Rusland kan nie net as sleg afgemaak word nie

Wladimir-Poetin-president-van-Rusland-Foto-Rusland-regeringskantoor-

Pres. Wladimir Poetin van Rusland. Argieffoto

Ons denke oor watter lande goed en watter lande sleg is, word gereeld deur Westerse en veral Amerikaanse politici en media beïnvloed. Israel is goed. Iran is sleg. Saoedi-Arabië is goed. Rusland is sleg. Die Oekraïne is goed. En so kan ’n mens byna elke land in die wêreld in ’n oorvereenvoudigde kolom van goed of sleg gaan plaas.

Hierdie kategorisering is natuurlik ’n resultaat van ’n internasionale politieke strategie wat veral deur die VSA sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog geïmplementeer is en waarvolgens bondgenote in verskillende streke gekies word en jou vriend se vyand jou vyand en jou vriend se vriend jou vriend is.

Dat hierdie denke onvolhoubaar is, is tans duidelik sigbaar in die Midde-Ooste waar die Amerikaners met minder en minder geloofwaardigheid kan stilbly oor die sondes van hul bondgenote en met min geloofwaardigheid hul vriende se vyande kan bly swartsmeer.

’n Land wat die afgelope paar jaar toenemend in die verste hoek van die slegte kolom geplaas is, is natuurlik Rusland. Wladimir Poetin is ’n outokratiese egoïs wat alle hoop op ’n demokratiese Rusland vernietig. Rusland se inval en oorname van die Krim-skiereiland is ’n daad van oorlog teen die Oekraïne, en toe meng die Russe ook nog in met die Amerikaanse verkiesing.

Die Amerikaanse Pew Navorsingsinstituut het vroeër vanjaar resultate van peilings wat onder Russe gedoen is, bekend gemaak. Daarvolgens is 87% van Russe tevrede met Wladimir Poetin se hantering van internasionale aangeleenthede. Byna geen Westerse politieke leier geniet soveel steun onder sy/haar burgers nie. Dit is duidelik dat die oorgrote meerderheid van Russe heeltemal gelukkig is met Poetin se outokratiese regeerstyl.

Die ingewikkelde geskiedenis van die Krim-skiereiland word ook in oorvereenvoudigde argumente misken. Russiese historiese aanspraak op die skiereiland kan nie net weggewens word nie. Oor die inmenging in die Amerikaanse verkiesing is dit duidelik dat Russiese individue die verkiesing deur sosiale media probeer beïnvloed het, maar dat daar geen bewys bestaan dat Rusland en sy regering dieselfde probeer doen het nie.

Talle Amerikaners, George Soros sal seker die beste voorbeeld wees, het al meer direk probeer om verkiesings in lande soos Hongarye, Mexiko en veral Suid-Amerika te beïnvloed. Die mislukte Amerikaanse oorlog in Irak is ’n baie groter voorbeeld van ’n sinnelose oorlog en inmenging in die soewereiniteit van ’n ander land, as wat Rusland se betrokkenheid in die Oekraïne ooit was.

Daardeur probeer ’n mens nie sê dat Rusland se optrede reg is nie. Om die waarheid te sê – daar is baie rede om bekommerd te wees oor Rusland se toekomstige rol in Oos-Europa, die Midde-Ooste en Asië.

Dit is egter asof die Amerikaners lankal vergeet het dat dit die Russe was wat, toe die Nazi’s in 1942 op die punt was om die Tweede Wêreldoorlog te wen, met ’n groot oorwinning in Stalingrad 300 000 van Duitsland se beste soldate uitgewis en die Nazi’s op die agtervoet geplaas het. Rusland het 27 miljoen lewens in die oorlog verloor. Dit is sestig keer meer as die Amerikaners.

Rusland se bydrae in die Tweede Wêreldoorlog moet nie misken word nie. Ook nie hul sondes wat later teen Duitse burgerlikes gepleeg is of ander sondes wat vandag steeds gepleeg word nie. Amerikaanse kategorisering van goeie en slegte lande is egter nie bevorderlik vir beter samewerking tussen groot wêreldmoondhede in die ware stryd teen boosheid in konflikgeteisterde gebiede van die wêreld nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Eish ·

Vladimir Putin is myns insiens n puik politikus. Al die onderhoude wat met hom gevoer word, kwyt hy hom uitstekend van sy taak. Hy is verseker op hoogte wat aangaan in die wêreld. Die verwysing na die inmenging in die Amerikaanse verkiesing, is n kwessie wat nog nie bewys kon word nie, maar slegs gissings van die liberale kant van die VSA.

Ek is ook nie so seker of hy as n outokraat beskryf kan word synde sy gewildheid onder die Russiese bevolking nie.

Ek moet eerlikwaar erken, hy beïndruk my as n uitstekende leier. Verseker sal hy ook maar soos ons almal n paar skuurmerkies hê, maar in geheel, n leier met ruggraat.

Kannaland ·

Onafhanklik, objektief. Objektief. Objektief. Joernaliste van ander mediagroepe, leer tog nou hier wat objektief regtig beteken. Dankie Maroela dat julle ware objektiewe ontleders ‘n kans gee.

Piet Snot ·

Ek stem, Kannaland.
Werklik verfrissend om waarlik onafhanklike kommentaar te lees.

Rina Pretorius ·

Ek dink ook hy is by uitstek een van die beste landsleiers ooit. Hy staan op sy regte. Ons het so iemand in SA nodig dink ek

CJ ·

Jaco. Die verliese in die Tweede Wêreldoorlog waarmee jy die Russe komplimenteer, is seker deur die hele USSR gely? Hierdie massiewe verliese is, anders as wat jy aanvoer, geen rede om positief oor die Russe te wees nie. Daar was drie redes vir hierdie verskriklike verliese:
1. Militêre vermoë en ongenaakbaarheid van die Duitsers en hul bondgenote (nie hier ter sprake nie).
2. Onvoorbereidheid van die USSR en onbeholpenheid aan die begin van die oorlog,o.a. a.g.v. die massa-uitwissing van USSR offisiere deur Stalin voor en selfs tydens die oorlog. Nie iets om die Russe oor te prys nie.
3. Gebrek aan respek vir die lewens van hul eie mense deur Stalin en USSR offisiere, wat bereid was om van hulle troepe op argelose wyse kanonvoer te maak. Nie ets om die Russe oor te prys nie.

Putin is die Stalin van ons tyd. Hoe mens hom kan bewonder of aanprys, gaan my verstand te bowe.

Richard ·

Ek verstaan ook nou nie heeltemal hoe militêre “sukses” gemeet word aan hoeveel manskappe die wenkant verloor het nie…

Eish ·

Nou wat het Stalin se wreedaardighede met Putin te doen?
Hy was nog nie eens n twinkle in sy ouers se oge op daardie stadium nie.

CJ ·

Eish. Daar is baie ooreenkomste tussen Putin en Stalin. Albei se dryfveer, is mag. Eerstens persoonlike mag. Indien iemand glo dat hy bestem is om sy land tot grootsheid te lei, en net HY dit kan doen, is daar groot fout. Dit is waarom Putin so vasklou aan sy eie persoonlike mag. Dit gaan ook oor nasionale mag. Net soos Stalin, streef Putin na geo-politieke mag vir die Russe. Hy smag na die gloriejare van die USSR en poog om swakker buurlande in die Russiese invloedsfeer te dwing. In die styl van Stalin, het hy ‘n koue oorlog met die Weste ontketen en poog om die Weste op enige moontlike manier te ondergrawe. Gelukkig, anders as in Stalin en Hitler se era, met die “appeacement” van ‘n Chamberlain (teenoor Hitler) en Rooseveldt (met Stalin), het ons leiers in ons tyd gehad soos Obama en Merkel, wat besef het dat mens ‘n magshonger fanatikus net op een manier kan stuit, en dit is met mag. Gelukkig het selfs Trump nou blykbaar wakker geskrik uit sy idiliese droom van vriendskap met Putin. Heel belangrikste natuurlik, is die opbloei van nasionalsime in die meeste state van Oos-Europa en ‘n vasberadenheid dat hulle nooit weer aan Russiese imperialism onderwerp sal word nie . Daarom het van hulle by NAVO aangesluit (onder die VSA se leiding), om teen Putin en die Russiese imperialism weerstand te bied.

Boerseun ·

CJ, en Ons moet nie bang wees vir die globalist verkose pionne Markel en Obama. Maar gelukkig is julle tyd op n einde

CJ ·

Ek probeer maar weer: Jaco, die vreeslike verliese tydens die Tweede Wëreldoorlog waarmee jy die “Russe” komplimenteer, was sekerlik deur die hele USSR gely? Dit sluit o.a. die hedendaagse Oekraine in. Hierdie verskriklike verliese was oa as gevolg van die onbeholpe USSR weermag aan die begin van die oorlog, wat veroorsaak is deur die uitwissing van offisiese voor en selfs tydens die oorlog deur Stalin (vir politieke redes). Verder ook het Stalin en sommige offisiere geen respek vir menselewens gehad nie – ook nie vir hulle eie soldate nie en is hulle maklik opgeoffer. Die verskrikilke verliese wat die USSR gely het, is beslis nie ‘n rede om hulle nou aan te prys nie. Inteendeel, dit is ‘n klad op hul naam!

Henry ·

Ek probeer ook maar weer.
Die “verskriklike verliese” is tewyte aan die Duitsers wat die USSR in ‘n valse gevoel van veiligheid bedrieg het. ‘n Skrale 2 jaar na die Molotov-Ribbentrop verdrag en onderneming dat die twee state nie mekaar sal aanval nie, het Hitler die Barbarossa inval beveel.
Die Russe se eeue oue en legendariese lojaliteit teenoor hul vaderland, het uiteindelik verseker dat die Duitsers, soos die Franse onder Napoleon, die spit af gebyt het.

CJ ·

Henry. Jy slaan vir Stalin nou darem te laag aan. Dink jy werklik die sluwe Stalin het goedgelowig geglo dat die nie-aanvalsverdrag daartoe sou lei dat die aartsvyande (Naziisme en Kommunisme) a.g. daarvan lank, lank gelukkig en in vrede langs mekaar sou lewe? Natuurlik nie! Albei kante het geweet dat oorlog tussen hulle onafwendbaar was,maar vir albe kante was die verdrag op daardie stadium hoogs voordelig . Vir die Duitsers was die belangrikste natuurlik dat hulle nie gelyktydig op twee fronte sou hoef te veg nie. Die voordele vir die USSR was dat hulle tyd sou wen om vir oorlog voor te berei (Stalin het hom wel hier misgis – gedink die oorlog sou eers in 1942 kom); die Duitsers en Frankryk/Brittanje in alle waarskynlikheid eers teen mekaar sou veg en albei kante daardeur verswak sou word (wat inderdaad gebeur het); die USSR kon amper sonder om ‘n vinger te lig bykans die helfte van Pole inpalm, sonder dat iemand hul verkwalik het; i.t.v. die geheime klousules van die verdrag kon Stalin ook sy ooreengekome invloedsfeer in Oos-Europa uitbrei en versterk (o.a. Estland, Letland, Letoue, Finland) sonder enige Duitse inmenging. Daar was ook baie voordelige handelsooreenkomste tussen die USSR en Duitsland gesluit. In ruil vir graan en strategiese grondstowwe, het die USSR masjinerie, steenkool en wapens (ja, wapens!) van die Duitsers verkry.

CG ·

So ons moet vandag dink Rusland is nie net sleg nie, a.g.v. Stalingrad? Terloops, die Duitsers het eers in Februarie 1943 oorgegee. Daar word nie genoem dat ongeveer 40 000 van die vasgekeerdes Soviet soldate was wat aan Duitse kant teen Stalin geveg het nie. Ook nie dat slegs ongeveer 5 000 van die ongeveer 91 000 gevangenes wat deur die USSR geneem is, ooit teruggekeer het nie, en dit eers in 1955 (10 jaar na die einde van die oorlog). Maar die “Russe” is nie net sleg nie….

gatiep ·

CG moenie vandag se Russe vergelyk met komunistiese Rusland nie.
Die mense was vasgevang daarin net soos ons vandag niks mag se hier nie.Daai mense daar is vir die eerste keer vry in hulle lewe.
Dit was die goverment nie die mense nie.
Stalien was nie eens n Rus gewees nie.
Dankie Jaco vir nuus sonder n hoofstoom agenda.

alwyn burger ·

As byna 90% van jou mense jou steun…..wat wil jy dan nou met die teoretiese wonderwerk van ñ sg. demokrasie maak?.As dit by slegtigheid kom staan die VSA taamlik voor in die ry. Die verblindende flitse wat nog steeds deur die skepping voortsnel is ñ stil getuienis van hul onmenslike wreedheid teenoor Japan.

Gerhard ·

Die Japanese is die laaste mense wat kan klae oor wreedhede teenoor hul mense. Die som totaal van wreedhede wat hulle gepleeg het in die tweede wereld oorlog is menige male groter as die nagevolge van die kernwapens wat teen hulle gebruik is. Laas toe ek gehoor het is die leier van Noord-Korea net so gewild onder sy mense as Poetin. Dit is die rede waarom demokrasie bestaan, om so iets te verhoed. Ook om die gemors waarin Suid-Afrika is te verhoed.

chrisp ·

Alle nasies of volke as jy wil was wreed, een of ander tyd die graad verskil egter.Volgens my vat die Britse koningshuis die eerste prys by verre.

Ek dink Poetin is ‘n uitstekende leier vir Rusland en dis genoeg.Hy is ‘n Rus.Ek is ‘n voorstander vir nasie-state en geheel en al gekant teen ‘n eenwereld sonder grense.Poetin blykbaar ook.
Wat my egter pla is dat kommunisme dalk weer sy kop hier gaan uitsteek as Rusland nie vinnig ekenomies groei nie.

chrisp ·

Ekonomies.
Voor iemand hulle speelgoed weer uit die wiegie gooi omdat hulle die spelling so graag wil aanvat.

Henk ·

Dit is snaaks hoe westerste lande verandering wil sien in Rusland. Die meerderheid blankes het in 1992 vir verandering onder druk van die weste gestem en kyk waar is ons nou !

Awie Opperman ·

Ook snaaks hoe Rusland die ANC ondersteun het en nogsteeds doen. Enige land wat gehelp het om die ANC in bewind te bring is in my oë sleg.

Boerseun ·

Awie, die britte en amerikaaner globalists steun ook die anc, net n ander groep. En dan het rusland geen aandeel gehad in die magsoorgawe aan die ANC. So dit sluit die hele westerse blok in wat in joe sleg moet wees

Gerhard ·

Die laaste lande wat Apartheid Suid -Afrika nog ondersteun het was die VSA en Brittanje. Rusland was die ANC se grootste ondersteuner.

Jan Jooste ·

My vorige kommentaar is gesensor – wat dus impliseer Maroela hou nie van kritiek op Jaco Kleynhans en/of Poetin. Ek dink dit is tragies dat soveel regse mense Poetin bewonder. Natuurlik uitpresteer hy die swerm liberale leiers, wat natuurlik nie veel verg nie – maar die realiteit is tog dat Poetin heeltemal korrup is (let op hoe graag werk hy saam met Zuma ten opsigte van ons R 1 triljoen kernkorrupsie) en hy het verder ‘n wereldoorheersing ambisie. Waarom anders oortree sy militere vliegtuie meer dan 400 keer in 2016 in Brittanje en Europa se lugruim?

Henry ·

Jy is toe nie die enigste siel wie se mening om watter rede ookal, nie geplaas word nie.
Terloops, is mense wat respek vir Putin en Trump het en wie se oortuiginge nie met joune ooreenstem nie, altyd ver, naby of amper regs???

Boerseun ·

Ek is deesdae herdoop van conservative na far right, hehe. Al hierdie naampies, voel of ek weer op laerskool is

rassie ·

Wie bepaal of ‘n land goed of sleg is? Moontlik is dit so dat indien die inwoners van ‘n land voel dis ‘n goeie land, dan is dit moontlik ‘n goeie land. Indien dit vir hulle ‘n slegte plek is dan is dit moontlik ‘n slegte land. As mens nie daar bly nie, hoe weet mens dis sleg of goed? Vir wie is dit dan goed of sleg?

Indien, soos in die berig aangedui, so ‘n groot persentasie Russe tevrede is met Putin, dan voel hulle dalk dit is ‘n goeie land.

Te oordeel aan die ontevredenheid van die Amerikaners met hul eie President Trump, as CNN ens geglo kan word, is die VSA ‘n slegte land.

Hoe bepaal ‘n buitestaander of ‘n land goed of sleg is en wat is die kriteria waaraan dit gemeet word indien mens nie self daar bly en deel van die interne populasie is nie?

CJ ·

Rassie. Mens kan natuurlik ook vanuit ‘n ander verwysingsraamwerk beoordeel. Die vraag kan wees: Is die Russe goed vir ons (Afrikaners). In my oë is die antwoord ondubbelsinnig “Nee”. Bo en behalwe wat Awie hierbo noem – Ons maak ‘n groot lawaai oor staatskaping, maar tog is daar van ons wat die gewillige meedoeners daaraan, Poetin en die Russe, bewonder. Die laaste wat die Afrikaner ‘n glinster in die oog vir die Russe kon hê was met die Tweede Vryheidsoorlog. Daar was morele steun aan die Boere en ‘n skraal kans dat die Russe die Britse vasval in Suid-Afrika kon uitbuit deur toe te slaan op Britse kolonies, oa. Indië. Die “Russiese” Vrywilligerskoprs (omtrent 200 man) was een van die grootste wat aan Boerekant geveg het. Die minderheid was egter etniese Russe. Seker die bekendste “Rus” wat aan ons kant geveg het was Kaptein Leo Powkrowski. Die Burgermonument te Utrecht, Natal, beel hom uit. Alhowel hy ‘n lid van die Imperiale Russiese Leër was, was hy ‘n Pool. Pole was destyds deel van die Russiese Ryk. Sederdien is die Russe net slegte nuus vir ons. Tans veral a.g.v hulle bedreing vir nasionalisme, spesifiek in Oos-Europa – dikwels, misleidend genoeg in die naam van (Russiese) nasionalisme, wat eintlik Russiese Imperialisme is.

Marthinus Willemse ·

My swaer, Helmut Klaiber, se oupa was by Stalingrad. Hy is deur die Sowjette gevang en in die goelag gegooi, en eers in 1955 danksy Conrad Adenauer vrygelaat.
CJ is reg dat die kommuniste nie skaam was om hul eie mense dood te skiet nie. Tog, het Hitler omtrent 75% van sy Wehrmacht op die Oosfront geplaas, omdat die Russe fanatiese vegters is. Natuurlik, moes jy vir Moeder Rusland sterf; om gevang te word deur die vyand was `n sonde, en SMERSJ het jou doodgeskiet sodra jy vrygelaat is.
Die Britte en Amerikaners het teen een-derde van Hitler se troepe geveg, en kyk hoe spog hulle in boeke, dokkies, flieks, speletjies, en meer oor hulle “oorwinning”. Dit was die Rooi Leër wat aan Hitler se bunkerdeur geklop, en hom tot selfmoord gedryf het.
Ek sien Poetin as `n staatsman, wat lankal `n Nobel Vredesprys moes kry vir sy werk om die Sowjetunie se verroestende kernduikbote van `n kernramp weg te ruk.

Henry ·

Indien dit nie vir die Amerikaners se hulpverlening en latere betrokkenheid by die oorlog was nie, om nie eers van die reuse bydrae te praat wat die Russe gelewer het om Hitler se magte te verslaan nie, het die Britte vandag as onderdane, vlot Duits gepraat.
:-)

Gerhard ·

Die Britte en Amerikaners het ‘n see gehad wat hulle moes kruis om by Hitler se magte uit te kom. Toevallig kon die Duitsers nooit die selfde doen om Brittanje binne te val nie. Verder kan die Russe ook daardie selfde Britte en Amerikaners bedank dat hulle Hitler se fabrieke plat gebombardeer het en sodoende die Duitse weermag geneutraliseer het.

Henk ·

Gerhard hulle het nie net fabrieke plat gebombardeer nie bv Dresden en nog n klomp ander dorpe en stede

Gerhard ·

Henk die soort ding word gou ‘n debat /argument oor wie die ergste oortreder was en wie die grootste held. Somme word gemaak oor die aantal kere wat oortree is, hoe erg oortree is, hoeveel mense dood is, ens. Die gealieerdes was verseker nie engeltjies nie en almal weet dit. Dit gaan eerder oor hoe die Russe goed gepraat word, dit terwyl hulle selfs erger was as die Nazi’s. Verder was hulle nooit werklik milliter so uitmuntend nie en het ‘n verswakte Duitsland aangeval en deels oorwin. As die twee lande mekaar aangepak het sonder inmening van buite (en Hitler) in die Tweede Wereld Oorlog het die Duitders hulle plat gevee.

Dirk Breytenbach ·

Wys my enige leier of politikus wat nie mag wil he nie. Jy neem ook nie aan ‘n oorlog deel om dit te verloor nie.

Gerhard ·

Poetin is ‘n muishond en klaar. Al rede waarom hy so baie aanhangers het is omdat die lefties en die kommies deesdae al erger en erger lyk. Ongelukkig is jy in vir ‘n ongaangename verassing as jy dink hy gaan die wereld red, net soos jy was met Trump.

So so ·

Beide P en T is ek en my land eerste dis hoekom die kernkrag nagmerrie vir ons is omdat T nié obama of hillary is dus waar gaan hy nou sy ekstra uraan kry ..?en dan sommer die ontslae raak van die afvalgoedjies ook hou net dop.

Marthinus Willemse ·

Wladimir Poetin het eenkeer gesê, “Enigeen wat nie spyt is oor die einde van die Sowjetunie nie, het geen hart. Enigeen wat dink jy kan die Sowjetunie herskep, het geen verstand.” [My vertaling] Klink dit nie soos ons Afrikaners as ons oor die “ou dae” praat nie? Dit is duidelik dat diegene wat skryf dat Poetin die glorie van die USSR wil laat herleef, geen idee het van wat die lewe in die Sowjetunie was nie. Ook, wil hulle nie luister en navors oor presies wie en wat Poetin is nie. Hulle glo alles wat hulle op CNN sien en in Time magazine lees. (Terloops, Amerika se Broadcast Board of Governors word gelei deur die minister van buitelandse sake. Hulle betaal elke jaar $100 miljoen aan mediahuise en publikasies wat Amerika ophemel, en haar vyande – soos Rusland – afkraak.)

Therese van Schalkwyk ·

Toevallig besig om al die episodes van die televisiereeks “Foyle’s War” in te ryg en het nou SO lekker gelees aan die puik artikel en al die leserskommentare.
Mag daar nog vele woelige besprekings op ons gunsteling webtuiste wees.
Dankie Maroela!

CJ ·

Marthinus, Therese en Ander. Dink ek ook nou mos! Dit is lekker om ligweg te kan korswil oor of mense baie, baie vêr van ons af goed of sleg is en oor wie wat verkeerd gedoen het lank gelede. Dit laat mens bietjie ontsnap van die goeie of slegte mense en dinge baie naby aan ons.

Lekker dat ‘n mens se paaie so kan kruis – al is dit dan nou ook oor die Russe!

Groete!

Hansie slim ·

Wat ook al gesê word van Putin, ek sal graag wil hê hy moet ons baas bietjie leer.
Wat my bekommerd, dit klink of JZ en Putin, in mekaar se sakke is. Kan Putin so dom wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.