Robert Mugabe: Roudiens of feesvieringe?

Robert Mugabe. Foto: ANA

Deur Mike Burnard van InContext International

Robert Mugabe, voormalige Zimbabwiese president, is op Vrydag 6 September 2019 in die ouderdom van 95 in Singapoer oorlede. Hoewel hy dikwels as waansinnig bestempel is, was hy besonder intelligent en dié wat hom onderskat het, moes dit dikwels ten koste van hulself uitvind.

Mugabe, die “Christen”

In The Economist van 20 November 2017 is daar ʼn skrywe wat handel oor waarskynlik die grootste teenstrydigheid in Mugabe se lewe: die impak van godsdiens in sy lewe.

Volgens The Economist het die Christelike godsdiens, veral die Katolieke gemeenskap wat bekendstaan as die Jesuïeteorde, oftewel die Genootskap van Jesus, sy jeugjare gedefinieer. Daar word ook spesifiek melding gemaak van wyle Heidi Holland, ʼn joernalis wat ʼn onderhoud met Mugabe gevoer het vir haar boek Dinner With Mugabe.

Volgens haar het Mugabe sy kinderjare in ʼn Katolieke sendingstasie en in absolute godvresendheid deurgebring.

Mugabe was baie jonk toe sy pa hul gesin verlaat het en sy oudste broer, toe nog maar ʼn tiener, dood is. Sy ma, ontnugter en bedroef, het waarskynlik troos gesoek in die kerk en die jong Robert elke Sondag saam met haar na die altaardiens geneem. Priester Jerome O’Hea, ʼn Jesuiët van Ierse afkoms, het Robert as een van sy gunstelingleerders beskou. Beide die priester en sy ma het Robert, ʼn alleenloper en boekwurm, aangespoor om te droom van ʼn groot toekoms en terselfdertyd die sedewette van Katolieke godsdienstigheid by hom ingedril.

Mugabe se lewenslange vertroueling, priester Fidelis Mukonori (wat Mugabe goed leer ken het tydens die guerrillaveldtog wat die einde van wit heerskappy beteken het), het onlangs met oortuiging beweer dat “Mugabe se geloof en sy gewoonte om sy bidsnoer te gebruik, hom gehelp het gedurende die jare toe hy ʼn rebelse weermag gelei het.”

Hoe dit ook al sy, ʼn groot deel van Mugabe se lewe – onder meer die feit dat hy ʼn verhouding met ʼn veel jonger vrou aangeknoop het terwyl sy eerste vrou baie siek was – het nie gestrook met bewerings dat hy ʼn toegewyde Katoliek was nie. Sy geopolitieke vriende, wat die “goddelose regerings” van China en Noord-Korea ingesluit het, het natuurlik ook ʼn dispuut veroorsaak.

Hoewel daar vrae mag bestaan oor Mugabe se godsdienstige oortuigings en of hy ʼn persoonlike verhouding met Christus gehad het, was sy familie diep gelowige mense – sy ma het byvoorbeeld meer as een keer per dag met haar bedekrale gebid en sy twee jonger susters het sendingwerk gedoen.

Mugabe: twee uiterste pole

Robert Mugabe het, soos min ander, dit reggekry om wêreldwyd openbare politieke sienings oor hom soos dag en nag te laat verskil. Vir sommige was hy ʼn boosaardige diktator wat lewenslank in die tronk gehoort het vir sy misdade teen die mensdom. Ander het hom weer gesien as ʼn rewolusionêre held wat rasseverdrukking beveg het en teen Westerse imperialisme en neokolonialisme opgestaan het.

Selfs in Christelike kringe was Mugabe deur sommiges vereer en deur ander geminag. Ná sy dood het verskeie sosialemediaplasings gelui dat hy “in die hel moet brand vir al die pyn en lyding wat hy veroorsaak het”.

Sommige plasings het selfs verwys na Dawid wat Goliat (ʼn boosdoener), onthoof het en daarmee hul reaksie van haat en gebrek aan vergifnis, regverdig.

Uit ʼn Christelike perspektief

Die Bybel se boodskap, dat ons álmal sondaars is en afhanklik is van die reddende genade van Jesus, is duidelik en onbetwisbaar. Sou ek myself tussen Adolf Hitler en Robert Mugabe moet staanmaak, sal elkeen van ons die hel verdien, as dit nie vir die verlossende genade van Jesus was nie (Rom. 3:23).

Dit is slegs deur genade dat ons gered word, ongeag van hoe goed of hoe sleg ons in die oë van ander is.

In hierdie konteks het veral twee reaksies my aandag die afgelope paar dae getrek. Die eerste was van Cheryllyn Dudley, ʼn voormalige Suid-Afrikaanse lid van die parlement – gebore en getoë in die destydse Rhodesië. Sy het op haar Facebook-blad die volgende inskrywing gemaak:

“I sincerely hope that Robert Mugabe … made peace with his Maker before he died. The words of our Lord Jesus come to mind: ‘Father… forgive us our trespasses as we forgive them that trespass against us…’ I hope, with a grieving heart, that he was able to forgive those who had hurt him, and be forgiven the things he did that so tragically hurt so many. It is difficult to celebrate Robert Mugabe’s life, but I refuse to celebrate his death, unless I could be sure he had made right with his Maker and had been forgiven.”

Die tweede reaksie wat my diep geraak het, is van Mary Jo LeBlanc4 wat die volgende op haar blog geskryf het ná die dood van Stephen Hawking (ʼn geharde ateïs). Hoewel die inskrywing oor ʼn totaal ander mens gaan, geld dieselfde beginsels hier. ʼn Vrye vertaling daarvan lees as volg:

“In plaas daarvan om die Skrif ʼn suikerlaag te gee, het Jesus aan sy dissipels gesê om altyd regverdig op te tree (Joh. 7:24) en wanneer hulle mense oordeel, moet dit op ʼn sekere manier en volgens voorskrifte geskied (Matt 7:1-5).

“As mens kyk na die uitgebreide geskrifte en stellings van Stephen Hawking [of die brutale heerskappy van Robert Mugabe], is dit nie moeilik vir iemand met ʼn Christelike wêrelduitkyk om die kritieke stand van die man se siel te snap nie. In plaas daarvan dat mens jou verlekker in sy dood, behoort ons nie almal te rou wanneer ons besef dat iemand die ewigheid in is sonder Christus nie?

“Dit is baie maklik om op ʼn seepkis te spring en die geloof van ander af te kraak; dit is egter totaal anders wanneer jy die Woord met liefde aan iemand wat Jesus nodig het, verkondig. Moenie dat ons in ons ‘geesdrif’ mense venynige houe toedien of ʼn vals, suikerbekte Evangelie verkondig nie. Moenie dat ons agter ons rekenaarskerms wegkruip terwyl ons dié van wie ons verskil, trompop teiken nie. Laat ons eerder hierdie familie met die nodige respek troos (Gal. 6:2). Laat ons vuriglik die Evangelie verkondig aan diegene wat dalk die ewigheid sonder Christus moet ingaan (Fil. 3:14).

“Maak God heilig in jul harte en wees altyd bereid om elkeen wat jou vra waarom jy glo, met ootmoed en godvresendheid ʼn regverdige kans te gee (1 Pet. 3:15).”

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

John ·

Wel, volgens die Sjinese tv-nuusstasie, wat die woorde met genoegdoening herhaal, waarin Mogabe glo ‘n vergelyking getref het tussen hom en Christus; skrikwekkend on-Christelik en goddeloos. Die feit dat bogenoemde poging aangewend moet word oor Mogabe, spreek boekdele. Sekerlik wil sy nagelate party en familie hom as ‘n held begrawe soos alle Afrika-leiers voor en na hom.

Piet ·

Ek stem saam. Niemand weet wie gaan die eerste opstanding beleef of die tweede. Net ons Vader weet. Hou op om te oordeel. Dit is die Vader se werk.

christo ·

die woord se aan n boom vrugte word hy geken n slegte boom kan nie goeie vrugte dra nie en n goeie boom gee nie slegte vrugtqe nie

Willem ·

Jesus het gese: Die van julle wat geen sonde het nie tel die eerste klip op en stenig die owerspelige vrou!

Petrus Heigers ·

Om mugabe as ‘n christen en eerbare persoon voor te hou is waansinnig! Hy het honderde/duisende mense vermoor.
Hy het Zimbabwe se ekonomie in die grond in bedryf. As dit nie vir die ANC was wat vir hulle “comrades” van Zimbabwe miljoene rande elke jaar geskenk het nie, asook goedkoop brandstof gegee het, sou hulle heeltemaal ineengestort het

Ouma Gans ·

Tog verskriklik die Christelike dogma van almal is in sonde gebore. Watter nonsens. Ons word onskuldig gebore en is sonder sonde. Sommiges kies om bose dinge te doen. Sonde is iets uitgedink om mense vas te vang in skuldig voel oor niks. En dan sterf ons. Mugabe was boos en is nooit gestraf daarvoor nie. En toe sterf hy ook maar. Ek is maar ‘n fatalis.

Sonja ·

Almal is in sonde gebore, ouma Gans moet bietjie n baba se bottel wegvat en kyk hoe kwaad word hy, dan praat ons weer van waar sonde begin en of dit van geboorte is of sodra ons verstand het. Baie dogmas van die Christene staan in die Bybel, ouma Gans moet Psalm 51:7 lees. Oordeel; ons kan nie sê of iemand in die hemel of hel is nie. Ons weet nooit wat het in hul laaste oomblikke tussen hulle en God gebeur nie, maar dit is ook verkeerd om dit wat verkeerd reg te noem en wat reg is verkeerd. So ja, aan ons vrugte word ons geken….. Christen kan christen se foute uitwys, ons moet mekaar op die regte pad hou.

Francois ·

Wat n swak artikel. Al het Mugabe godsdiens gepleeg is hy sover weg van Christen wees as dag van nag. Hy was n magsbehepte, sielsiek rassis. Hy het sy eie mense in armoede en rampspoed gedompel. Nood waarvan die einde steeds nie in sig is nie. Hy het sy vyande vermoor waar hy kon. Om christelikheid aan die goddeloosheid te koppel is om die boodskap vd evangelie te verkrag. Ek wil sover gaan as om te sê, wie ookal die snert skryf is self nie Christene nie. Hulle gee voor hulle is, maar self is die vrug vd waarheid nie in hulle nie. Dit is belaglik.

Jerry ·

Robert Mugabe se ligte kant het gesneuwel teen sy donker kant. Sy katolieke geloof was oorkom deur die kommunistiese bevrydingsteologie waar Jesus uitgebeeld was as n swart vryheidvegter met n AK 47. Die toepassing van die teenoorgestelde van die tien gebooie teen Christene, teen die “white oppressors” en teen sy opponente, dit was Robert Mugabe se geloof, se ideologie, se gevegsplan tot die dood toe. Dit is ook n ander mannetjie (wie deur Robert Mugabe gementor was) wat met n rooi beret in SA rondsluip en skoorsoek, se gevegsplan. Orals in Afrika waar die bevrydingsstryd “the struggle continuous” voortgesit word en nie begrawe word nie, soos in Zimbabwe en nou ook weer SA, word die bevrydingsteologie verkondig en nagevolg. Ken jou vyande, want kennis is mag. Dit help jou om te waak teen hulle boosheid, totdat hulle eie boosheid hulle oorwin! Robert Mugabe se boosheid het vir Robert Mugabe eers sterk gemaak en toe swak en hom toe oorwin. Dit het wel 95 jaar geneem, waar dit Zimbabwiers wie hom as leier gekies en verafgod het, reeds vyf geslagte lank straf en al is Robert Mugabe nie meer met sy mense nie en is die einde van hulle ellende nog nie in sig nie, is dit nog einde niet met die onheil wat Robert Mugabe se boosheid oor sy mense gebring het! Wat is die les wat ons hieruit kan leer? Dat kommunisme boos is, dat dit straf, dat dit vernietig!

Johanna Botha ·

Hy het baie mense in die diamand velde laat vermoor om nie eers te praat van die skrikbewind onder die landelike mense deur sy weermag …zim het geen krag geen ekonomie geen water en geen kos meeste werkende mense is in SA weg van hulle families …..wat is nou goed aan dit ?

aj ·

Massamoordenaar!

Hy het ‘n totale mislukte regering gelei wat die beskawingspeil van die land met ‘n eeu teruggeskuif het van waar hy dit ontvang het in 1980.

Die dwepery hier bo met die godsdiens getuig van SWAK VERSTANDELIKE OORDEEL!

Julle dwepers verdra massamoorde en praat ‘n diktator goed! Dit maak julle aandadig aan die SONDE TEEN DIE MENSDOM wat Mugabe gepleeg het.

Piet ·

aj, haat is n lelike ding. Niemand het sy dade goed gepraat, maar wel daarop gewys dat die oordeel, God alleen toekom. Lekker dag.

aj ·

…christendom / dom christen …!

” … all animals are equal … but some are more equal … !”

Christen in teorie maar goddelose, wrede, moorddadige, gewetenlose Marxisties kommunis in PRAKTYK!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.