Rewolusie van die ‘rykes’

Flip Buys, voorsitter van die Solidartiteit Beweging. (Foto: René Roux)

Die ANC regverdig hul beleid van radikale transformasie, oftewel sosialisme, gewoonlik deur te waarsku dat die alternatief ’n rewolusie van die armes is. Hulle voer dan aan dat die talle diensleweringsprotesaksies ’n bewys is van die ongeduld van die armes weens die stadige pas van herverdeling.

Wat die ANC natuurlik verswyg, is dat dit juis hul eie sosialisme is wat hul kiesers verarm, en dit hul eie wanbestuur van dienste is wat die armes strate toe dryf. Die armes is kwater vir die vrot regering as vir die (wit) rykes, omdat hulle elke dag sien wié hul verarm.

Dit is beslis so dat opstande deur arm massas ’n groot gevaar vir die land inhou, veral met die verswakkende ekonomie en die leë staatskas. Daar is egter een groter gevaar as ’n rewolusie van die armes, en dis ’n rewolusie van die rykes. Met “rykes” word hier nie die handvol miljardêrs bedoel nie, maar gewone middelklasmense met ’n kwalifikasie, ’n huisverband en ’n mediese fonds. Hierdie middelklas is volgens sosialiste deel van die rykes – veral as hulle wit is.

Die geruislose rewolusie

Rykes se rewolusies verskil hemelsbreed van die rewolusies van armes. Dit behels nie lawaaierige opstande, vurige toesprake, dreigemente en geweld nie. Dis ’n stille en geruislose rewolusie, maar dit is baie meer verwoestend as ’n atoombom. Dit skiet nie stede plat wat net weer opgebou kan word nie. Dit vernietig lande permanent.

Dit neem verskeie vorme aan, omdat die rykes baie meer wapens as klippe en brandbomme in hul arsenaal het. Dit word nie van stapel gestuur met ’n harde kanonskoot nie. Dit begin saggies met ’n gedagte in rykes se koppe dat hulle vertroue in die ANC-regering verloor. Die volgende stap is dat die rykes nie hul spaargeld belê in sakeondernemings wat werk skep en belasting aan die regering betaal nie. Beleggings word oorsee geneem, wat dáár werk skep en belasting betaal. ’n Staking van rykes (se beleggings) het ’n baie dodeliker uitwerking as stakings deur armes. Sonder beleggings is daar nie werk nie, en sterf werkloses en hul kinders uiteindelik van honger soos in Zimbabwe.

Rykes verminder personeel of neem minder mense in diens. Hulle betaal so min belasting moontlik. Hulle koop minder, en die laer besteding lei tot rampspoedige gevolge verder af in die verskaffingsketting soos fabrieke wat minder produseer en mense moet afdank.

Landverlating

Sodra rykes voel dat die land hulle “verlaat” het, begin hulle die land verlaat. Hul vat hul vaardighede, toekomstige belasting en werkskeppingsvermoë saam. Die land verloor ook die dekade lange belegging wat in hul onderwys en opleiding gemaak is. Die rewolusie van die rykes lê nie in die toekoms nie; dit woed reeds – stil, maar vernietigend. Suid-Afrika is reeds die grootste uitvoerder van werkskeppers, kundigheid en belastingbetalers. Dis ’n dubbele slag: die staat se inkomste neem af, en die uitgawes aan die armes se welsyn neem toe. Uiteindelik stort die staat in duie, sonder genoeg kundigheid en geld om ’n moderne land te bedryf.

Die rykes hoef nie net landuit te trek om die armes te verslaan nie, hulle kan ook inwaarts emigreer deur net vir hulself en vir mekaar te sorg. Hulle migreer bloot binnelands verder weg van die armes, en belê net in hulself en hul gemeenskap. Hulle verskans hulself teen die staat deur privatisering, tegnologie, deur finansieel te emigreer, aan die buitelandse ekonomie deel te neem, by gemeenskapsorganisasies betrokke te raak, en in veiligheidsbuurte te bly. Die onuitgesproke Orwelliaanse slagkreet van hierdie ryk rewolusie is dat lewenslange ANC-kiesers nie slagoffers is nie, maar medepligtiges wat die gevolge van hul keuse moet dra.

Daar is net een manier om hierdie dodelike rewolusie van die rykes te keer. Regerings moet die middelklas behandel soos kliënte wat behou moet word, en nie soos onderdane wat verdruk voel nie. Die omstandighede sal geskep moet word om “rykes” tevrede te hou.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Heinrich

Ja Flip, ‘common sense’ is nie vir almal ‘common sense’ nie; daar is niemand se blind soos hy wat nie wil sien nie. Die regerendes van vandag kyk so vas aan die ‘revolusie’ dat hulle nie die eindresultaat kan voorsien nie. Dit herinner aan die staaltjie: Die vryheidsvegter sit in sy hut toe die ligte aangaan en die water begin loop. Oombliklik gryp hy sy wapens en skree: Val aan, die kolonialiste is terug!

Kosie

Ja, ek glo ook as ‘n land se regeerders wys is, sal hulle dit so gunstig moontlik maak vir die middelklas, want hulle is die wat die land uitbou en opbou. Die ryke het baie “kundiges” wat hom kan help om sy geld uit die land te kry en belasting te ontduik. Ek is ook van mening dat rykes se lojaliteit bitter selde is by die land wat hom die geleentheid/opleiding gegee het om sy rykdom te verkry. Die arme, weer aan die ander kant, betaal amper nie belasting nie en is in baie gevalle ‘n netto ontvanger van belasting.… Lees meer »

Stefan

Dis alles waar maar ek is oortuig ons huidige regering wil dit nie sien nie.

Kokerboom

Puik artikel Flip. Baie dankie

Snowball

Goeie skrywe. Sosialisme, waar die middeklas ‘n gedurig groeiende las armes moet finansier, sal net tydelik werk, dan sál daar ‘n opstand wees deur dié wat aldeur moet opdok en so droog die geld op en die arme (wat meeste van die tyd net as stemvee dien) het helaas weens sy afhanklikheid van die staat nog steeds nie geleer dat die beste helpende hand aan die einde van sy eie arm sit nie. Uitgediende ideologië, nagejaag deur kortsigtige politici dryf nie ‘n ekonomie nie en dit skep nie werk of welvaart nie. Vandag is daar net twee soorte oud -Zimbabwiërs,… Lees meer »