Rugby: nou kan ons nie op ons louere rus nie

Bulle-kaptein Pierre Spies gryp die bal voor die Blues se Chris Lowery Foto: AP/SA

Aan die einde van week drie kan ʼn mens sekere tendense in die Super 15 begin waarneem.

Spanne wat in die verlede verseker van ʼn oorwinning was, is nou nie meer seker nie. Neem nou maar die Crusaders as voorbeeld. Die tuisveldvoordeel verseker jou ook nie van ʼn oorwinning nie. ʼn Verdere tendens is dat daar duidelik by sommige spanne beter besluitneming op die veld is as by ander spanne. So glo ek kon die Cheetahs die wedstryd in Canberra gewen het as senter Strauss aan die einde toe hy deur die gaping was, die bal net veld-af geskop het en die spel na die teenstanders se halfgebied verplaas het. Dit sou die strafskop wat hulle die wedstryd gekos het, uitgeskakel het.

Is dit dalk die gevolg van te veel klem op die pligsgetroue uitvoering van die spelpatroon?

Daar is ʼn wye verskeidenheid van reëlinterpretasies deur die verskillende skeidsregters. Selfs die TV skeidsregters maak maar hulle kwota foute of die verklaring is só tegnies dat dit vir die leek onverklaarbaar voorkom.

Dalk raak ek nou te semanties maar daar is ʼn groot verskil tussen die volgende twee stellings. ʼn Drie word gedruk maar die skeidsregter wil seker maak en hy vra die vraag: “Try or no try ?” en by die volgende drie vra hy die vraag: “Is there any reason why I cannot give a try?” In beide gevalle wil hy weet of die drie gedruk is of nie.

Die taalpuriste onder ons sal sekerlik nou in lang relaas wil gaan en hoogs tegnies verduidelik dat daar wel ʼn wesenlike verskil tussen die twee stellings is. Ek glo ek verstaan dit ook, maar die entoesias wil net weet of die drie gedruk is of nie.

So was daar verlede week in die wedstryd tussen die Bulls en die Cheetahs in die Vrystaatstadion ʼn geval wat dit duidelik illustreer. Die eerste drie van die Bulls was duidelik twee bewegings wat ʼn strafskop aan die Cheetahs moes besorg het. Op die vraag van die skeidsregter: “Try or no try?” word die beslissing gegee dat dit ʼn drie is. As hy die vraag anders gestel het nl.: “Is there any reason why I cannot give a try?” sou die drie heel moontlik nie toegeken gewees het nie.

Tegnologie is wonderlik en kan met groot vrug aangewend word. Ek sou sê dat die TV-skeidsregter enige fout in die vyftree-sone aan die skeidsregter op die veld moet uitwys bloot omdat hy die voordeel van ʼn kyk weer het. Uit ondervinding weet ek dat dinge so vinnig en intens in die vyftree-sone gebeur dat ʼn oordeelfout aan die skeidsregter se kant ʼn bona fide menslike fout is, maar dit kan die gang van die wedstryd verander en ʼn groot finansiële inpak op die betrokke unie (franchise) hê.

Wat die uitslae van die naweek betref was dit maar ʼn 50/50 vir die Suid-Afrikaanse spanne. Die Bulls het lusteloos voorgekom. Die nederlaag beteken egter nie dat die Bulls nou uit die wedloop is nie. Die rol van die stelskopper raak in hedendaagse rugby net te groot om nie konstant ʼn 90% akkuraatheid te handhaaf nie.

Die Leeus het nou besef dat daar ʼn wesenlike verskil tussen Super 15 en die Curriebeker is. Hulle staan ook nie bekend as ʼn span wat goed vaar op toer nie en die rooiligte begin sekerlik daar in die verte flikker.

Geluk aan die Sharks wat ná twee nederlae sommer ʼn bonuspuntoorwinning op hulle tuisveld behaal het.
Dit is nog vroeg in die kompetisie en Augustus lê nog ver, maar geen span kan op sy louere rus nie.

Rugbygroete uit die Bosveld

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Polla Roux

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae