Rusland en Poetinisme

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Druzhinin/Sputnik/AFP)

Dis ʼn tragedie van ongelooflike afmetings wat nou in Oekraïne afspeel. Volgens Navo het al minstens 15 000 Russiese soldate omgekom in die konflik met Oekraïne, terwyl dié land se regering meen hulle eie verlies tot dusver was sowat 1 300 soldate. Die burgerlike dodetal is minstens 1 500. Daarby het oor die vier miljoen mense gevlug na buurlande. Dis alles maar geskatte getalle, maar dis erg.

Waarom moet soveel menselewens ontwrig word en duisende sterf? Kan dit wees dat dit net oor die ego van een man gaan – pres. Wladimir Poetin? Dis minstens deel van die verklaring, sê prof. Gerrit Olivier, in sy boek Assignment Moscow wat onlangs verskyn het. Hy was Suid-Afrika se eerste ambassadeur in Rusland. Hy het in 1991 begin om ʼn belangekantoor in Moskou te vestig. ʼn Jaar later is diplomatieke bande amptelik aangeknoop. Olivier is aangestel as die eerste ambassadeur en het dié posisie vier jaar lank beklee. Dit was in die onstuimige tyd toe die ou kommunistiese garde in Augustus 1991 probeer het om ʼn staatsgreep uit te voer in reaksie op die destydse president, Mikhail Gorbatsjof, se hervormingsplanne. In ʼn teen-staatsgreep het Boris Jeltsin oorgeneem, die kommunistiese party verbied en ʼn verkiesing gehou om die demokrasie in Rusland te vestig.

In ʼn onderhoud het prof. Olivier daarop gewys dat Rusland in sy lang geskiedenis nooit demokrasie ervaar het nie, behalwe tot ʼn mate in die jare van die Jeltsin-presidentskap, maar dit het maar chaoties verloop. Die Russe was al so 1 000 jaar lank gewoond aan outokrasie deur koningsgesinne, toe die kommunistiese bewind van Lenin en daarna Stalin. Ná die Tweede Wêreldoorlog het Stalin seker gemaak dat hy ʼn groot oorlogsbuit kry en so is die Sowjetunie met sy 14 republieke gevestig, wat lande soos Pole, Hongarye, Tsjeggië en inderdaad ook Oekraïne ingesluit het.

Volgens Olivier was Jeltsin ʼn slim politieke strateeg, maar hy het niks van die ekonomie geweet nie. Hy het ʼn gemors daarvan gemaak. In 2000 het Wladimir Poetin ná ʼn verkiesing aan bewind gekom en sy Poetinisme begin toepas. Vir Poetin gaan dit oor soewereiniteit, veiligheid en prestige. Hy is gebelg oor die kwessie dat Rusland sy supermoondheidstatus verloor het en wil dit herstel tot minstens soos dit was in die tyd van die Koue Oorlog. In die proses huiwer hy nie vir een oomblik om geweld te gebruik nie – al kos dit hoeveel lewens. Die Russiese soldate het al ʼn groot prys betaal vir Poetin se magsbeheptheid.

Olivier meen dat die Russe nog baie gaan ly as die internasionale sanksies eers begin byt. Hy het deur die jare kontak behou en vriende en kennisse besoek. Hy weet steeds baie goed wat in Rusland aangaan. Met emosie in sy stem sê hy jy kan Russiese leiers veroordeel, maar dis vreeslik dat gewone Russe so moet ly. Hy ken die Russe as vriendelike, begaafde mense wat internasionaal naam maak as kunstenaars, musikante, sangers, dansers, skrywers en wetenskaplikes. Ek het dieselfde ervaar toe ons gesin twee jaar gelede, net voor die groot pandemie getref het, Rusland besoek het.

As bewys van Russiese talent sluit ek ʼn skakel in van die beroemde bariton, Dmitri Hvorostovsky, wat tragies aan breinkanker dood is op die relatiewe jong ouderdom van 55 jaar. Hy sing juis ʼn volksliedjie wat handel oor die soldate wat hulle lewens verloor op oorlogsvelde en as kraanvoëls terugkeer.

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Hieronder vertel ek ʼn paar stories van ʼn werkbesoek wat ek aan Rusland gebring het. Dit is in my boek opgeneem: Op die man af.

Russiese besoek

In 2001 het ek die geleentheid gekry om saam met ʼn klompie Suid-Afrikaanse joernaliste Rusland te besoek. Ons het saam met ʼn regeringsafvaardiging gereis wat daarop gemik was om bande tussen Suid-Afrika en die nuwe Russiese Republiek te versterk. Dit was ʼn belewenis om op die Rooi Plein in Moskou te staan – daar waar die mag van die Sowjetunie so dikwels geparadeer is met duisende soldate wat oor die plein en verby die Kremlin gemarsjeer het waar nors leiers gestaan het. Die troepe is gevolg deur intimiderende groot vuurpyle, tenks en militêre voertuie. En nou was daar niks meer daarvan nie. Nou was die wêreld oop vir die Russe en hulle vir die wêreld.

Ballet

Ek het die geleentheid aangegryp om een aand na ʼn vertoning van die Bolsjoi-ballet te gaan kyk. Dis ʼn geselskap wat al sedert 1776 bestaan en natuurlik internasionaal welbekend is. Op die besonderse aand is La Bayadere opgevoer. Daar was ʼn volle orkes. Die omvang en grootsheid van die vertoning met talle dansers op die verhoog en indrukwekkende stelle het ʼn mens getref. Ná die vertoning kon ons met die direkteur van die geselskap praat. Hy was redelik pessimisties. Die Bolsjoi was dekades lank die Sowjetunie se spoggeselskap en die regering het dit ten volle gefinansier. Maar deesdae, kla hy, moet hulle soveel moontlik bespaar. Die regering gee net minder en minder geld. Regeringsprioriteite sluit nie die skone kunste in nie. So is dit ook in Suid-Afrika en vele ander lande.

Van verkyker tot ver kyk

Ons was aangenaam verras dat verskeie projekte reeds aan die gang was tussen Rusland en Suid-Afrika. By ʼn ingenieursmaatskappy in die buitewyke van Moskou het ons twee Suid-Afrikaners raakgeloop wat saam met die Russe besig was om die groot spieëls vir die nuwe teleskoop op Sutherland in die Karoo te maak. Dis presisiewerk en hoogs gesofistikeerde tegnologie. Die maatskappy was tydens die bewind van die Sowjetunie ʼn verskaffer van spesialistoerusting aan die land se weermag.

Een produk was byvoorbeeld verkykers. Ná die val van die kommunistiese bewind moes die maatskappy homself hervorm om te oorleef. Hy moes sy tegnologie en vaardigheid inspan vir die maak van kommersiële produkte en internasionaal meeding. En dit was waarmee hulle hulleself heel besig gehou het. Die maatskappy het vir my en kameraman Johan Abrahams elk ʼn klein maar besonder kragtige verkyker gegee. Ek moet sê die instrument was indrukwekkend, maar swak afgewerk en nie mooi ontwerp nie. Maar hulle werk vir Sutherland was tops, sê ons medeburgers. En dink net: hier het ʼn maatskappy van verkykers gevorder tot vrek ver kyk met ʼn teleskoop!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marthinus W ·

Wladimir Poetin neem elke jaar aan ten minste drie geleenthede deel waar hy ex tempore – uit die vuis – vrae beantwoord. Gewoonlik gedurende April is dit die V&A, waar enigeen van regoor die wereld vrae kan vra, en in die verlede het selfs Edward Snowden deelgeneem. Hier sit hy dan vir drie, vier ure, en moet sy antwoorde goed doen. Een vraag so n paar gelede was van n skoolkind wat wou weet of Rusland n supermoondheid is. Poetin het gese “nee, ons is nie, maar ons het ook geen begeerte om een te wees nie. Dis duur en dien geen doel. Ons gebruik eerder die geld om die land op te bou, die ekonomie te diversifiseer, ens.” Dalk het die prof dit nie gesien nie, want ek dink sy evaluering van Rusland is nie suiwer en in die kol nie.

Daar is ook n groot verskil tussen Jeltsin [Rusland se Jacob Zuma] een Poetin. Jeltsin, Oekraine en Belarus se leiers het die Sowjetunie ondemokraties, sonder n stemmery of referendum, eensydig tot niet verklaar. Poetin moet nou die gemors regmaak.

Groen Ghoen ·

Die VSA en NAVO het vir jare lank die strop al nouer om Rusland se nek getrek. Doen gerus die navorsing. Vir Rusland is die risiko van ‘n magsopbou op sy grense se gevolge dalk veel erger as dit wat nou gebeur?

Autobahn ·

Soewereiniteit en veiligheid is doelpale wat elke leier vir sy land moet nastreef. Onder Jeltsin se presidentskap was Rusland vinnig besig om die eie soewereiniteit te verloor. Iets wat Japan en Duitsland sedert 1945 as besette lande nog steeds nie besit nie.
Onregstate soos bv die VSA, Kanada, Suid-Afrika en Duitsland, kan nie demokraties wees nie. ´n Land kan nie sowel demokraties as ook ´n onregstaat wees nie. Daar is genoeg voorbeelde om te bewys dat Duitsland ´n onregstaat is. Die bewyse lewer ek graag.

Was lande soos Pole en Hongarye deel van die Sowjetunie?

Koen ·

Verbasend hoe baie Poetin ondersteuners hier is. Hulle juig seker as hulle die foto’s van Oekraiine sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.