Repliek: Stembusoorwinning onrealisties, VF+ tree vir belange in

  • Kyk hoe word die Afrikaanse taal berekend orals uitgeforseer.
  • Waarom word hoofsaaklik Afrikaanse dorps- en straatname na ANC ‘struggle-helde verander?
  • Waarom word die Afrikaner se geskiedenis so gruwelik verdraai en melaats voorgestel?
  • My seun het oral aansoek gedoen vir ’n beurs om universiteit toe te kan gaan. Die antwoord is orals dieselfde: ‘Jammer, hy is wit en as gevolg van regstellende aksie gee ons nie sulke beurse nie.’ Nou is sy universiteitsdrome daarmee heen en gaan hy maar werk soek.
  • Met nasionalisering en grondhervorming gaan die ANC al ons plase vat.

Dr. Pieter Mulder

Bogenoemde is maar ’n paar van die klagtes wat Afrikaners en Afrikaanssprekendes daagliks met goeie rede uitspreek.

Kuier by enige braaivleisvuur en luister hoeveel verdere klagtes nog by die lys hierbo gevoeg word.

“As ons net kan saamstaan, dan sal alles regkom,” is gewoonlik die slotsom van so ’n gesprek. Die onderliggende van hierdie stelling is dat as ons net kan saamstaan, kan ons die volgende verkiesing wen, kan ons die mag terugkry en dan kan ons alles regmaak.

Louis du Plessis se artikel “Waarheen kronkel die stemtou in Suid-Afrika?” sluit by hierdie denke aan wat die oplossing vir die Afrikaner se probleme sien in ’n oorwinning by die stembus van die DA oor die ANC.

Ek verskil ernstig hiervan. My probleme met hierdie tipe denke is dat dit al ons energie kanaliseer in die najaag van ’n skyn doelwit – ’n verkiesingsoorwinning – wat nooit deur een party soos die DA alleen bereik kan word nie.

Voordat ek verder oor die DA argumenteer is dit net billik dat ek my belange verklaar as VF Plus leier en parlementslid.

Du Plessis het as Maroela Media paneellid gekies om sy eerste artikel oor die DA te skryf. Dit is sy keuse. Dit was egter net billik dat hy ook sy belange met so ’n DA artikel moes verklaar het. Hy het dit nie gedoen nie. Du Plessis is die lewensmaat/eggenoot van Anchen Dreyer, DA parlementslid en adjunk-voorsitter van die DA op Federale vlak. In hierdie hoedanigheid sien ons hom gereeld in die parlement waar hy DA vergaderings bywoon.

Die feit dat die meerderheid Afrikaners en Afrikaanssprekendes vir die DA stem, word nie betwis nie. Soos op die DA plakkate aangedui (“Jou stem laat ons wen”) is dit juis hierdie tipe DA propaganda wat baie Afrikaners laat glo dat die oplossing in ’n verkiesingsoorwinning lê. “Stem DA en stop Zuma” om president te word, die 2009 DA veldtog se slagspreuk, is nog so ’n voorbeeld. Ontnugterde kiesers het my na die verkiesing geskakel om te sê dat hulle nooit weer gaan stem nie – “Zuma het dan president geword en die DA het nie eers ’n kandidaat teen hom in die Parlement genomineer nie”.

Ek vind dit wel jammer dat Du Plessis dit nodig ag om DA verkiesingspropaganda in sy artikel in te smokkel soos byvoorbeeld dat die VF Plus “deur die ANC gekoopteer is.”

Enige studie van die VF Plus se mediaverklarings toon aan dat daar geen sprake van kooptering van die VF Plus deur die ANC is nie. Hierdie mediaverklarings kan op ons webblad nagegaan word. Du Plessis is deeglik bewus daarvan omdat hy gereeld ons toesprake in die Parlement uit die galery aanhoor.

Vir die berig, klik op die prentjie.

’n Onlangse koerantopskrif in Sakenuus (25 Julie 2011) lui: “Mulder kap ministers oor Massmart-ingryping”. Een paragraaf uit die berig maak ons posisie duidelik: “Mulder het in ’n verklaring te velde getrek teen sy minister, me. Tina Joemat-Pettersson en haar kabinetkollegas mnr. Ebrahim Patel (ekonomiese ontwikkeling) en dr. Rob Davies (handel en nywerheid) se indiening van ’n hersieningsaansoek oor die Wallmart-transaksie.”

So het ek as Adjunk-Minister vir Malema by die polisie aangekla en het die VF Plus al ’n jaar terug gevra dat die Suid-Afrikaanse inkomstediens sy finansies ondersoek. Klink dit soos kooptering? Met mnr. Zuma se een-en-twintigste buite egtelike kind, het ek as VF Plus leier en Adjunk-Minister hom gekritiseer en gewys op die rol wat rolmodelle soos ’n president in die samelewing moet speel. Hoeveel voorbeelde is nog nodig?

Die voorwaarde waarop die VF Plus die adjunk-minister van Landboupos aanvaar het, was juis dat die VF Plus die ANC voluit gaan kritiseer, soos altyd vrae in die parlement vra en ons rol as opposisieparty vertolk.

Afrikaanssprekendes, Afrikaners en alle minderheidsgroepe in Suid-Afrika se oplossings lê nie in ’n DA verkiesingsoorwinning nie maar in die moderne internasionaal aanvaarde standpunte oor minderheidsregte en selfbeskikking.

Die deelname aan verkiesings en verteenwoordiging in die parlement is steeds nodig. Die doel van deelname is dan egter nie om as minderheidsgroep te dink jy kan die verkiesing wen nie, maar om inspraak te kry ten einde jou saak ook in die hoogste raadsale te kan stel. So verwys mnr. Zuma in die Parlement (Hansard 16 Feb. 2010) na sy gesprek met my oor die verandering van Pretoria se naam. Hy toon aan hoe die gesprek daartoe gelei het dat die staatskoerant se aankondiging dat Pretoria voortaan as Tshwane bekend sal staan, enkele dae na ons gesprek teruggetrek is.

As ’n party soos die VF Plus in alliansie met ander opposisie partye na ’n verkiesing wel kan regeer, is dit ’n bonus.

In Kaapstad, na die 2006 plaaslike verkiesing, het die VF Plus deur so ’n opposisie alliansie die beslissende stem gehad wat die ANC in opposisie geplaas het. Die VF Plus het toe saam met die DA in Kaapstad geregeer. Toe die DA met voorstelle gekom het om hoofsaaklik die Afrikaanse straatname in Kaapstad te verander, het die VF Plus dit kon veto. Interessant dat die DA geen voorstelle gemaak het om die 16 strate wat na Britse imperialiste soos Alfred Milner, of die vier strate wat na Britse oorlogsmisdadigers soos Kitchener of die 24 strate wat na Koningin Victoria in Kaapstad vernoem is, te verander nie.

Tans is die DA weer besig met straatnaam veranderinge in Kaapstad. Oswald Pirow straat en talle ander is volgende. Die straatnaamveranderingskoste in Kaapstad is tot op datum reeds R905 000 volgens ’n antwoord wat die raad op ’n VF Plus vraag verskaf het. Dit plaas ’n groot vraagteken agter Du Plessis se stelling in sy artikel dat DA stadsrade “Afrikaanse monumente en straatname beskerm”. Ek verwys nie eers na die DA stadsraad in Midvaal se hantering van die Verwoerd-standbeeld nie of die beskadiging van die Maria van Riebeeck standbeeld in Kaapstad nie.

Vra ontnugterde DA Afrikaners soos oud minister Tertius Delport oor hoe die DA  leiers Afrikaners misbruik vir kieserstemme. Hy toon aan hoe alle saakmakende poste in die DA in beheer van die klein “ou Engelse Progressiewe kliek” gehou word.

’n Groot aantal Afrikaanssprekendes stem DA op die valse argument af dat die antwoord lê in ’n verkiesingsoorwinning oor die ANC. Hierdie kiesers stem nie vir die DA beleid nie. Ek het ruimte om dit met net twee voorbeelde te bewys:

  1. Christenskap. Baie Afrikaners voel baie ernstig oor hulle Christenskap. Dit maak dat hulle, hulle baie sterk uitspreek teen aborsie op aanvraag. Christelike beginsels kom nêrens in die DA grondwet of beleidstukke voor nie. Die VF Plus en die ACDP het sulke verwysings in hulle grondwette. Toe enige verwysing na God uit die 1996 grondwet gelaat is, het die ACDP en die VF Plus daarteen geprotesteer. Die DA het daarvoor gestem. Soos hulle ook tydens die grondwetlike onderhandelinge voorgestel het dat Engels die enigste amptelike taal moet wees.Toe aborsiewetgewing in 1997 in die parlement aanvaar is, het die meerderheid DA parlementslede, mev. Zille ingesluit, daarvoor gestem. Die VF Plus het daarteen gestem. In die eerste tien jaar na 1997 is reeds 617 898 babas in Suid-Afrika geaborteer. Babas wat volgens navorsing reeds perfek gevorm is, pyn en angs kan ervaar en tot op vyf maande swangerskap in sommige gevalle geaborteer is! Christen kiesers stem egter agter die droom van ’n DA-oorwinning aan en hierdie beleidsargument speel geen rol daarin nie.
  2. Regstellende aksie. Regstellende aksie is ’n ernstige probleem vir wit en bruin Afrikaanssprekendes. Talle voorbeelde van onregverdige diskriminasie is bekend. Vir mediese toelating by Kaapstad universiteit moet ’n wit student 91% in matriek behaal teenoor die 74% van ’n swart aansoeker. Baie van die swart aansoekers het miljoenêr pa’s. Hulle was ook in duur privaatskole sedert graad 1. Die DA het deurlopend alle regstellende wetgewing en stappe gesteun. Kiesers wat petisies teen regstellende aksie teken en mediabriewe daaroor skryf, stem agter die droom van ’n DA-oorwinning aan en hierdie beleidsargument speel geen rol daarin nie.

Lê die antwoord dan nie tog maar in ’n DA verkiesingsoorwinning nie? Dit is immers die makliker pad as selfbeskikking en minderheidsregte. Du Plessis dui in sy artikel aan hoe die DA van 16% steun in die vorige verkiesing na 23% in die onlangse verkiesing gegroei het. Daardeur skep hy duidelik die verwagting dat ’n DA oorwinning oor die ANC binnekort bereik sal word.

Volgens my projeksies is so ’n oorwinning eers oor 40 jaar moontlik as die huidige verkiesingstendense die toekoms in geprojekteer word.

Du Plessis slaag daarin om vals verwagtinge van so ’n moontlike stembus-oorwinning te skep deur kort termyn tendense oor die lang termyn te projekteer. Daaruit maak hy verkeerde gevolgtrekkings. Omdat sy argument op verkiesings-persentasies en syfers gebaseer is, moet ons ongelukkig ook na die syfers kyk.

As die verkiesingsuitslae sedert 1994 tot nou geneem word, is dit duidelik dat die ANC se steun deur die jare min verander het. Dit wissel tussen 59% en 69%. In die pas afgelope verkiesing het die ANC 62% gekry en die DA 23%. Volgens Du Plessis was hierdie verkiesing die groot deurbraak wat die ANC se houvas gebreek het. Presies dieselfde uitsprake is deur die DA na 2000 se verkiesing gemaak. Tog het die DA in die elf jaar van 2000 na 2011 persentasiegewys maar slegs 1% gegroei.

In 2000 kom Tony Leon, leier van die DP, en Marthinus van Schalkwyk, leier van die NP bymekaar. Die meerderheid wittes het toe reeds vir die DP gestem en die meerderheid Bruines vir die NP. Hulle eenwording word begroet met groot entoesiasme en opgewondenheid. Saam vorm hulle die DA. Die media skryf dat daar uiteindelik eenheid in opposisiegeledere is en dat die ANC se magshouvas verbreek gaan word.

Met die uitslag van die plaaslike verkiesing in 2000 kry die DA 22% van die stemme. Die ANC het in die 2000 plaaslike verkiesing 59% gekry. Omdat die ANC onder 60% in 2000 was, is toe opgewonde voorspel dat die party sy greep op die land verloor het en binne enkele jare onder 50% gaan wees.

Hierna kom daar ’n breuk tussen Tony Leon en Marthinus van Schalkwyk. Die NP-leiers sluit daarna by die ANC aan. Meeste bruinkiesers volg nie die NP-leiers na die ANC nie. Met 2006 se verkiesing is hulle stemme onder ander partye verdeel en stem baie Bruinkiesers glad nie. Gevolglik het die DA steun met die 2006 plaaslike verkiesing na 16% gesak.

DA-propagandiste en Du Plessis gebruik in sy artikel nou die 2006-verkiesing se 16% om die DA se groei na 23% as die finale deurbraak te beskryf. Waarom ignoreer hy die 2000 verkiesing?

Die feite is dat die nuutste uitslag (2011), met die ANC se 63% persent en die DA op 23%, persentasiegewys min verskil van 2000 se plaaslike verkiesingsuitslag.

Plaaslike verkiesingsuitslae
ANC    DA
2000   59%    22%
2006   66%    16%
2011   63%    23%

Nasionale en Plaaslike verkiesingsuitslae sedert 1994
ANC       DA (DP & NP)
1994       62%        22%
1999       66%        16%
2000       59%        22%
2004       69%        12%
2006       66%        16%
2009       66%        16%
2011       63%        23%

Persentasiegewys het daar nie veel sedert 1994 verander nie. Waar die bruin-stemme in 2006 verward was, is hulle nou soos in 2000 terug by die DA. Dit verklaar die DA se suksesse in die Wes-Kaap met ’n 60% bruin en 18% wit bevolking.

In die noordelike provinsies het min verander met die ANC steeds in beheer van 99,9% van die stadsrade. Die groei in ANC kiesers vanaf 2006 het getalle gewys steeds die groei in DA kiesers met 300,000 stemme oortref.

Die DA het tydens die verkiesing aan kiesers verseker dat hulle vier nuwe metro’s naamlik die Nelson Mandela metropool (Port Elizabeth), Tshwane metro (Pretoria), Johannesburg en Durban gaan wen. Hulle het nie een nuwe metro bygekry nie.

Na mnr. Tatane in Ficksburg deur die polisie doodgeskiet is, is ’n groot swaai weg van die ANC daar voorspel. Na die ANC in sewe wyke in Potchefstroom as gevolg van binnegevegte nie kandidate gestel het nie, is ’n DA oorwinning ook in Potchefstroom voorspel.

In Ficksburg kry die ANC 74% en wen Potchefstroom gemaklik. Nieteenstaande ’n reuse DA propagandaveldtog in Khayelitsha in die hart van die Wes-Kaap, wen die ANC al hierdie wyke oorweldigend. In Khayelitsha Wyk 90 kry die ANC byvoorbeeld 9700 stemme teenoor die DA se 21.

Du Plessis is reg as hy aantoon dat meeste opposisiepartye steun aan die DA afgestaan het. So ook die VF Plus. Daar was dus grootliks Afrikaner-eenheid en opposisie-eenheid in hierdie verkiesing soos opposisieleiers verlang. Nieteenstaande dit is ’n DA oorwinning oor die ANC nog ver buite bereik sonder ook groot getalle arm swart stemme.

Die DA het wel swart stemme bygekry maar dit blyk hoofsaaklik ’n herrangskikking van opposisiestemme te wees. Cope het van 7% na 2% gesak. Die vraag is waarheen is die Cope-kiesers? Van hierdie Cope-kiesers is beslis na die DA. Hulle is egter hoofsaaklik van die swart middelklas. ’n Werklike deurbraak by die stembus kan net kom as die swart armes DA begin stem.

As die DA ernstig is om hierdie ANC-stemme te kry, sal die DA hom in die toekoms baie sterk ten gunste van sake soos regstellende aksie, grondhervorming, transformasie en bemagtiging moet uitspreek ten einde die ANC daaroor te oorbie. Minderheidskiesers sal moet besluit hoe dit hulle raak en tot watter mate so ‘n party vir hulle probleme en frustrasies sal kan veg.

Die Onverteenwoordigde Nasies en Volkere Organisasie

Die doel met hierdie artikel is nie om net negatief te wees nie. Die doel is om die futiliteit daarvan – om al ons energie in ’n verkiesingsoorwinning in te sit – uit te wys. Kom ons maak opnuut ’n studie van selfbeskikking en minderheidsregte soos dit in die wêreld voorkom, soos dit deur die VN en die Europese Parlement bewoord word en deur ’n organisasie soos UNPO bevorder word. Ek dien tans op die dagbestuur van UNPO.

Kom ons verstaan die belangrike rol wat burgerlike organisasies in die bevordering van hierdie oplossings kan speel, maar besef ook dat ’n politieke arm in die parlement net so nodig is.

In een van die laaste koerantrubrieke voor sy dood, het die bekende joernalis Chris Louw baie van die klagtes in die inleiding hierbo opgenoem. Hy eindig dan sy artikel met die eenvoudige vraag: “Wat kom na kla?”

Wat kom na kla? Louis du Plessis antwoord hierdie vraag in sy artikel met as oplossing die DA en die belofte van ’n verkiesingsoorwinning.

Ek antwoord dit met selfbeskikking, minderheidsregte, samewerking tussen burgerlike organisasies en politieke partye. Politieke partye soos die VF Plus wat aan verkiesings deelneem ten einde hierdie sake in die parlement en selfs tot in die kabinet uit te dra en nie skaam is om minderheidsbelange te dien nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Pieter Mulder

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr. Pieter Mulder was ʼn parlementslid en is die voormalige leier van die Vryheidsfront Plus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anoniem

Geagte dr Mulder, Ek dink u dig stellings toe aan prof. Du Plessis wat hy baie beslis nie in sy ontleding maak nie. Dit kom ook nie voor asof die aanvalle van die VF+ op die DA enigsins kiesers vir die VF+ kon wen nie.  Ek stel dus voor dat die VF+ hierdie strategie hersien.  Ons sal eerder graag wil hoor watter aksies die VF+ gaan uitvoer om weer van sy verlore steun te herwin, behalwe natuurlik om die DA te verwens. Ongeag wat met die DA se statistiek gebeur, is dit baie duidelik dat Afrikaners ‘n baie beperkte aanklank by die VF+ vind… Lees meer »

Riesl Spies

Een ding wat mens darem van die VF plus kan se, hulle het pragtig die Afrika kultuur hulle eie gemaak….there is always someone else to blame. Die Afrikaner staan saam, hulle stem deesdae vir die DA

Louis du Plessis

  Geagte kollegas ~ 1  Hoekom reageer Pieter Mulder op die ontleding van verkiesingstendense met soveel bitterheid? Die antwoord is: As iemand in die voetspore van Marthinus van Schalkwyk drentel en sy party deel maak van die regerende alliansie van die ANC en die SA Kommunistiese Party, is dit voordelig om jou oë vir die feite toe te druk.2   Nadat die DA sy steun in die afgelope plaaslike verkiesing verhoog, van 16 na 24 persent, doen Mulder sy bes, in alles wat hy sê, om die DA skeef voor te stel, selfs te beledig, ten gunste van sy alliansievennoot, die… Lees meer »

Eugene Brink

Goeie artikel, maar weer eens niks nuuts nie en bloot ‘n bittere aanval op die DA.  Jammer, maar die VF+ (en ek het self al vrywillige werk voor verkiesings vir hulle gedoen) maak homself skuldig aan dieselfde goed waarvan hy die DA beskuldig. Hy se hy is teen regstellende aksie, hy se hy is teen taaldiskriminasie en hy se minderheidsregte is belangrik. Helaas is die gaping tussen se en doen en retoriek en resultate hemelsbreed. Ek stem vir ‘n party wat ten minste die land ordentlik kan regeer (en bewyse het daarvan) en ‘n doeltreffende opposisie is – en daar… Lees meer »