Rugby: Die Noord-Suid kragmeting

Eben Etzebeth van die Stormers takel CJ Stander van die Bulls. Foto: Gallo Images/Getty Images Europe

Afhangende van watter span jy ondersteun, sal jou oordeel oor ʼn paar van skeidsregter Craig Joubert se beslissings in Saterdag se Noord-Suid kragmeting verskil.

Weereens is die onduidelikheid in die skrums duidelik geïllustreer deur inkonsekwente toepassings van watter reël ook al. Albei spanne behoort vir dieselfde oortreding dieselfde gestraf te word. Wat my steeds pla is die feit dat die skrumskakels (aan albei kante) die bal nog steeds onder die slotte se voete ingooi en die skeidsregters laat dit gelate toe. Joubert het darem die Stormers se Dewaldt Duvenage eenkeer gewaarsku toe hy die bal onder die agsteman se voete ingegooi het. Die stryd tussen Noord en Suid is nou maar eenmaal die GROTE in die Suid-Afrikaanse rugbyopset.

Eerstens moes ʼn mens eers gewoond raak aan die pienk uitrustings van die Bulle en die enigste wat nog ontbreek het, is die pienk stewels. Die bont rugbystewels het beslis afbreuk gedoen aan die Bulle se modesmaak-afronding.

Terug na die wedstryd. Dit was ʼn toonbeeld van kragrugby en met die nodige vaardighede agterlangs was lipafleklekker. Sowat van inklimspel en briljante verdediging is lanklaas ter plaatse aanskou. Die Stormers se voorspelers is vir die eerste keer werklik getoets en hulle het die toets geslaag. Daar is beslis ʼn klomp ysters in die Stormers se voorhoede wat later nog diep spore op internasionale vlak gaan trap.

Weereens was dit vir die Stormers ʼn geval van twee verskillende helftes. Hulle het aanvanklik die spel oorheers en die telbord aan die rol gehou en gou met 9-0 voorgeloop. Toe hulle net voor rustyd ʼn drie druk, het dit beslis niks goeds vir die Bulls voorspel nie. Aan die begin van die tweede helfte het die Bulls met slegs 14 man op die veld, 10 punte aangeteken voordat die Stormers hulle oë kon uitvee. Die geroemde Stormers agterlyn is egter deur hul noordelike bure ore aangesit. In Saterdag se wedstryd het die Stormers se voorhoede en die Bulle se agterspelers koning gekraai.

Dit was egter ʼn stryd vir die fynproewer en geluk aan die Stormers. Ons hoop dat hulle ook op hulle oorsese toer dieselfde gehalte rugby sal opdis.

Die Bulle is beslis nie verneder nie en hef aan teen die Crusaders lê nou voor. As ek die twee wedstryde wat Saterdagaand op Suid-Afrikaanse bodem plaasgevind het vergelyk, voorspel ek swarigheid vir die Crusaders, Dan Carter en al. ʼn Mens kan egter nooit die Crusaders afskryf nie, want hulle is nie verniet reeds sewe keer die wenners van die kompetisie nie.

Gelukwense aan die Cheetahs wat met ʼn ongelooflike terugvegpoging die oorhand oor die Hurricanes gekry het.

Die Sharks het ook sy ondersteuners laat glimlag met ʼn oorwinning oor die Brumbies. Dit het gepaard gegaan met een van die beste drieë wat dié jaar op die rugbyveld gesien is. ʼn Langafstand drie wat afgerond is deur Lwasi Mvovo.

In die geheel gesien was dit ʼn goeie naweek vir die SA-spanne, en voorspel dit ʼn Springbokspan wat sy stem sal dik maak op die internasionale terrein. Gegewe dat die politici nie weer ingryp en spelers van swakker gehalte op Heyneke Meyer afdwing nie. Dit bly vir my net te wonderlik dat daar gekrap word waar dit nie jeuk nie.

Rugbygroete uit ʼn kouerige Pretoria.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.