Robert Mugabe: Zimbabwe se lewenslange president

Robert Mugabe eet “onwettige” skyfies tydens sy onlangse verjaardagvieringe. Foto: Twitter.com.

Robert Mugabe het skaars ’n maand gelede sy 93ste verjaarsdag op luisterryke wyse gevier. Hy het tydens die geleentheid bevestig dat hy in 2018 gereed sal wees om sy party, die ZANU-PF, se kandidaat tydens die Zimbabwiese presidentsverkiesing te wees.

Mugabe word verag deur ’n menigte Suid-Afrikaners. Wel, toegegee, in sekere kringe is daar ’n heldeverering vir Mugabe, maar seker nie veel van daardie aanhangers lees hierdie webwerf nie. Ons is keer op keer verstom of verbaas, seker al so sedert die begin 2000’s, dat die ou man steeds in beheer is in Zimbabwe. Telkens verneem ons dit is seker nou sy laaste verjaarsdag of dat hy seker nóú sal plek maak vir iemand in sy party om oor te neem vir die volgende verkiesings.

Bob se nalatenskap

Mugabe is al sedert 1980 aan bewind in Zimbabwe – 37 jaar lank. Ná die val van die wit-minderheidsregering in die ou Rhodesië het Mugabe en sy “vryheidsvegters” aan bewind gekom. Opposisie word nie werklik geduld nie en intimidasie speel ’n groot rol om Mugabe aan bewind te hou. Na Mugabe in 2008 die presidensiële verkiesing verloor het, het hy eenvoudig die verkiesing weer gehou en 85% van die stemme gewen. Na onderhandelinge het hy en sy groot vyand (die eintlike wenner van die verkiesings), Morgan Tsvangirai, besluit om die mag te deel. Daarvan het nie veel gekom nie en Mugabe het voortgegaan met sy magsoorheersing en gevolglike plundering van die staat vir sy persoonlike gewin.

Teen hierdie tyd het die werkinge van die staat in Zimbabwe basies tot stilstand gekom na jare van ernstige agteruitgang. Mugabe het sy mag egter stelselmatig weer versterk en die 2013-verkiesing gemaklik gewen (met 61% van die stemme), hoewel grootskaalse verkiesingsbedrog weer eens vermoed is.

Ook in sy eie party vernietig Mugabe eenvoudig enige opposisie teen sy bewind, insluitend die afdanking van sy vise-president, Joice Mujuru, in 2014. Nou gaan Mugabe weer in die 2018- verkiesing staan en sonder twyfel maklik wen.

Vir dié wat vergeet het: Mugabe is eiehandig verantwoordelik vir Zimbabwe se ongelooflike agteruitgang sedert die begin van hierdie eeu. Wit boere se plase is eenvoudig deur bendes van Mugabe se ondersteuners oorgeneem en die wit boere en hul gesinne moes vlug en byna alles agterlaat. Duisende wit Zimbabwiërs het ’n heenkome in ander Afrika-lande, Brittanje of Australië gaan soek. Swart Zimbabwiërs het weer eenvoudig oor die grens na Suid-Afrika gestroom om weg te kom van die ekonomiese agteruitgang, gebrek aan werk en voedseltekorte. Hoewel die SA regering geen vermoë het om uit te vind hoeveel buitelanders in Suid-Afrika is nie, word vermoed dat daar miljoene Zimbabwiërs in Suid-Afrika woon en werk.

In sekere bedrywe in SA is werkers vanaf Zimbabwe gewild soos die gasvryheid- en konstruksiebedrywe, asook ander bedrywe wat hande-arbeid vereis omdat Zimbabwiërs geloof word vir hulle goeie maniere en ingesteldheid teenoor werk.

Dat Mugabe wel steeds gewild onder sekere dele van sy eie bevolking is, is ook waar. Daar word grootliks aanvaar dat Mugabe in die plattelandse gebiede gewild is, maar beslis nie in die stede en groter dorpe nie. Dit is verklaarbaar vanweë die volgehoue propaganda deur die staatsmedia wat die opposisie as verraaiers uitbeeld en voorstel as agente van die vorige wit minderheidsregering of van Brittanje. Nogtans is dit moeilik om te glo – wel, eintlik onmoontlik – dat Mugabe en ZANU-PF steeds meerderheidsteun in Zimbabwe geniet.

Vanweë Mugabe se ooglopende vertrapping van demokrasie het die Westerse state reeds lankal sanksies teen Zimbabwe en veral teen die president en sy vernaamste meelopers ingestel. Laasgenoemde leef in relatiewe weelde en stuur hul kinders na uitgesoekte skole en universiteite wêreldwyd terwyl die bevolking meestal krepeer van die ellende.

“Sotlike” wetgewing

Die uiteinde is die isolasie van Mugabe en sy trawante wat die verkryging van Westerse goedere vir die Zimbabwiese nomenklatoera (die woord verwys na invloedryke persone in regering- en nywerheidskringe wat die regering steun) bemoeilik. Zimbabwe is selfs uit die Britse Statebond geskop.

Opsigself is sanksies nooit werklik doeltreffend solank daar alternatiewe is en daar ’n beduidende mark vir goedere bestaan nie. In die proses beskuldig Mugabe die Weste en veral Brittanje as die rede vir die inkrimping van die Zimbabwiese ekonomie, terwyl Oosterse state soos China, wat nie Mugabe se politieke wandade veroordeel nie, verwelkom word.

China en ander state soos Indië is minder bekommerd oor die bewindhebbers in Afrika-state en stel slegs belang in moontlikhede ten opsigte van handel en die verkryging van grondstowwe. Gevolglik is die mynboubedryf in Zimbabwe stadig maar seker van Westerse groepe na Zimbabwiese groepe in “bemagtigingstransaksies” oorgedra, wat nou weer na Chinese en ander belanghebbendes oorgedra word. Let wel, in Zimbabwe word “bemagtiging”  “verinheemsing” genoem. Teen die einde van 2016 het ons selfs gehoor Chinese boer nou op ’n klompie plase wat van die voormalige wit boere afgevat is.

In 2016 het ons ook nog verder gesien watter sotlikhede deur Mugabe en sy party aangevang word om beheer te behou, al is dit ten koste van die verarmde bevolking en die Zimbabwiese ekonomie. ’n Anti-kuberkrakerwet is aanvaar waarmee die staat rekenaars en selfone kan konfiskeer en die eienaars daarvan tronk toe kan stuur sou dit in die belang van staatsveiligheid beskou word. Dit volg nadat ’n Zimbabwiër vroeër probeer het om protesaksies deur Twitter aan te moedig. Nog ’n nuwe wet reguleer die indiensneming van buitelanders in sekere bedrywe in Zimbabwe, soos byvoorbeeld die konstruksiebedryf.

Verder het die regering die invoer van buitelandse produkte verbied wat plaaslik in Zimbabwe vervaardig kan word in ’n poging om die uitvloei van Amerikaanse dollars uit die land stop te sit. Só word die invoer van pakkies skyfies uit Suid-Afrika verbied, want dit kan plaaslik vervaardig word (die gewildste skyfies in Zimbabwe is byvoorbeeld nou Zapnaks, ’n namaaksel van Niknaks).

Laastens het Zimbabwe aan die einde van 2016 besluit om self koepons te druk as plaasvervanger vir dollars, omdat dollars so skaars soos hoendertande in dié land geword het. Dit het nie enige noemenswaardige verbetering veroorsaak in die geldtekort nie.

Wat gaan gebeur?

Natuurlik laat hierdie negatiewe aspekte oor Zimbabwe, en spesifiek die rol van Mugabe, Suid-Afrikaners wonder of ons dieselfde pad gaan loop as Zimbabwe en dat soortgelyke ellende ons voorland gaan wees. Onder die huidige politieke bewind kan mens nie anders as om dié sentiment teësinnig te aanvaar nie.

Daarom moet ons ’n paar feite uitwys oor waar presies Zimbabwe staan ná 37 jaar van Mugabe se bewind:

Eerstens het ons nog nie die einde van Mugabe gesien nie. Hoewel hy 93 jaar oud is en biologies gesproke seker enige dag die emmer kan skop, lyk hy nog gesond. Ons word elke jaar vertel dat hy een of ander siekte soos kanker het en jaarliks Singapoer besoek vir mediese behandeling, maar jaar na jaar keer hy perdfris terug terwyl sy vrou, Grace, met ’n vliegtuig vol inkopies terugkeer. Mugabe het homself al basies tot lewenslange president aangewys en dit is presies wat gaan gebeur as sy gesondheid nie iewers heeltemal ingee nie. Dit beteken dat niks hom verhoed om in 2018 én 2023 herverkies te word nie.

Of Mugabe die verkiesings in Zimbabwe gaan wen is eintlik al sedert 2008 vasgestel. Hy gaan wen en geen ander kandidaat gaan hom “demokraties” ontsetel nie. Wat verregaande is, is dat ander Afrika-lande hierdie gekookte demokrasie gelate aanvaar en Mugabe steeds as ’n soort held beskou.

Tweedens, selfs al sterf Mugabe, is daar geen aanduiding dat Zimbabwe skielik weer soos ’n feniks uit die as gaan herrys nie. Die opposisie onder Tsvangirai, en nou ook Joyce Mujuru, het geen planne om byvoorbeeld die plase wat deur Mugabe en sy trawante gesteel is terug te gee aan hul regmatige eienaars nie. Daarsonder sal die Zimbabwiese ekonomie maar grootliks voortploeter, selfs al word sanksies opgehef. In ZANU-PF, wat ook nie sommer die mag sal afstaan nie, is daar nog minder hoop vir grootskaalse verandering in ’n post-Mugabe-bedeling. Daar is selfs aanduidings dat Grace Mugabe haar oog op die toekomstige presidentskap het.

Derdens het Zimbabwe ongelooflik agteruitgeboer (letterlik en figuurlik) sedert 2000, maar in vergelyking met sommige ander Afrika-lande het Zimbabwe steeds ’n sterk ekonomie met ’n bruto nasionale produk (BNP) van ongeveer US$ 7 miljard (dubbeld so groot as Malawi, Burundi of Eritrea). Suid-Afrika se BNP is daarteenoor 46 keer groter.

Zimbabwe se grootste uitvoerproduk is tabak, wat in 2016 amper weer teen dieselfde tonnemaat verhandel is as in 2000 toe die tabakbedryf ineengestort het.

Zimbabwiese kleinboere produseer nou die tabak en tabakmaatskappye voorsien die kleinboere van saad en kunsmis. Hulle waarborg ook die aankoop van die geplante tabak op ’n kontrakbasis. Danksy minerale en edelgesteentes soos platinum, goud en yster word uitvoere na veral China voortgesit en buitelandse valuta verdien. Daar is natuurlik ernstige korrupsie by hierdie transaksies betrokke wat die ZANU-PF-politici en amptenare verryk.

Vierdens is die Zimbabwiërs wat in Suid-Afrika woon en werk ’n vangnet vir Zimbabwe. Die meeste Zimbabwiërs in Suid-Afrika het uitgebreide families agtergelaat en befonds die meestal werklose massas met salarisse en lone wat in Suid-Afrika verdien word. Dit veroorsaak dat die armes aan die lewe bly, al kan die staat geen bydrae lewer nie en geen nuwe werk geskep word nie.

Dit verseker ook dat mense wat ontevrede is met Mugabe se bewind net eenvoudig wegvlug van die chaos af en in Suid-Afrika gaan woon en werk. ’n Rewolusie of opstand teen die regering wat regeringsoorname gaan veroorsaak, word dus klein of selfs onbeduidend en verleng Mugabe se lewenslange presidentskap.

Wanneer Mugabe se lewenslange presidentskap gaan eindig, kan niemand natuurlik voorspel nie. Wat wel seker is, is dat Zimbabwe nooit weer sal terugkeer na die glorieryke dae wat hom een van die sterkste ekonomieë in Afrika gemaak het nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Wicus Jansen Van Vuuren ·

Mugabe, Zuma een en die selfde. Guptastan sterk oppad daarheen.

John ·

Maroela julle spel verkeerd. Dit moet ‘lewen-slange’ lees asseblief!

Pietsepan ·

Die mees gehate man in Afrika. Met verwysing na Zimbabwe is Helen Zille se tweet oor kolonialisme heel toepaslik. Die Afrikaan weet nie wat vir hom goed is nie. Hy verkies so Ubuntu lewe.

Skim ·

Is LAYS chippies nie ook ‘n KOLONIALIS se uitvinding nie? Dit moet VERBAN en VERBIED word, terug na die boomwortels en volstruiseiers.

chrisp ·

Hier sit ons met die hoogs geleerde president van Afrika met meer as 5 grade agter sy naam .Geen verskil tussen std 4 en 5+ grade nie.
Afrika kan homself nie regeer nie punt.(Dit is nou op westerse standaarde wat nie nootwendig vir Afrika reg is nie).

Koos1 ·

Kom ons hoop Zuma leef nie nog 37 jaar nie!
As jy 37 jaar terug vir Zimbabwers vertel het hou dit vandag sou lyk, wonder ek of hulle dieselfde sou optree.
As jy 23 jaar terug vir SA’ners vertel het hoe dit vandsg sou lyk, wonder ek……..
Ek is oortuig Afrika se lande se geskiedenis herhaal homself, elke keer in ‘n ander land.

SP ·

Is hierdie berig nie dalk ‘n bietjie vroeg geplaas nie? Wag maar eers vir sy dood, voordat julle dit weer plaas. Hy verdien nie om oor gepraat/geskryf te word nie.

Rasper ·

Kersboom se moses is die man kleurblind want al die kleure is n seer vir die oog. Geen wonder hy dra n sonbri nie dis te oorweldigend . Ou nar clown. Pateties

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.