Rhoda Kadalie: Lank leef Afrikaans!

afrikaans

Foto: pixabay.com

Die kwessie dat universiteite dit ernstig oorweeg om Afrikaans se vlam te blus ter wille van ’n minderheidsgroep Afrikastudente is nie net akademies kortsigtig nie, maar ook uiters neerbuigend teenoor swart mense. Taaluitwissing word uiteraard ontken onder die oëverblindery van parallelmedium-onderwys (PMO), maar ons weet wat met universiteite gebeur het waar PMO geïnstitusionaliseer is.

Die beginsel van moedertaal-onderrig maak sin wanneer die regering sy konstitusionele mandaat van gelyke ontwikkeling vir almal toepas. As dit in gebreke bly, moet ons kyk na wat met tweetaligheid onder apartheid gebeur het. Verpligte Afrikaans het onwetend (en onbepland) baie Suid-Afrikaners bemagtig om meertalig te wees, op ’n manier wat hulle ook bemagtig het om die taal van die heersende nasionale party téén hom te gebruik. Niks toon en onderstreep dit beter as die manier waarop Beyers Naude, Breyten Breytenbach, Jakes Gerwel en Allan Boesak Afrikaans teen die onderdrukker ingespan het nie.

Toe ek in die laerskool was, is ons in sowel Engels as Afrikaans onderrig, in een klas. Ons het nie gedink dit is vreemd nie, en vandag is tweetaligheid die norm vir baie wat maar teen wil en dank onderwys in albei tale moes sluk. Meer nog, diegene met ’n aanvoeling vir die aanleer van vreemde tale is aangemoedig om dit te doen. My grootste begeerte was dus om Latyn op skool te leer. Waarom? Omdat Latyn die taal van die geleerde groepe was, die prokureurs, advokate, dokters en klassici. In Europa het die meeste studente Latyn en Grieks as deel van hul akademiese loopbane bestudeer, veral in die regte, geneeskunde, letterkunde, en so meer. Ons werkersklas-ouers, wat na die Weste gekyk het vir inspirasie, het ons dus aangemoedig om groot te droom, en aspirasies om vreemde tale aan te pak was deel van die pad na selfs nog hoër onderwys.

Ek onthou hoe ek en my beste maat met mekaar in Latyn geskerts het by bushaltes op pad huis toe vanaf die skool, net om voor te gee dat ons ’n geheime taal het en “spesiaal” was. By UWK het ek my later vir Duits ingeskryf. Die klasse was vol en ek het dikwels jammer gevoel vir ons dosent. Sy het werk daarvan gemaak om elke student te leer ken, maar met ’n vol lesingsaal was dit regtig nie kinderspeletjies nie.

Met die samesmelting van die geesteswetenskappe in “programme” en die “kommodifisering” van akademici as’t ware as “handelsprodukte”, het vreemde tale onder een breë sambreel geval, wat elke taal van sy kenmerkende, spesiale vakdissipline-stempel beroof het. In daardie dae, toe ons gedink het dis eintlik ’n prestasie om nog ’n vreemde taal te bemeester, het ons ons mikpunte toegewyd nagestreef. Met die integrasie van departemente, het selfs Xhosa daaronder gely, die vraag na onderrig in vreemde tale het getaan, sodat Xhosa en ander Afrikatale vandag nêrens spesiaal is nie. Ek onthou, toe my eksman weg is by UWK het hy my pertinent vertel: “Ek wil nie meer swart studente (sluit swart, gekleurde en Indiërstudente in) onderrig wat nie belangstel in ‘der, die en das’ nie. Ek mors my tyd.” Die universiteit het ongelukkig sy misnoegdheid met vreemde tale gekweek en gekoester.

Die Duitse onderwysers wat ons in die 1970’s onderrig het, het die geesdrif waarmee ons Duits as vreemde taal omhels het, verwelkom en geniet. Ons het ingeskryf, wetend dat dit ’n nuwe wêreld vir ons sou ontsluit. En dit was ook so. Baie van ons wat Duits geleer het, het oorsee gereis om daardie taalvaardighede te oefen. Ons het wêreldburgers geword.

Daardie visekanseliers en rade wat, buig of bars, swart mense die studie van Afrikaans en al sy literêre en wetenskaplike kanons wil ontsê, ontneem willens en wetens ook ons kinders die voorreg om ’n taal te bestudeer wat gevorm is deur ’n mengelmoes van mense in Suid-Afrika. Hulle is mede-aandadig in die nasionale intelligensie-afskaling van die nasie. Afrikaans se invloede, ontwikkeling, digkuns, prosa, kruiskulturele en linguistieke invloede is so ryk dat ons eerder méér as minder kundigheid in ’n taal met so ’n fenomenale spoor behoort aan te moedig.  Een van my grootste teleurstellings is dat ek nooit Afrikaans akademies bemeester het nie, maar ek ken ’n goeie boek as ek een lees; ek ken ’n goeie gedig as ek een hoor; ek ken ’n uitstekende toespraak as ek een hoor; ek geniet die verwikkeldheid van Afrikaaps wanneer ek my vriende geselsies onder mekaar hoor uitruil, so poëties, uit die hart en treffend.

Dus, aan diegene wat ons universiteite bestuur, moenie dink dat julle swart mense ’n guns bewys deur die belangrikheid van Afrikaans te misken en af te skaal nie. Julle beroof ons van ’n belangrike intellektuele bate – ’n kanon uit eie bodem, tuisgekweek en buitengewoon. Ongeag tot watter mate julle instrumenteel mag wees in taalmoord, Afrikaans sal voortleef – desondanks júlle!

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Rhoda Kadalie

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Rhoda Kadalie is Uitvoerende direkteur by Impumelelo Innovations Award Trust.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

15 Kommentare

Theuns ·

Baie Baie Dankie Rhoda! Ek stem dat jy die nuwe” Openbare Beskermer, of dalk die nuwe President vir Suid Afrika word. Jy is ‘n ster! xxxx

JC ·

Rhoda, jy’s te oulik!
Afrikaaps, Afrikaans- sal nooit ly met jou entoesiasme en kundigheid nie!
Ja man, so ‘n bek moet mos nou jem kry hehe! Baie dankie vir alles wat jy doen en beteken vir Afrikaaps! Jy en Breyten moet NOOIT ophou veg nie vir ons taal nie!

Kobus ·

Dit is sulke mense soos Rhoda wat die vlam lewendig hou. Dit laat my ‘n traan af vee oor die opregtheid van haar skrywe. Familie van my (ek is wit) was, in die laat jare 70 en 80, nou by kleurling onderwys betrokke. Daar was baie sulke mense wat omgegee het en werklik ‘n verskil gemaak het, in teenstelling met die giftonge teen Afrikaans vandag en sekere onwaarhede wat nou verkondig word.

Theuns ·

Kobus ek is ook wit. Jou kommentaar wys dat daar min wit op swart rassisme is of dat ons hulle niks gun nie. Die Bruinmense behoort aan die Witmense en die Witmense aan die Bruinmense. Ons is mos maar almal op ‘n manier dieselfde en gemeng! Ons deel dieselfde Christenskap en onderwys standaarde. Daar is nog baie ander ooreenkomste tussen wit en bruin. Alhoewel die ANC/EFF/SAKP dit probeer wegsteek is die Bruinmense hulle teiken as hulle ontslae geraak het van die Witmense. Die liefde wat Rhoda uitstraal vir haar medemens en Afrikaans maak haar ‘n uitstekende rol model vir ons en ons jeug .

hans ·

Was ook in skool (voor 1994) waar Afrikaans en Engels sprekende kinders in een klas was in graad 11 en 12. Die Engels sprekende kinders het geweier om Afrikaans te praat en te ‘verstaan’ met die gevolg dat die klasse later net in Engels aangebied is. Daar was net die een skool in die dorp. Die Afrikaanse skoliere kon in Afrikaans eksamen afle.

Boela ·

Hans, jy bevestig wat ek al lank vermoed – enige Jan Rap en sy maat kan Engels praat, maar net slim mense kan Afrikaans praat!

Marius Nortje ·

Die onderdrukking van afrikaans het lank voor 1994 reeds begin. Ek was ‘n vakleerling by n groot staatsinstansie vanaf 1991, en reeds toe was die meeste van die opleidingsmodules slegs in engels geskryf, en klasse ook aangebied in engels, om die anderskleuriges te akkomodeer. Hoekom word daar nou so groot bohaai gemaak omdat universiteite dit nou skielik ook wil doen. Word mense in die ambag dan laer geag, of wat? Hoekom het julle almal julle monde nie al daardie tyd uitgespoel nie?

John ·

Dosisse Engels moet nou in elke kind/student se keel afgeforseer word, soos die spreekwoordelike kasterolie vir ‘n kwaal wat eintlik op ‘n ander plek broei en prut. Ons regering weet self nie waar die siekte se oorsprong le nie. Dit is erger as ‘n kanker want dit stem uit die diepste breinselle van gierige grypers van lande grondstowwe en inheemse rykdomme. SA is soos ‘n goue sieraad aan die kroon van die koning van die suide. Die mense in ons land moet gebuig word soos ‘n bos groen latte tot eenwording sodat die buit maklik opgeraap kan word. Engels was voorheen en is steeds een van die sterk doepa’s/mediums tot onderdanigheid en afhanklikheid.

Wonder maar net ·

In my skool loopbaan was daar ook n engelse klas en n afrikanse klas. Dit het gewerk. Ongelukkig wil die regering die wit en swart meng met net engels. Shame on you. Julle dwing julself af op ons skole wat eintlik engels en afrikaans is,maar jul het n agenda met net engels. Julle wil nie n engels en afrikanse skool he,sies vir julle selfsigtige optrede! Al die jare het dit gewerk met engels en afrikaans. Dit kan nog steeds werk,julle regering is net aspris en opsetlik! Shame,julle moet groot word!

Gerhard Burger ·

Skitterend gestel Rhoda! Baie dankie! Theuns, behalwe vir een punt verstaan ek jou kommentaar, en stem ek saam. Wat ek egter nie verstaan nie is die tweede sin waarin jy na Kobus se kommentaar verwys. Ek het beide ‘n paar keer gelees en verstaan nie jou opmerking maak nie. Tensy, dit is moontlik, ek Kobus verkeerd verstaan – of jou stelling. Hy het oa nie gesê of bedoel dat swartmense niks gegun word nie.

John ·

Van die bruinmense is afkomstig uit Maleisie asook ‘n kombinasie van swart- en witmense, asook swartmense en Indiers en ander kombinasies soos Portugese en swartmense, sedert eersgenoemde se besoeke aan Afrika tydens hul skeepsreise. Nie alle witmense is Kleurlinge nie, al word dit soms verkondig. Almal wat Afrikaans praat is nie Afrikaners nie. Nie alle Kleurlinge is Afrikaans nie. Baie Maleiers is Moslems en wil nie met wit Christene assosieer nie. Hierdie skeidslyne kan nie summier mee weggedoen word nie, net om Afrikaans se onthalwe nie. Om so te redeneer sal die Afrikaner/Boer binne ‘n paar jaar verswelg word en net Kleurlinge soos die Afro-American’s tot stand kom. Elkeen moet maar besluit hoe sy nasate moet lyk en heet en bid. Waarom bodder ons nog met Afrikaans. As almal eenders lyk en dink en dieselfde kultuur het sal ons ook een taal besig… Engels.

John ·

Rhoda is die regte persoon om as rektor van Akadenia aangestel te word. UP het ook ‘n kleurlingdame as rektor. Afrikaans floreer nou en geen probleme word ondervind nie. Ons Afrikaners moet geld skenk sodat al die agtergeblewens wat hulle naastenby by Afrikaans skaar gratis aan Akademia kan studeer. Ons moet handevat en mekaar dra, mense. Dit is tyd dat die susterskerke ook meer gekleurde broeders beroep en hul gemeentes oopgooi en almal omarm. Afrikaans is tog deur deur die gekleurdes in die Kaap ontwikkel en Afrikaans behoort na regte deur Kleurlinge doseer te word. Theuns en Kobus, mense soos julle is reg. Alle Afrikaners is ook Kleurlinge. Ons moet ophou met ons nonsens. Ek vermoed alle swartmense moet ook Kleurlinge wees, want hoe het Kleurlinge sonder hul toedoen dan ontstaan. Miskien het die nuwe wereldorde sy beslag in Suid-Afrika gekry, vandaar dat ons die liefling van die wereld genoem word. Orania se nuwe stad sal tot brekens toe ontwikkel as ons plan realiseer. Groot groei en ontwikkeling sal volg as eenwoording ons motto is. Steve Hofmeyr en FW de Klerk kan gerus ‘n slag vergader en ‘n nuwe visie sy beslag gee. Ons wag.

Patrys ·

Ja Rhoda, lank leef Afrikaans. Ek was 12 jaar betrokke by Onderwys in bruin skole. Dit was wonderlike jare. Ek het selfs ‘n leerling of 2 gehad wat ‘n onderskeiding in Afrikaans Eerste Taal losgeslaan het. Een van my oud-studente het vandag ‘n doktorsgraad in Afrikaans en is ‘n dosent aan een van ons Universiteite! Liefde vir Afrikaans is diep gewortel in die Afrikaanses se wese in hierdie Suidland van ons. Mag dit vir altyd so bly!

Patrys ·

Dankie Rhoda. Lank leef Afrikaans in hierdie Suidland van ons. Ek was 12 jaar onderwyseres in Bruin onderwys en dit was wonderlike jare. Die Afrikaansleerlinge het Afrikaans geniet. Ons het toneelstukke van wyle prof Gerhard Beukus opgevoer, koor gesing en heerlike mondelinge klasse gehad. Met die matriekeindeksamen het die onderskeidings in Afrikaans Eerste Taal ook ‘n werklikheid geword. Een van my leerlinge is ook UWK toe en het later sy doktorsgraad in Afrikaans behaal en is vandag universiteitsdosent. Die Afrikaanses se liefde vir Afrikaans sal bly voortleef.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.