Rugbykwotas: Stilswye is aanvaarding

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) het met sy besluit om streng rassekwotas in die Vodacombeker in werk te stel, gewys dat hy hom min steur aan die menings van die meerderheid lojale rugbyondersteuners wat week ná week rugbykaartjies koop. SARU het daarmee besluit om eerder politieke gedienstigheid aan die ANC se rasse-ideologie te betuig as aan die mense wat hulle salarisse betaal.

RugbyDié situasie is geskep omdat daar ʼn wanbalans bestaan in die verhouding tussen politici, rugbyunies en ondersteuners. Aan die een kant staan die ANC se rasbehepte politici wat volgehoue druk op SARU toepas om die ANC se rasse-agenda te dien. Aan die ander kant staan die lojale rugbyondersteuners. Maar omdat hulle nie ʼn gemobiliseerde groep is nie, word hulle stem nie gehoor nie en kan hulle geen druk uitoefen oor spankeuses nie. Hulle wens, dat sportspanne op grond van meriete saamgestel word, word nie gehoor nie. Dit, tesame met die feit dat ʼn paar SARU-bestuurslede self ‘n rasgedrewe politieke agenda het, het tot gevolg dat ʼn ongewilde, diskriminerende en polariserende kwotabeleid nou toegepas gaan word.

Die ironie is dat die kwotastelsel nooit die verandering kan bewerkstellig wat die owerhede wil hê nie. Kwotas is ʼn pleister wat bo-oor ʼn probleem geplak word en net die sweer daaronder verder ontsteek.

Kwotas doen net skade: Aan wit spelers wat op grond van hulle velkleur uit spanne gelaat word, al weet almal dat hulle talentvol genoeg is om ingesluit te word. Aan swart spelers wat op meriete spanne haal, wie se insluiting vir die res van hulle loopbane onder verdenking is. Aan dié wit spelers wat wel die span haal en aan oorlewingskuld ly. Aan die ondersteuners, wat nie weet of hulle rugby of politiek kyk nie. En, les bes, aan die sport self.

Afgesien daarvan ontwikkel kwotas nie nuwe spelers nie. Kwotas word van bo af op spanne afgedwing, en nuwe spelers wat van onder af ontwikkel moet word, is steeds nie daar nie. As die regering, SARU en die ander rugbyunies regtig ‘n verskil wil maak, sal hulle eerder ʼn verskerpte fokus op ontwikkelingsprogramme plaas. Dit is werklike, eerbare en geloofwaardige vordering. Enigiets anders is ʼn pleister.

Maar daar is ʼn nog donkerder kant aan die kwotastelsel waaroor daar min gepraat word: In die Cravenweek-skolerugbyreeks het dit meegebring dat rugbyunies in die noorde soos die Blou Bulle op groot skaal jong skoliere in die Wes- en Oos-Kaap “koop”. Hierdie kinders word uit hulle huisgesinne gelok met beurse en ander vorme van finansiële vergoeding, en in huurhuise geplaas. Dit is myns insiens immoreel en ʼn vorm van kinderarbeid. Gaan kyk gerus na die samestelling van die Cravenweekspanne in die noorde. Die swart spelers is deur die bank afkomstig uit die suide, of uit private skole, of voormalige model C-skole. Van spelers uit townshipskole is daar geen sprake nie.

Die kwotastelsel is ʼn klinkklare bewys dat die regering en SARU nie hulle werk gedoen het nie. Dis ʼn getallespel waarmee rugbyadministrateurs hulle versuim om werklike rugbyontwikkeling teweeg te bring, wil verdoesel, en waarvoor kinders en jongmense nou met hulle drome moet betaal.

Dit is tyd dat gewone rugbyondersteuners hulle stem laat hoor. AfriForum het reeds besluit om in die komende jaar ʼn boikot teen die Vodacombeker van stapel te stuur, sou SARU nie sy kwotabeleid vir die reeks herroep nie. Só ʼn boikotaksie sal onder meer behels om rugby-ondersteuners te versoek om spesifiek nie Vodacombeker wedstryde by te woon of op TV te kyk nie en om druk op Vodacom as borg te begin plaas.

SARU moet deeglik daarvan kennis neem dat die sosiale media ʼn magtige platform geword het vir gewone mense, en in hierdie geval lojale rugby-ondersteuners, om hulself te laat geld deur die kuber-strategie wat AfriForum beplan. Dit, tesame met die grootskaalse ongelukkigheid onder rugby-ondersteuners oor SARU se kwotabesluit en die feit dat die Vodacombeker-reeks baie kwesbaarder as die groter reekse is, bied ʼn sterk kombinasie van faktore wat sal help om van dié veldtog ʼn sukses te maak.

Rugby3Natuurlik is ʼn boikot ʼn drastiese stap en sal AfriForum nie ligtelik daartoe oorgaan nie. Indien SARU egter met sy rasbehepte besluit volhard en Vodacom nie ingryp nie, móét die roete noodgedwonge om die volgende redes ingeslaan word:

  • Rugbyondersteuners het geen ander manier om die rugbyunies sover te kry om na hulle te luister nie. Indien daar nie nou opgtree word nie, gaan die ANC se politieke agenda aanhou om SA rugby te plooi.
  • Die stilswyende aanvaarding van SARU se rassekwotas in die Vodacombeker sal meebring dat SARU dieselfde soort rassemanipulasie in die Superrugby- en Curriebekerreekse toepas. Deur nou op te offer deur nie Vodacombeker-rugby te kyk nie, kan rugbyondersteuners verhoed dat die groter rugbyreekse ook later onkykbaar raak.
  • Dit is onhoudbaar dat die kwotastelsel reeds op skolevlak talentvolle jongmense se harde werk en drome vernieting deur hulle op grond van hulle velkleur uit spanne te hou.
  • Rugbyondersteuners wil met reg trots kan wees op enige span, ongeag die spelers wat in die span speel, maar hierdie wens word nie gerespekteer nie.
  • Stilswye hieroor kan meebring dat politieke agendas ook met groter selfvertroue op ander fasette van rugby bevorder word. Die situasie het reeds so ver gevorder dat ʼn ANC-politikus onlangs ná die Superrugby-halfeindstryd op Loftus toegelaat is om ʼn toespraak op die veld te lewer.

Stilswye is nie neutraal nie, stilswye beteken aanvaarding. Die enigste manier om SARU te laat verstaan dat rugbyondersteuners nie ‘n politiekery in die sport wil hê nie, is om op te tree. Rugbyondersteuners se stem moet nóú gehoor word. ʼn Eerste stap sal wees om nie Vodacobekerrugby te kyk, sou kwotas weer ingestel word nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers, Sport

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.