Regsverydeling en anargisme van die Suid-Afrikaanse staatsowerheid

President Jacob Zuma en president Omar al-Bashir in Soedan (31/01/2015) Foto: Departement van kommunikasie

President Jacob Zuma en president Omar al-Basjir in Soedan (31/01/2015) Foto: Departement van kommunikasie

Op 4 Maart 2009 het ‘n Voorverhoorse Kamer van die Internasionale Strafhof (ISH) ‘n lasbrief vir die inhegtenisneming van die Soedannese president Omar Hassan Ahmed al-Basjir uitgereik om tereg te staan in die ISH op ernstige aanklagtes van misdade teen die mensheid en oorlogsmisdade wat in die Soedannese provinsie van Darfoer in opdrag van die beskuldigde uitgevoer is, en op 21 Julie 2009 is verdere aanklagtes van bevolkingsmoord by die lasbrief ingesluit. Al-Basjir is na bewering die Adolf Hitler van Afrika wat ‘n Arabiese Herrenvolk in die Soedan tot stand wil bring en in die proses die uitwissing en verdrywing uit die land van die oorwegend nie-Arabiese Afrika stamme in die provinsie van Darfoer gelas het. Hy het waarskynlik vir dieselfde rede nie so lank gelede nie die sesessie van Suid-Soedan met sy oorwegend Christelike bevolking hom laat welgeval.

Die situasie in Darfoer is deur die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies na die ISH verwys. ‘n Voorverhoorse Kamer van die ISH het ‘n lasbrief vir die inhegtenisneming van Al-Basjir uitgereik op grond van sy oortuiging dat “daar redelike gronde bestaan om te glo dat die persoon ‘n misdaad gepleeg het wat binne die jurisdiksie van die Hof tereg kom” (art 58(1)(a) van die ISH Statuut).

Op 13 Junie 2015, nadat dit bekend geword het dat Suid-Afrika die President van Soedan toegelaat het om ‘n byeenkoms van die Afrika Unie hier te lande by te woon, het ‘n Voorverhoorse Kamer van die ISH bevestig dat Suid-Afrika regtens verplig is om president Al-Basjir te arresteer en vir verhoor aan die Hof uit te lewer. Op 12 Junie het die voorsittende regter van die ISH, op versoek van Suid-Afrika en in teenwoordigheid van verteenwoordigers van die Registrateur en Aanklaer van die ISH, die Suid-Afrikaanse Ambassadeur in die Nederlande en ‘n Suid-Afrikaanse regsadviseur te woord gestaan en aan hulle verduidelik “dat daar geen teenstrydigheid in die reg bestaan nie en dat die Republiek van Suid Afrika verplig is om Omar al Basjir te arresteer en aan die ISH uit te lewer” (Saak No. ICC-02/05-01/09, 13 Junie 2015). Dieselfde standpunt is op 15 Junie ook deur die hoë hof van Gauteng gehandhaaf.

Daar is drie basiese redes waarom Suid-Afrika regtens verplig was om president Al-Basjir te arresteer.

Omdat Suid-Afrika as lid-staat van die ISH daartoe verplig is.

Die verpligting van lede-state om met die ISH saam te werk, kom in twee kategorieë tereg. Sekere samewerkingsverpligtinge is aan omskrewe voorwaardes onderworpe. Ander samewerkingverpligtinge is absoluut en onvoorwaardelik. Die verpligting van lede-state om uitvoering te gee aan ‘n lasbrief vir die inhegtenisneming en uitlewering aan die ISH van ‘n verdagte val in die tweede kategorie. ‘n Lid-staat kan in geen omstandighede hoegenaamd regtens versuim om aan dié verpligting uitvoering te gee nie. Artikel 89(1) van die ISH Statuut bepaal aldus dat “Lede-state, ooreenkomstig die bepalings van hierdie Afdeling [van die Statuut] en die prosedures van hulle nasionale reg, sal voldoen aan versoeke vir die arrestasie en uitlewering” van ‘n verdagte.

Omdat die Veiligheidsraad onderhewig aan sy sogenaamde Hoofstuk VII-magte opdrag gegee het dat lede-state van die Verenigde Nasies ten volle moet saamwerk om die vervolging van Darfoer verdagtes in die ISH te bewerkstellig.

Veiligheidsraad Resolusie 1593 (2005) van 31 Maart 2005 dring aldus daarop aan dat “alle State en betrokke streeks- en ander internasionale organisasies ten volle met die ISH sal saamwerk” in die Darfour aangeleentheid. Lede-state van die Verenigde Nasies is regtens verplig om uitvoering te gee aan Hoofstuk VII besluite van die Veiligheidsraad.

Omdat die Suid-Afrikaanse reg dit van die owerheid vereis.

Die Wet op die Implementering van die Statuut van Rome oor die Internasionale Strafhof, Wet 27 van 2002, laat hieroor geen twyfel nie. Die Wet is aangeneem “om ‘n raamwerk te skep ten einde te verseker dat die Statuut [van die ISH] doeltreffend in die Republiek toegepas word” (art 3(a)) en “om te verseker dat enigiets ingevolge hierdie Wet gedoen word om aan die verpligtinge van die Republiek ingevolge die Statuut te  voldoen” (art. 3(b)). Artikel 8(1) spesifiseer in fyn besonderhede die formaliteite wat nagekom moet word ten einde uitvoering te gee aan “versoeke wat die Hof ontvang vir die inhegtenisneming en uitlewering van ‘n persoon ten opsigte van wie ‘n lasbrief deur die Hof uitgereik is.”

In die verlede het lande soos Uganda en Malawi afstand gedoen van versoeke van die Afrika Unie om leiersbyeenkomste in daardie lande te hou omdat hulle nie die versekering kon gee dat hulle nie die president van Soedan sal arresteer nie. Die vervolgingsowerhede van Kenia het selfs ‘n lasbrief vir sy arrestasie uitgereik.

Tot dusver het die Suid-Afrikaanse owerheid ook nie sy plig versuim nie. Al-Basjir kon byvoorbeeld nie die inhuldiging op 9 Mei 2009 van Jacob Zuma as President van Suid-Afrika, of die sokker-wêreldtoernooi van Junie/Julie 2010, hier te lande bywoon nie.

Maar nou het Suid-Afrika gat omgeswaai. Die huidige Suid-Afrikaanse owerheid het skielik besluit om anargisties op te tree, sonder enige respek vir die regstaatbeginsel, toe dit ‘n onderneming aan die Afrika-unie gegee het dat Al-Basjir nie op Suid-Afrikaanse bodem gearresteer sal word nie. Die Suid-Afrikaanse owerheid is ook aan regsverydeling en minagting van die hof aandadig deur Al-Basjir toe te laat, en inderdaad by te staan, om die land te verlaat.

Dis ‘n verdomde skande!!!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johan Van der Vyver

Prof. Johan van der Vyver is IT Cohen Professor van Internasionale Reg en Menseregte aan die Emory Universiteit in Atlanta in die VSA; en Buitengewone Professor in die Departement Privaatreg aan die Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Nohan ·

Ek wil net graag weet wat is die nagevolge van die blatante regsverydeling en minagting van die hof?

Pietertjie ·

Dit wys net hoe arrogant die Kaptein van die SA regering al geword het: ons is al sterk oppad na ‘n Kommunistiese “monargie”. Omkeer-strategiëe raak al verder buite bereik…

Anoniem ·

Die groot oorsaak is dat Zuma leer by comrade Mugabe hoe om SA in ‘n Zimbabwe te verander.
Dit is nou maar net die begin wag maar die groot marankas kom nog. Bly maar op die kniee.

nico ·

Ons moet net inspring en saam veg teen die regering en hulle verslaan by stembus hoe gouer hoe vinniger duik hulle die anc ondersteuners moet kyk wat het hulle in 1994 gehad en kyk wat het hulle nou minder en oor 5 jaar nog minder net sekere mense hoog in regering en hulle naby boeties score jy gaan nog steeds in jou plakkers hut bly. Vra vir regerng as jy n huis kry is dit , krag en water verniet.

CHRISTA ·

Nou kan die buitewêreld die WARE kleure van die ANC sien. Kyk na ons eie land: wanneer die swart op wit geweld is, is hulle bekke tjoepstil!! As daar swart op swart geweld is, maak hulle hier en daar ‘n verskoning of gee net glad nie om nie (soos met al Bashir). As dit ‘n wit persoon is wat hom/haarself teen swart geweld verdedig of ‘n wit persoon val ‘n swart persoon aan dan is dit op alle tv-kanale en nuusblaaie te lees en wêreldwyd as RASSISME verkondig!!! Intussen is die ANC die GROOTSE RASSISTE – Affirmative Action (ANC Apartheid), Black Economic Empowerment (Black Elite Enrichment)!! ANC = African National Circus!!!

Henry ·

Los die man – al-Bashir – uit. Hy doen goeie werk. Die regering van die dag hier dink ook so lyk dit my.

HFC ·

Sien foto “julle kan maar lag maar ek sê julle hy is regtig so lank”

André Badenhorst ·

Ek wonder hoe grondwetlik dit is om die grondwet met mag te verdedig…

Pieter dp ·

Wat nou???? Wat kan ge beur? Dit sal ek ook graag wil weet soo ook duisende ander. Die reg het geen reg. Kom en verduidelik aan ons, as daar n oplosing is ,of n andwoord.

George ·

Ek is ook sprakeloos. Wat ‘n verdomde skande baie lig gestel.

Tinus ·

Sal ons maar weer ‘n papbroek politieke omseiling van gevogle sine of sal daar hoegenaamd enige gevolge vir ons beginsellose leiers wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.