Regulering – vergete aandrywer van stygende gesondheidsorgkoste

medies-pille-gesondheid-pyn-pixabay

Foto: Pixabay/Pexels.com

In Suid-Afrika het kommer oor hoë jaarlikse stygings in mediese koste skynbaar die norm geword. Syfers wat deur Statistiek Suid-Afrika uitgereik is, bevestig hierdie wurggreep op baie huishoudings. Vergeleke met 2015 het algehele inflasie in gesondheidsorgkoste in 2016 met gemiddeld 8,7% toegeneem. Maar nog erger: vir diegene van ons wat op mediese fondse en versekering staatmaak, het pryse selfs vinniger gestyg, teen ongeveer 9%. Die gemiddelde oorkoepelende verbruikersprysinflasie (VPI) in hierdie tydperk was op 6,4% beduidend laer.

Hewige stygings in die koste van mediese sorg en versekering is vet in die vuur in die strewe na Nasionale Gesondheidsversekering (NHI). Daar is geen gebrek aan blaam wat oor en weer geslinger word nie.

Regeringsamptenare het al by verskeie geleenthede nadruklik ʼn “winsbejagte” en “afpersende” privaat gesondheidsorgsektor vir stygende koste geblameer. In antwoord daarop het privaat gesondheidsorgverskaffers, die vermeende sondaar, onder andere, die toenemende benutting van mediese dienste, ouer en sieker lede in versekeringspoele, ʼn “groeiende siektelas” en stygende energie- en ander geadministreerde koste vir hierdie stygings geblameer.

ʼn Ander hoek

ʼn Hoek wat selde in hierdie debatte genoem word, is die invloed van regeringsregulering en -intervensionisme in gesondheidsorg. Vir die regering om bloot die privaat sektor vir stygende koste te blameer is nie regverdig nie omdat hy self so ʼn hewige rol in die regulering van mediese dienste en versekering speel en hierdie mark regstreeks beïnvloed.

Die meeste mense aanvaar gelate die staat se regulatoriese rol in hierdie bedryf as vanselfsprekend. Die idee word gereeld gestel dat regerings moet intree om hewige “markfoute” in die bedryf reg te stel. Ontleders op die terrein van die ekonomie van openbare keuse (“public choice economics”) dui op probleme met hierdie gedagte.

Skrywers in dié veld reken ons behoort nie oorhaastig regerings se selfaangenome rol in sulke opsigte net so gelate te aanvaar nie. Volgens hierdie ekonome is mislukkings van intervensionisme (“regerings- en reguleringsfoute”), wat botsende politieke belange, onversoenbare teenstrydighede by regulatoriese probleme en beperkte insig en vermoëns van reguleerders insluit, blywende elemente van gepolitiseerde intervensionistiese markte.

Iets wat egter nooit van die mediese bedryf gesê kan word nie, is dat dit ʼn onbelemmerde los kanon van die vrye mark is. ʼn Oorwig van wette en regulasies, uitgevaardig deur talle regerings, Suid-Afrika sʼn inkluis, het ongetwyfeld oor baie dekades heen die mark vir gesondheidsorg gevorm tot wat dit vandag is.

Ondanks die redes en oënskynlike regverdigings hiervoor kan dit glad nie ontken word nie dat regulering ʼn regstreekse invloed op die ekonomiese aanbod van mediese produkte en dienste het. Plaaslik word bykans alles met betrekking tot die mediese bedryf sterk gereguleer. Sodoende word die aanbod van dokters en mediese spesialiste, hospitale, medisyne, mediese toerusting en mediese versekering regstreeks deur regulatoriese ingrepe beïnvloed.

Die blaam vir voortdurende stygings in gesondheidsorgkoste word gereeld op “markmislukkings” geplaas, maar sodanige kritici kyk egter verby die groter prentjie, naamlik dat gesondheidsorg eerder ʼn toonbeeld van hewige regeringsinmenging is. In hierdie mark is Adam Smith se onsigbare hand oor die jare heen stewig deur vele reguleerders vasgebind.

Wat die meeste verbruikers opval, is dat privaat gesondheidsorgkoste skynbaar nie die markte vir selfone en elektroniese produkte naboots nie. Laasgenoemde het opvallende verbeterings in verbruiksvoordele en kosteverlagings beleef – selfs ondanks ʼn toenemende vraag na en verbruik van hierdie produkte en dienste.

ʼn Hoogs gereguleerde mark

Intervensionisme teen die agtergrond van die gesondheidsorg het ʼn lang aanloop. In Noord-Amerika byvoorbeeld gaan die lisensiëring van professionele geneeshere, op staatsvlak, terug na die laat negentiende eeu, en selfs vroeër. Die regulering van medikasie deur die Federal Drug Administration (FDA) dateer terug na die begin van die twintigste eeu. Eweneens loop die wetlike patentebeskerming van farmaseutiese middels en mediese toerusting al ʼn lang pad in Amerika.

In Suid-Afrika is soortgelyke wette en regulasies ingespan om die verskaffing van mediese produkte en dienste te beheer. Ter sprake is die staatslisensiëring van hospitale, beperkings op die opleiding van medici in die privaat sektor, tesame met ʼn staatsmonopolie op die uitreiking van beroepslisensies vir geneeshere asook ellelange registrasievereistes vir medikasie – selfs ten opsigte van ingevoerde middels wat al elders getoets en geregistreer is. Al hierdie intervensies beïnvloed gevolglik die voorsiening van mediese produkte en dienste en uiteindelik die pryse daarvan.

Dit is vanselfsprekend dat die voorstanders van eksklusiewe staatsbeheer sal aanvoer dat regeringsingrepe in die mark noodsaaklik is om veilige en doeltreffende gesondheidsorg te verseker. Maar staatsregulasies het nie risiko’s volkome uitgewis nie; trouens, dit kan dit nie uitwis nie. Dit word  gestaaf deur talle voorbeelde waar medikasie, wat tevore deur beheerliggame goedgekeur is, herroep is asook eise vir mediese wanpraktyke.

Ekonome voer ingewikkelde uiteensettings aan ten gunste van en teen regeringsregulering. Ekonomies gesproke kom regulering wat mediese produkte en dienste beperk in wese egter neer op ʼn opweging tussen gevare (maatskaplike koste) wat (dalk) verhoed kon gewees het weens hewige intervensionisme en hoër pryse wat verbruikers vanweë ʼn onderdrukte aanbod van mediese dienste betaal.

Die regulatoriese omstandighede van mediese skemas

 Bydraes vir mediese fondse maak ʼn aansienlike persentasie van private gesondheidsorgbesteding uit en word vervolgens van nader bekyk.

In die mark vir mediese fondse is daar ook etlike regulatoriese ingrepe wat nadere beskouing verg. In Suid-Afrika is mediese skemas onderworpe aan die Wet op Mediese Skemas van 1998 (MSA) wat vereistes bevat wat die bedryfsomgewing van mediesefondsskemas regstreeks vorm. Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie vereistes die onderskrywingspraktyke van mediesefondsskemas van ander tipes versekering, soos lewens- en motorversekering, onderskei; dit was die rigtinggewende doelwit van hierdie wet.

Ingeslote in regulasie 8 van die MSA is ʼn mandaat oor voorgeskrewe minimum voordele (PMB’s), ʼn lys mediese toestande en behandelings waarvoor mediese skemas tot op hede ten volle moet betaal. Afgesien van enige moontlike goeie bedoelinge van beleidsmakers, sodanige gereguleerde voordele dra ʼn beduidende koste vir fondse. Iewers sal iemand daarvoor moet opdok.

Ondanks regulatoriese verpligtinge moet mediese skemas nogtans hul lede-inkomste teen waarskynlike eise-uitgawes en oorhoofse koste balanseer. Aangesien PMB’s ʼn skema se blootstelling aan eise verhoog en inhospitaalkoste beïnvloed, is dit net billik dat lede hoër siekefondspremies te wagte moet wees.

Bykomend tot PMB’s verg die regulatoriese mandate van “gemeenskapsevaluering” en “ope lidmaatskap” ook oorweging. Gemeenskapsevaluering verbied ʼn skema om ʼn lid se fondsbydraes op enige onderliggende individuele gesondheidsrisiko te grond. Ope lidmaatskap verhoed ope skemas om lidmaatskap op enige grond te weier. Al word die uitwerking van hierdie mandate in ʼn mate deur wagtydperke en bykomende heffings vir laat aansluiters geneutraliseer, het dit nogtans ʼn aansienlike impak op mediese skemas se koste.

Met gewone versekeringspolisse word individuele risikoveranderlikes in berekening gebring om premies vas te stel wat hierdie veranderlikes weerspieël. Premies wat risiko akkuraat weerspieël, word gewoonlik billik geag. Maar in die geval van mediesefondsskemas mag skemas nie premies aanpas in antwoord op selfs vrylik gekose lewenstylfaktore van lede wat hul siekterisiko verhoog nie. Terwyl die kruissubsidiëring van risiko – skynbaar in die naam van “antidiskriminasie” en “billikheid” – die oorheersende gedagte agter die MSA is, kan die billikheid van ʼn absolute beperking op individuele risiko-evaluering bevraagteken word.

In werklikheid kan premies wat vasgestel is volgens gedeeltelike of algehele individuele risiko-evaluering sommige individue aanmoedig om “veiliger” en “gesonder” te lewe; ʼn relevante oorweging in die konteks van die beoogde belasting op suikerverbruikers, waar dit skynbaar geglo word dat hoër koste persoonlike gesondheidsbesluite sal beïnvloed.

Argieffoto (Foto; DarkoStojanovic, Pixabay)

Die verhaal tot dusver

Die verhaal wat dikwels aan ons voorgehou word, is dat goedige, selflose, kundige en bykans alwetende staatsreguleerders die res van ons moet beskerm teen al die kwaksalwers, gevaarlike produkte en giftige medikasie; uiteindelik teen ons eie onnoselheid en swak oordeel wat blykbaar alomteenwoordig in minder belemmerde markte vir gesondheidsorg sal wees.

Die kans bestaan egter dat hierdie verhaal ʼn oorskatting van die vermoëns van regulering en ʼn onderskatting van die mark se dryfvere is om – selfs sonder ingrypende regeringsregulering en inmenging – beproefbare en mediese gehaltesorg en gesondheidsinligting te voorsien.

Op die keper beskou moet die invloed van regulering en regeringsinmenging op koste in hierdie mark darem ten minste erken en nie net gelate aanvaar word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Anoniem ·

Omdat iemand met relatief lae risiko (persoon X) dieselfde hoë premie moet betaal as iemand met hoë risiko (persoon Y wat bv rook en oorgewig is), kies persoon X om nie aan ‘n mediese fonds te behoort nie, maar om eerder self in te staan vir sy mediese uitgawes omdat dit goedkoper uitwerk as die duur premies. En VIOLA! Die lede van die mediese fondse is almal soos persoon Y, wat gereeld duur eise instuur na die mediese fondse. En dus dryf dit elke jaar die premies op.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.