Almal, insluitend die Springbokke se afrigtingspan, het ʼn sug van verligting geslaak toe die eindfluitjie verlede Saterdag skril oor die koue hoëveldluggie die einde van die tweede toets teen Engeland aankondig.
Dit nadat die Springbokke teen ʼn naelloperspas in die eerste helfte weggetrek het. Die eerste helfte was klassieke Springbok-rugby op sy beste. Met die nodige verversings wat teen halftyd seëvierend geskink is op die reuse oorwinning wat nou voor die handliggend is, wag ons op die afskop en die vreugde van ʼn vyftigtal teen die bleekbene van Engeland.
Maar, o wee. Die fut is uit Springbok-geledere en die Engelse het die oorhand in al die vaste fasette en die Bokke moet verdedig dat dit klap om nie die onderspit te delf nie.
Een noemenswaardige statistiek wat vir my die droewe verhaal klinkklaar uitspel, is die kwessie van gebiedsvoordeel. Gebiedsvoordeel hang natuurlik nou saam met balbesit. In die eerste helfte het die Bokke volgens die TV 94% gebiedsvoordeel en aan die einde van die wedstryd is die telling 56% teenoor 44% in die guns van die Bokke. Dit sê vir my die Bokke het maar min gebiedsvoordeel in die tweede helfte geniet.
Beserings en snaakse aanwending van die reserwebank en die swak skopwerk van Morné Steyn het natuurlik alles ʼn groot rol gespeel. Die stelling dat ʼn goeie grote altyd beter as ʼn goeie kleintjie is, is duidelik onderstreep toe die yster Willem Alberts van die veld af is en deur Keegan Daniels vervang is.
Die Bokke was onmiddellik agter die voordeellyn en die Beast sukkel in die skrums want die stukrag ontbreek. Voeg nou daarby die vervanging van die haker en die vasskop terselfdertyd, en die resep vir die agteruitgang is duidelik vir almal om waar te neem.
Hoe dit ook al sy, gelukwense aan Heyneke Meyer en sy afrigtingspan. Die toetsreeks is gewen maar om dit as verskoning voor te hou en ʼn span te kies wat die derde toets as eksperiment gebruik, sal ook nie goed deur die rugbypubliek aanvaar word nie.
Voor 20,000 toeskouers op Nuweland dring die o/20 Bokkies toe die eerste keer deur na die finaal van die o/20-wêreldbekerreeks teen die Baby Blacks van Nieu-Seeland. Daar is spottenderwys geskimp dat daar ʼn leë Nuweland sou wees as die eindstryd tussen Wallis en die Pumitas was. Gelukkig het die grotes (ook op juniorvlak) gewys dat wanneer dit saak maak, die spelpeil gelig word en ons kan nou eerskomende Vrydag ná ʼn bulstryd (verskoon die woordspeling) tussen die Baby Blacks en die Baba Bokke uitsien. Nuweland sal seker weer die Suid-Afrikaanse span kom ondersteun en as die juniors dieselfde spelpeil handhaaf soos in die afgelope twee wedstryde, kan hulle vir die eerste keer die trofee trots bo die kop uitlig.
Interessant om te sien dat die suidelike halfrond se spanne weer almal die oorwinnings oor hul noordelike halfrond teenstanders behaal het. Die rugbykrag lê duidelik suid van die ewenaar.
Rugbygroete tot volgende week