Rex Tillerson se blitsbesoek aan Afrikastate: Wat kan ons hieruit wys word?

Rex-Tillerson

Rex Tillerson, die afgedankte Amerikaanse minister van buitelandse sake. Foto: IIP Photo Archive/Flickr.com

Deur Prof. Theo Neethling

Die afgedankte Amerikaanse minister van buitelandse sake, Rex Tillerson, se weeklange besoek namens die Trump-administrasie aan vyf Afrikastate het onlangs ietwat stomp geëindig toe Tillerson een dag vroeër as verwag uit Nigerië teruggekeer het na die VSA. Hiermee is verskeie afsprake in die Wes-Afrikaanse oliereus gekanselleer. Daarby het Tillerson ook van sy afsprake in Kenia gekanselleer vanweë ongesteldheid.

Die vraag is waarom Tillerson Suid-Afrika nie op sy lys van besoekpunte gehad het nie. Suid-Afrika is tog die mees gesofistikeerde ekonomie op die vasteland. Voordat die antwoord op dié vraag duidelik gemaak word, moet die volgende sake eers in oorweging geneem word. Kort voor sy besoek het Tillerson aan Afrikaleiers geskryf dat die VSA “sy vennootskappe en waardes wat dié land met die Afrika-unie en sy ledestate asook mense reg oor die kontinent deel”, wou herbevestig. Wat dit betref, kon die VSA immers aansluiting gesoek het by die nuwe Suid-Afrikaanse staatshoof, pres. Cyril Ramaphosa, wat op ʼn heel ander vlak as sy voorganger vir Tillerson ʼn diplomatieke gespreksgenoot sal wees.

ʼn Kortpad na die antwoord op die vraag aangaande Suid-Afrika is dat die verkose besoekpunte, naamlik Etiopië, Djiboeti, Kenia, Tsjad en Nigerië almal op een of ander wyse vir die VSA van strategiese belang is rondom die VSA se verklaarde stryd teen internasionale terrorisme of terreurgroepe. Dit gaan dus hier oor onstabiliteit in dele van Afrika wat vir die VSA van wyer politieke en ekonomiese belang is en wat indruis teen Amerikaanse globale strategiese belange.

Wat die genoemde vyf Afrikastate betref, is Etiopië natuurlik die hoofsetel van die Afrika-unie en kan as Afrika se diplomatieke hoofstad bestempel word. Daarby speel Etiopië saam met Kenia sleutelrolle in die stryd teen die terreurgroep, al-Shabaab, wat hoofsaaklik vanuit Somaliese grondgebied opereer en vir groot onstabiliteit in Oos-Afrika verantwoordelik is. Djiboeti, daardie piepklein landjie aan die ooskus van Afrika, wat amper soos Swaziland hier by ons, grootliks deur Ethiopië omsluit word, is slegs vir een rede van groot belang. Dit hou naamlik verband met die feit dat die enigste Amerikaanse militêre basis op die vasteland van Afrika daar ingerig is. In dié verband is dit vir die VSA van groot strategiese belang om die besige maritieme handelsroetes in die Golf van Aden en rondom die Somaliese Horing van Afrika vir skeepsverkeer oop te hou en Somaliese seerowers onder beheer te hou. Boonop is daar in die afgelope tyd ook ʼn Chinese militêre basis in Djiboeti gevestig. In Wes-Afrika is Nigerië en Tsjad bo-aan die lys van Afrikastate wat deur Boko Haran se bloedvergieting geraak word en wat uit ʼn Amerikaanse oogpunt sleutelstate is in teen-terreuroperasies teen dié terreurgroep. Daarby is Nigerië as groot olieprodusent ʼn uiters belangrike handelsvennoot van die VSA.

Daar is egter ook ʼn ander rede waarom Tillerson ʼn besoek aan Afrika onderneem het. Ondanks die onlangse uiters ondiplomatiese en neerhalende opmerkings van pres. Donald Trump oor Afrikastate en ten spyte van besnoeiings aan beskikbare befondsing ingevolge waarvan hulp en diplomatieke bystand aan Afrikastate ingekort word, is Afrika nie vir die VSA onbelangrik nie. Dit het naamlik te make met die groeiende Chinese profiel in Afrika op diplomatieke, ekonomiese en handelsgebiede. Afrika is immers ryk aan grondstowwe en dit is waar China as opkomende supermoondheid en belangrike handelsvennoot van Afrika al sterker in die prentjie is. Daarby het die Chinese voetspoor in Afrika algaande dieper geword met groot infrastrukturele hulpprojekte wat Beijing in etlike Afrikastate van stapel gestuur het. Soos bekend, is selfs die bou van die Afrika-unie se hoofkwartier in Addis Abeba vanuit Beijing onderneem.

Die Amerikaanse bekommernis oor die Chinese invloed is duidelik te bespeur uit opmerkings wat gemaak is deur Tillerson rondom kritiek op lenings teen lae rentekoerse wat China sou gebruik om Afrikastate in die skuld te dompel. Hieroor was Tillerson skerp uitgesproke en die Chinese is behoorlik gekasty as sou hulle verarming en armoede op die vasteland van Afrika doelbewus bevorder, ofskoon hy darem ook erkenning moes gee aan infrastrukturele hulpprojekte vanuit Beijing aan Afrikastate.

Hoe dinge ook al staan, daar is ongetwyfeld kommer in die VSA oor die groeiende Chinese profiel in Afrika en dit staan voorts teen die agtergrond van vergelykbare investering in Afrika. In Etiopië, byvoorbeeld, staan die VSA se beleggings op $567 miljoen wat kleinerig vertoon teen die Chinese beleggings wat rondom $15 miljard is. Dit is sake soos hierdie wat ʼn verklaring gee vir Tillerson se uitspraak dat “om te verstaan waarheen die wêreld op pad is, moet ʼn mens begryp dat Afrika die toekoms is” – ʼn uitspraak wat in skerp teenstelling staan met Trump se onlangse neerbuigende uitsprake. Trouens, Tillerson het erkenning gegee aan die feit dat van die wêreld se vinnigste groeiende ekonomieë op die vasteland van Afrika is en dat ʼn kwart van die wêreld se bevolking en 30% van die beskikbare arbeidsmag teen 2030 na verwagting in Afrika sal wees. Om ʼn voet in die deur te hou, het Tillerson ook aangekondig dat die VSA ʼn bedrag van $533 miljoen in addisionele hulpverlening gaan skenk om om te sien na honger en ander hulpbehoewende mense in Afrika, veral in Ethiopië, Tsjad, Somalië en Suid-Soedan.

Wat Suid-Afrika betref, kan daar opgemerk word dat die land nie onbelangrik is vir die VSA nie, maar kom ook nie voor as ʼn Afrikastaat wat vir die VSA van die hoogste strategiese belang is nie. Trump het immers na ʼn jaar in die Withuis nog nie eens ʼn ambassadeur vir Suid-Afrika benoem nie en daarby was verhoudinge tussen die VSA en Suid-Afrika in die afgelope jare maar louwarm. Toegegee, Amerikaanse ambassadeurs moet ook vir verskeie ander Afrikastate benoem word en die verkiesing van ʼn nuwe Suid-Afrikaanse president is nog besig om in te sink, maar dit neem nie weg van die feit dat die VSA se internasionale stryd teen terreurgroepe soos al-Shabaab en Boko Haram, asook die Chinese invloed in Afrika bo-aan die lys was toe Rex Tillesron se besoek aan Afrika beplan is nie.

Wat Tillerson se besoek betref, was daar nie veel wat Afrikastate daaruit gekry het nie. Afrikastate weet trouens nog nie eens juis wat die VSA se beleid of vertrekpunte oor die kontinent is nie. Tillerson sélf was ook deurgaans uitgelewer aan die genade van sy wispelturige president wat hom enige dag kon vervang en sy geloofwaardigheid as hoofdiplomaat van sy president was gevolglik altyd ietwat problematies. Tog, na alles kan ʼn mens uit Tillerson se besoek wel agterkom dat politieke en diplomatieke besluitnemers in die VSA – soos voorheen – dit steeds as van strategiese belang ag om bondgenote in Afrika te vind in die internasionale stryd teen terreur. Daarby is dit duidelik dat daar ʼn besef is dat Afrika vanweë die groeiende Chinese invloed op die vasteland allermins geïgnoreer kan word.

  • Prof. Theo Neethling is hoof van die departement politieke studie en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

willie ·

Die prof het nagelaat om te verwys na die groot Amerikaanse lugmagbasis in Botswana!

Oom Piet ·

Weste, alte goed bewus van die groeiende bedreigings van BRICs se rasse ekonomiese groei, wie se “GDP-PPP” alreeds die van die Westerse Alliansie ewenaar, ook BRIC’s se 5 maal groter bevolkings bewapenings modernisering, asook BRIC’s se afkoop, opkoop en omkoop invloed verspreiding weswaarts, met Afrika die skeidslyn/eerste slagveld.
Aldus die lugmag oorheersende basisse in Botswana en Djiboti en in ag genome omringende see vanwaar vliegdek skepe kan oppereer om onverwags en volhoudend vernietigende grootskaalse lugaanvalle uit te voer.

Rex Tillerson het sy rieme styfgeloop omdat hy nie Westerse belange waarskuwend aggresief genoeg verteenwoordig het nie en boonop met $0,5 Biljoen teen $15 Biljoen van BRIC’s wou meeding. Leehand onwel huis toe en tjop, tjop afgedank.

Relatief piepklein voor op die wa RSA die perfekte aanvals teiken, aldus die onverwagte menseregte skendings waarsku skoot oor die boeg vanuit verste suid Westerse vennoot.

Ampie ·

Ek vermoed Pres Trump se ignorering van SA is juis vanwee die feit dat SA niks aan die VSA bied nie. Die ANC regime is nog altyd negatief en grootbek jeens die Amerikaners, hoekom sal Trump hom verwerdig om goeie verhoudinge met so land uit te bou? Daar is nie veel verdere potensiaal vir meer handel nie weens die sukkelende, sentraal-beheerde en sosialisties-kommunistiese beleid van die plaaslike regering.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.