Renosters, nie die enigste dier wat geteiken word nie

bonne-de-bod-ivoor-juwele-in-burma

Bonné de Bod by ivoorjuwele waarop beslag gelê is. Foto: Susan Scott.

Ons was vir lank onder die indruk dat stroping ’n probleem is van ander lande op die Afrika-kontinent. Maar ons is hard geruk toe ons meer as ’n 100 renosters in 2009 verloor het, en dit was maar net die begin. Vir die afgelope vyf jaar is daar jaarliks meer as ’n 1 000 renosters afgemaai. Renosterstropery is as ’n krisis gedoop en het gevorder tot ’n nasionale prioriteitsmisdaad. Maar renosters is nie die enigste wildlewe in Suid-Afrika wat geteiken word nie.

Olifantstropery is ’n groot bron van kommer. Teen einde Mei is daar 40 olifante in die Krugerwildtuin gestroop en daar word voorspel dat hierdie getal gaan groei tot 97 teen die einde van hierdie jaar.

Wat vertel die statistieke? In 2017 is daar 68 olifante gestroop, dubbeld die getal van 2016. Dit is duidelik dat daar ’n massiewe toename in olifantstropery is. En alhoewel dit na ’n lae getal klink in vergelyking met die getal renosters wat gestroop word, was ons op dieselfde plek met renosters  in 2008 as waar ons nou met olifante is.

So, hoe verseker ons dat ons nie ook oor die volgende dekade duisende olifante verloor nie? Kriminele tref nie onderskeid nie. Hierdie hoogs georganiseerde misdaadsindikate sal doodmaak dit waarin hulle waarde sien. Daar is tussen twaalf en vyftien stroperbendes op enige gegewe tyd in die wildtuin, ’n olifant in sig, en ’n relatief maklike skoot wat afgevuur sal word.

Ook kommerwekkend is die onenigheid tussen Afrika-lande met betrekking tot die beste manier om olifantbevolkings te beskerm. Onder die Konvensie op Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora (Cites) – die verdrag wat die handel in diere, liggaamsdele van diere, en plante beheer – word meeste Afrika-olifantbevolkings in die Konvensie se Aanhangsel I gelys. Hulle word dus op die hoogste internasionale vlak beskerm en daar kan nie met die lewende dier, of enige deel van die dier, handel gedryf word nie, want daar is ’n verbod op alle kommersiële handel.

Tog word vier lande se olifantbevolkings, insluitende Suid-Afrika s’n, in Cites se Aanhangsel II gelys, wat beteken dat hulle minder bewaring geniet, en dat hul ivoor moontlik verhandel kan word, solank dit nie vir die spesie nadelig is nie.

Olifantbevolkings is dus op ’n meer as een manier gelys, wat hul bewaring net soveel moeiliker en meer ingewikkeld maak. Volgens die Afrika-olifantkoalisie, ’n konsortium wat 29 lande verteenwoordig, is die antwoord om ’n verbod op alle handeldryf in ivoor op nasionale en internasionale vlakke te plaas.

Dit is dus nie ’n gebrek aan aksie op die hoogste vlak nie, maar die meningsverskille tussen hierdie owerhede, wat moontlik ernstige gevolge vir die spesie kan inhou. Dit is baie soortgelyk aan die omstandighede betreffende die wettige handeldryf in renosterhoring. Daar is mense en lande wat ten gunste daarvan is, en daar is mense en lande wat dit ten sterkste veroordeel.

As ons nie ’n ooreenkoms oor beide renosters en olifante kan bereik nie, sal die diere uiteindelik onder ons besluiteloosheid moet ly.

Dan is daar die stil uitsterwing van kameelperde. Die situasie waarin die langnekke verkeer, is seker een van dié wat die meeste misgekyk word. Kameelperde is nie deel van die nuusopskrifte nie, want ons is onder die indruk dat hulle oral voorkom.

Maar die skokkende werklikheid is egter dat hul getalle die afgelope dertig jaar met 40% gedaal het en vandag is daar ’n skrale 80 000 oor in Afrika.

Daar is verskeie redes hiervoor. Eerstens habitatverlies: groter dele land word vir landbou gebruik. Maar ook, net soos renosters en olifante, word kameelperde gestroop en verskil die redes wat aanleiding gee tot die stropery van kameelperde in verskillende lande.

In Tanzanië word daar geglo dat kameelperdbrein en beenmurg MIV kan genees. In ander gebiede word hulle vir hul velle gestroop om klere, sakke en skoene van te maak. Daar word selfs armbande en hangertjies uit hul hare gemaak en ’n kameelperd se stert word as ’n gesogte simbool van outoriteit beskou.

Die stropingsprobleem in ons land is groot in omvang en ons moet die erns daarvan besef. Stroping en die onwettige handeldryf in wildlewe en wildleweprodukte is ’n massiewe kriminele besigheid. En die sindikate sal alles in hul vermoë doen om hul besigheid aan die gang te hou. Ons moet nie daarna kyk as “Kan ons dit wen of nie?”, maar eerder poog om dit stadig maar seker (met optimale kennis) die hoof te bied.

Hoe kan jy betrokke raak?

Sosiale media is ’n wonderlike platform, dis gratis en maklik om te gebruik en die besluitnemers neem kennis hiervan. Gaan lewer kommentaar oor die kwessies wat vir jou belangrik is. En dan is daar natuurlik die tradisionele pos! Dit mag dalk ouderwets klink, maar dit werk. Skryf ’n brief aan jou parlementslid of direk aan die departement van omgewingsake. Donasies help ook altyd, maar doen eers jou huiswerk om seker te maak jy kies die regte organisasie of inisiatief.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Bonné De Bod

Meer oor die skrywer: Bonné De Bod

Die bekroonde rolprentmakers Bonné De Bod en Susan Scott is al drie jaar besig met die verfilming van die renosterstropingskrisis vir die dokumentêre prent, Stroop. Dié gedugte span is nou besig met redigering en die film sal na verwagting in 2018 uitgereik word. De Bod is bekend as die wildlewe-aanbieder op 50/50, aanbieder en vervaardiger van Rhino Blog, sowel as ʼn spesiale korrespondent vir die SAUK se Newsroom en kykNET se Grootplaas en #RenosterRadar op Groot FM 90.5.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Paul ·

Maar diégene wat met Renosters en Kameelperde “boer” weet mos van beter, hulle vertel hulle het ‘n ‘plaas’ waarop hulle die diere aanhou en hulle is éintlik die mense wat bewaar en sorg dat dit daarom is dat die spesies langer vat om uit te sterf. En een van die dae “boer” hulle ook met olifante.

O ja en hulle noem liggaamsdele, “trofee”.

Judge Dredd ·

Dis korrek – hulle weet van beter.
Geen “boer” sal al sy “livestock” tot niet gaan(uitjag) net om weer nuwe “livestock” ten duurste te moet aankoop nie – eenvoudige wiskunde.

AMMIE ·

Ek is so jammer vir elke dier wat geteiken word , maar wil ook net bysê dat dit nie eers meer net diere is nie. Ons mense word ook op die wreedste denkbare maniere geteiken. Ons was die naweek by ‘n bekende Lodge naby Bela Bela (Warmbad) en ons was verdoof met muti wat toe die rowers toegang gegee het in die huis waarin ons tuis gegaan het. Vir amper 2 ure lank was daar in ons handsakke reg langs ons beddens gekrap en was ons beroof van ons waardevolle artikels. Ons is getraumatiseerd agtergelaat en is maar net dankbaar dat ons nie dood gemaak is nie. Baie hartseer in ons land.

Nefie ·

Is die ietermagog nie die mees bedreigde spesie op die oomblik nie?

AMMIE ·

Nee Willem!! Ek wil nie nou die baie bekende naam van Reservaat noem nie totdat ek meer inligting gekry het aangaande die roof en insident nie. Ek hoop dan ek kan dit deur media nuuswaardig maak sodat almal meer paraat en behoedsaam kan wees en weet hoe dit in die land van ons gaan.

humor ·

En wat van perlemoen by die miljoene. Lyk my nerens is daar meer natuurbewaring, kuswagte nie. Sekere mnse word betaal om stil te bly.

Koos ·

Paul en Judge Dredd, al gehoor van “volhoubare benutting” ?

Dit is wat wildboere, jagters en trofee jagters beoefen op ‘n sinvolle manier oor baie jare al EN daarom is daar deesdae by verre meer wild in Suid Afrika as in die tydperk voordat daar waarde aan wild gekoppel was.
Dit so terloops.

Saam met met beginsel van “volhoubare benutting”, sien ons nou ook dat die gebrek aan toepassing daarvan in die Kruger Wildtuin, besig is om die die kameelperd bevolking ernstig te bedreig.
Hoekom so?

Die totale oorbevolking van olifante in die wildtuin (20 000 +) – dit terwyl die Kruger Wildtuin se drakrag van olifante sonder om habitat te vernietig, slegs ± 5000 diere is, is besig om die kameelperd en ook ander wild spesies se habitat heeltemal te verwoes, tot so ‘n mate dat sommige spesies wat digte ruigtes as habitat benodig, totaal en al hier onder ons neuse kan verdwyn, sonder dat enige stroping van die spesies plaasvind.

Swak bestuur en beheer van bewaringsareas is dus ook ‘n vorm van “stroping” !!!

Paul ·

Skuus, en jy beduie daar is net om en by die 5,000 olifante in die Kruger?

Dis dus onnodig om ver te gesels.

Paul ·

10/10 vir jou, mooiman! O ja en moenie vir my aanvat nie, vat vir Bonné aan.

Koos ·

Paul, lees weer – daar is tans 20 000+ olifante in die Kruger Wildtuin, dít terwyl die park se drakrag slegs ± 5 000 olifante is !!!! Totaal en al oorbevolk met die spesie waarvan die getalle glad nie beheer word nie – uiters swak bestuur !!!

Dink weer hoekom lyk die eens so pragtige wildtuin so gestroop van groot bome en pragtige plantegroei as jy weer daar kom, dit nou te sê as jy al ooit daar was!

Paul ·

Koos, ek is elke maand daar, in my lewe was ons al oor die 400 keer in Die Wildtuin. Ek skryf ook boeke van ons wedervaringe. As Maroela dit sal toelaat plaas graag hier my Facebook en Youtube kanaal se skakels.

Koos ·

Dankie Paul, het gelees.

Gelukkig is De Beers slim genoeg om te besef die Venetia myn area is totaal oorbevolk met olifante weens natuurlike aanwas en daarom die skuif van 200 diere na, weereens gelukkig vir hulle, ‘n beskikbare area wat totaal onder sy dra vermoeë bevolk is met olifante.

Dit is egter nie altyd moontlik om oortollige diere te verskuif na onder besette areas nie EN dis juis meestal die geval.
Die enigste sinvolle uitweg is dan VOLHOUBARE BENUTTING van die oortollige diere tot getalle vlakke, wat die betrokke area se drakrag kan hanteer SONDER dat die ekosisteem en die voortbestaan van ander spesies bedreig word.
Wen-wen oplossing waardeur fondse verdien kan word vir die bewaararea se behoorlike bestuur en beheer, proteïn verskaffing aan omliggende bevolking en die handhaaf van ‘n gesonde balans in die ekosisteem wat neerkom op sinvolle bewaring.

Besoek gerus TGA se webwerf en lees meer oor hierdie nie-winsgewende organisasie se opbouende werk in Afrika in die verband.

Terloops, my eerste antwoord op jou jongste palsing, het volgens Maroela Media verlore geraak.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.