Rusland neem toenemend belangrike internasionale rol in

Rusland se president Wladimir Poetin (18 Maart 2018) Foto: AP Photo/Alexander Zemlianichenko

Belangrike geopolitieke verskuiwings is besig om in die verhouding tussen die grootste wêreldmoondhede en, in die besonder, Amerika, Europa en Rusland plaas te vind. Dit lyk ook al meer asof Rusland die groot wenner uit die veranderende magsverhoudings mag wees. Die toenemende uitreik van Europese leiers, soos Angela Merkel na Wladimir Poetin, en nuwe regerings in lande soos Italië en Oostenryk wat baie meer pragmaties jeens Rusland wil optree, dui op die nuwe rol wat Poetin oor die afgelope tyd vir homself en Rusland begin uitkap het.

Die gerespekteerde Amerikaanse politieke kommentator David Brooks skryf onlangs in The New York Times dat Wladimir Poetin, volgens hom, vandag die magtigste mens op aarde is. Die rede hiervoor strek, volgens Brooks, wyer as slegs die rol wat Rusland toenemend as ’n soort tussenganger tussen die Weste en byvoorbeeld lande in die Midde-Ooste speel, maar gaan in werklikheid oor die groot stryd tussen outoritarisme en liberale demokrasie.

Ná die val van die Sowjet-Unie in 1991 het baie Westerse lande en leiers gehoop dat Rusland die Westerse model van liberale demokrasie wat toe in Amerika en Wes-Europa die botoon gevoer het, sou aangryp. Boris Yeltsin se pogings om vryemarkbeleid na Rusland te bring, was egter nie baie suksesvol gewees nie. Hoewel baie Russe self in 1991 van ’n soort Rusland, gebaseer op die Wes-Europese model, gedroom het, het daardie droom grootliks vervaag toe Poetin teen 1999 as President oorgeneem het.

Sedert Poetin die bewind in Rusland oorgeneem het, het hy nie net die land se regering nie, maar ook in ’n groot mate die Russiese volk se denke in ’n ander rigting gestuur. Vandag is Rusland en Wladimir Poetin bykans sinonieme en het die outoritêre gesagstaat wat Poetin daargestel het, iets geword waarmee ’n groot meerderheid Russe heeltemal tevrede is. Dit het ook iets geword waarmee groterwordende groepe Westerlinge en veral meer konserwatiewe, populistiese en regse groepe en partye, minstens gedeeltelik assosieer.

Die hoop dat Rusland deel van die Weste sou word, bestaan nie meer vandag nie. Rusland het ná die val van die Sowjet-Unie toenadering tot by die Weste gesoek, maar is op ’n verdagte wyse as ’n tweederangse siekerige vreemdeling hanteer. Poetin kon oor die afgelope agtien jaar daarin slaag om die Russiese volk se selfvertroue te begin herstel. Die Rusland van vandag is gebou op konserwatisme, outoritarisme en populistiese idees oor die rol wat Rusland in die wêreld kan speel.

Rusland het oor die afgelope twee dekades ook nie saam met ’n ander groot moondheid ’n direkte opposisie teen die Weste gevorm nie. Die idee van ’n Rusland wat oos kyk, het dus ook nie gerealiseer nie. Terwyl Poetin die Russiese weermag gemoderniseer en die land se ekonomie gestabiliseer het, het hy op ’n slim wyse bondgenote in verskillende wêrelddele gevind wat vandag meebring dat Rusland byvoorbeeld in Sirië en Iran die sleutel tot ’n moontlike oplossing hou.

Rusland het steeds unieke demografiese en ekonomiese uitdagings. Op geopolitieke vlak is dit egter duidelik dat Poetin beplan om Rusland in die sentrum van internasionale politieke-, veiligheids- en ander vraagstukke te plaas.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

John ·

… en die volgende paragraaf ontbreek waarin die wereld gewaarsku word oor die Russe met hul ysterkake (onthou daai 007-fliek) en hul moordadadige gedrag en dat almal moet oppas en versigtig wees en liefs hond-se-gedagte kry as Putin glimlag…

JC ·

Baie dankie Jaco, baie interessante en weldeurdagte opiniestuk, welgedaan.

DewaldS ·

Baie dankie, Jaco. Mens kan sien jy is iemand wat baie nuusbronne buite die normale hoofstroom-media raadpleeg en dat jy vir jouself dink en jou eie gevolgtrekkings maak.

Poetin is ‘n briljante strateeg en hy (en Xi Jiping) slaan op die oomblik groot munt uit die Westerse politieke ‘establishment’ wat saam met hulle media-liegfabrieke die pad byster geraak het….

Rupert Ashford ·

Gaan hy ook Israel se beskermheer word en die een wees wat “vrede” in die midde-ooste gaan bring….vir ‘n kort tydjie??

Marthinus Willemse ·

Rusland vier elke jaar hul oorwinning oor Nazi-Duitsland op 9 Mei, met `n fantastiese parade op die Rooi Plein. Hierdie jaar was Bibi Netanyahu `n gas, en het langs Poetin gestap. Onthou ook dat die grootste bevolking Russiese Jode in Israel bly; party Israelis spot juis dat Russies hul nie-amptelike taal is.

Eish ·

Dis nou wat plaasvind onder uitnemende leierskap.
Putin se gelyke bestaan nie op die planeet nie.

JdV ·

Beste Jaco/Maroela Media,
T.o.v. die spelling van Poetin: ek verstaan dat Vladimir se van Russies is en in die Russiese alfabet geskryf word en daarom gebaseer op die fonetiese alfabet in die Romeinse alfabet geskryf word sodat ons wat die Romeinse alfabet ken dit sou kan lees. Maar nou wonder ek: waarom nie hou by die standaard herkenbare Westerse-weergawe van Putin nie? Ons skryf tog nie Zuma as Zoema of Trump as Tramp nie. En sou reg wees om Poetin in Afrikaanse artikels en berigte te gebruik, moet dit dan nie eerder Wladimir Poetin wees nie? Vra maar net.

Sune van Heerden ·

Dagsê JdV

Buitelandse eiename word in Afrikaans getranslitereer wanneer die twee tale nie dieselfde alfabet gebruik nie. In Engels word die naam, Влади́мир Влади́мирович Пу́тин, byvoorbeeld as “Vladimir Putin” gespel, en in Afrikaans “Wladimir Poetin”, of Горбачёв word as “Gorbachev” of “Gorbachyov” gespel, en in Afrikaans “Gorbatsjof”.

“Wladimir Poetin” is dus die standaard Afrikaanse transliterasie vir sy naam uit die Sirilliese alfabet wat die Russe gebruik na die Latynse alfabet wat ons gebruik. Die spelling “Vladimir Putin” is die standaard Engelse transliterasie vanaf Sirilliese skrif na die Latynse alfabet wat Engels gebruik. Die Franse spel sy naam byvoorbeeld “Vladimir Poutine”, die Spanjaarde skryf “Vladímir Putin”, en so voorts.

Dieselfde geld dus nie “Zuma” of “Trump” nie, omdat beide tale dieselfde alfabet gebruik.

Die spelling “Vladimir” in die berig is ‘n fout wat ongesiens verbygeglip het, ons het die fout reggemaak. Sy naam is korrek in die byskrif by die foto.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Carel ·

Putin is ‘n krimineel. Dit het hy oor en oor bewys. Weet nie wat het hy die skrywer betaal om so ‘n mooi bogstorie te skryf nie.

gatiep ·

Carel vertel vir ons ook wat maak hom n krimmineel.
Jy moet n baie slim man wees wat dit kon uitwerk tussen al die goeie dinge wat hy vir wereld doen.

Joshua Julius ·

Poetin is nie ‘n engel nie en daar is baie van sy binnelandse beleide wat teenstrydig is met ‘n grondwetlike demokrasie. Dit gesê, as jy gaan kyk na die geskiedenis van Rusland se tsars, en hoe traag die nasie was om demokrasie aan te gryp van 1850-1917 toe die res van die Weste dit aanvaar het, dan begin jy ‘n blik kry op die Russiese psige. Dit is asof die Russe ‘n sterkman as leier nodig het, en dat deelnemende-demokrasie nie regtig in hul bloed is nie.

Ek stem ook saam met Jaco dat die VSA sy internasionale stem begin verloor het, en nie meer die morele hoëgrond handhaaf nie. Persoonlik is ek van mening dat weens die inval van Irak in 2003 het die Amerikaners begin aansien verloor omdat daar ‘n duidelike boelie-agenda bedryf word deur die militêre-industriële kompleks in Washington. M.a.w., lande wat nie volgens hul pype dans nie, word ‘n teiken van Oom ‘Sam’ se mag.

En dit is juis hier waar Rusland sy voet begin dwars trek het. Die VSA omring tans vir Rusland en China met meer militêre basisse as wat die RSA in sy eie land het. Die laaste 15 jaar het gewys dat die ‘Yanks’ enige rede sal opkook om ‘n land in te val, en die internasionale gemeenskap is moeg.daarvoor.

En daarom is Poetin al hoe meer gewild onder die ‘underdogs’ van wêreldpolitiek.

Henry ·

Rusland het ‘n lang en trotse geskiedenis wat nie van verdrae of die goedgunstigheid van ander state afhanklik is/was nie. Die handhawing en beskerming van Rusland se onafhanklikheid het deur eeue heen as inspirasie gedien om hulself teen buitelandse en vyandiggesinde magte te beskerm. Die Franse olv Napoleon en Duitsland olv Hitler, is die mees onlangse voorbeelde van hul vermoëns om tsv onderlinge verskille, groot agterstande en simpel ideologieë, Moeder Rusland se nasionale belang eerste te stel om bedreigings af te weer.

Sedert 1917 het die kommunistiese ideologie die USSR se beleid uitwaarts gerig in ‘n poging om Marx se Utopia aan die res van die planeet te smous. Uiteindelik onsuksesvol en van meetaf in stryd met die Russiese kultuur. Hul agterdog jeëns vreemdelinge en vreemdhede is legendaries.

Die VSA se “grondwetlike demokrasie” en buitelandse beleid wat gewoonlik deur ongevraagde en bloeddorstige betrokkenheid/inmenging in ander state se wel en weë gekenmerk word, het deur die jare heen reeds tot die dood en lyding van honderd-duisende siele dwarsoor die planeet gelei.

Met die moontlike uitsondering van Viëtnam, het die VSA se “grondwetlike demokratiese” aanslag , tot nog groter verdeeldheid, onmin, onrus en agteruitgang gelei.
Irak, Iran, Sirië, Libië, Afghanistan, Noord Korea, Ukraïne en talle Suid Amerikaanse state is sekerlik van die mees onlangse mislukkings op die VSA se “demokratiese” kerfstok.

Of Rusland uiteindelik as die groot meneer sal eindig, is ‘n ander storie.

Marthinus Willemse ·

Jaco, om te sê Boris Jeltsin se pogings om `n vryemarkbeleid in te stel was “nie baie suksesvol” nie, is nou werklik `n “understatement”. Jeltsin was omring deur Amerikaners, en hulle het twee fatale idees voorgestel: 1, Dat Rusland aansoek doen om `n IMF-lening, en 2, Dat die IMF aanbeveel het dat Rusland se kommunistiese ekonomie “hardhandig” verander word na `n vryemarkstelsel. Dit het gelei tot die ineenstort van die Sowjetunie, waaroor Poetin hom later verkwalik het.

`n Amerikaner wie se oordeel ek nogal vertrou, is Stephen F Cohen. Volgens hom was Poetin aangestel net om Jeltsin en sy familie uit die tronk te hou. Poetin het dit gedoen, maar hy het daarna baie verander as mens, en die Koersk duikboottragedie het sy leierskap na vore gebring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.