Resessies en die keuse van vryheid of manipulasie

belasting-ekonomiese-druk-stevepb-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Deur Edward Blight

Ná die onlangse aankondiging dat die ekonomie weer eens in ʼn resessie verval het, het die sondebokke oudergewoonte ander daarvoor beskuldig. Almal word geblameer – van die globale ekonomie tot die Suid-Afrikaanse private sektor.

Om die private sektor die skuld te gee is veral eienaardig, want die aantygings dryf in teen die doel van die individue in die sektor. Die primêre doel van die private sektor is om winste te maksimaliseer en individue doen alles in hulle vermoë om hierdie doel te bereik. As die ekonomiese omgewing van so ʼn aard is dat hulle nie die bepaalde doelwitte kan bereik nie, is daar geen verskuilde motiewe nie.

Die vraag waarom Suid-Afrika homself in ʼn resessie bevind is nie so eenvoudig soos die sondebokke ons sal wil laat glo nie. Die eerste stap is om te bepaal of dit ʼn sikliese resessie of ʼn strukturele resessie is. ʼn Sikliese resessie verwys na ʼn siklus waarin ekonomiese aktiwiteite uitbrei en inkrimp, terwyl ʼn strukturele resessie verwys na groter onderliggende probleme wat in die ekonomie bestaan.

Volgens standaard ekonomiehandboeke is die redes vir resessie baie eenvoudig. Gewoonlik ontstaan ʼn inkrimping as gevolg van ʼn “oorverhitte” ekonomie wat begin “afkoel”. In die fase van die  konjunktuursiklus (sakesiklus) is die oplossing gewoonlik om uitgebreide ekonomiese beleid te implementeer wat die ekonomie aanhits.

ʼn Meer gesofistikeerde weergawe van die teorie rondom die konjunktuursiklus is ontwikkel deur FA Hayek. Hier is die argument dat dit juis die inmenging van die regering en die Reserwebank is wat ʼn onstabiele siklus skep. Hierdie weergawe voer aan dat die afname juis weens die inmenging van die regering en die Reserwebank ontstaan.

Redes hiervoor is dat die regering en Reserwebank slegte beleggings aanspoor wat lei tot ʼn afname in ekonomiese aktiwiteit. Die teorie is gebou rondom die konsep dat rentekoerse kunsmatig bestuur word wat dus die normale gang van die ekonomie ondermyn. Hier word daar verwys na ʼn sikliese resessie wat ontstaan as gevolg van strukturele probleme binne in die ekonomie.

In Suid-Afrika is die dilemma nie dat ons in resessies val nie, maar eerder dat ons nie tot by die “oorverhit”-fase van die siklus vorder nie. Ons ekonomie is soortgelyk aan ʼn student wat deurskraap en sodoende net-net die hereksamen mis. Ons ekonomie het lanklaas op die onderskeidingsvlak gefunksioneer. Hierdie konstante onderprestering is ʼn sterk aanduiding dat strukturele probleme in ons ekonomie bestaan.

Ons staat het al vir ʼn geruime tyd enorme begrotings gehad om te verseker dat die ekonomie nie in ʼn resessie indompel nie. Die probleem met buitensporige begrotings is dat skuldvlakke van die regering aanhoudend toeneem tot op die punt waar dit problematies word. Skuld tot bruto binnelandse produksie het ons risiko vir afgradering vergroot. Daar is gewaarsku dat die toenemende skuldvlakke mettertyd tot ʼn afgradering gaan lei. Die vraag is wanneer dit sou plaasvind.

Die vraag is waarom die staat voel dat hierdie begrotings geregverdig kan word. Een van die gereelde antwoorde is dat dit benodig word om te verseker dat die politieke struktuur wat ons president gebou het, geld nodig het om aan die lewe te bly. Die meer ekonomiese antwoord is dat ekonomiese aktiwiteite al vir ʼn tyd gekrimp het. Dus kon ons hierdie begrotings regverdig, omdat dit as ʼn inspuiting van geld dien om te sorg dat ekonomiese aktiwiteite kan toeneem.

Hierdie verouderde denkwyse, van groot begrotings wanneer die ekonomie afneem, is ’n wêreldbeskouing deur regerings wat glo dat dit hulle verantwoordelikheid is ten opsigte van die welstand van die ekonomie. In ʼn mate is hulle verantwoordelik, maar die benadering is geheel en al verkeerd.

Die staat is slegs daarvoor verantwoordelik om die omgewing te skep sodat die ekonomie kan floreer. Die res hang van die individue van die land af om te verseker dat vooruitgang kan plaasvind.

Ons regering het nog nooit die konsep verstaan nie en wil altyd inmeng ten koste van die individue in die samelewing. Hulle is nie ten gunste van die idee dat mense hulle eie welvaart skep nie, maar wil hul verskuilde, egosentriese agenda op die ekonomie afforseer. Beleid soos swart ekonomiese bemagtiging is niks meer nie as die manipulasie van die samelewing wat die regte omgewing vir ekonomiese vryheid ondermyn.

Dit is juis die vryheid binne die regte omgewing wat nodig is om te verseker dat individue die ekonomie kan ontwikkel. As vryhede in Suid-Afrika bestaan het sou ons regering nie nodig gehad het om groot begrotings te bestuur nie. As die individue werklik vry was sou hulle self kon bepaal hoe die ekonomie ontwikkel. Dit sou nie altyd perfek gewees het nie, maar dit sou aansienlik beter gewees het.

Regerings het dus twee keuses, hulle kan vryheid ondermyn en die samelewing manipuleer sodat dit ʼn weerspieëling word van hulle eie agenda, of hulle kan die samelewing bevry en toekyk hoe welvaart toeneem. Ongelukkig moet daar ’n keuse uitgeoefen word, en ons regering het reeds hulle keuse bekendgemaak.

  • Edward Blight is ʼn dosent in ekonomie by Akademia.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Leendert ·

Ja, en nou, terwyl die land afgradeer is, agv al die onbevoegdes wat hul ding in poste doen, terwyl hulle nie ‘n idee van die werking het nie en die land afbreek, maak die nuwe OB ook nog bevindings en spreek sy haar oor die taak van die Reserwebank uit, wat niks met haar te doen het nie, stel wysiging in die grondwet voor dat die Reserwebank aan die parlement onderwerp moet word. Sy het ‘n stok gesoek om ook die reserwebank mee by te kom, ook in te sleep, en toe maak sy die stok.

En die interessante is dat dit waaroor sy ABSA skuldig bevind het, het 30 jaar gelede, na bewering, in Bankorp plaasgevind.

En siedaar die Rand val met 1,6%.

Koos1 ·

Leendert, die OB is net ‘n spreek buis vir die prez. Elke slag as die rand net kop op tel raak hy (of in hierdie geval sy) iets kwyt wat die rand weer laat val. Ek dink dit word gedoen om hulle miljarde dollars in die buiteland (Dubai?) te laat groei, in rand waarde.
Die huidige regering wil niks doen aan die ekonomiese stand in ons land nie, en blameer nogsteeds die wit monopolie kapitaal vir al ons probleme!

Leendert ·

Koos, ek sien nou die ekonome sê vanoggend sy het nie ‘n idee hoe die ekonomie werk nie. As dit moet gebeur soos sy in haar verslag voorstel, is ons verseker op die Zim-pad se verval. Sy het haar mandaad oorskry. Dawie Roodt sê dit is niks anders as ‘n politieke aanslag op die land se monitere sisteem nie.

Daniel ·

Edward, baie dankie vir die insig in wat eintlik gebeur het.

John ·

Wie is eintlik kwaad dat hulle uitgevind is dat hulle die land gemanipuleer het vir miljarde in hul sakke? Die vorige glo agterstallige skuld, reg of verkeerd, is ‘n ou wit-geld-kwessie wat niks met die huidige ekonomie te make het nie. Wie skreeu die hardste: die ANC-jeugliga, as sou hulle die regering van die dag wees. Hoekom eis hulle nie ‘n ondersoek na die 80 miljard wat deur eie regeringsgeledere verduister word nie? Ons regering en sy finansies word duidelik deur sluwe raadgewers bestuur wat verwoed beheer uitoefen en die mense laat glo hulle ‘help’ hulle om ‘bo’ te kom, uit ‘n glo ‘witkapitaal’-juk. Die Reserwebank se kaping sal die kroon span as buit vir ‘n ondergrawende rewolusionere mag en sodoende die reeds uitgemergelde ekonomie sy finale nekslag toe dien, a la IS-styl, kopaf… Al wat sal oorbly is massas skarrelende honger grawers in die vuil as van ‘n uitgebrande ekonomie… en die skelms, ge-Koebai.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.