Rewolusie in Hongarye: 65 jaar later

Die Koztemeto-begraafplaas in Boedapest ter herinnering aan slagoffers van die Hongarye-rewolusie. (Foto: Attila KISBENEDEK/AFP)

Vandag, 4 November 2021, is dit presies 65 jaar gelede dat Sowjet-tenks in 1956 oor die Hongaarse grense gerol het om dié land se liberaliseringsproses te smoor. Soos niks anders nie het dié gewelddadige inval die morele bankrotskap van die Sowjetunie se weergawe van die Marxisme-Leninisme aan die kaak gestel.

Die ironie is dat die Sowjets en die Hongare se morele rol net enkele jare tevore nog omgekeerd was. Die Sowjetunie was immers die slagoffer van ’n onuitgelokte en buitensporig wrede inval van Nazi-Duitsland in 1941, terwyl Hongarye ’n Nazi-bondgenoot was.

Daar het egter baie tussen 1941 en 1956 gebeur. Die Duitsers (en Hongare) is verslaan, en die Sowjets het die hele Sentraal- en Oos-Europa – met inbegrip van Hongarye – beset. Regerings, bestaande uit ortodokse kommuniste wat Moskou onkrities gevolg het, is aan bewind geplaas.

In 1953 is Josef Stalin, Sowjet-diktator, maklik ewe wreed en diktatoriaal as Adolf Hitler, oorlede. In die Kremlin-magstryd wat daarop gevolg het, het Nikita Chroesjtsjof uiteindelik geseëvier.

Meer om sy eie mag te konsolideer het Chroesjtsjof op 25 Februarie 1956 ’n geheime toespraak agter geslote deure in die Kremlin gehou waarin hy Stalin se heerskappy (1924-1953) met ’n spreekwoordelike stoomroller met die grond gelyk gemaak het. Hy het al Stalin se misdade – die bloedige suiwerings van die jare dertig, sy gebrekkige voorbereiding vir Hitler se inval en sy persoonlikheidskultus – genadeloos aan die kaak gestel.

Terloops, die toespraak is nie voor 1989 in die Sowjetunie gepubliseer nie. Dis wel onder gekeurde lede van die Kommunistiese Party versprei.

Die nuus van die toespraak het tot oor die grense uitgelek, onder meer na Hongarye, waar die bevolking erg onder die Sowjet-verdrukking gely het. Dit het die hoop op meer vryheid laat opvlam, en onluste in Hongarye, Pole en Tsjeggo-Slowakye tot gevolg gehad.

Dié in Pole en Tsjeggo-Slowakye het nie ver gekom nie, maar halfpad deur Oktober 1956 het tienduisende Hongare, deur studente gelei, in opstand gekom. In reaksie het die Kommunistiese Party ’n nuwe leier aangewys – Imre Nagy, wat reeds tussen 1953 en 1955 premier was. Weens sy kritiek op Stalin is hy toe egter afgedank.

Nagy het nie op hom laat wag nie. Hy het ’n hele reeks hervormings afgekondig, onder meer die einde van die kommunistiese eenparty-diktatuur, en het die land ook aan die Warschau-pakt (kommunistiese ekwivalent van Navo) onttrek.

Dít kon Chroesjtsjof nie toelaat nie. Daarmee sou ’n yslike gat in die breë verdedigingsgordel rondom die Sowjetunie geslaan word. Dus moes die Hongaarse opstand genadeloos platgeslaan word.

Op 4 November het Sowjet-tenks gevolglik die grens oorgesteek. Die Hongare het dapper weerstand gebied, maar kon nie standhou nie.

Teen 10 November is die laaste weerstand gebreek. Altesame 2 500 Hongare het in die verbete straatgevegte gesneuwel, en uiteindelik het ’n verdere 200 000 na die buiteland gevlug.

Nagy het asiel in die Joego-Slawiese ambassade gesoek, maar hy is uitgelewer en in 1958 tereggestel. Sy plek is deur Chroesjtjof se keuse ingeneem, naamlik die hoogs ortodokse János Kádár.

Die wêreld se reaksie was interessant. Regdeur die Weste het mense aan hul radio’s gekluister gesit en luister na ooggetuieverslae oor wat gebeur, en die verontwaardiging was enorm.

Daar was veral belangstelling oor wat Dwight D. Eisenhower, Amerika se president, en ander Westerse leiers sou doen. Eisenhower het immers ’n paar maande tevore in ’n toespraak daarop gesinspeel dat sy land die bevryding van verslaafde nasies onder kommunistiese heerskappy sou steun.

Daardie toesprake het egter uit wóórde bestaan, wat nie dieselfde as dáde is nie. Om die Hongare daadwerklik te hulp te snel, sou sonder enige twyfel hoegenaamd die Derde Wêreldoorlog uitgelok het.

Dít was ’n brug te ver vir ’n mensdom wat net 11-12 jaar tevore uit die nagmerrie en verwoesting van die oorlog van 1939-1945 ontwaak het. Bowendien het Amerika en die Sowjetunie nou albei kernwapens gehad, wat die vorige oorlog na ’n kinderspeletjie sou laat lyk.

Eisenhower en die ander Westerse lande het gevolglik wel hul simpatie met die Hongare uitgespreek en Hongaarse asielsoekers opgeneem, maar verder as dit kon hulle nie gaan nie.

Die Hongaarse opstand is ook nougeset in Suid-Afrika gevolg, en ook dié land het vlugtelinge opgeneem. Nie almal was egter aan die opstandelinge se kant nie.

Kort ná die Sowjet-ingryping het die sosialistiese blad Liberation (bedryf deur lede van die ANC en die klandestiene SA Kommunistiese Party) die Brits-Franse militêre ingryping in die Suez-Kanaal – toevallig ook in November 1956 – met dié Sowjet-operasie in Hongarye vergelyk.

Eersgenoemde was volgens die ontleding ’n tipiese kapitalistiese “blatant aggression” van die “English and French imperialists” vir plundery – “[t]hey want to grab the Suez Canal”: “The British and French ruling classes are serving notice that the territories and resources which they seized by force, they intend to hold by force.”

Daarteenoor is die Sowjet-troepe in Hongarye in ooreenstemming met die volkereg. Die ingryping in dié land het slegs geskied toe die regering van premier Imre Nagy “unilaterally denounced the Warsaw Treaty and openly called for military aid from the West that Soviet troops again moved into action … and safeguard the fruits of twelve years socialist reconstruction … These acts cannot properly be described as ‘aggression’ …”

Die ANC self, wat destyds nog nie deur die SAKP oorheers is nie (dit sou eers later kom), het die inval wel flouerig afgekeur.

Mense waai Hongaarse vlae terwyl hulle na ‘n toespraak luister van premier Viktor Orban ter herdenking van die Hongarye-rewolusie . (Foto: Attila KISBENEDEK/AFP)

Die Sowjet-rol in Hongarye soos niks anders nie het nietemin die morele gesagsposisie wat die land weens sy rol in die oorwinning oor Nazi-Duitsland gespeel het, ondergrawe. Selfs taamlik linksgesinde sosialistiese groepe in die Weste het skerp kritiek oor die Sowjetunie uitgespreek, en regdeur die Koue Oorlog het sulke sosiaal-demokratiese partye groot ideologiese afstand tussen hulle en Moskou gehandhaaf.

Intussen was die gebeure van 1956 ook ’n groot inspirasie vir diegene wat die Sowjet-juk in 1989 afgewerp het. Tog, meen Ferenc Laczó, Hongaarse historikus, het “geen enkele vertolking daarvan kanonieke status” in die land bereik nie. Fidesz, die regs-populistiese regerende party, het ’n reeks “onthou”-gebeurtenisse georganiseer, maar dit het “min met kundiges se besprekings” te make gehad; eerder met “minimale vlakke van feitelike inligting en eksplisiete historiese dosisse van visuele, hoorbare en uiteindelik emosionele manipulasie”.

Met ander woorde, die regering probeer sy eie beeld by die bevolking bevoordeel. Nou ja, dis maar soos die politiek is.

Nietemin, skryf Laczó verder, kan die herdenking van 1956 “onbedoelde gevolge” vir die huidige maghebbers hê. Dit kan op ’n proses uitloop “wat nie regse hegemonie bevorder nie, maar her-demokratisering aanhelp. Die ideale van 1956 het dalk nie getriomfeer nie, maar dit maak dié revolusie vandag slegs nog meer van toepassing as ’n bron van inspirasie”.

Die gesprek duur voort.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andrew ·

As n ou uit Nederland oor vry regte praat tussen om hom nie aan te steek nie, teen my regte om nie geeent te word nie, het Maroel ook duidelik n agende deur geen kommentaar toe te laat nie. Nou lewer ek maar hier kommentaar. Kan ons bewyse van jou stelling kry “Feit is immers dat die oningeëntes steeds ’n gevaar vir die openbare gesondheidsituasie inhou”. Jy is dan geeent, so waarvoor is jy bang? En omdat jy dit stel as feit beteken dit nie die maan is pienk nie. My gesonde verstand sê vir my nog altyd om anders as jy te wees ou Leopold, genoeg Jack’s of no trade in die wêreld wat breinloos agter die CNN’s en obama’s aanhardloop. Of is die wêreld plat omdat jy so sê?

Vrijburger ·

Hoor-hoor!

Graag sal ek Maroela Media se verduideliking wil hoor waarom die besluit om geen kommentaar toe te laat nie?

annie ·

… die storielyn skop af… Rusland is die boef en die Weste die held. Ons wag… want onlangs was Hongarye weer vriende met Rusland en kwaad vir Duitsland wat weer alles wil oorheers. Geskiedskrywing is nie vir sussies nie…

Jaco ·

Net vir bietjie perspektief: Ferenc Laczó is ‘n linkse historikus by die Universiteit van Maastricht in Nederland. Hy woon nie meer in Hongarye nie en teiken voortdurend die regering van Viktor Orban. Die gebruik van Laczó in hierdie artikel toon die skrywer se eie vooroordele. Lees gerus ook die uitgebreide skryfwerk van die briljante Amerikaanse konserwatiewe skrywer Rod Dreher die afgelope paar weke op die American Conservative oor die Hongaarse Revolusie. Dreher het die afgelope jaar etlike maande in Hongarye deurgebring en het goed nagevorsde artikels oor die Hongaarse geskiedenis, die huidige politieke bedeling daar en natuurlik die 1956-revolusie geskryf. Die verwysing na Viktor Orban se Fidesz as ‘regs populisties’is tipiese linkse propaganda en kan nie deur konkrete bewyse gestaaf word nie. Erken ‘n slag die ongekende ekonomiese sukses en stabiliteit wat Fidesz die afgelope meer as ‘n dekade na Hongarye gebring het.

Rupert Ashford ·

Ek het nogal die stuk geniet totdat ek by die laaste paragraaf uitgekom het waar Fidez aangeval word. Die establishment media en linkse akademici kan nie meer wegkruip agter sg “geleerdheid” of skyn fatsoenlikheid in hierdie tyd van vrye toegang tot inligting nie. Die verbruikers van nuus en menings kan deesdae baie vinnig uitvind waarvoor mense regtig staan en dienooreenkomstig waarde heg aan stukke wat geskryf word. Dit blyk die akademici en MSM te ontgaan dat bewegings soos Fidez juis aan bewind kom omdat Jan Alleman voel hulle word aan die neus rondgelei deur spelers wat voorgee om hulle leiers en vriende te wees, maar inderwaarheid alles behalwe dit is. Die Keiser van die Akademici en MSM is kaal. Ons sien dit nou ook in die VSA waar mense begin besef hoe hulle gemanipuleer is in 2020 en begin reageer soos in Virginia.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.