Respekteer mekaar se erfenisse, ook myne

vlag suid-afrika

Argieffoto

Die dag van 24 September was voorheen Shaka-dag in KwaZulu-Natal en was dit veral Zoeloes wat die Zoeloekoning op dié dag herdenk het. Ná die oorgang na demokrasie in 1994 en as blyk van versoening en kompromie teenoor besware van die Inkatha Vryheidsparty is dit in ’n dag omskep waarop alle kulture hul eie erfenis kon herdenk. Toe oudpres. Nelson Mandela in 1996 oor Erfenisdag gepraat het, het hy gesê dit is as vakansiedag ingestel “omdat ons geweet het ons ryk en uiteenlopende kulturele erfenis het ’n diepsinnige krag om ons nasie te help bou”.

Op 24 September 2019 vier Suid-Afrika weer Erfenisdag. In die 25 jaar sedert die nuwe demokrasie moes ʼn nuwe en gemeenskaplike Suid-Afrikaanse erfenis al tot stand gekom het wat met trots gevier kon word. In 2019 is die Suid-Afrikaanse erfenis wat veronderstel is om gevier te word, egter nog steeds slegs simbolies.

Wat is dan ons Suid-Afrikaanse Erfenis? Dit sou gebaseer wees op ’n nasionale identiteit wat, as dit behoorlik uitgeleef, bevorder, en beskerm word, ook mettertyd ’n nasionale erfenis of erfenisse kan word. Proff. Albert Venter en Deon Geldenhuys skryf in ’n artikel “Demokrasie en Suid-Afrika” juis oor die grondslag van ’n nasionale identiteit:

“Die grondslae van so ‘n konstitusioneel gebaseerde nasionale identiteit in Suid-Afrika word verskaf deur die Grondwet van 1996. Die volgende waardes is in die Grondwet ingebed: die eenheid van die Suid-Afrikaanse staat, ‘n gemeenskaplike burgerskap,’n nasionale lied, erkenning van elf nasionale tale, ‘n handves van regte, die onafhanklikheid van die regbank, ‘n fundamentele toewyding aan die gelykheid tussen mense, vryheid van assosiasie en van geloof, opvattings en spraak.  Meer nog, kulturele, religieuse en etniese gemeenskappe se regte word in die Grondwet verskans. Indien hierdie waardes mettertyd in Suid-Afrika deur almal geïnternaliseer word en ‘n lojaliteit daaraan deur die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners betoon word, sal dit ‘n besondere kragtige grondslag vorm vir die belewenis van ‘n nasionale identiteit in Suid-Afrika.”  

Die laaste paar jaar is gepoog om die dag te omskep in ʼn viering van die Suid-Afrikaanse erfenis, maar weens ʼn gebrek aan of ʼn duidelik gedefinieerde nasionale erfenis het dit veral die unieke kleur en geur van nasionale braaidag ontwikkel.

Ons belewenis van erfenis sluit aan by internasionale sienings oor erfenisse. Volgens die Universiteit van Massachusetts se Center for Heritage and Society is “erfenisse die volle spektrum van ons geërfde tradisies, monumente, voorwerpe en kulture, maar meer belangrik is die omvang van die hedendaagse aktiwiteite, betekenisse en gedrag wat daaruit spruit.” In ʼn verdere ontleding sê die sentrum dat erfenisse veel meer is as “die behoud, opgrawings vertoon, of die herstel van ‘n versameling van ou dinge. Dit is beide tasbare en ontasbare, in die sin dat idees en herinneringe –liedjies, resepte, taal, danse, en baie ander elemente van wie ons is en hoe ons onsself identifiseer, net so belangrik is soos historiese geboue en argeologiese terreine.”

Met bogenoemde in gedagte kan dit egter baie duidelik gestel word dat veral Afrikaner-erfenisse in die spervuur beland het. Dink maar aan straat- en dorpname, volksliedere wat Die Stem insluit, simbole, Afrikaans as taal in skole, universiteite en as ampstaal, volkshelde wat voortdurend verdag gemaak word asook organisasies wat taal en kultuur en Afrikanerbelange bevorder. Dink maar aan die doelbewuste vernietiging van Groot Trek-simbole enkele jare gelede. Almal mag dus Erfenisdag vier, maar vir Afrikaners word voorgeskryf watter erfenisse aanvaarbaar is.

Dit kan egter nooit te laat wees om wel ʼn begin te maak met die skep van ʼn nasionale erfenis nie, maar nie ten koste van my eie erfenisse nie. Wat nou, meer as ooit nodig is, is dat die ANC-regering sowel as politieke partye die beginsels, bepalings en waardes van die Grondwet moet aanvaar en implementeer. Dit sal egter politieke wil en dinamiese staatsmanskap verg. Geen oproep tot Suid-Afrikaanse versoening en nasiebou en viering van Erfenisdag sal ooit suksesvol kan wees nie, mits:

  • daar ʼn hernude verbintenis is tot die Suid-Afrikaanse Grondwet en die waardes wat daarin vervat is;
  • die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) as ideologie en beleidsraamwerk onvoorwaardelik verwerp word aangesien die uitlewing en uitvoering van die ideologie enorme skade aanrig vir tale en kulture en die afdwing van eenvormigheid (deur Engels);
  • die diversiteit van Suid-Afrika werklik erken, respekteer en bevorder word – dit sluit tale, gelowe en kulture in, ook Afrikanerkultuur en alles wat daarmee verband hou;
  • daar besef word dat Suid-Afrika uit veel meer bestaan as slegs sy eie kaders en dat daar goeie wil is by baie ander Suid-Afrikaners, ook Afrikaners, wat wil meewerk aan die potensiaal van ʼn suksesvolle Suid-Afrika;
  • daar erken word dat Suid-Afrika ʼn geskiedenis het wat verder strek as die ANC se struggle-verlede; en
  • daar erken word dat die diversiteit van Suid-Afrika ook elkeen sy eie geskiedenis en erfenisse het, onder meer, volksliedere en danse, simbole soos vlae, tale soos Afrikaans, maar ook baie andere se unieke gebruike en gewoontes.

As Afrikaner is ek trots op my erfenis wat my verlede insluit, en wil ek meewerk aan ʼn opwindende hede en help skep aan ʼn uitdagende toekoms.  As gevra word of ek dieselfde trots het op my ander erfenis, my Suid-Afrikanerskap, moet ek twyfel. In ons een-en-twintigste jaar van demokrasie het ons reeds te min gedeelde geskiedenis en erfenis. Ons Grondwet, nasionale vlag en volkslied is van die min gedeelde erfenisse en het hul beslag gekry uit ʼn geskiedkundige proses van kompromie en onderhandelinge wat gevolg het ná ʼn tyd van groot historiese verdeeldheid en vyandigheid. Maar selfs dit is onder druk omdat dit polities gedienstig is.

Ons nasionale Erfenis is en sal slegs simbolies bly tot tyd en wyl daar ʼn eendragtige Suid-Afrika geskep word waarop Suid-Afrikaners trots kan wees. Ons nasionale erfenis behoort veel meer te wees as die sing van die nasionale lied voor groot internasionale byeenkomste. Die persepsie is egter dat dit al is wat ons deel, terwyl daar in werklikheid veel meer is wat ontgin en bevorder moet word.

Ons het egter reeds 25 jaar vermors in die skep van ʼn nasionale identiteit en gemeenskaplike nasionale erfenis.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Deon

Suid Afrika het misluk. Punt. Versoening is net ‘n droom. Dit is tyd om daadwerklik alternatiewe politieke modelle te oorweeg.

sweis

Hoe kan wit minderhede erfenisdag vier as daar wette deur die regering gebruik word om teen ons en ons kinders te diskrimineer, kwotas, seb,regstellende aksie gebaseer op jou velkleur is alles diskriminasie maar ons word gedwing om belasting te betaal,skrap al hierdie wette en gee almal gelyke regte dan sal versoening plaasvind en ek sal erfenisdag trots vier.

lewies

Die wil van ‘n volk of volkere om die andersheid van mekaar te erken en te respekteer is ‘n wilsbesluit wat sonder voorwaardes en selfsugtige motiewe geneem moet word, anders sal daar in Suid-Afrika geen gemene deler ooit kan wees nie. . In my beroep as onderwyser en veral na die oorgangstydperk sedert 1994 toe baie skole begin verander het om ook ander bevolkingsgroepe toe te laat, moes ek uit die aard van my verantwoordelikhede doelbewus soek na gemeenskaplikhede om my eie gevestigde paradigma aan te pas. Dit was ‘n maklike taak, aangesien die verhouding tussen kinders en kinders en… Lees meer »

lewies

Ek wou nog se: Dankie Jan vir die inhoud van die artikel. Dit maak beslis emosies los wat ons baie nodig het.

Dirk Breytenbach

Jan dankie vir die uitstekende oorsig jy slaag goed daarin om die morele hoëgrond te betree oor ‘n sensitiewe onderwerp. My bekommernis is dat as ons as minderheidsgroep (e) se pogings tot nasiebou en kohesie aanhoudend verkleineer, doelbewus vertrap of geignoreer wor, hoe onderhou ons die morele middelgrond? Is daar dalk ‘n punt wat bereik kan word waar gemarginaliseerde minderhede drastiese alternatiewe sal oorweeg en in werking stel? Is daar dalk scenarios en oplossings wat dringend ondersoek moet word sodat ons nie voor dit te laat is nog verder oor die afgrond sal beweeg nie? Tyd stap aan en ek… Lees meer »