Rugbyblog

Adriaan Strauss van die Cheetahs Foto: Gallo Images

Deur die grootste Christelike feestyd gaan die Super 15 amper oneerbiedig voort op Goeie Vrydag.

Die wedstryd tussen die Sharks en die Hurricanes lyk volgens die telling of dit ʼn baie eensydige wedstryd was. Dit is nie die geval nie. Die Hurricanes is meesters van die omgekeerde besit en teenaanvalle en toe die Sharks van hulle wedstrydplan afwyk, was die skrif aan die muur. Verder lyk dit of die Sharks aan doellynkoors ly, want telkens as hulle in ʼn posisie is om punte aan te teken, word ongedwonge foute gemaak wat die druk op die tuisspan verlig. Dit is byna ongelooflik om te dink dat die Sharks wat 80% balbesit gehad het, die wedstryd so oortuigend met 6 drieë teenoor twee kon verloor. Dit is ook verseker dat Jannie du Plessis vir ʼn paar wedstryde op die kantlyn gaan sit na die veeghou op een van die Hurricanes. Wat my ook bekommer is die gehalte van die televisie-skeidsregters se beslissing in die wedstryd. Na my mening is 14 punte aan die Hurricanes baie twyfelagtig gewees. Die eindtelling was 42 punte vir die Hurricanes, 18 punte vir die Sharks.

Die ander wedstryde was nie so interessant vir die SA-kyker nie, maar die wedstryd tussen die Reds en die Brumbies het seker groot belangstelling in Australië gaande gemaak, want die Brumbies is tans die voorlopers in die Australiese been van die Super 15 en die Reds is verlede jaar se verdedigende kampioen. Die Reds wen die saai wedstryd, waarin die bal baie geskop is, met 20 punte teenoor 13.

Die Chiefs het ʼn opdraande stryd gevoer om die begeesterde Western Force met 20-12 in Perth te wen. Die wegwedstryd sege hou die Chiefs in die prentjie vir die eindrondtes, maar die seisoen is nog lank.

Soos verwag het die Cheetahs nie veel moeite ondervind om die onbeholpe Lions gemaklik met 26-5 te klop nie. Die Lions was verseker hulle eie grootste vyand. Swak hantering het ʼn hele paar drieë weggegooi en op hierdie vlak kan dit jou duur te staan kom. Vir die Cheetahs het Robert Ebersohn uitgeblink en was Johan Goosen sy ou self in die diktering van die wedstryd. Ek sien swarigheid vir die Lions as hulle volgende Saterdag die Bulls op Ellispark moet aandurf. Hulle selfvertroue het beslis ʼn knou gekry en om dit teen die Bulls reg te stel, gaan ʼn Maanhaar verg en die welpies sal nie die volwassenheid in sewe dae bereik nie. Die Lions is te verstane ook onder aan die punteleer en al speel hulle op Ellispark kan ek nie sien dat hulle gaan vorder op die punteleer nie.

Op Loftus was dit ʼn moet-wen wedstryd vir sowel die Bulls as die Crusaders en veral vir die Bulls na die ietwat kontroversiële neerlaag teen die Stormers verlede week. (Niemand kon tot op hede vir my sê waarvoor die strafskop tydens die laaste skrum aan die Stormers toegeken is nie.) Die Bulls het traag begin en die gebrek aan ʼn ware baljagter het hulle in die eerste helfte teen die Crusaders swaar laat leef. Die Crusaders het gebiedsvoordeel vir die eerste helfte gehad en het die voordeellyn aanhoudend en meedoënloos aangeval. Binne die eerste paar minute was die Crusaders dan ook gemaklik met 10-0 voor. Namate rustyd nadergekruip het, het die Bulls ook op die telbord nader gekruip en met rustyd was die telling ʼn skaflike 13-9 ten gunste van die Crusaders.

Wat alles tydens rustyd in die Bulls se kleedkamer gesê is, kan ʼn mens maar net raai. Dit het egter die regte uitwerking gehad, want toe die Bulls op die veld draf vir die tweede helfte was die Bulls van ouds terug en moes die Crusaders keer vir al wat hulle werd is. Sommer vroeg in die tweede helfte is die mooiste fopaangee nog deur my gesien, tydens die huidige Super 15-reeks, deur Dean Greyling – voorry van die Bulls, uitgevoer. Ná ʼn skitterende lopie van sowat 45 meter het hy sierlik vyf meter van die regter regoppaal oorgeduik om aan die Bulls die voorsprong te verskaf wat hulle nooit weer verloor het nie.

Die Crusaders is nie verniet reeds sewe keer die houer van die trofee nie. Op een stadium was hulle agterstand 32 -16, en toe begin hulle die bal rondgooi met ʼn uitbundige vrymoedigheid. Voor die Bulls hulle oë uitvee, was die Crusaders met twee minute speeltyd oor slegs met twee punte agter. Dit het menige Bulls-ondersteuners byna tot raserny gedryf en baie benoud laat voel. Gelukkig vir die Bulls het die Crusaders, wat die een aanval na die ander geloods het, nadat die sirene vir die einde van die wedstryd reeds afgegaan het, die bal vorentoe laat val en kon Jano Vermaak die bal optel en oor die kantlyn skop vir ʼn welverdiende oorwinning. Die Bulls het dié naelbytvertoning met 32-30 gewen.

Rugbygroete tot volgende keer.

NS. Onthou om Maandag om 18:30 op Supersport 1 na die finaal vir die Varsity-beker tussen Tukkies en Maties te kyk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.