Die suksesverhale begin by die weghol oorwinning van die Bulls oor die Reds. Almal van ons het verwag dat die Reds sou slae kry maar sowat van ʼn slagting glo ek, het niemand verwag nie. Met vyf verspeelde kanse in die eerste 30 minute kon die rekordtelling teen die Reds van oor die 90 punte in ʼn wedstryd van so ʼn paar jaar gelede weer ʼn moontlikheid gewees het. En om te dink dat die Bulle eintlik nog in ʼn boufase is met ʼn klomp jong spelers wat maar eers vanaf die begin van die huidige reeks Superrugby speel!
Dit maak die botsing volgende week agter die Druiwegordyn een van dié waarna seker die meeste uitgesien word.
Die Stormers sit ook met ʼn klomp jong voorspelers wat weekliks lofprysinge van die bekende rugbyskrywers ontlok maar laat ek vir julle sê, hier kom ʼn ding wat selfs die mees kritiese fynproewer sy lippe sal laat aflek. Voeg daarby die normale Noord- Suid strydretoriek en alle rugbyliefhebbers sal vasgenael voor hulle TV en rondom die braaivleisvure sit.
Wat my so ietwat oor die Stormers bekommer is die feit dat hulle ná 26 minute 18-0 voor was en nie die telling kon opskuif na 40-0 nie. Dit is asof die “killer instinct” nog nie daar is nie en dat hulle besluit het die wedstryd is klaar gewen en ons moet nou net die telling verdedig. Dit het hulle byna duur te staan gekom. Dit sal hulle nie eerskomende Saterdag kan toelaat nie.
Die Bulls het eers met die sagmaakproses teen die Reds begin en in die tweede helfte presies gewys wat om met ʼn teenstander te doen wat reeds swaarkry: “betoon geen genade nie”.
Dus, wat jy ook al beplan het vir Saterdag, moet rondom die epiese stryd beplan word.
Die Sharks was weereens hulle eie grootste vyand. As jy met nog sowat 20 minute se speeltyd met 24-13 voorloop en in beheer van die wedstryd is, verloor jy nie 34-30 nie. Swak verdediging in die middelveld het gehelp dat die Waratahs 21 punte in soveel minute kon aanteken. Vir een van die SA-spanne wat altyd nog as ʼn goeie toerspan bekend staan, moet dit kommerwekkend wees.
Alle lof aan die Cheetahs wat enduit hulle harte uitgespeel het en seker die mooiste drie van die Superreeks tot op hede gedruk het. Die Crusaders is egter ook met die rug teen die muur gevang en nog ʼn nederlaag sou sekerlik selfs die mees lojale Crusader-ondersteuner moedeloos gehad het. Wankelrige verdediging het baie tot die Cheetahs se nederlaag bygedra.
Die Brumbies, onder die bekwame afrigting van Jake White, het so stilweg en ongesiens gevorder tot aan die toppunt van die Australiese been van die Superreeks. Hulle welverdiende oorwinning oor die Highlanders het beslis as ʼn verrassing vir my gekom. Die rolmaalbeweging wat die Brumbies nou met vrug inspan dra duidelik die stempel van hulle Suid-Afrikaanse afrigter.
Die uitspeelrondtes van die Varsity-beker is op hande en ek voorspel ʼn Tukkie/Matie-eindstryd in Pretoria, want die Maties sal met UJ afreken en die Tukkies met die Pukke. So terloops, die rugby-darby tussen Hoërskool Waterkloof en Affies (Afrikaanse Hoër Seunskool), twee van die bekendste rugbyskole in die noorde, is deur Waterkloof met 23-16 gewen. Sowat 15,000 toeskouers het die aanskoulike wedstryd bygewoon.
Rugbygroete tot volgende week.