‘Rocket Man’, ‘versteurde Trump’ speel gevaarlike spel

Kim Jong Un

Kim Jong-un die leier van Noord-Korea. Foto: AP Photo/Wong Maye-E.

Deur Tienie Fourie

Die wêreld hou weer die afgelope tyd asem op oor dreigemente wat oor en weer tussen pres. Donald Trump van die VSA en Kim Jong-un, die “supreme leader” van die Demokratiese Republiek van Korea, oftewel Noord-Korea, gemaak word. Trump dreig om Noord-Korea met die grond gelyk te maak, terwyl Kim Jong-un sê die VSA sal dit berou.

Die kern van die saak blyk te wees dat Noord-Korea, téén die wense van die VSA, die een ná die ander toets van ʼn interkontinentale missiel uitvoer. Die missiel, volgens Noord-Korea, is kragtig genoeg om dele van Amerika te tref. Om alles te kroon, sê Noord-Korea, is hy ook besig om ʼn waterstofbom te ontwikkel wat tientalle kere sterker is as die kernbomme wat die VSA in die 1940’s op Hirosjima en Nagasaki gegooi het.

Dit is genoeg om die VSA die hoofbrekens te gee. As die enigste land wat tot dusver kernbomme op ongewapende burgerlikes gegooi het, weet hy tot watter skade so iets kan lei.

Dit is nie die eerste keer dat dié twee lande mekaar dreig nie. Die afgelope tien jaar het dit telkemale gebeur dat die VSA en Noord- Korea dreig om mekaar te pak. Onder die Demokratiese regering van pres. Barack Obama en Kim Jong-il (Kim Jong-un se pa) was dit presies dieselfde, destyds omdat Pyongyang ʼn kernbom wou ontwikkel (en dit intussen reggekry het). Die Weste, onder die VSA se leiding, het die een na die ander sanksie teen Noord-Korea ingestel en talle ooreenkomste met die kommunistiese regering aangegaan. Albei kante het dit gereeld verbreek.

Daar is verskeie redes daarvoor. Een is dat die VSA gereeld en teen die besware van Nood-Korea, militêre maneuvers saam met Suid-Korea uitvoer. As is dit nie Amerikaanse skepe is wat naby die Noord-Koreanse gebiedswaters vaar nie, is dit Amerikaanse vegvliegtuie en bomwerpers wat dreig om die Noord-Koreaanse lugruim binne te dring. Elke keer dreig die Noord-Koreane met die afgryslikste vergelding. Elke keer sê die VSA dis roetine-oefeninge. Dié gevaarlike spel het toegeneem nadat Noord-Korea onlangs ʼn missiel afgevuur het wat oor Guam, ʼn Amerikaanse eiland, getrek en skadeloos in die Stille Oseaan geval het. Dit het nie ʼn plofkop gedra nie.

Waarom lok die twee mekaar so uit? In die VSA se geval is dit sekerlik waar dat hy ʼn “vyand” in Asië nodig het om hom in daardie geweste te laat geld. Sommige waarnemers beweer dat dié land derduisende soldate in Japan en Suid-Korea aanhou as teenvoeter vir China wat besig is om ʼn militêre mag te word om mee rekening te hou. Dit is eintlik waaroor die volgehoue dispuut oor die Chinese Suidsee-eilande gaan: die VSA wil ʼn vastrapplek kry in geval van oorlog teen China.

Die VSA se probleem is dat baie min lande hom deesdae glo. Iran het onlangs weer ʼn interkontinentale missiel afgevuur nadat Trump gedreig het om hom aan ʼn ooreenkoms te onttrek wat Iran verbied om ʼn kernbom te vervaardig.

Trump het die VSA ook al aan ʼn internasionale ooreenkoms onttrek wat daarop gemik is om aardverwarming hok te slaan. Die res van die wêreld is steeds uiters geskok daaroor.

In dié verband is Trump se probleme tweërlei. Die eerste is dat elke keer wanneer daar ʼn bewindsverandering in die VSA kom, daar ʼn nuwe beleid is. Die ander is dat die vervaardigers van militêre toerusting in die VSA so magtig is dat hulle aan die regering voorskryf wat om te doen. As Noord-Korea en Iran nie ʼn bedreiging is nie, verminder die noodsaak vir wapens. En dit kan Lockheed of Boeing of ander wapenvervaardigers nie bekostig nie.

Maar hoe ernstig is die situasie en gaan ons binnekort ʼn Derde Wêreldoorlog met kernwapens hê? Myns insiens is die antwoord nee. Albei kante weet so iets sal katastrofies wees, en dit wil hulle nie hê nie. China en Rusland oefen druk op Noord-Korea uit om hom te gedra, terwyl die res van die wêreld Trump wil inhou.

Dat Trump Kim Jong-un “Rocket Man” noem, en Noord-Korea Trump “geestelik versteurd” noem, dra natuurlik niks by om die probleem op te los nie. Dit herinner ʼn mens meer aan ʼn boelie wat ʼn klein vettetjie wil pakgee wat vir hom tong uitsteek, maar in die proses speel albei ʼn gevaarlike speletjie.

  •  Tienie Fourie is ʼn joernalis en internasionale kommentator wat Suid-Afrika by die Internasionale Atoomenergie Agentskap (IAEA) in Wene verteenwoordig het.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

John ·

Die outeur is uiters geniepsig. Hy speel die CNN-spel waarin Trump uitgebeeld word as die aggressor en arme klein N-Korea bloot reageer op die VSA, spesifiek Trump. Die vyande van Trump buit hierdie probleem lieflik uit en laat dit lyk of Trump wereldvrede bedreig. Gee Trump opdrag presies waar en hoe elke vliegtuig en boot vlieg en vaar? Die CIA en Pentagon doen wat hulle wil want Trump is mos onnosel ~ ‘n gevaarlike situasie. Leuens gedy en Suid-Korea tart sy ‘familie’ oorkant die grens uit. Trump se woorde in die VO was dat indien N-Korea sy land sou bedreig… sal hy. Waarom nuusberigte so skeef aanbied? CNN se hartsbegeerte is ‘n eerste aankondiging: WO3 het begin!…. en raai-raai wie wil ons bedank vir hul ondersteuning: Soros, die pousdom, Hilarious, Mexiko, N-Korea se flukse wetenskaplikes.. en… en… en al die skape wat ons nuusberigte opslurp en dit nog verder verdraai. Iets flits daar buite… Oh! ?… What! Koebaai…. Koeberg!

Veritas ·

John ek het gedink dit is net ek wat Donald Trump bo Hilary Clinton verkies maar ek sien dit maak darem twee van ons. Die enigste rede waarom Trump onpopulêr is, is omdat hy konserwatief is in sy optrede. Daar word nou weereens groot bohaai gemaak oor sy uitlatings oor Noord Korea maar dit is tog beter om te dreig as om fisies in ‘n oorlog betrokke te raak. Vra maar vir George Bush die tweede. Noord Korea tree uittartend op en Trump is die enigste wêreldleier wat mans genoeg is om ‘Rocket Man’ in die bek te ruk. As militêre leier van die Weste, is dit sy plig om hardekoejawel op te tree. Enigiets minder as dit sal as ‘n teken van swakheid gesien word

Nico K ·

Ek stem nie saam dat die VSA wapens maak slegs omdat dit die groot maatskappye ekonomies bevoordeel nie. Dit is juis om te keer dat mal mense, soos Noord Korea se leier, nie kernwapens gebruik nie. Ek kan nie dink dat mense regtig glo dat Noord Korea nie ‘n bedreiging is nie. Die enigste rede hoekom ons nie ‘n derde wêreld oorlog sal kry nie is omdat die VSA se wapens so goed is.

Annamarie Olivier ·

Ons in Suid Afrika is behep met wat Trump verkeerd doen, in die tussentyd is ons land ‘n disfunksionele gemors.
Laat Amerika met hulle eie probleme sukkel en Suid Afrikaners begin om “ons” probleme aan te spreek.

HPV ·

Annemarie jy is so reg, Suid Afrika is tans danksy die ANC ‘n derdewêreldse ashoop maar ons staan voor in die ry om eerstewêreld lande te kritiseer. Kom ons kyk maar eers na ons eie land.

Peet J ·

‘n Derde Wêreldoorlog met kernwapens sal beslis nie deur die VSA ontketen word nie soos president Trump reeds gewaarsku het: Die VSA sal alleenlik optree wanneer verdediging die enigste oorblywende uitweg bied.
Die sanksies teen NK kan moontlik ‘n ongemaklike situasie vir Kim Jong- un veroorsaak wat hom tot ander insigte bring.

kla-kous ·

Arme Noord Korea. Hulle word só mishandel en nog sleg gesê ook. Genoeg om jou na ‘n atoombom te laat gryp.

Charlie ·

“Dié gevaarlike spel het toegeneem nadat Noord-Korea onlangs ʼn missiel afgevuur het wat oor Guam, ʼn Amerikaanse eiland, getrek en skadeloos in die Stille Oseaan geval het. Dit het nie ʼn plofkop gedra nie.”

Sover ek weet, was dit oor Japan gewees, twee keer, nie Guam nie. Doen eers ordentlike navorsing voor jy ‘n artikel plaas. Dit trek jou geloofwaardigheid in twyfel.

Loeis ·

Hierdie herinner aan ‘n artikel elders in Maroela Media vandag wat handel oor die hooggeregshof uitspraak dat politieke partye moet bekendmaak wie vir hulle geld gee.

Die mense in Noord Korea het natuurlik geen inset in wat hulle leier doen nie, maar dit klink of die Amerikaners ook gedryf word deur wat vir een groeppie winsgewend is, eerder as om sake soos vrede, of klimaatverandering te oorweeg. Op die ou einde verteenwoordig nie een van daardie leiers hul mense nie. Nes in Suid-Afrika die geval is. Dis magsug en geldsug agter die masker van demokrasie.

Ou toppie ·

Ja, ons kan nie praat want SA het net China fireworks rockets..en intussen word ons n ” stepping stone ” vir kommunistise lande…as jy kyk na statistieke soos weergegee word op google, het US 7200 lang afstand misiele vir elke 10 wat NK het. Die som is nie moeilik om te maak nie.

Mike Olwagen ·

Die “botterbulletjie” gaan pak slae kry as as Trump hom regtig vervies. Die VSA arsenaal is indrukwekkend om die minste te se. Ja die outeur is maar wat hy is, ‘n regte “true to form” libtard (liberal retard) wat duidelik nie te veel tussen die ore het nie. Wanneer gaan die gesanik van die liberale oor Tannie Hillary wat ‘n helse pak slae gekry het nou ophou…miskien oor 8 jaar?

V ·

Stem saam. Kan die liberales nie ophou moan en daadwerklik ‘n afvaardiging NK toe stuur nie? Ek is seker ou orosman het ‘n stywe drukkie nodig na al die trauma wat oupaTrump hom aan gedoen het. Ou waansinnige Trump wil mos wwo3 begin sodat hy die ekonomie kan stimuleer. Terwyl die lot daar is kan hulle sommer sy kern tegnologie opskerp, sodat speknek kan antwoord met ‘n kern oorlog as ou Trump weer durf om hom met sy woorde te boelie

Koos1 ·

Noord Korea se naam is a klaar disfunksioneel: Demokratiese Republiek en komunisties hoort nie saam in een sin nie. Seker soos SA, ook demokraties is, solank die ANC aan bewind bly!

Frans C ·

Die vark in die verhaal is nieTrump nie,maar wel Sjina wat heel lekker handel dryf met Noord Korea.Dit was binne hul vermoë om die program te stuit deur handelsboikot.Hulle is bang dat sal Noord Korea val en Suid Korea neem oor,daar Amerikaanse soldate op hul grens sal wees.

Noord Korea is dus tot dusver ‘n handige buffer tussen hulle en Amerikaanse teenwoordigheid op hul grense.Dit is nooit goed vir enige kommubistiese land om ‘n welwaverende westerse
ekonmie op sy grense te hê nie.Kyk net hoe hul sukkel om Hong Kong in toom te hou.
‘n Rebellie onder eie mense en ‘n stroom vlugtelinge is nie ‘n gewenste uitkoms nie.

Pietie ·

Die verdagmakery van Trump pas goed by die kritiek van liberale joernaliste in SA. Wat weet ons werklik van die politiek is die VSA.? Sorteer eers ons eie gemors uit.

Gerhard ·

Die groot probleem wat die VSA het is dat dit te lank deur mense regeer is wat op skool deur kinders 3 jaar jonger geboelie was. Hulle kry te vinnig “knee jerk reaction” en word deur lande baie kleiner geboelie. Daar is baie fout met Trumps se manier van doen, maar niks gevaarlik aan hom nie. Hy is net nie ‘n slapgat soos baie van sy voorgangers nie. Nee die VSA is nie onnodig behep met Noord-Korea nie. Daar hoef nie ‘n samesweringsteorie gesoek te word nie. Enige diktator met kernwapens is ‘n probleem en moet nie beveg word.

Henry ·

Verstommend dat almal so bedruk word en aan’t teem gaan wanneer Trump sy spreekwoordelike vinger in die ooglopende vrot kolle druk. Al ooit daaraan gedink dat Trump en sy mense groter bedreigings raaksien wat hulle verkieslik nie aan die groot klok wil hang nie?

In die vet outjie met die spul bomme en missiele se geval, is die grootste gevaar dat hy een of meer van sy kernwapens aan die piete mag smous wat graag New York, London, Parys in vlamme wil sien opgaan.

Die ronde laaitie het nie eers langafstand missiele nodig nie. Daar’s oorgenoeg kopers en selfmoord fanatici wat die aflewerings sommer per voet en per soetkys sal doen my tjaaina!

:-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.