Ruimtelike ontwikkeling vra meer ruggraat

Deur Burgert Gildenhuys

Burgert Gildenhuys

Hoewel een jaar vlietend in terme van stedelike en ruimtelike beplanning is, is dit tog waardevol om die hardnekkigste uitdagings van 2021 te ontleed om die plan van aksie in 2022 (en daarna) vir stads- en streeksbeplanners vas te stel.

Stedelike ontwikkeling en die impak van ruimtelike beplanningsbesluite of -ingrepe duur dekades en selfs eeue. Die afname in die kapasiteit van munisipaliteite, nasionale kwessies se invloed op plaaslike ontwikkeling, warm internasionale kwessies wat plaaslike kwessies oorskadu en verouderde beplanningsdata skep blywende uitdagings in Suid-Afrika.

Die voortdurende afname in kapasiteit van munisipaliteite in beide finansiële en institusionele terme is ʼn kwessie waaraan 2021 gekenmerk is. Die Zondo-kommissie het staatskaping ontbloot en dis duidelik hoe kaderontplooiing die regering se kapasiteit op alle vlakke aangetas het. Op plaaslike regeringsvlak het dit tot die herlewing en herwinning van die back to basics-konsep gelei om dienslewering te verbeter. Strukturele kwessies soos versnelde verstedeliking het armoede egter as gevolg van ʼn dekade van ekonomiese verval laat toeneem, en die regering se hantering van Covid-19, tesame met die wantoepassing van beleid, het sake nie juis verbeter nie.

Die regering se oplossing was om kapitaalbestedingsraamwerke te gebruik om investeringsbesteding te koördineer en – in die ware Suid-Afrikaanse tradisie – nog ʼn plan (District One Plan) tot die groeiende mengelmoes van planne te voeg om die illusie van ontwikkeling te skep.

Die mees beduidende aspek is waarskynlik die verskerpte poging om beplanning te sentraliseer, wat tot meer duplisering en minder resultate gelei het. Desentralisering en privatisering om kapasiteit en ruimte vir ontwikkeling te skep, is vir die regering skelwoorde.

Ons kan verwag dat die kapasiteit van munisipaliteite, selfs dié onder nuwe koalisies, sal voortgaan om te verval. Gemeenskappe se stappe tot selfonderhouding sal in die komende jaar groei; nie as ʼn alternatief tot bestaande stelsels nie, maar eerder as ʼn oorlewingsmeganisme.

In 2021 was dit duidelik hoe nasionale kwessies plaaslike beplanning, ontwikkeling en dienslewering oorskadu en ontspoor. Die plaaslike regeringsverkiesing was byvoorbeeld alles behalwe plaaslik en op nasionale vlak deur politieke partye gedryf en beheer.

Die grootste politieke partye het dit almal in gemeen dat politieke besluitneming en ingrepe hoogs gesentraliseerd is. Dit is die rede hoekom nasionale politieke kwessies plaaslike politiek aandryf. Daar is verder ook geen onderskeid tussen politiek en administrasie nie. Uiteindelik is dit onmoontlik om ononderbroke dienste te lewer in ʼn stelsel waar politici uitvoerende rolle speel en politieke partye amptenare aanstel.

Die probleem is dat Suid-Afrika in ʼn konstante verkiesingvorm bly. Twee jaar na die nasionale verkiesing vind die munisipale verkiesing plaas, en dit word opgevolg deur die ANC se leierskapstryd in aanloop tot die volgende nasionale verkiesing. Die proses kom nooit tot ʼn einde nie. Daar is nooit geleentheid om diensleweringsbeleide en -strategieë aan te pas en te verbeter nie, of moeilike besluite deur te voer nie. Ons moenie verwag dat dit sal verander as die regering verander nie, want dit is eenvoudig op alle vlakke verskans.

Binne die uitdagende politieke omgewing en afnemende kapasiteit is Suid-Afrika altyd op die uitkyk na iets wat dinge beter sal laat vertoon. Die opkomende ster van 2021 was “slim stede”, met die president wat aangekondig het dat die regering só ʼn “slim stad” in die Oos-Kaap sal bou. Afgesien daarvan dat ʼn mens nie ʼn slim stad kan bou nie, maar dat slim stede manifesteer in hoe tegnologie in die bou-omgewing toegepas word, is ons goed met die regering se ster-van-die-week-aanslag bekend. Dit het begin met burgersentrums in die 1970’s, winkelwandellane (malls) in die tagtigs, waterfrontontwikkelings, miljarde verspilde rande op die wanfunksionele busvervoerstelsels (BRT) en spesiale ekonomiese sones, aerotopoli en lughawestede.

Klimaatverandering is besig om in gewildheid as ʼn sentrale kwessie te klim en ons kan – reg of verkeerd – verwag dat dit in 2022 momentum sal kry. Die verskyn en verdwyn van onderwerpe wat dikwels internasionaal of op nasionale vlak ontwikkel, trek die aandag van plaaslike probleme af. Die megakwessies poog om polities ʼn baken van hoop in moeilike tye te skep, of skep ʼn krisis waaragter politici hulle gewig kan ingooi of meer ingrepe kan regverdig.

Uit ʼn stedelike ontwikkeling en -beplanningsoogpunt was die vierde uitdaging van 2021 ʼn toenemende bewuswording dat ons beter beplanningsdata benodig. Meer data sonder gebruiksbeperkings (open source) het in 2021 beskikbaar geraak, en dit word deur verbeterde tegnologie soos kunsmatige intelligensie en masjienleer ondersteun. So byvoorbeeld is die voetspore van geboue groter as 2 m x 2 m oor die hele Afrika en gedetailleerde bevolkingsdata in ʼn 100 m x 100 m rooster bekendgestel. Hierdie neiging sal in 2022 toeneem en sal beplanningsontwikkeling in so ʼn mate bevoordeel soos wat nooit voorheen moontlik was nie.

Die internasionale toepassing van tegnologie in ruimtelike beplanning is snel en op groot skaal. Maar, as gevolg van vaardigheidsbeperking is die proses in Suid-Afrika stadig. Daar is verskeie voorbeelde van sleutelbeplanningsdokumente op plaaslike regeringsvlak wat nog syfers van 2011 as die jongste beskikbare data gebruik. Die hoogtepunt van 2022 is die nasionale sensus wat in Februarie plaasvind, en resultate wat later vanjaar verwag word. Die geleenthede wat uit die groeiende toegang tot beter data spruit, lê in die vermoë om vanuit ʼn beter kennisbasis te beplan en te implementeer. Maar, die onvermoë om tegnologie te ontgin en daarby aan te pas, sal baie stadsbeplanningspesialiste met onvoldoende vaardighede oortollig maak.

Vooruitgang in beplanning, ontwikkeling en dienslewering in 2022 sal van ons vermoë afhang om te fokus en realistiese verwagtinge te hê oor wat gedoen en nie gedoen kan word nie. Ons sal voortgaan om in beperkte vaardigheids-, institusionele en finansiële omstandighede en in ʼn hoogs polities gedrewe omgewing te beplan en dienste te lewer.

Elke rolspeler en praktisyn se belangrikste bydrae moet wees om gefokus te bly en realistiese verwagtinge te skep. Ons kan nie voortgaan om die standaarde te verlaag ter wille van politieke voordeel nie. In 2022 het ons ʼn sterk professionele beplanningsgemeenskap nodig wat beleide en ontwikkeling met vaardighede, kennis en ervaring – gegrond in feite – kan uitdaag en adviseer.

Om 2022 ʼn mylpaaljaar te maak, moet stads- en streeksbeplanners hulle vaardighede opskerp, hulle rûe styf maak en ophou om bloot politieke napraters te wees.

  • Burgert Gildenhuys is ʼn konsultant wat in munisipale beplanning, finansies, infrastruktuurbelegging en stedelike ekonomie by BC Gildenhuys & Associates spesialiseer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik ·

Metros en stadsrade kan nie die SPLUMA wetgewing implimenteer nie en funksionele stads en streeksbeplanning gebeur nie meer nie en alle ontwikkeling is politieke krisis beheer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.