Rhodes: Twee kante van ‘n muntstuk

rhodes-standbeeld

Foto: Twitter

Verlede jaar se veldtog onder Suid-Afrikaanse studente, #RhodesMustFall, word op die oomblik in Brittanje geëggo. ʼn Veldtog woed daar onder studente aan die Universiteit van Oxford om die standbeeld van Cecil John Rhodes te verwyder.

Rhodes was ʼn rassis wat swartes as minderwaardig beskou het, word aangevoer. Sy aanklaers sê selfs hy was vir volksmoord in die latere Rhodesië verantwoordelik.

Laat ek begin deur te sê eintlik laat dit my koud of Rhodes se standbeeld in Oxford bly staan. Ek het ook geen standpunt gehad oor die vraag of hy op die kampus van die Universiteit van Kaapstad moes bly staan of verwyder word nie.

Rhodes was geen vriend van my mense, die Afrikaners, nie. Hy het om opportunistiese redes ʼn tyd lank ʼn bondgenootskap met die Afrikanerbond onder leiding van Onze Jan Hofmeyr aangegaan. Hy was gewillig om die Afrikaners, synde wit, as gelykes te aanvaar – mits hulle gewillig was om as instrumente van die Britse imperialisme aangewend te word.

Toe dit blyk hulle is nié gewillig nie, het hy gewetenloos ʼn imperialistiese oorlog teen die Boererepublieke aangestook. Hy was medeverantwoordelik vir die volksmoord op duisende Afrikanervroue en -kinders en swartes in konsentrasiekampe.

Op die keper beskou, kan daar geen twyfel wees dat Rhodes se rassehouding volgens huidige standaarde rassisties was nie. Soos Adolf Hitler ná hom, was Rhodes ʼn aanhanger van die sosiaal-Darwinisme, waarvolgens sommige rasse meerderwaardig was en bestem om ander te oorheers.

Reeds as jong man het hy in 1877 in ʼn stuk, Confession of Faith, geskryf “we are the finest race in the world and the more of the world we inhabit, the better it is for the human race.” Britse oorheersing kon slegs ʼn verbetering bring in die dele van die wêreld “at present inhabited by the most despicable specimens of human races”.

Waarom, het hy homself afgevra, “should we not form a secret society with but one object, the furtherance of the British empire and the bringing of the whole uncivilized world under British rule …?”

As volwasse man en eerste minister van die Kaapkolonie het hy die beperking van stemreg vir swartes só verdedig: “Now, I say the natives are like children. They are just emerging from barbarism. … it must be brought home to them that in future nine tenths of them will have to spend their lives in daily labour. … Treat the natives as a subject people as long as they continue in a state of barbarism and communal tenure; be the lords over them, and let them be a subject race and keep the liquor from them.”

Selfs die Kaapse koerant De Zuid-Afrikaan het sy rassehouding as meer ekstremisties as dié van die Afrikanerbond beskryf.

Dus: As mens bloot na die nugter feite kyk, is die aanklag van die studente in Kaapstad en Oxford teen Rhodes korrek. En as dít so is, moet jy jou afvra of Rhodes nie inderdaad maar moes val nie. Dis immers ondenkbaar dat – sê maar – die beroemde Humboldt-Universiteit in Berlyn ʼn standbeeld vir Adolf Hitler sou duld, of hoe?

In sy boek The Cult of Rhodes wys Paul Maylam hoe historici die imperialis oor die laaste dekades aansienlik kritieser benader, nadat die eerste dekades ná Rhodes se dood gekenmerk is deur verskeie hagiografieë waarin hy as ʼn goedaardige paternalis voorgestel is wat eintlik die swartes se belange op die hart gedra het.

Maar dit gezegd hebbende, daar is ook ʼn ander kant van die munt.

Sonder om maar een milligram van Rhodes se slegte kante weg te neem, was hy ook verantwoordelik vir die Rhodes-Trust, wat reg van die begin af – en dit nogal op sy voorskrif – geen onderskeid op grond van kleur of afkoms getref het nie. Etlike honderde, dalk duisende, swart studente het sedertdien in Oxford met Rhodes-beurse gestudeer.

Daarby was Rhodes in sy tyd geen uitsondering nie. Dit was ʼn tyd waarin Rudyard Kipling se gedig, “The White Man’s Burden”, groot byval in Europa ontlok het. Die groot Franse imperialis Jules Ferry het in ʼn toespraak in 1885 in die Nasionale Vergadering só gepraat: “Daar moet openlik gesê word dat die meerderwaardige rasse regte oor die minderwaardige rasse het.”

Die wittes wás toe maar so.

Bowendien, was Rhodes die enigste skurk in die geskiedenis?

ʼn Voorbeeld: In Parys lê Napoleon Bonaparte steeds in ʼn skitterende praalgraf in die pragtige Hôtel des Invalides begrawe. En tog was Napoleon volgens vandag se standaarde ʼn oorlogsugtige skurk, die eerste moderne diktator en die prototipe vir Adolf Hitler, Benito Mussolini, Josef Stalin en Mao Zedong.

Hy het honderdduisende mense vroegtydig die dood in gejaag. Maar hy het Frankryk en Europa ook ingrypend gemoderniseer.

In Suid-Afrika staan ʼn triomfantelike standbeeld van koning Shaka in Ulundi. Shaka, ʼn tydgenoot van Napoleon, was – volgens huidige insigte – net so ʼn oorlogsugtige skurk en imperialis as die Franse keiser. Maar, as die koms van die wittes na Kwazulu-Natal die ontwikkeling nie gestuit het nie, is die kans goed dat Shaka die omgewing ingrypend sou gemoderniseer het.

Iets soortgelyks geld vir koning Mzilikazi van die Ndebele, wat in die latere Transvaal en Rhodesië ʼn ware skrikbewind gevoer het. En tog word hy steeds wyd onder swartes as held beskou.

ʼn Strak swart-en-wit benadering bestaan eenvoudig nie in die geskiedenis nie. Wat wel bestaan, is verskillende skakerings van grys.

En dit, terloops, geld ook vir wanneer ʼn mens oor apartheid praat.

Ek het steeds geen standpunt oor Rhodes se standbeeld nie. Dit laat my steeds koud of hy bly of gly.

Wat my wel kan skeel, is dat daar op ʼn genuanseerde manier oor die geskiedenis gepraat word. En dit doen die studente in Kaapstad en Oxford nié.

Maar dalk moet ʼn mens hulle nie te veel verkwalik nie. Toe ek so oud soos hulle was, het ek ook alles geweet.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Realis ·

Het ek dit reg of nie? Europa en meer spesifiek Britanje, is die bakermat van rassisme. In Amerika van ouds het dit nie veel beter gegaan nie. Waarom word die wit ras in Afrika dan uitgehang om gekruisig te word as rassis? Onwillekeurig kom die woord “apartheid’ by mens op. Is dit waar ons gefouteer het deur ‘n naam aan die verskynsel te gee?

Sarie 2 ·

@ Realis. Dis beslis waar dinge verkeerd geloop het. Ek was nog baie jonk toe dit gebeur het, maar ek onthou hoe my oor-lede moeder gesê het: “Hierdie is ‘n gròòt fout! Diè man, krap noù waar dit niè jeuk nie!!!”

Ronnie ·

So waar Leopold: “Young people think old people are fools. Old people know young people are fools!”

Sarie ·

Dankie vir ‘n nugter siening oor die verloop van die geskiedenis.

DPJ ·

Ek stem vir die nugter benadering toe die geskiedenis en bekend steling aan die waarheid. Sl is die leun hoe snel die waarheid agtehaaal hon wel.

Adriaan ·

Stem grootliks met artikel saam en bevestig daarmee my eie uitgangspunt dat ons selektiewe lesers, hoorders, denkers, praters, ens. is, dus bloot terug by die grondbeginsel van menswees: is die vrug wat my voorgehou word mooi om na te kyk en lokkend om aan te proe en moeite werd om te deel. Niks verander nie, was dit nie Churchill wat gesê het: al wat ons uit die geskiedenis leer is dat ons niks uit die geskiedenis leer nie!

Ampie ·

Net twee opmerkings: Rhodes en ander soos Alfred Milner het die Britte as ‘n verkore ras beskou. Beter as die Duitse of Franse ras of enige ander. Daarteenoor het hulle die Boere as agterlike takhare beskou. Dit is natuurlik omdat die klein eilandjie omtrent oor ‘n derde van die wêreld geheers het. Dis seker en of ander prestasie.
Ek is nie heeltemal seker wat die skrywer bedoel sou Tsjaka in Natal gemoderniseer het nie? As bedoel word hy sou paaie, geboue en ander infrastruktuur opgerig het, is dit eintlik lagwekkend. Hy het wel oorlog en mag verstaan. Dit het soos vele Afrika despote sy einde beteken. Hy is deur sy eie broers vermoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.