Renosterstropery: Massiewe poging steeds nie goed genoeg nie

Bonné-De-Bod-by-omgewingsake-mediakonferensie-2018-01

Bonné De Bod by die departement van omgewingsake se eerste mediakonferensie vir 2018. Foto: Susan Scott/STROOP.

Aan die begin van elke jaar is daar altyd groot verwagting vir die departement van omgewingsake se eerste mediakonferensie. Die renosterstropingsyfers vir die vorige jaar is op die agenda en mense reg oor die wêreld skakel in op sosiale media om te deel in die nuus. Hierdie jaar was geen uitsondering nie, soveel so, dat die hutsmerk #RhinoUpdate sommer vroegoggend al bo-aan Twitter se lys was. Dit was goed om te sien, want ons praat tog inderdaad van ons erfenis.

Hier is ’n kort opsomming van die belangrikste gesprekspunte wat vir my uitgestaan het:

Die amptelike renosterstropingsyfer vir 2017 is ’n totaal van 1 028 renosters, ʼn afname van 26 diere teenoor die vorige jaar. Dit is ’n geringe afname en die grootste hiervan is gesien in die Krugerwildtuin.

Dit is goeie nuus, want dit beteken ’n afname van 24% in die park, maar die provinsiale statistieke vertel ʼn heel ander storie, elke ander provinsie het ’n toename gesien.

KwaZulu-Natal se syfers het gespring van 162 na 222 – dit verteenwoordig ʼn toename van 40%! Hierdie was eintlik geen verrassing nie, gegewe onbevestigde berigte van die “kaping” van die provinsie se wetstoepassers en geregsdienaars. Selfs ons eie minister van polisie het getwiet dat die polisiediens wemel van kriminele elemente. Veldwagters op die grond in KwaZulu-Natal het, tydens die verfilming van STROOP, aan my vertel dat hulle male sonder tal op die spoor van stropers is net om uit te vind dat hierdie ouens al vantevore aangekeer is… met al die bewysstukke, ’n renosterhoring in die hand en bloedbevlekte klere.

Dit is eenvoudig net nie goed genoeg dat ons veldwagters hulle lewens op die spel plaas en hulle nie die ondersteuning kry wat hulle benodig en verdien nie. ’n Park soos die Krugerwildtuin geniet goeie samewerking en dit is wat sukses bring: spanwerk. Tegnologie speel ’n groot rol ja, maar soos generaal-majoor Johan Jooste altyd sê, “Tegnologie kan baie doen, maar dit is die menslike element wat die verskil maak. Dit is die veldwagter wat die inhegtenisneming uitvoer, dit is die ondersoekbeampte wat seker maak dat die saak waterdig is, en dit is die aanklaer wat nie toelaat dat die goedbetaalde verdedigingspanne die stropers op ʼn tegniese punt skotvry laat wegkom nie.”

’n Spesie wat besig is om die renosters se paadjie te volg, is olifante. Die olifantstropingsyfer het landswyd bykans verdubbel tot 68 olifante wat in 2017 gestroop is, met 67 in die Krugerwildtuin en een in KwaZulu-Natal. Kommerwekkend om te dink dat ons tien jaar gelede in 2008, presies by hierdie syfers was vir renosters. Die vraag is: Hoe verseker ons dat ons nie ook duisende olifante oor die volgende dekade verloor nie?

Die minister het erken dat die opheffing van die moratorium op die plaaslike handeldryf in renosterhoring in 2017 baie publisiteit gekry het. Dit is weer wettig om binne die grense van Suid-Afrika in renosterhoring te handel, maar internasionale handeldryf is steeds onwettig. Daar was nie net hofgedinge tussen privaatrenostereienaars en die departement van omgewingsake nie, maar twee privaat renostereienaars het ook aan my vertel dat hulle permitte doelbewus vertraag word en dat die stelsel steeds teen hulle gekant is. Die minister het tydens die konferensie benadruk dat die regering aan die kant van die privaat renostereienaars is. Sy het ook bevestig dat sewe permitte vir die koop van renosterhoring in 2017 uitgereik is en twee vir die verkoop van horings.

Ná die laaste mediakonferensie verlede jaar het daar ook baie verwarring geheers rondom die nasionale opgehoopte renosterhorings. In 2015 het die minister gepraat van 25 ton renosterhoring, maar daar is nou bevestig dat daar 40 ton opgehoopte renosterhorings in staatsbesit is. Dit wys ’n redelike groei in net oor die drie jaar.

’n Afname in stropingsyfers is altyd goeie nuus, maar ek is bekommerd dat die getalle nie genoegsaam afneem nie. Ons moet in gedagte hou dat daar minder renosters is om gestroop te word. Die harde werk in die Krugerwildtuin word in die steek gelaat met toenames in die res van die land in KwaZulu-Natal, Noordwes, die Vrystaat en Mpumalanga. Minister [Edna] Molewa het erken dat die stryd ver van gewonne is en sy het ons natuurlik herinner aan die harde werk wat op die grond gedoen word. Dit is ’n massiewe poging maar dit is steeds nie genoeg nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bonné De Bod

Bonné de Bod is ’n bekroonde televisieaanbieder en vervaardiger van die dokumentêre rolprent STROOP – Journey into the Rhino Horn War wat talle internasionale pryse verower het. Sy het nou haar visier op lugbesoedeling in haar volgende dokumentêr wat in 2021 vrygestel word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.