Renosterstropery: ‘Ons kan nie bekostig om moed te verloor nie’

Bonné-de-Bod-and-farmer Pieter-Els-in-Helicopter-©-Susan-Scott

Bonné de Bod vlieg saam met die boer, Pieter Els, oor sy plaas. Foto: Susan Scott/Verskaf.

Kyk ’n mens na die beriggewing ná die onlangse vrystelling van die jongste renosterstropingsyfers, sal ’n mens dink dat die afname ’n beduidende een is. Ja, vanjaar se 529 renosters teenoor die 542 in dieselfde tyd verlede jaar is ’n afname, maar ek dink nie 13 minder renosters is noodwendig iets om oor huis toe te skryf nie. En hier is twee redes hoekom:

  1. Die Kruger-wildtuin se stropingsgetalle het dramaties afgeneem. Hierdie tyd verlede jaar is ons vertel dat daar 111 meer renosters gestroop is. Dit is inderdaad goeie nuus, maar daar word massiewe mannekrag en fondse ingeploeg. Die regering het beduidende hulpbronne aan die park beskikbaar gestel, van die weermag na die polisie, die staatsaanklaers… almal wat die SANParke veldwagterskorps ondersteun. Dan het ons private befondsing wat ook in die park aangewend word – letterlik honderde miljoene rande. Ons kan maar net dink aan die skenkings van die Buffet-stigting en groot maatskappye wat betrokke is.

Dit alles help, met die nuutste tegnologie wat gebruik word en wat duidelik ’n verskil maak. Maar ten spyte van hierdie hulpbronne word daar steeds groot getalle renosters gestroop. Ons moet verder onthou dat daar minder renosters in die park is, nie net weens stropery nie, maar ook as gevolg van die verskuiwing van groot getalle renosters na ander SANParke-wildernisgebiede sowel as elders in Afrika.

  1. Die tweede rede hoekom ek dink ons feesvieringe voortydig is, is dat as ons die Krugerwildtuin se dramatiese afname by die nasionale syfers uitsluit, dit ’n heel ander storie vertel. Hierdie tyd verlede jaar was die nasionale stropingsyfer sonder dié van die wildtuin 188. Vanjaar staan ons al op 286 en dit is ’n dramatiese toename van meer as 50%. Baie areas buite die park het nie dieselfde regeringshulpronne en skenkings nie, en dit is sigbaar.

Ek ignoreer geensins die grootskaalse pogings wat deur almal in die Krugerwildtuin ingesit word nie – van die veldwagters tot die administratiewe personeel, die ondersoekbeamptes, die staatsaanklaers en so meer. Dit is fantasties dat hulle pogings vrugte afwerp. Ek het eerstehands ervaar hoe hard hulle werk en ook die opofferings gesien wat hulle maak. Wat ek wel sê, is dat ’n afname van ’n skamele 13 renosters nie iets is om oor goed te voel nie, veral nie as ’n mens na hierdie twee faktore kyk nie. Ons is nog nie by daardie positiewe ommedraai nie; ons is nie eens naby nie.

Ons moet onthou dat ons te make het met georganiseerde misdaad, en sodra die net in een gebied nouer gespan word, beweeg hierdie gesofistikeerde misdaadnetwerke hul bedrywighede elders. En dit kan ons duidelik sien in die syfers van KwaZulu-Natal wat op 133 staan, die hoogste tot nog toe, en die Noord-Kaap, wat tradisioneel nog nooit op die radar was nie.  Ek onthou hoe geskok ons was toe daar in 2014 vyf gevalle aangemeld is en nou, skaars ses maande in 2017 in, sit ons al klaar op 17. En dit sonder die nege renosters wat ’n boer aan die begin van Julie op sy plaas in die Noord-Kaap verloor het. Nege renosters in een nag, dink ’n bietjie daaraan. Hierdie provinsie het eens bekend gestaan as ’n “veilige hawe” vir renosters, maar dit is duidelik nie meer die geval nie.

Ek het hierdie boer kort ná die voorval besoek en hy was eenvoudig platgeslaan oor sy renosters wat so gewetenloos afgemaai is. Hy het net meer as 10 jaar gelede met ses renosters begin en het hulle intussen tot ’n gesonde getal aangeteel. Hy het nooit vantevore stropingsinsidente gehad nie en toe skielik – nege. Hy het aanvanklik ’n foto op Facebook gedeel en is dadelik oorval met vrae oor die sekuriteit op sy plaas. Baie privaat renostereienaars, wat ook reservaateienaars sowel as telers is, het ’n beleid om niks op die internet oor hul renosters te deel nie. Al het hy kwaai op sosiale media deurgeloop, moes ek hom vra oor sy veiligheid en hy het erken dat hy nie die jongste tegnologie in plek gehad het nie, maar dat daar tog sekere veiligheidsmaatreëls in plek was. ’n Groot faktor vir hom was dat sy plaas baie groot is, duisende en duisende hektaar, so hy was redelik positief dat sy renosters veilig is. Ek is met ’n helikopter na die karkasse geneem en soos ons van die een karkas na die volgende geloop het, het hy my vertel dat hy sy oorlewende renosters gaan verkoop en dat hy nou basies moed opgegee het met hierdie spesie. Vir my is dit baie hartseer en kommerwekkend. Baie privaat renostereienaars wat ek die afgelope drie jaar ontmoet het tydens die verfilming van STROOP, het hul renosters verkoop. Vir hulle is die risiko en die koste verbonde aan hul beskerming net eenvoudig te hoog.

Dit is altyd maklik vir ons om hier te sit en te analiseer wat die boere moet en nie moet doen nie. En ons almal weet plaasaanvalle op mense gebeur ten spyte van die beste sekuriteit. Ek het al alles gesien – van driedubbele draad wat waarskuwingsboodskappe stuur wanneer daar oor of onderdeur hulle geklim word, tot wagtorings en hommeltuig- en hondepatrollies. Een van die plase wat ek in Limpopo besoek het, het ’n driedubbele draadheining gehad waaronder daar binne ’n paar uur deurgegrawe is, en dit met gewapende teenstropingspatrollies in die omgewing, asook sekuriteitskameras. Stropers is gewetenloos en sal enigiets doen om by die renosters uit te kom. Ons kan maar net dink aan die wrede aanval en verkragting van ’n werknemer by die Thula Thula Renoster-rehabilitasiesentrum in Februarie vanjaar.

Daar is alreeds baie wat in hierdie geveg gedoen word, maar nog vordering is nodig en ons kan nie moed verloor nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Bonné De Bod

Meer oor die skrywer: Bonné De Bod

Die bekroonde rolprentmakers Bonné De Bod en Susan Scott is al drie jaar besig met die verfilming van die renosterstropingskrisis vir die dokumentêre prent, Stroop. Dié gedugte span is nou besig met redigering en die film sal na verwagting in 2018 uitgereik word. De Bod is bekend as die wildlewe-aanbieder op 50/50, aanbieder en vervaardiger van Rhino Blog, sowel as ʼn spesiale korrespondent vir die SAUK se Newsroom en kykNET se Grootplaas en #RenosterRadar op Groot FM 90.5.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Mark ·

Boere wat renosters en olifante besit moet dalk begin dink om ou ex millitere SADF lede op hul plase te laat beweeg in spanne van 3 oor n aflos mistek van 3 dae. Ek myself sal gratis opperasioneel wil oppereer en so voel baie ex mil troepe en range.

Lizl ·

Alles kom terug na ons grensposte. Hoekom kan SA nie strenger maatreels toepas teenoor “toeriste” van sekere lande nie ? Maak seker hoekom is hy of sy vir die 3de keer hierdie jaar in SA, kom hou hy rerig vakansie ens ens. As ons maar net ons gtense kan bewaak soos Australia, en met skerper oë kyk na sekere mense en hulle eenvoudig blok as hy nie kan bewys dat hy regtig op vakansie is nie, sal ons renosters dalk kan oorleef. Dit en groter strawwe. Maak dit sommer lewenslank vir `n stroper wat gevang word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.