Rush Limbaugh en die konserwatiewe hoofstroom

Rush Limbaugh. (Foto: Jim WATSON/AFP)

Die mediabedryf het twee ontslape persone te danke vir die vestiging van ’n konserwatiewe aanslag in wat as hoofstroommedia beskou kan word. Die een is Andrew Breitbart wat verantwoordelik was vir die vestiging van Breitbart.com en platforms soos Big Government en Big Hollywood. Hy het ook ’n prominente rol gespeel in die onthulling van die Anthony Weiner-skandaal en sy nalatenskap

Die ander een is die politieke kommentator en radiopersoonlikheid Rush Limbaugh. Limbaugh, wat Woensdag in die ouderdom van 70 aan kanker oorlede is, se program is reg oor Amerika geluister. Hy het ook verlede jaar, onder die presidentskap van oudpresident Donald Trump die Medalje van Vryheid ontvang. In plaas daarvan dat hy geldinsamelings vir sogenaamde gewilde kwessies soos transgenderveldtogte ondersteun, het Limbaugh eerder sy gewig agter veldtogte ter ondersteuning van veterane van die Amerikaanse weermag gegooi.

Daar word dikwels aanvaar dat die hoofstroom noodwendig na links moet neig en konserwatiewe idees moet afskiet of die spot daarmee dryf. Dit is egter nie die geval nie. Limbaugh se Rush Limbaugh Show het sy buiging in 1988 gemaak en was 33 jaar lank op die lug. Die program is aanvanklik op 56 radiostasies uitgesaai en het later gegroei tot meer as 600 radiostasies waarop die program uitgesaai word met ’n geskatte 16 miljoen luisteraars. Sommige bronne skat dit so hoog as 27 miljoen. Konserwatief beteken dus nie noodwendig klein nie.

Limbaugh se sukses is daarin gesetel dat hy op ’n skerpsinnige en dikwels omstrede wyse sosiale kwessies gepak het. So het hy byvoorbeeld by geleentheid gesê dat feminisme geskep is om onaantreklike vroue toegang tot die sosiale hoofstroom te gee. Of dat jy ’n aborsie kan stop deur daarop aan te dring dat dit met gewere uitgevoer moet word – ’n verwysing na die feit dat diegene wat pro-aborsie is, dikwels gekant is teen die besit van vuurwapens. Hy het ook sterk standpunt teen die afhanklikheid van maatskaplike toelaes ingeneem en gewaarsku dat in ’n land waar kinders stemreg het, hulle Kersvader bo werk sal kies.

Alhoewel sommige van Limbaugh se uitlatings omstrede was, is ’n belangrike rede vir sy gewildheid die feit dat gewone Amerikaners aanklank gevind het by wat hy sê. Die persepsie word dikwels geskep dat linkse idees die meeste ondersteuning geniet en dat daar geweldig baie steun bestaan vir, byvoorbeeld, die wegdoen van tradisionele aanspreekvorme wat ’n persoon se geslag betref. Die waarheid is egter dat die meeste mense gesinsmense is met tradisionele waardes en ’n konserwatiewe lewensbeskouing. In ’n tyd waarin linkse propagandiste met randfiguuruitkyke die diskoers probeer bepaal het in die hoofstroommedia, het persone soos Rush Limbaugh en Andrew Breitbart gesê daar moet ’n alternatiewe perspektief wees op diegene wat gesinswaardes ondermyn en sosialistiese ekonomiese beginsels bevorder. Daar moet ’n alternatiewe, of dan konserwatiewe, hoofstroom wees – ’n werklike weerspieëling van Amerika se waardes. Hierdie pioniers het ook as inspirasie gedien vir diegene wat ander konserwatiewe mediaplatforms geskep het waarvan een van die snelgroeiendste tans die Daily Wire van Ben Shapiro is.

Van al die lesse wat daar van Rush Limbaugh te leer is, is die belangrikste seker die een wat spruit uit ’n antwoord wat hy in Desember gegee het toe hy oor sy siekte gevra is: “Lewe met dankbaarheid, want almal het ’n vervaldatum”.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anna-marie ·

Dankie James.
Gister het Dr Steve Turley van Turley talks ook aan hom hulde gebring (op Parler).

Vrijburger ·

Ons het ‘n nuwe geslag konserwatiewe kommentators nodig as teenvoeter vir die linkse media aanslag veral in die VSA.
Ben Shapiro en Candace Owens tans van my gunstelinge.

Therese ·

Die reaksie uit Hollywood op hierdie man se afsterwe was net eenvoudig skokkend.
Wat word van die VSA, en die Westerse beskawing oor die algemeen, as een konserwatiewe man se dood soveel haat en disrespek loslaat?
Net een voorbeeld; “RIP Rot In Purgatory”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.