Rus sag Suna: Die stryd is nie verby

Suna Venter. Foto: Facebook

Suna Venter se dood is ʼn terugslag vir joernalistiek. Sy was dapper. Sy was begeesterd en toegewyd. Sy was ʼn formidabele vrou en joernalis.

Ek het Donderdag met groot skok verneem van die dood van my voormalige kollega en vriendin. Vir drie jaar het ons langs mekaar gesit by die SAUK en saam gewerk aan RSG se Monitor en Spektrum. Ons was elke oggend om 04:30 op kantoor en dan het ons alles gegee. Saam sou ons die wêreld verander. En Suna, dít het jy beslis gedoen.

Suna het my geïnspireer en aangemoedig en haar passie vir joernalistiek was aansteeklik. Ek het oneindig baie by haar geleer.

Ons leuse: “Forwards ever backwards never.” Só het Suna geleef. Ek was nie meer by die SAUK toe Suna en sewe ander joernaliste geskors is nadat hulle hulself uitgespreek het oor omstrede redaksionele opdragte nie. Maar Suna het soos altyd vorentoe gebeur te midde van die dreigemente en fisieke voorvalle.

Suna het haar werk gedoen met passie, eerlikheid, opregtheid. Sy het deernis gehad en sy was onverskrokke. Suna, ek salueer jou vir wat jy gedoen het. Jy het ʼn manier gehad om luisteraars vas te vang met die stories wat jy vertel het. Jou sagte stem sal nooit stil raak nie. Jou dood sal nie tevergeefs wees nie. Ons sal aanhou veg vir mediavryheid.

Suna was ʼn slagoffer van die stryd vir die waarheid en moes met haar lewe daarvoor boet. Haar voortydige dood mag nie niks beteken nie. Sy het die goeie stryd geveg en sal voortaan die simbool wees vir die stryd vir mediavryheid in die demokratiese bestel. Ons sal aanhou veg in haar naam, vir vryheid, deursigtigheid en die onafhanklikheid van die media.

Liefste Suna, rus sag en speel lekker saam met die kindertjies vir wie jy so diep omgegee het. Soos iemand gister tereg opgemerk het: “Suid-Afrika is van ʼn baie kosbare skat beroof.”

Ek sluit af met die gedig wat Suna in Maart 2016 op Facebook geplaas het:

I believe in good and bad
Happy sad, sad and glad
I believe in black and white
Up and down, dull and bright
I believe in wrong and right
In and out, loose and tight

Ek glo in die wiel wat draai
Die son wat sak, die haan wat kraai

I believe that God exists
What you call him is the trivial bit.
Thus I believe that life is fair
And that nothing is too much to bear.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Adeline ·

ñ Duur prys om te betaal..ek dink “iemand” behoort tot verantwoording gebring te word.
Rus sag Suna..my gunsteling joernalis gewees???

Lea ·

??? Ek het altyd na jou geluister, rus sag en weet jy was geliefd. ?

Amanda Ferreira ·

Nico, wat ‘n baie mooi nagedagtenis aan Suna, soos net jy dit kon bewoord. Groete, Amanda – Paarl

Swartkat ·

Rus sag Suna, die struggel vir geregtigheid en eerlikheid begin nou eers , wens daar was meer van jou soort

Anton ·

Jy met die mooiste stem, het so baie harte gewen;
Dapper, eerlik, passievol en met integriteit getooi; was jy die simbool van ons land se mooiste mooi.
Wie sou dit tog wil, my hart bloei … jou stem is stil.

Ashlee ·

n Duur prys betaal. Baie harte gewen. Dapper. Struggle vir geregtigheid. Simbool van ons Land se mooiste mooi. Jou stem is stil. En so lees ek. Sal ek nou byvoeg. “Jy moes hul Land verlaat het. Jare gelede. Jou talent sou welkom wees ver, ver oor die water, weg uit die donker. Waarom het jy nie? Jy moes. Jy is weg. Nie na jare van lewe, maar as, ja as as. Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou die vreemde Land.

John ·

Ons moet mekaar beskerm. Stres staan nie op die voorkoppe geskryf van eerbares wat daaronder gebuk gaan nie… dis juis die gevaar…

Ander Annie ·

Pragtige huldeblyk Nick. Suid Afrika het ‘n mooi mens met ‘n goue stem verloor.

Malan ·

Baie dankie Nico vir jou mooi woorde oor Suna. Dit voel of ons n familielid verloor het. Suna het n sterk sin vir geregtigheid gehad….haar moed sal baie inspireer. Rus in vrede Suna…ons gaan jou baie mis!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.