná 25 jaar nog nie afgeskaf word nie, en sal amper lewenslank moet voortduur totdat gelykheid bereik is.

Sy stelling kom nadat internasionale- én Suid-Afrikaanse ervaring bewys het dat dit nie kan werk nie. Daarom is die beste verklaring van die president en sy party se beleid dat dit polities sin maak, al is dit ekonomiese onsin.

Soos die Afro-Amerikaanse ekonoom Thomas Sowell gesê het: “There are few talents more richly rewarded with both wealth and power, in countries around the world, than the ability to convince poor people that their problems are caused by other people who are economically more successful.”

Die jong swart Amerikaanse denker Coleman Hughes sluit by Sowell aan: “I do not know of a single instance in which an underachieving ethnic minority rose to economic prominence by asking the government for cash transfers, preferential policies in education and employment, or apologies for past injustices.”

Die oplossing is eenvoudig: skaf raswette af en vervang dit met meriete. Dit sal lei tot ekonomiese groei en meer werkgeleenthede vir almal. Die bevolkingsamestelling sal meebring dat die oorgrote meerderheid nuwe poste steeds vir swart mense sal wees. Maar ’n stygende gety lig alle skepe.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Rasper ·

In kort wys die skrywer uit dat een span, onder leiding van die ANC, besig is om die spel so te speel, sodat hulle wen. Totale oorwinning, en een van hulle wapens is regstellende aksie.Die ander span, ons die Afrikaner, speel sodat almal kan wen, of soos “bulletjie rugby” by die skool, sonder om telling te hou.Dit het 25jaar gevat vir die Afrikaner om agter te kom dat die ANC as oorwinnaars, net soos die Romeine en Babiloniers van ouds, vanaf 1994 die “verloorders” se bates as oorlogsbuit begin plunder het.Nou vlug ons in strepe as ballinge na ander lande.Die Solidariteit-plan is gelukkig ‘n “laer-trek”, en kan in my oë, as die tweede Bloedrivier gesien word, vir die wat agterbly.Alhoewel elke plaasaanval ‘n fisiese aanslag is, word hierdie nuwe oorlog anders gevoer. As Afrikaners moet ons met ons geloof, vertroue en godgegewe kundigheid op alle gebiede as Boere-krygers vreesloos optree hier aan die Suid punt van Afrika. Jy hoef nie ‘n skyfskiet kampioen, of ex-recce te wees om in hierdie nuwe oorlog ‘n Boere-kryger te wees nie. Maar tyd vir stil-sit en aanvaar, is verby.

Andreas ·

Jy kan maar rasper, ander ‘rap’ sommer net, sekeres stap voor, ander volg. En dan is daar mense soos Flip Buys en sy span, aha, en daar is daar Biltong Roets.

Hein ·

Iemand het al opgemerk dat SA die enigste land is waar die meerderheid met totale politieke mag in hulle hande AA en BEE toepassing teen n minderheid van omtrent 8% van die bevolking, omdat hulle, die meerderheid, nie in staat is Om hulle eie welvaart te skep nie. Sela. Daarom word almal afgetrek na een vlak ipv opgehef na n ander vlak.

Andreas ·

Is daar nie iemand wat hierdie artikel na alle parlementslede se rekenaars kan lek en dit sommer na Mogoeng, Zondo en Thuli, CC nie?

Gert ·

Die stelling word gemaak dat niemand teen gelykheid is nie. Ek, vir een, is uiters gekant teen gelyke uitkomstes, want ek besef dat mense verskil in terme van vermoëns en talente, en dat gelyke uitkomstes dus net moontlik sal wees deur geleenthede skeef te trek, of anders gestel, deur die meer talentvolles te penaliseer. Nie net is so iets uiters boos nie, dis ook tot nadeel van almal, want as jy die meer bevoegdes uit die belangrike poste hou sodat minder bevoegdes gelyke uitkomste kan hê, beteken dit dat die belangrike take sub-optimaal vervul word, wat tot gevolg het dat die vooruitgang belemmer of selfs omgekeer word.

willem Botha ·

Ek stem saam skrap die diskriminerende wette,swart bemagtiging werk nie n handjie vol word bevoordeel soos Ramaposa voordeel getrek het uit sy vennootskap met Lonmin.Die mense wat werk kan skep verlaat die land want daar is wetgewing en kwota sisteme wat hulle terughouDie apartheid sisteem het sa se ekonomie geknou net so erg soos wat die die diskriminerende wetgewing nou aan die ekonomie doen.Ek dink meeste weet dit maar is te bang om op te staan en die regering te dwing om dit te skrap,ek sal voorstel ons begin hieroor te praat en hou aan praat,betoog dmv jou kommentaar wat jy hier lewer praat daaroor by die braai maak dit n n beskaafde betoging in jou alledaagse lewe.

Markus ·

Ek stem 100% saam skrap die diskriminerende wette en vervang dit met merriete op hierdie stadium knou dit net die ekonomie en benaadeel almal van ons .Ek wens Solidariteit wil dit in n hof gaan toets want na 25 jaar hoe kan daar nog wetgewing in n land wees wat gebaseer is op die kleur van jou vel dit is n euwel en moet tot n val kom.

lewies ·

Onreg wat gepleeg word SAL gestraf word, of dit in die “VERLEDE” plaasgevind het of in die “HEDE”. God het nie witbroodjies is hierdie proses nie. Die enigste waarborg wat ons het is dat “ongeregtigheid” gestraf word. Die Israeliete moes dit ook op die harde manier leer. Die troos is dat ons ‘n “TOEKOMS” het wat nie noodwendig dit is wat ons en ons kinders graag wil he nie, “Sola Scriptura”

willem Botha ·

Jy self bepaal jou toekoms dit is waar die Oppenheimers, Ruperts, Motzepes en Raymond Ackermans vandaan kom.

sweis ·

Hierdie probleem sal op die tafel gesit moet word uit ondervinding weet ek as jy nie kla beteken dit jy is tevrede en ons is nie.

Koos ·

Daar waar ‘n oorweldigende meerderheid deur wetgewing en praktyk toegepaste reëls, teen ‘n absolute minderheid beskerm moét word om die sogenaamde meerderheid se behoud, vordering en prestasies te verseker, weet maar net dat dáárdie meerderheid net in getalle in die meerderheid is, maar verder op alle gebiede eintlik die wáre minderheid is!!!

Kaas Bra ·

Wil dit nou nie te hard vir die nuwe uwe president sê nie, maar hierdie stukkie wetgewing gaan julle lelik in die toekoms aan die jis byt. Watch this space!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.