Regulasies vir “openbare gesondheid” ongesond vir groei

Deur Martin van Staden

Martin van Staden (Foto: Verskaf)

Hoewel gesondheidswette en -regulasies altyd die beste bedoelings het, is die koste wat dit vir die ekonomie inhou – veral in moeilike tye soos nou – onaanvaarbaar hoog.

Dit geld veral vir kleinsakeondernemings wat aan ʼn magdom eerstewêreldstandaarde moet voldoen. Dis tyd om te herbesin.

Só sê die skrywers van Laws Affecting Small Business: Health, deel van ʼn reeks boekies wat die Vryemarkstigting uitgee. Die navorsing in die LASB-boekies dek agt terreine van staatswetgewing en -regulering wat die vestiging en groei van kleinondernemings in Suid-Afrika belemmer en benadeel.

Regulasies wat verbruikers kwansuis teen bedorwe voedsel beskerm, doen dalk meer kwaad as goed. Die mens, soos ander diere, het geëvolueer om bedorwe voedsel te identifiseer op grond van hoe dit ruik, proe, en lyk, wat keer dat ons genoeg daarvan inkry om iets oor te kom.

Gegewe die teenwoordigheid van goedbedoelde regulasies, is die enkele gevalle van voedselvergiftiging wat wel voorkom dikwels die gevolg van bedorwe voedsel wat bewaar word op ʼn manier wat verdoesel dat dit gevaar inhou. Die vereiste dat voedsel verkoel moet word, keer nie die groei van skadelike bakterieë nie, maar verhoed trouens dat dit vrot. Dis maar een voorbeeld.

Nasionale regulasies spesifiseer ook presies hoe groot die vensters by eetplekke moet wees en hoeveel latrines, urinale, en wasbakke daar moet wees. Die regulasies vereis ook handewasgeriewe en dwing dié wat met kos werk om hande te was ná hulle die toilet gebruik het.

Terwyl dié regulasies gunstig klink, is sulke vereistes dikwels vir kleinsakeondernemings uiters moeilik om na te kom, wat tot grootskaalse ongehoorsaamheid lei. In die geval van die handewasvereiste is dit boonop totaal onafdwingbaar en dus ondoeltreffend.

Die afwesigheid van dié wette en regulasies sal verbruikers nie onbeskermd laat nie. Inteendeel, die gemenereg bly altyd van toepassing en bied vir publieke gesondheid dikwels meer toepaslike beskerming. Trouens, regulasies skep dikwels by verbruikers  ʼn valse gevoel van veiligheid, want hulle neem aan klein besighede voldoen aan die nasionale standaarde, terwyl hulle in werklikheid nie kan bekostig om dit te doen nie. Bloot omdat ʼn regulasie sê die persoon wat jou voedsel hanteer moet hande was, beteken glad nie hulle doen dit wel nie.

Die skrywers voer gevolglik aan dat gesondheidsinspekteurs se mandaat voorligting, opvoeding en opleiding moet wees – nie afdwinging of strafoplegging nie. Die fokus moet op algemene higiëne wees, eerder as op ʼn outomatiese implementering van dikwels arbitrêre standaarde wat venstergroottes spesifiseer.

Drankregulasie is ook nadelig vir kleinsakeontwikkeling. Provinsiale drankwette spesifiseer tye wanneer winkels nie drank mag verkoop nie. Natuurlik onthou ons almal hoe selfs strenger soortgelyke regulasies tydens die Covid-19-inperkings rampspoedig was vir die bedryf.

Dié regulasies mag miskien die alkohol-afskaffingsbeweging tevrede hou, maar in werklikheid doen dit niks om oormatige alkoholgebruik aan bande te lê nie, want drankgebruikers sorg eenvoudig dat hulle voor sluitingstyd voorraad opgaar.

ʼn Vreemdheid eie aan Suid-Afrika is verder dat kruidenierswinkels wyn mag verkoop, maar geen ander vorm van alkohol nie. Drankwinkels word weer verbied om enigiets anders te verkoop as drank, sigarette, en ander drinkgoed. Die gedagte is duidelik om verbruikers “te beskerm” teen die versoeking om alkohol te koop terwyl hulle ander inkopies doen.

Dié van ons met ons voete stewig op die aarde weet egter alkoholmisbruik werk nie so nie. Niemand wat alkohol misbruik laat hom deur dié duur reëls en regulasies afskrik om sy regmaker in die hande te kry nie.

Ondoeltreffende regulasies soos dié is vir kleiner drankwinkels net nog iets wat koste toevoeg en vir die publiek ʼn ongerief. En die regulasies slaag in elk geval nie in hul doel nie. Dit moet afgeskaf word.

Laat ons ook nie vergeet van die reëls wat rook in “openbare plekke” verbied kragtens die Wet op die Beheer van Tabakprodukte, of die nuwe wetsontwerp wat bedoel is om dit te vervang nie.

“Openbare plekke” sluit private eiendomspersele in waar die eienaar bereid is om mense toe te laat om te rook, soos kantore, inkopiesentrums en winkels. Werknemers en verbruikers moet egter na aangewese rookareas gestuur word.

Ek skryf as iemand wat self nie rook of drink nie, en min dinge is so steurend as die reuk van tweedehandse tabakrook. Die regering se wens om die publiek te “beskerm” het egter duur implikasies, want dit kos die ekonomie aan produktiwiteit (werknemers wat ver van hul lessenaars af ʼn dampie gaan slaan) en verbruikers aan tyd.

Die gevaarlike neiging om verbruikers se leefstyl te wil reguleer, hou ook vir vryheid in die algemeen ʼn groot gevaar in. Ons hou miskien nie daarvan as mense naby ons rook nie, maar dat ons tevrede is om hulle te laat reguleer, beteken ons gaan op ons beurt in die toekoms gereguleer word, byvoorbeeld deur minder suiker of vleis te moet verbruik. Vir waarnemers van tendense in openbare beleid, is dit belangrik om die toekoms korrek te kan lees.

As dit nie moontlik is om die wette en regulasies hierbo genoem te herroep nie, meen die LASB-skrywers, moet dit steeds wesenlik verslap word.

Dit is maar enkele van die opmerkings en aanbevelings in die boekie LASB: Health. Van die ander het te make met regulasies wat op kleiner hotelle, abattoirs en kindersorggeriewe van toepassing is.

Die LASB-boekies maak ʼn derde uit van die Vryemarkstigting se boek Radical Economic Transformation: The Legal Route to Economic Freedom, wat ʼn omvattende hervormingspakket aan die hand doen om die Suid-Afrikaanse ekonomie te laat floreer.

Verbruikers, nou meer as ooit tevore, voel hoe prysinflasie hul sak ruk. Dit is hoog tyd dat die regulasies en beleide wat kleinsakeondernemings se onkoste opjaag, heroorweeg moet word.

  • Martin van Staden is die redakteur van die Vryemarkstigting se boek, ‘Radical Economic Transformation: The Legal Route to Economic Freedom’. Besoek www.martinvanstaden.com.

Die volledige boekie oor openbare gesondheid kan hier gelees word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Interessante skrywe oor openbare gesondheid,waarvan ek baie jare sê ondervinding in die praktyk het.Ek moet egter noem die regulasies wat openbare gesondheid beheer, baie goeie regulasies is maar die toepassing daarvan word eenvoudig nie gedoen nie.Die Wet op Gesondheid no 61 van 2003 en ander wetgewing maak dit baie duidelik dat daar gereeld by voedselpersele roetine inspeksies uitgevoer moet word.Dit word eenvoudig nie meer gedoen nie,agv bestuurstrukture wat afgeskaf is.Daar is geen toesighouding meer oor die gehalte werk wat gelewer word nie.Terloops die naam gesonheidsinspekteur bestaan nie meer nie.Dit is al ‘n paar jaar gelede verander na “Environmental Health Practitioner”
Venster groottes is nie so belangrik soos bv higiene van voedselpersele nie.Higiene van voedselhanteerders en persele is die verantwoordelikheid van die voedselpersele bestuur,en dit moet vervat word in ‘n skriftelike higiene program.Daar is altyd iemand wat nie luister nie.Afdwing is belangrik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.