Rhoda Kadalie: van aktivis tot burgerlike ambassadeur

Hierdie is ‘n verkorte en bygewerkte profiel wat Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, oor Rhoda Kadalie gedoen het en wat in 2013 in sy boek, Regstellende Trane, verskyn het. 

rhoda-kadalie-2019-01-28

Rhoda Kadalie. Foto: Verskaf.

Rhoda Kadalie het ʼn hoendertoebroodjie vir my bestel en ek sit oorkant haar in haar kantoor in Kaapstad, so ʼn klipgooi van die parlement af. Sy laat my dadelik tuis voel.

Maar ek sukkel om haar te plaas. Die een oomblik sien ek die harde aktivis, oupa Clements se kleinkind, dan hoor ek weer ʼn sagte omgeekant, die dominee se kind. Skielik hardloop ʼn oulike krulkopdogtertjie die kantoor binne. Rhoda praat mooi met haar, amper soos ʼn pastoriemoeder. Dit is wat hierdie vrou so merkwaardig maak: sy is ʼn ryk geskakeerde mens.

ʼn Mens met vele fasette. Oupa Clements was ʼn Afrikaan wat in Njassaland (vandag Malawi) gebore is. Hy trou met Mollie, ʼn Kaaps-Maleise vrou. Rhoda se pa, Fenner Christian Kadalie, is met ʼn bruin werkersklasvrou, Joan Francis, met wit voorsate getroud, en Rhoda self trou met ʼn wit Duitssprekende Suid-Afrikaner, Richard Bertelsmann.

“Dis hoekom ek nie die nonsens vat nie,” sê Rhoda, amper driftig. “Ek is in alle opsigte nie-rassig.”

Die onderhoud met haar het in fases plaasgevind: eers was dit met Rhoda die deernisvolle familiemens, toe het Rhoda die passievolle aktivis oorgeneem, en nog later was Rhoda die emigrant aan die woord. En dalk sal ek eendag die geleentheid kry om met Rhoda, Suid-Afrika se burgerlike ambassadeur in Amerika, te gesels.

Om Rhoda te verstaan, moet jy haar storie verstaan.

“Vertel my van jou oupa,” begin ek die onderhoud en van toe af loop die onderhoud vanself.

Clements Kadalie se geboortedatum is onbekend, maar hy is op Paassondag in 1896 in die dorpie Chifira gedoop; dis naby die Bandawe-sendingstasie in die voormalige Njassaland geleë.

“Hy is oorlede ʼn jaar voor ek gebore is, maar hulle sê ek is nes hy.”

Clements was ʼn produk van die Church of Scotland se sendingonderwys. Hy het ʼn onderwyserskwalifikasie voltooi en het ʼn kort rukkie skoolgegee voor hy en ander Njassalanders in 1915 na Suid-Afrika gekom het om ʼn nuwe lewe te begin.

Clements Kadalie was ʼn aktivis en het in Desember 1919 bekendheid verwerf as organiseerder van die suksesvolle dokwerkerstaking in die Suid-Afrikaanse uitvoerbedryf. Meer as 2 000 dokwerkers het aan die staking deelgeneem.

Die Industrial and Commercial Union (ICU) het tot ʼn vakbond van 100 000 gegroei, een van die grootstes op die vasteland.

“In my grootwordjare het ek niks van my oupa geweet nie, want my pa het nie oor hom gepraat nie. Ek het by ʼn baie radikale skool skoolgegaan en op ʼn dag sê een van die onderwysers: ‘Vir die mondelinge eksamen gaan Rhoda oor haar oupa praat.’ En ek vra toe: ‘Wat van my oupa?’ My skool het my van my oupa geleer.”

Oor haar predikant-pa sing Rhoda net lofliedere.

“Ons was nege kinders, sewe seuns en twee dogters. My pa was die wonderlikste pa in die hele wêreld. Hy het ons liefgehad en elke dag vir ons gebid. Hy was redelik konserwatief en hy’t niks van die linkse politiek gehou nie. Hy het ʼn sterk sosiale gewete gehad; hy het koerante gelees en was polities baie bewus, maar hy was ʼn uitgesproke antikommunis. Volgens hom was dit van die duiwel.”

Rhoda se ma, Joan, is ʼn vlytige vrou met ʼn goeie hart.

“My ma is ʼn bruin werkersklasvrou. Die een kant van haar familie was wit spoorwegmense. Sy was ʼn ware predikantsvrou. Sy was baie talentvol en intelligent, maar het nie ʼn goeie opleiding gehad nie. Sy doen egter pragtige handwerk wat sy teen haar mure uitstal.”

In haar studentedae was sy ʼn aktivis teen die apartheidstelsel, maar sy het tog ʼn interessante verhouding met konserwatiewe wit Afrikaners gehad.

“Ná skool is ek na die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK). Ek het eers by die Universiteit van Kaapstad aansoek gedoen, maar hulle het kwotas vir swart mense gehad. Daar was ʼn ander soort rassisme by hierdie liberale Engelse universiteite. Saam met my aansoek om vir fisioterapeut te studeer, moes ek ʼn foto van myself in swemklere aanheg. Ek het besluit dit is bedekte apartheid en het my aansoek teruggetrek.

“Ek het besluit om onder protes wel na UWK te gaan. Dit was die beste ding wat ek gedoen het. Dáár het ons leierskap geleer. En dit was baie interessant: ons lektore was konserwatiewe wit Afrikaners, maar hulle was lief vir ons. Van hierdie mense is steeds my vriende. Party is al oorlede, maar ons onthou mekaar se verjaarsdae.”

Op UWK het sy haar man, Richard Bertelsmann, ʼn wit Duitser, ontmoet.

Ek besluit om die gesprek in ʼn politieke rigting te stuur.

“Sien jy dat van die elemente waarteen jy geveg en gestry het in die nuwe stelsel herhaal word?” vra ek ʼn gelaaide vraag.

Rhoda skuif bietjie vorentoe in haar stoel. Haar uitdrukking word ernstig en wanneer sy weer begin praat, is dit Rhoda Kadalie, die aktivis.

“Ja, ek dink daar is probleme met die huidige stelsel. In 1994 het dit gegaan oor die aftakeling van apartheid. Dit was ʼn oorwinning, maar dieselfde mense wat destyds die ‘victors’ was, gedra hulle nou soos ‘villains’. Die apartheidsregering was in alle aspekte verkeerd, maar ek dink vandag se regering is in baie opsigte erger as die apartheidsregering.

“Die apartheidsregering het ʼn volkstrots gehad en hulle het instellings opgebou. Volkskas Bank, die universiteite, paaie, hospitale vir hulle eie mense. Die apartheidsregering wou ʼn nasie skep met ʼn infrastruktuur in ʼn land waarop hulle trots kon wees. Hoewel dit moeilik is om dit te erken, het ons as swart mense tog ʼn mate van voordeel getrek uit dit wat tot stand gekom het. Ek vind dit skokkend dat ons dit wat die apartheidsregering agtergelaat het, nou afbreek.

“As mense my vra of onderwys vandag slegter is as onder apartheid, dan sê ek ‘ja’. Apartheid het swak onderwys geskep, maar sedert 1994 het ons die geleentheid gehad om daarop te bou. Ons vaar swakker as Lesotho en Swaziland en ons is saam met Burundi en Jemen.

“Pleks dat ons gebruik gemaak het van wit Suid-Afrikaners wat hoogs opgelei was en gehelp bou het aan die land, het ons hulle uit die sisteem gerangeer. Ons het hulle vermoë om by te dra, weggeneem.

“Uit die 25 000 skole wat ons het, is slegs 5 000 funksioneel. Ek wyt dit toe aan regstellende aksie en die bevordering van ondergekwalifiseerde mense.

“In 1994 het die Grondwet ons almal gelyk gemaak. Hierdie land sal nooit regkom solank die minderhede uitgesluit word nie. En dis die minderhede wat die diversiteit uitmaak. Meerderheidsoorheersing is nie goed vir die demokrasie nie. Die Grondwet is juis opgestel om die regte van die individu en minderhede te beskerm.”

Wat regstellende aksie betref, bepleit Rhoda ʼn genuanseerde benadering – en nie bloot rassetellings nie.

“Wat saam met regstellende aksie gaan, is die verskaffing van gesondheidsdienste, onderwys en maatskaplike ontwikkeling. Hierdie konteks moet in ag geneem word as jy regstellende aksie toepas.

“Jy kan nie regstellende aksie klakkeloos toepas in ʼn land wat met sy onderwys 140ste uit 144 lande kom, waar 20 000 skole disfunksioneel is, waar mense in haglike omstandighede bly, en waar Nkandla – en nie Diepsloot nie – opgegradeer word.

“Dirk, as ʼn swart persoon in hierdie land wil ek nie bekend staan as ʼn regstellendeaksie-kandidaat nie. Mense aanvaar dan onmiddellik jy is minderwaardig. In openbare toesprake sê ek vir swart mense: ‘Weier om regstellendeaksie-kandidate genoem te word’.”

Sy voel sterk daaroor dat regstellende aksie mense hulle vermoë om selfkrities te wees, laat verloor. Mense aanvaar dan poste wat bó hulle vuurmaakplek is – tot nadeel van die individu, die organisasie en uiteindelik die land.

Dan vra ek die gewaagde vraag: “Gaan jy emigreer?”

“Jy mag nie daai vraag vra nie!”

Rhoda se dogter en skoonseun – albei Harvard-produkte – woon in Kalifornië. “Dit gaan baie goed met hulle,” sê sy. “En ja, ek verlang na my kleindogter.”

Rhoda Kadalie, kleindogter van Clements Kadalie, gaan egter nie bloot emigreer nie. Sy gaan in Amerika ʼn burgerlike ambassadeur vir geregtigheid in Suid-Afrika word. Met die groetslag het ek haar sterkte toegewens, maar die hartseer in haar teruggroet het my bygebly.

Intussen het Rhoda geëmigreer en tot haar dood was sy die harde aktivis met die omgeehart – ʼn burgerlike ambassadeur in die VSA.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Wat n vreeslike verlies vir die waarheid

Hennie Biebouw

Wat ‘n verlies. Rhoda was ‘n reus, onkrukbaar in haar waardes.

Innige meëgevoel aan al haar geliefdes.

marius

Sy was sterk en beginsel vas . Jammer .

Treurwilger

Werklik hartseernuus en ‘n reuseverlies, vir haar familie en almal wat haar insig en skryfwerk as ‘n ligpunt in vandag se wêreld beskou het. Ai, so onverwags.
(Uiters interessante stuk deur Dirk Hermann)