Renate Barnard se ope brief aan Jan de Lange

Die arbeidsjoernalis Jan de Lange het verlede week in Rapport Dirk Hermann daarop gewys dat hy nie die boodskap van regstellende aksie korrek oordra nie (klik hier om Hermann se oorspronklike toespraak te lees). “Enige wit mens wat iets oor regstellende aksie in ons land wil sê, moet begin deur daarop te wys dat die werkloosheidskoers onder wit Suid-Afrikaners die afgelope 20 jaar deurlopend onder 7% was… Dis volle indiensneming,” het De Lange geskryf.

Renate Barnard skryf in reaksie hierop:

Beste Jan,

Renate Barnard. Foto: Reint Dykema

Renate Barnard. Foto: Reint Dykema

Ek het jou brief aan Dirk Hermann van Solidariteit met belangstelling gelees, aangesien die tema ‘Regstel-boodskap is baie belangrik…’ dadelik my aandag getrek het.

Soos jy reeds weet, is ek (ongelukkig) baie bekend met die ‘tirannie van verteenwoordigendheid omrede ek dit persoonlik in die praktyk ervaar het. Dit is nie ‘n onderwerp waaroor ek by ‘n braaivleis of tydens ete bespiegel het nie – ek het die harde pad van my stryd teen die huidige TOEPASSING van regstellende aksie (let wel nie teen regstellende aksie as sulks nie) van die een hof na die ander gestap. Daar was baie kritiek (uit my eie volk se geledere) – en, ironies genoeg – baie steun uit swart en anderskleurige geledere!

Ek verstaan egter nie jou vergelyking van regstellende aksie met die werkloosheidsyfer onder die wit en swart bevolking nie. Regstellende aksie – soos ek dit in die praktyk ervaar het – is juis een van die groot bydraende faktore tot werkloosheid.

Dit is ‘n feit (wat baie mense te bang is om te erken) dat die huidige toepassing van regstellende aksie meer te doen het met wie jy ken, as met werklike regstelling van die ‘onregte van die verlede’.

Om jou een voorbeeld te noem – ek het die voorreg gehad om saam met ‘n uitsonderlike swart vrou te werk tydens my diens in die SAPD. Sy was werklik ‘n persoon wat die term ‘voorheen benadeelde’ gestand gedoen het. Sy was ‘n vlak 3 burgerlike werknemer wat die tee bedien en koppies gewas het.

Sy was elke dag reeds om 06:00 by die werk om die kantoorhoof se tee en koekies gereed te hê vir die dag wat voorlê. Dit het beteken dat sy al 03:00 in die oggend moes opstaan om met ‘n taxi betyds by te werk te kom om haar dagtaak met ywer te begin. Sy het GEEN rangverhoging gekry nie, ten spyte van die feit dat die wit generaal opgevolg is deur twee swart generaals. Sy het haarself bekwaam en ‘n NQF4- kwalifikasie verwerf. Dit het haar egter NIKS gebaat nie.

Ten spyte van die feit dat sy ‘n swart vrou was, die nodige kwalifikasie vir ‘n vlak 5 of -6 pos verwerf het en baie jare lojale diens in die SAPD gehad het, is sy NOOIT vir bevordering oorweeg nie, al het sy male sonder tal aansoek gedoen vir ‘n hoër pos.

Die rede is net so duister as die antwoord op die vraag wat in my hofsaak aan die polisie gevra was, naamlik waarom twee bekwame swart offisiere (na die pos vir die tweede keer geadverteer was) nie in die pos aangestel was nie. ‘My’ pos is vir ‘n derde keer geadverteer en toe summier teruggetrek en nooit gevul nie.

Die enigste logiese gevolgtrekking wat ek kan maak uit die genoemde voorbeelde, is dat die betrokke swart persone (regstellendeaksie-kandidate) NIE polities-korrek was nie. Die gevolg van ‘n gebrek aan ‘regstellende aksie’ in bogenoemde geval, is dat die swart vrou verlede jaar, ná meer as 20 jaar diens, op ouderdom 60 afgetree het. Sy is die enigste broodwinner vir ‘n gesin (nadat sy haar oorlede suster se kinders moes aanneem) en sal nooit kan bekostig om die kinders na ‘n universiteit of kollege te stuur nie.

Dit is een van die oorsake (soos dr. Hermann male sonder tal uitgewys het) waarom regstellende aksie misluk: regstelling begin met goeie skoolopleiding en universiteitsopleiding sodat BEKWAME mense poste kan vul.

Die grootste ironie in my verhaal, is die feit dat die swart vrou my elke keer kom vertroos het nadat daar drie keer blatant teen my gediskrimineer was oor my wit vel.

Om terug te kom na jou brief aan dr. Dirk Hermann. Hy en die unie, Solidariteit, was die ENIGSTE mense/vakbond wat bereid was om die Renate Barnard-saak verder te voer. Ek het die een vakbond in die SAPD waaraan ek moes behoort, naamlik SAPU genader – sonder sukses – ek was meegedeel dat ek nie ‘n saak teen my werkgewer het nie. Van die ander unie, Popcru, praat ek nie eens nie – hulle het so ver gegaan om teen my te litigeer en het as vriende van die hof saam met die polisie opgetree. Ek weet nie wat sê hulle aan hul betalende WIT lede nie.

Dirk Hermann is ‘n geleerde en beskaafde persoon wat veg vir dit waarin hy onwrikbaar glo. As jy enige van sy boeke aangaande regstellende aksie gelees het, sal jy sien dat hy nie net kritiseer nie, maar met oplossings vorendag kom.

Jy beweer dat hy my hartseer verhaal met humor oorgedra het. Dit is egter nie waar nie. Die feite van die saak (die polisie se eng toepassing van demografiese verteenwoordiging) is lagwekkend en dit is wat Dirk aan die gehoor weergegee het. Hy het bloot die aanhalings uit hofstukke gehaal wat tydens my eie saak, die DKD-saak en die Jenny Naidoo-saak aan die lig gekom het.

Regstellende aksie is, soos Tim du Plessis dit gestel het, die “heilige koei van die regerende party” en om polities-korrek te wil wees gaan geen persoon (ongeag kleur of ras) in hierdie land op die lang duur baat nie. Kyk maar net na die anargie wat aan die orde van die dag is: massa diensleweringsbetogings (weereens ironies genoeg teen persone wat poste beklee te danke aan regstellende aksie) en vigilante groepe wat wet in eie hande neem omdat hulle geen vertroue in die polisie en regstelsel het nie.

Die feit dat ek my bedanking by die SAPD ingedien het, het nie met die salaris te doen gehad nie, maar wel met die frustrasies wat ek elke dag moes hanteer. Die realiteit dat topbestuur nie begaan is oor bevindinge van swakbestuur en gebrekkige dienslewering op grondvlak nie; die realiteit dat swak presteerders wat die regte politieke konneksies het, bevorder word ten koste van lojale, hardwerkende polisielede; die realiteit dat dienslewering (aan ALLE Suid-Afrikaners, ongeag kleur) slegs lippetaal is; die feit dat politieke agendas doeltreffende polisiëring vervang het; en die feit dat dissiplinêre stappe selektief ingestel word: dit is die hoofredes vir my bedanking uit ‘n organisasie waarvoor ek ontsettend lief was en waarvoor ek my familie-lewe opgeoffer het.

Daar is uitstekende swart kandidate wat op gelyke vlak kan meeding met hul wit kollegas. Maak die speelveld gelyk sodat almal ‘n regverdige kans kan kry en die BESTE kandidaat aangestel word – tot voordeel van Suid Afrika.

Om die boodskapper te kritiseer is beslis nie die antwoord op die probleem nie. Ek haal Margaret Thatcher aan: “Standing in the middle of the road is very dangerous; you get knocked down by the traffic from both sides!”

Die huidige toepassing van regstellende aksie bevoordeel slegs ‘n uitgelese groepie mense, terwyl die oorgrote meerderheid Suid Afrikaners en die ekonomie die verloorders is. Daarom is dit baie beslis tyd dat almal aan eerlike en openhartige debat rakende regstellende aksie begin deelneem en met werkbare oplossings vorendag kom, sonder vrees vir kritiek en politici.

Groetnis

Renate Barnard*

* Barnard is bekend vir haar hofstryd om bevordering in die Suid-Afrikaande Polisiediens (SAPD) te kry. Die saak is in Maart vanjaar in die konstitusionele hof aangehoor en uitspraak is voorbehou.

Lees ook:
Hoe ontsnap SA die tirannie van verteenwoordigendheid?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Pieter van Zyl ·

Ek stem volkome saam. Was self in die bootjie en het dit ook so ervaar.

Johan ·

Aangesien hy so baie te se het oor die “volle indiensneming” van die wit bevolking, kan die geleerde Mnr de Lange vir ons data verskaf wat die werksprofiel van verskillende bevolkingsgroepe aanbied, maw hoe die verteenwoordiging van verskillende bevolkingsgroepe in verskillende sektore lyk? Is hierdie data uniform oor al die bevolkingsgroepe of is daar verskille en indien wel, hoekom?

Pieter ·

Ou Jan, ek is seker dat al hierdie kommentaar jou aan die dink sit. Is jou bydraes in die pers nog relevant, wonder net.

Izak van Zyl ·

Renate en ek kom uit polisiehuise uit wat uit die – voor 1994- bedeling spruit. Ons beide is toegelaat tot die ou SAP voor 1994 en het ondanks die skielike en gedwonge transformasie goed aangepas sonder om ooit ons waardes en dissipline prys te gee.

Ons beide het tot offisiere gevorder na 1994 en ons sin vir geregtigheid is bo verdenking…..dit spruit vanuit ons opvoeding en aangeleerde beginsels waarmee ons poliesman pa’s die land mak gemaak het en die publiek mee gepolisieer het sedert die vroee 60’s.

Nie ek of Renate en derduisende ander soos ons, het meegedoen of gevra dat daar ooit teen swart mense gediskrimineer word nie, want beide ek en sy het sedert die oorgang in 1994 ” vrywillig getransformeer” en net ons kwalifikasies en ons kundigheid sonder aansiens des persoons aangebied vir die SAPD en die SAPD strategie en die publiek!

Ek is ook sedert 2008 uit die Polisie uit…nie omdat ek wou nie….omdat ek ook die slagoffer was van regstellende aksie. Nie by een geleentheid nie….by tientalle geleenthede, waar ek moes aanvaar en moes terugstaan en bereid moes wees om die agtergeblewe eksperiment op te lei en gereed te maak vir sy/haar posisie waarin sy/hy in aangestel is voordat hy/sy geskik was vir die pos.

Om my eie selfwaarde te red van ‘n gewaarborgde ineenstorting, het ek ander moontlikhede ondersoek en uiteindelik op 31 Oktober 2008 my bedanking ingedien. Sonder om terug te kyk…sonder om te huil…sonder om enige emosie te openbaar…het ek geloop en aanhou loop(nou al vir 5jaar).

As ek terugkyk en moet erken hoeveel ek in die proses moes prysgee, besef ek die skreiende skande wat die land en sy gewone inwoners getref het….

Renate het dit so mooi beskryf….die ons(gewone man op straat) – en die hulle(Die bevoordeeldes vanwee NEPOTISME)….

Ek skrik as ek moet somme maak en moet rondkyk hoeveel ander – soos ek- maar eerder die eerbare ontslagopsie geneem het en WEGGESTAP het.

Mag daar ‘n dag kom waar die onreg tien maal gewreek word!

coenraad ·

Die ironie is dat mnr De Lange regstellende aksie oënskynlik aanhang, nie omdat dit effektief is nie, maar juis omdat dit nie werk nie. Wat se soort argument is dit dat ‘n beleid kan aangehang word omdat dit nie in staat is om sy doel te bereik nie naamlik om derduisende wittes sonder werk te laat?

Om konsekwent te wees moet hy hom só uitdruk: Regstellende aksie werk nie en moet strenger toegepas word. Dan sal meer wittes sonder werk sit en dan sal hulle rede hê om te kla. Om ‘n beleid te verdedig omdat dit nie werk nie, klink vir my ietwat gek.

In elk geval, wit werkloosheid (of dan die gewaande afwesigheid daarvan) is maar een effek van regstellende aksie. Die disfunksionaliteit van staatsinstellings, munisipaliteite, mediese sorg, korrupsie – te veel om op te noem – kan ook vierkantig voor die deur daarvan gelê word.

Leeutjie ·

Renata moet ons in die Parlement gaan verteenwoordig. Hierdie klein en (petit vroutjie, aangesien ek haar al persoonlik ontmoet het) is ‘n yster wat opstaan vir almal se regte! Dit gaan nie hier oor ras nie maar ‘n geveg oor diskriminasie teen alle bevolkingsgroepe. Ek het vanoggend toevallig gehoor dat daar in die Kaap ‘n familie is wat 3 geslagte lank geen inkomste genereer het nie. Hulle leef van dit wat hulle op ‘n primitiewe stukkie grond kan inbring en sonder enige kapitaal. Rasisme is ‘n vloekwoord wat nie meer in die samelewing gebruik moet word nie. Die land het ‘n boetie-boetie besigheid geword en mense sonder die nodige kwalifikasies is in poste ingedruk omdat nepotisme aan die orde van die dag is. Ek het ‘n goeie sterk gevoel oor Renata se pad vorentoe. Ons eie Suid-Afrikaanse Margaret Thatcher.

Paul ·

As jy so sterk voel, probeer tog net om die persoon se naam reg te spel… Dit eindig met ‘n “e”, nie met ‘n “a” nie.

Johanb ·

Hoop net die lang wag vir uitspraak in “Grondwet hof” eindig op n positiewe noot!. Huidiglik grens regstellende aksie toepassing aan n “Absolute barrier” vir sekere groepe tot voordeel van n klein swart elite waarvan baie van hulle tragies genoeg n klomp crooks is !

Johan ·

Al die nonsens het begin toe ons voorvaders besluit het om swart mededinging uit te skakel.
Die ANC doen presies dieselfde nou.
Gaan ons ook sestig jaar in die wildernes swerf voor ons kinders weer gelyk gaan wees?
As ons politici nie dit daardie jare gedoen het nie, sou natuurlike seleksie sy ding gedoen het, Al laaankaaal.
Mense leer nie uit die geskiedenis nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.