Rugby-wonderwerke die afgelope naweek

Bryan Habana laat die Bulle se verdediging agter om 'n drie te gaan druk Foto: James Oatway

Die tyd van wonderwerke en verrassings is verseker nog nie verby nie.

Die Sharks kom op ʼn heerlike wintersdag vol selfvertroue in die leeukuil aan en draf op die veld met die gedagte in die agterkop dat hulle reeds vyf punte in die sakkie het. Soos in verlede week se blog waar ek tong in die kies gesê het ʼn Leeu-ondersteuner mag maar drome droom, word die droom bewaarheid en vir die Sharks word dit ʼn nagmerrie, helder oordag. Selfs die getrouste Leeu-ondersteuner het tot diep in die tweede helfte getwyfel of sy span die druk en die tempo sal kan volhou. Ek is lankal van mening dat daar werklik nie veel verskil is tussen die topspan en die laagstes op die punteleer nie. Die fisieke voorbereiding en wedstrydontleding van al die Super 15-spanne is by almal van hoogstaande gehalte. Die verskil lê in die geestelike voorbereiding van spanne.

Baie duidelik het die Sharks met ʼn traak-my-nie-agtige-houding op die veld gedraf terwyl die Leeus met ʼn vasberadenheid en strak gesigte stelling ingeneem het . Die res is geskiedenis.

Die ligapunte beteken dat die Leeus nog steeds onderaan die log is, maar die uitwerking gaan baie groter wees op die Sharks.

Dieselfde het oorkant die Jukskeirivier op Loftus gebeur.

Hier dink ek nie dat die spanne nie albei goed gemotiveer was nie, maar die Bulle was net te eendimensioneel om die rotsvaste verdediging van die Stormers te breek. Dit is ook noodsaaklik om alle punte wat aangebied word, in te palm. Die Bulle het by vier geleenthede kantlyn toe geskop in plaas daarvan om na die pale te mik om net eers die neus voor te kry. Ek dink ook die koerante was die Stormers se grootste motiveerder, want almal het gehamer op die feit dat die Stormers met ʼn verswakte span opgeruk het Loftus toe. Die ander spelers het besef dat hulle met die rug teen die muur is en die res is geskiedenis.

Soos gewoonlik het die aankondiging van die Springbokgroep ʼn paar wenkbroue laat lig. Die afwesigheid van Siya Kolisi as een van die opkomende spelers het verras, maar soos altyd in die verlede sal daar maar vraagtekens oor sommige name wees. Wat vir my verblydend is, is dat die bespiegelings oor Fourie du Preez as ʼn moontlike kaptein ook nek omgedraai is en ek dink Fourie self het ʼn groot rol in dié besluit gespeel.

Die Springbokgroep bestaan hoofsaaklik uit spelers wat op vorm is en gedurende die Super 15 konstant goeie rugby gespeel het. Hulle behoort goeie rekenskap van hulleself te kan gee.

Vandag begin die Onder 20-wêreldbeker in die Wes-Kaap en dit behoort goeie rugby op te lewer. Alle sterkte aan Dawie Theron en sy jongspan wat hopelik dié keer nader aan die kampioenskapstitel sal kom as die vorige paar pogings.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.