Rob Davies se aanslag op welsyn

Die ANC sê graag een ding en doen dan iets anders. Hulle prys nie-rassigheid, maar moedig segregasie aan. Hulle maak of hulle swart persone bemagting, maar ontmagtig hulle. Die mees onlangse teenproduktiewe stap is van Rob Davies, minister van handel en nywerheid, wat so vasberade is om segregasie aan te moedig, dat hy swart persone wat nie oor integrasie omgee nie gaan penaliseer.

rob_davies

Rob Davies, minister van handel en nywerheid.

Op 5 Oktober 2012 het Davies nuwe Breë-basis Swart Ekonomiese Bemagtigingskodes (BSEB) vir kommentaar gepubliseer. Kragtens die 2003 BSEB-wet, stel hy hierdie kodes, wat bepaal hoe maatskappye BSEB-punte verdien, vas. In die nuwe kodes word die formule, vir hoe maatskappye se maatskaplik-ekonomiese ontwikkelingsbesteding (MEO) beloon word, aangepas. Voortaan sal om enigiets anders as “slegs nie-blankes” te wees welsynsorganisasies selfs meer as voorheen kos.

Die meganisme werk basies so: afhangende van hoeveel van ʼn maatskappy se MEO na swart ontvangers (wit mense en nie-burgers word uitgesluit) gaan, kan so ʼn maatskappy enigiets van 0 tot 5 BSEB-punte verdien. Hoe minder die wit en nie-burger bevoordeeldes, hoe meer is die BSEB-punte. Die punte word hieronder uitgewerk.

Die hoofrede waarom maatskappye BSEB-punte wil hê, is sodat hulle nie sakegeleenthede misloop nie. Die sleutel tot die invloed van die BSEB-wet is die kettingreaksie wat dit op die Suid-Afrikaanse ekonomie afforseer, ingevolge waarvan elkeen probeer om so min as moontlik sake met nie-BSEB-maatskappye te doen, omdat dit hul eie BSEB-telling negatief sal beïnvloed.

MEO-besteding is een van die makliker wyses om BSEB-punte te bekom. Ander maniere om BSEB-punte te verdien, soos om gedeeltelike eienaarskap van ʼn maatskappy af te staan of om bekostigbare, gekwalifiseerde swart kandidate vir bestuursposisies te vind, is veel moeiliker. Aangesien die 5 punte wat met MEO-besteding verdien kan word die verskil tussen ʼn winsgewende en kliëntlose sake-onderneming kan beteken, is dit baie belangrik om hulle te bekom.

Ingevolge die huidige kodes, verdien maatskappye se MEO-besteding BSEB-punte relatief tot ʼn 75% swart bevoordeeldes-drempel. As die bevoordeeldes tussen 75% en 100% swart is, verdien die maatskappy die volle 5 punte. As swart bevoordeeldes minder as 75% van die totaal betref, ontvang die maatskappy ʼn pro rata aantal punte.

Ingevolge die voorgestelde kodes is die penalisasie veel hewiger. Die drempel word van 75% tot 100% gelig en die pro rate bepaling word geskrap. Dit beteken dat as daar maar selfs net een wit of nie-burger bevoordeelde is, dan verdien die skenker 0 punte. Slegs as die bevoordeeldes 100% swart is, sal die skenker enige punte verdien – en dit is dan ook die volle 5 punte. Dit is dus óf 0 óf 5 punte.

Nietemin, in twee persverklarings sedert die publikasie van die nuwe kodes, het die departement van handel en nywerheid (DHN) ontken dat bogenoemde die geval is. Volgens Sidwell Medupe, woordvoerder: “the department has received feedback expressing alarm that some charitable organisations and beneficiaries will lose benefits associated with the current version of the BEE Codes.  This is not true.”

“The principle in the proposed BEE SED element still remains the same except the target has been adjusted to 100% as we are cognizant of the intended objectives of BEE.However, if less than 100% of the full value of the SED contributions directly benefits black people, the value of the contribution made multiplied by the percentage that benefits black people, is recognisable. (sic)”

Hierdie halfhartige terugkrabbelry is egter allesbehalwe oortuigend. Medupe is of oneerlik, of die DHN is so onbeholpe dat dit nie die ooglopende implikasies van sy eie getallespeletjie insien nie.

Op bladsy 56 van die voorgestelde kodes word die 75%-drempel helder en duidelik met die 100%-drempel vervang (artikel 3.2.2) en die pro rata-bepaling (artikel 3.2.3) ondubbelsinnig geskrap.

Maar laat ons nou onnodig welwillend wees en vir die oomblik aanvaar dat die DHN – asook die kabinet, wat hul stempel van goedkeuring op die ongelukkige dokument geplaas het – nie bedoel het om die pro rata-bepaling te skrap nie. Laat ons glo dat hulle alleenlik bedoel het om die swart bevoordeelde-drempel van 75% na 100% te verhoog, en nie ook om die pro rata-bepaling te skrap nie. Los dit die probleem op? Nee.

Om die waarheid te sê, Medupe se enigste prestasie met die persverklaring is om te bevestig hoe min die DHN van sy eie maatskaplike ingenieurswese verstaan. In die tabel hieronder word die effek van die huidige, nuwe en hersiene nuwe kodes vergelyk.

Rob Davies BSEB

Selfs ingevolge die hersiene nuwe kodes, is skenkings aan die welsynsorganisasie met 62% swart bevoordeeldes nou slegs 3,1 punte werd, terwyl dit voorheen 4,1 punte werd was. Terwyl organisasies met 75% of meer swart bevoordeeldes nie per wit en per nie-burger bevoordeelde gepenaliseer was nie, sal dit voortaan vanaf die eerste geval al inkrementeel geld. Skenkers sal eenvoudig nie dieselfde aantal BSEB-punte vir skenkings aan nie-rassige welsynsorganisasies as voorheen ontvang nie.Anders as wat Medupe die publiek wil laat glo, is dit inderwaarheid wél so dat ingevolge die voorgestelde kodes “charitable organisations and beneficiaries will lose benefits associated with the current version of the BEE Codes.”

Selfs meer treffend, is hoe Medupe en die DHN skynbaar nie besef, of omgee, dat die einste mense wat hulle na bewering wil bystaan juis benadeel word nie. Die organisasie met 62% swart bevoordeeldes gaan nie 62% van die skenkings, wat dit normaalweg vir BSEB-doeleindes sou ontvang, ontvang nie. Dit sal voortaan eerder 0% ontvang.

Wat waarskynlik sal gebeur is dat BSEB-punte sal vloei na daardie welsynsorganisasies met naby ʼn 100% swart bevoordeeldes. Waarom sal ʼn maatskappy geld aan ʼn welsynsorganisasie wat slegs 3,1 punte, in plaas van 4,1 punte, beteken skenk – selfs al het die organisasie 62% swart bevoordeeldes – wanneer die skenker 4,75 punte kan verdien by ʼn 95% swart organisasies? Daar sal nie ʼn eweredige verspreiding van skenkings wees nie, omdat elke maatskappy sal probeer om sy eie BSEB-telling so hoog as moontlik te kry deur skenkings aan organisasies wat slegs swart, of byna slegs swart, is te doen.

Die Rob Davies aansporingskema vir welsynsorganisasies is duidelik: verlaag die persentasie wit en nie-burger bevoordeeldes tot so na aan nul as moontlik. Rob Davies beplan om alle persone – swart, bruin, indiër, wit en nie-burgers – wat by nie-rassige welsynsorganisasies baat, te penaliseer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.